Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Versindaba ʼn skitterfees vir die digkuns


Marlise Joubert - 2008-07-31

Die afgelope drie jaar dien die Versindaba al as ʼn vertoonkas van die uitstekende werk wat tans in die Afrikaanse digkuns gelewer word en vanjaar se fees, wat oor die naweek van 5 en 6 September in die HB Thom-teater op Stellenbosch aangebied word, is geen uitsondering hierop nie. Soos dit die geval was met die vorige feeste, bied vanjaar se program weer iets van alles vir die poësieliefhebber. Van ons mees prominente Afrikaanse digters van wie daar onlangs digbundels verskyn het, of binnekort gaan verskyn, vorm deel van die indrukwekkende lys optredes. Hieronder tel bekendes soos Hennie Aucamp, Marius Crous, Johann de Lange, Joan Hambidge, Bonaventure Hinwood, Daniel Hugo, Trienke Laurie, Lucas Malan, Petra Müller, Johan Myburg, Rosa Smit, Marlene van Niekerk en Ilse van Staden. Ontluikende digters wat ook deel van die program uitmaak, is die opwindende Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Danie Marais (met grafika en musiek), Melt Myburgh en Carina Stander. ʼn Verdere toevoeging is vier belowende jong digters wat onlangs in Penseel gedebuteer het, naamlik Suzanne-Louise Bezuidenhout, Annie Klopper, Marius Swart en Johan Swarts.

Die aanvullende program fokus vanjaar meer spesifiek op die poësie as liriek en bevat daarom optredes deur Andries Bezuidenhout, Jasper van Zyl (saam met William Pienaar) en Peter Snyders wat toonsettings van hul gedigte gaan opvoer. In samewerking met die musiekdepartement by die Universiteit van Stellenbosch is daar vanjaar ook ʼn kompetisie vir musiekstudente uitgeskryf om ʼn bepaalde gedig te toonset. Die vier pryswenners sal gedurende die Vrydag- en Saterdagaandsessies hul onderskeie wenstukke opvoer. Die hoogtepunte vir dié aande is egter die immergewilde Laurinda Hofmeyr op Vrydagaand, en Niel van der Watt se liedsiklus “Klipwerk” na aanleiding van NP Van Wyk Louw se bekende gedigtereeks, wat die Saterdagaand uitgevoer word. Hanlie Stapela sal deur Mathilda Hornsveld begelei word in hierdie opwindende werk deur een van ons vernaamste plaaslike komponiste. ʼn Item wat beslis ook nie gemis moet word nie, is Helena Conradie se huldeblyk aan die digkuns van George Weideman, “Doepa”. Francois le Roux is verantwoordelik vir die musiek.

Soos gebruiklik word die voordragte afgewissel met onderhoude, paneelbesprekings en lesings. Saterdagoggend word daar deur Gerrit Brand, Rachelle Greeff en Melt Myburgh gesels oor die tema “Die boekredakteur en die resensent”, met Louise Viljoen in die voorsitterstoel, en Saterdagmiddag gesels Daniel Hugo, Charl-Pierre Naudé en Marlene van Niekerk, met Ena Jansen as gespreksleier, oor die praktyk van poësie en vertaling na aanleiding van ʼn Engelse vers van Elisabeth Eybers. Nog ’n besonderse bydrae tot die program is die Dana Mouton-lesing wat vanjaar deur prof. Ena Jansen van die Vrije Universiteit Amsterdam gelewer word. Sy sal praat oor die tema “Klinklare weerbaarheid. Elisabeth Eybers 1915 – 2007.”

Kaartjies vir Vrydag- en Saterdagaand is R60.00 per persoon. Die sessies Saterdagoggend en –middag is R20.00 per persoon. Spesiale tariewe is beskikbaar vir studente en skoliere. Kaartjies is verkrygbaar by Protea Boekwinkel op Stellenbosch en kan óf telefonies by (021) 882 9100 óf per e-pos via proteaboek@mweb.co.za of ls.protea@mweb.co.za bespreek word.

Die volledige program is te lees op die webblad by www.proteaboekhuis.co.za of by die Woordfees se webblad by http://www.woordfees.co.za.


Louis Esterhuizen & Marlise Joubert
Koördineerders: Versindaba 2008