Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Die jong poppies en die blowjoppies


Theunis Engelbrecht - 2006-10-30

Ek het ‘n woedende brief gekry van ‘n verontwaardigde leser, mev SS van Blerk van Brackenfell, wat vra hoekom daar so baie oor seks geskryf word in Sound Bites. "Is dit nie al erg genoeg dat my kinders reeds blootgestel word aan afwykende verskynsels soos Fokofpolisiekar en Christina Aguilera nie? Om nie eens te praat van Marilyn Manson en die Leeuloop nie!" skryf mev Van Blerk.
 
Mevroutjie, kalmeer tog nou. Die antwoord op u brandende vraag is voor die hand liggend: 96,7 persent van alle pop- en rockmusiek handel oor wellus, seks, ongeoorloofde hunkeringe, misterieuse verliefdhede, paardanse, sweet, brandende passie, sponk, ‘n soutsmakie op die tong en gebroke harte.
 
Ek glo ook nie u kinders lees Sound Bites nie. Hulle mors nie hulle geld en tyd op die internet om opgevoed te word nie – nee, hulle check kaal girls en ouens uit op die pornowerwe en knoop gevaarlike vriendskappe aan in kuberkletskamers.
 
Daarom moet jy liefs nie verder lees aan hierdie aflewering nie, mev SS, want kyk maar net na die opskriffie hier bo om te sien wat alles hier ter sprake gaan kom. En net om dit in te vryf, heet die volgende aflewering “Hormone en ander demone”.
 
My vriendin wat altyd saam met my musiek luister, Jana-Mariana Human, het my geleer dat dit baie beter is om met jou hormone, hart en derms na musiek te luister eerder as met jou brein. Die ergste is dat mense wat graag met hul breins na musiek luister, dié is wat altyd ‘n bekvol daaroor te sê het en dit dan anyway alles vir almal spoil met hulle intellektualiserings en rasionaliserings en diepsinnige kakpratery.
 
Ja-nee, vriende en vyande en ander verskynsels in hierdie vrolike voorportale van die verdoemenis, Jana-Mariana is ‘n hormonaal blommende en eroties geëmansipeerde vrou. Sy wil my ook nooit klap as ek sê sy is ‘n vrou en dat ek dus ‘n seksis is en eerder moet sê sy is ‘n geëmansipeerde persoon nie. Om van haar persoonlikheid nie eens te praat nie!
 
Sy sê altyd sy voel sy kom tot haar volste reg en blom as mens wanneer sy gemeenskap geniet. En dat musiek daaroor ‘n belangrike rol speel om hierdie passie intens brandend te hou. Die jonge dame Human het ruiterlik teenoor my erken dat sy baie van blowjobs en muffdives hou. En wat is verkeerd daarmee, mev Van Blerk? Niks. Jy is nou net verbitterd omdat jy nooit dié betrokke voorregte kon smaak nie. U is ‘n oraalseksueel-agtergeblewene. Watter regstellende (satisf)aksie kan ons vir u bedink?
 
Elke keer as ek en Jana-Mariana na ‘n onbekende kunstenaar of groep se CD’s luister, check sy die foto’s in die CD-boekies om te sien of daar enigiemand is met wie sy graag orale vreugde sou wou smaak. En JM wéét hoe om yo-yo te speel met jou mojo, laat ek julle nou vertroulik een ding vertel vandag. Vra maar vir my.
 
Groot was my verrassing toe Jana my meedeel dat sy glad nie sou omgee as Bob Dylan saam met haar sou stort nie, en dat sy ná die tyd (wanneer hy skoon is, let wel) graag die tong-tango en kleintongetjie-shuffle met hom sal wil doen. Die CD van die maand is dus, onafwendbaar:

 

Bob Dylan: Modern Times
 
Ou Bob is ‘n man wat wéét van jong poppies. Ek wonder of hy nog kan tel hoeveel girlfriends hy al gehad het. As ek na Modern Times luister, kan ek heeltemal verstaan hoekom Jana graag vir Dylan intiem sou wou leer ken.
 
Dylan sing mooier as ooit. Die tunes is kwaai. Dit is nie so ‘n deurgaans oorrompelend briljante CD soos sy voorganger, Love and Theft, nie, maar dit is steeds ‘n puik stuk werk met sterk bydraes tot Dylan se skatkis van tydlose musiek – liedjies soos “When the deal goes down”, “Workingman’s Blues #2”, “Nettie Moore” en “Ain’t talking”.
 
Daar is al insiggewend geskryf oor hierdie CD sedert dit uitgereik is, maar dit maak nou eers in Sound Bites sy opwagting weens die vertragings wat die oorskakeling na die nuwe LitNet meegebring het. Dit pas my goed, want nou hoef ek nie my goue eiertjie te lê oor dinge soos die issues wat Dylan pak, die musiekstyle op die album, of enige hoogdrawende ontledings soos in ‘n Amerikaanse of Britse musiektydskrif nie. Dis iets wat ‘n mens self moet ervaar en waaraan geen woorde reg kan laat geskied nie, so hoekom sal ek dus nou my kosbare energie en enkele oorblywende breinselle so kwistig vermors?
 
Een van die lekkerste artikels wat ek oor hierdie CD gelees het, was Johan Pieterse s’n in Rapport. Gaan soek dit op die koerant se argief in die kuberwerklikheid en maak dit deel van jou opvoeding. (Toe ek nog ‘n nat-agter-die-ore-snotneusjapie was wat niks geweet het nie, het die einste Johan Pieterse die poorte van die hemele wyd oopgegooi vir my met sy resensie van The The se Infected – ‘n groep wat ek in daardie stadium nie geken het nie. ‘n Mens hoop dus hy skryf nou weer meer gereeld oor musiek vir die grootste Afrikaanse Sondagkoerant in die sterrestelsel.)
 
Jy kan nie sonder die nuwe Dylan nie, glo my. En as jy nog ‘n Dylan-maagd is, wag daar ‘n wonderlike wêreld om te ontdek. Begin vandag nog. Moenie ‘n dag langer uitstel nie.
 
 
Daniel Cirrera: Honestly: I Love You *cough*
 
Jana-Mariana dink Daniel is een van die vuurwarmste én coolste (ja, genuine …) dudes op die vermaaklikheidstoneel. Sy kan nie genoeg kry van sy debuut-CD, Honestly: I Love You *cough*, nie.Boonop het die CD reeds drie treffers opgelewer – "Motherfucker-fake-vegetarian ex-girlfriend", "Roadtrippin" en "She rules the school"wat altyd sidderings van welbehae deur JM laat gaan.
 
JM sê sy kan verstaan hoekom ‘n mannetjie soos Daniel probleme sal hê met ‘n vegetariese vriendinnetjie, want jy kan sien hy is ‘n mannetjie wat daarvan hou dat sy pieletjie gesuig word. En vegetariërs, soos ons weet, sit nie hulle lippe aan vleis nie.
 
Ek stem saam met JM dat dié drie liedjies baie lekker is, maar dat die res van die songs op die CD maar middelmatig is, en moet ons dan regtig ons geld blaas op ‘n CD met 13 liedjies waarvan net drie lekker is? Ek meen, luister net na sy AFGRYSLIKE weergawe van The Sex Pistols se "Anarchy in the UK" waar hy dit as ‘n ballade met net ‘n akoestiese kitaar doen. Maar JM hou manhaftig vol dat Daniel fantasties is, en dat so ‘n interpretasie van die liedjie sy weerloosheid toon eerder as die aggressiewe bravade van die oorspronklike weergawe. (Ek sug net, rol my oë na die hemele, tuit my ore ter helle en swyg.)
 
En sy WOORDE is so fantasties, swymel JM verder. Sy het vir my ‘n lysie gemaak van die reëltjies? waarvan sy die meeste hou, en hulle is die volgende:  
I still think that you’re a bitch talking, motherfucker, you’re the worst cocksucker, sworn that you were true to me. Yeah – in my dreams, in my dreams. I just won’t drive it in. (Uit: " Motherfucker-fake-vegetarian ex-girlfriend ").
 
En:  
It’s a different kind of love with you by my side, it’s a different kind of life because we’re fucking all the time and I’m never feeling bored even though you’re far away, you make me a believer with the words that you say. (Uit: "She rules the school")
 
Volgens JM is die volgende reëls? uit die liedjie "Why?" meesterlik:  
There’s some days when I can’t stop to think of you and what we’ve been through. I tell my mind to let it go, but it’s pissed at me and it’s ready to blow, so I masturbate to the pictures in my head – memories from Spain, when you were beautiful and naked, and if we could fuck for hours we’d do and we make it last in the afternoon.
 
Jana-Mariana het my afgepers om vir haar inligting oor Daniel te soek en ek het op die volgende afgekom: Hy kom van Swede en het die liedjies op die CD geskryf nadat hy sy girlfriend uitgevang het dat sy hom met iemand anders verneuk. Hy en ‘n paar musikante het dit opgeneem, en hy het nooit enige planne gehad om iets daarmee te doen nie; hy wou dit basies maar net vir homself hou. Hy het dit vir sy vriende begin speel, en ‘n merkwaardige veldbrand het gevolg. Dit was nou al twee jaar gelede, en Daniel se opus oor die snot, trane, bloed en derms van liefdesverraad is pas internasionaal uitgereik. Hy het ook weens sy gebrek aan vrees vir woorde deurgeloop onder sensuur. Hy was veronderstel om in 2005 by ‘n klomp musiekfeeste op te tree wat gereël is deur Export Music Sweden, ‘n groep mense wat aangestel is om toe te sien dat plaaslike talent bevorder word. Sy lirieke was een te veel vir sommige van die polities-korrekte, brein-retentiewe komiteelede en hy is uitgeskop.
 
Toe dit dus verlede jaar tyd geword het vir die Midem-musiekfees in Frankryk, het Daniel ‘n ontkleedansklub gehuur reg langs die hotel waar al die grootkoppe, rykgatte en magtigste opperhoofde en opportuniste van die internasionale musiekbedryf tuisgegaan het. Die plek was elke aand stampvol gepak en die korporatiewe musiekhandelaars kon dit nie miskyk nie: hier is iets waarmee hulle góéd geld sal kan maak. En, soos hulle sê, die res is geskiedenis …
 
Skielik kon ek verstaan hoekom JM van Daniel hou. Want hy is real! Hy is nie ‘n idiool nie! Hy is nie pretensieus nie! Ek het met ander ore begin luister na Honestly: I Love You *cough*. En daarna het ek vir Jana-Mariana gesê sy is verkeerd: Daniel se probleem was nie die feit dat sy meisie nie vir hom blowjobs wou gee nie, maar dat hy eintlik self blowjobs wou gee.
 
 
Paolo Nutuni: These Streets
 
Hy is 19, hy is in Italië gebore en hy woon in Skotland. Jana sê net een kyk na dié mannetjie laat haar lippies tuit soos leeubekkies na die eerste reën. Jonk, pragtig en hy sing uit sy hart en siel uit, als baie opreg en bekoorlik.
 
Hy maak ‘n soort foefielose straightforward folkrock, en het ‘n rasperstem wat soos heuning oor die hormone drup. Hy klink soos niemand anders nie. Al is sy lirieke nie fabelagtig nie, kan jy hoor dié mannetjie het op sy brose ouderdom al baie ervaar en waargeneem, en die belangrikste: hy gaan eerlik met sy emosies om. Dit is wat hierdie CD laat uitstaan onder die nuwe uitreikings. Paolo dryf Jana-Mariana teen die mure uit. Hy druk al die regte knoppies vir haar dat sy sommer self in sulke pienk knoppies uitslaan van jagsgeit. Ek kan dit heeltemal verstaan.
 
 
Helmut Lotti: The Crooners
 
Klein Helmut is nou nie iemand vir wie óf Jana-Mariana óf ek ons lippe sal aflek nie. Dis ‘n dubbelskyf-uitreiking dié: die eerste CD heet The American Way en die tweede een My Way. Die liedjies wat gesing word, kan as óf tydloos óf holrug gery beskou word, afhangend van jou smaak. Daar is onder meer “Hello Dolly”, “What a wonderful world”, “Just a gigolo”, “Blue Moon”, “Mona Lisa”, “Moon River” en nog baie meer. Recycling is ‘n winsgewende bedryf, maar dui tog ook op die tydloosheid van die betrokke nommertjies.
 
Klein Helmut gaan seker weer lekker baie geld maak met hierdie CD, tensy mense nou al moeg is vir hierdie soort van trippie, want Robbie Williams het ook mos al ‘n crooner-projek gedoen. Ons reken hierdie is ‘n opportunistiese album en ‘n internasionale skande. Klein Helmut laat nie naasteby reg geskied aan die ou meesters (al verstaan ek van hulle was ook bliksems) wie se liedjies hy sing nie. Dit klink ook asof hy ‘n rolmodel kan wees van sangers soos Jurie Els, Johan Stemmet en die manlike deelnemers aan Patricia Lewis se TV-reeks Supersterre.
 
Die ergste van als is dat hierdie weergawes haar nie eers romanties laat voel, soos wat die liedjies veronderstel is om te doen nie, sê Jana. Helmut Lotti moet dus maar liewer gaan speel met sy tottie, sê sy.
 
 
Prince: Ultimate
 
Of jy nou van hom hou of nie, moet jy erken Prince het al fenomenale werk gedoen. Sy probleem is dat hy oorproduktief is, en hy het dus ook al heelwat kak plate uitgereik. Jana-Mariana sê baie van sy liedjies is baie sexy en handel onder meer oor perskegeurige room op naakte liggame, fynklein vroulike onderkleertjies en die reuk van sweet (beide manlik en vroulik), maar dat sy nie graag sal wil hê hy moet haar lippe (of enige ander deel van haar anatomie) met sy pers tongetjie streel nie.
 
Dié dubbel-CD bevat 17 van sy grootste treffers – en mens moet dadelik bysê dat die keuse soveel groter kon wees. Met die baie materiaal tot sy beskikking moes die aanmekaarsit van hierdie CD die samesteller seker stapelgek gemaak het. Dié 17 uitstekende poptreffers – waaronder “1999”, “Delirious”, “When Doves Cry”, “Purple Rain”, “Sign o’ the Times” en “Diamonds and Pearls” – is op CD1. Op CD2 is spesiale dans- en uitgerekte mixes van ander treffers van hom, waarvan sommiges interessante verwerkings het, en ander net voortploeter. Só klink “Let’s go crazy” se verlengde dansmengsel baie beter as die oorspronklike kortspeler, maar “Pop Life” en “U Got the Look” se dansmix is weer eindeloos kakker as die oorspronklike kort weergawe. Daarteenoor is die lang weergawe van “Kiss” tienduisend maal lekkerder as die oorspronklike korte.
 
As jy obsessief is oor Prince (en daar is niks mee verkeerd nie, al is daar mense wat jou graag anders sal wil laat dink), moet jy hierde CD kry. As jy serious is oor hom en sy musiek, sal die driestuk-CD The Hits/The B-Sides met sy 56 liedjies‘n groter keuse en beter waarde vir geld bied as Ultimate met sy 28.
 
Dis natuurlik beter om Prince se albums afsonderlik te luister, want sy interessantste en avontuurlikste werk was nie altyd sy grootste treffers nie.
 
 
Enigma: A Posteriori
 
Wat ‘n vervelige CD! Met die tweede liedjie voel ‘n mens al of jy aan die slaap kan raak. Ek gaan akkoord met Jana, en sy stel dit altyd soveel beter as wat ek kan: “As ek nog één keer moet luister na strelende pseudo-New Age-vibrasies en mans wat sing soos monnike sonder knaters, gaan ek my heeltemal oorgee aan drank, dwelms en oorlamse, warmbloedige persone. Wat te erg is, is darem net te erg. Vat dit weg, vat dit baie ver weg! Dis sleg vir ‘n mens! Dis genoeg om jou nie net fisiek nie, maar ook verstandelik hardlywig te maak."
 
 
Jason Moran: Artist in Residence
 
As jy van postmoderne jazz met ‘n klavier hou, is dié een so reg in jou kraal. Dis uitgereik deur die toonaangewende en hoogaangeskrewe jazzmaatskappy Blue Note. Dis egter als te hoogdrawend, intellektueel en uiters vervelig en langdradig vir gewone aardse siele soos ek en Jana-Mariana. Maar as jy ‘n jazz-fundi is, stel gerus ondersoek in. Dit klink glad nie soos Richard Clayderman, Martin Layne of Christa Steyn nie.
 
 
Iron Maiden: A Matter of Life and Death
 
Genade, ek het gedog almal in hierdie orkessie is al oorlede weens lewerversaking en breinskade, maar jou wrintiewaar, hier is hulle weer in hulle volle (en erg gryser en meer beplooide) glorie met ‘n splinternuwe album.
 
As jy ooit van die Ystermeisies gehou het, sal die nuwe CD jou tevrede stel. Hulle probeer selfs epiese heavy metal-nommers skep, kan jy nou meer, want van die liedjies is tot so lank as digby tien minute.
 
Ons kon nie eintlik hierna geluister kry nie. Dit het skielik so passé geklink. As ons musiek met ‘n moerse metaalskop soek, luister ek en Jana veel eerder na System of a Down, en dis meer as genoeg. En Jana het hulle kiekie net een kyk gegee en gesê daar is nie een enkele outoppie daarop vir wie sy selfs ‘n skramse piksoentjie sal wil gee nie.
 
En ‘n siddering het deur haar gegaan by die blote gedagte daaraan.
 
 
Volgende keer: Hormone en andere demone
 
En die keer daarna: Gooi mojo met my yo-yo