Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Louw Verwey is dood. Lank leef die teater!


Albert Maritz - 2008-07-29

Vanoggend se koerant dra die nuus van Blaise Koch se afsterwe. En ja, hy kom ʼn lang pad. En ja, hy was baie goed in baie stukke, soos onlangs in Clare Stopforth se Romeo & Juliet by Maynardville die stukke waaroor die koerant rapporteer, waarvoor hy toekennings gekry het, soos Boy Meets Boy, en meer. En hy was, wat voel soos eeue gelede, in Kruik se Faan-produksies ook.

Maar terwyl ons by die Innibos-fees te Nelspruit was, het net sulke hartseer nuus my bereik. Die groot ou Gees wat geskryf, geregisseer en gespeel het. Wat gefilosofeer het oor dimensies; wat soos ʼn wafferse internasionale ster legendaries weggeloop het van vreesaanjaende produksies – waarin hy terloops briljant was, maar die omstredenheid – omdat hy weg sou loop pas ná openingsaand; die groot ou Gees, wat een van ons grootstes was, en is, en van wie elke regte ster in Suid-Afrika met die grootste ontsag praat, is dood. Mag Louw Verwey salig rus.


Isodora Verwey in aksie

Want vergeet sal ons hom nie; nie solank sy briljante nasaat, Isadora Verwey, sy dogter, ons verhoë en ander media aan die brand speel nie. Isadora was onlangs in Kombuisblues by die KKNK en die Woordfees.

Louw Verwey is een van die laaste spelers van ʼn era wat met ons was, en nog met André Huguenot en ander name uit daardie era verhoë gedeel het. Maar ek laat dit daar, behalwe om te sê: Louw Verwey word saam met ons grootste sterre opgedis in ʼn kykNET-reeks wat vanjaar nog die klein skermpie gaan haal, waarin ons sterre gewys word sonder grimering, maskers of skyn. Hou u oë oop vir Impresario deur Neil Sandilands en die uwe. Seën kykNET vir hierdie blik op ons grootsheid in die geskiedenis.

Die toekoms is ewe rooskleurig, indien nie selfs ekonomies belowend nie. Terwyl ʼn depressie bestaan, gaan ons land van krag tot krag op ʼn terrein wat soms roem oplewer, soms selfs dalk ʼn inkomste oplewer; maar selfs wanneer dit nie gebeur nie, lewer dit geesteskos op.

Ek was ʼn enkel skamel skoolseun van wie almal gedink het ek is snaaks omdat ek by shows betrokke was. Toe ek kies tussen ʼn Afrikaans- en wetenskapkursus aan die Universiteit van Kaapstad en drama op Stellenbosch, was dit my eerste tree om een van 16 studente te word van wie nege oorgebly het om die derde jaar te voltooi.

Deesdae kan skole in die Kaap nie genoeg stukke opvoer om al die leerders wat belangstel te akkommodeer nie. En nog ʼn Afrikaanse instelling of wat sal nie genoeg wees om die postmatrieks te akkommodeer wat in drama wil studeer nie.

Ek het mos die voorvader-idee dat ons ook na omgesien word deur ʼn sagte woordjie in die Skepper se oor om ons Thespiane goedgesind te wees. En ek dink die Here sal insien hoekom ek dink ons pa’s en ma’s wat in die teater gewerk het, entoesiasties sal toekyk hoe dinge op ʼn aand soos die Gala-aand by die hoërskool Jan van Riebeeck verloop.

Daar was vier stukke, en (minstens) die oorgrote meerderheid was louter plesier. Nie ʼn glas wat breek, ʼn selfoon wat lui, halsstarrige mense wat in die middel van ʼn familiegroep vier sitplekke beset nie – niks kon so ʼn reuse-groep positiewe ouers en broers en susters en oumas en oupas se ywer demp nie.

Nou lê die jaar met sy kompetisies voor. Die leerders van talle Kaapse skole sit af na Springbok, daarna Fraserburg, daarna Montagu, Stellenbosch, Durbanville en meer – en dit sluit nog nie eens die ATKV-kompetisie in waaraan skole landwyd deelneem en wat by Aardklop eindig nie.



Nou het jy ʼn sitplek langs die kryt, Louw, en langs jou sit Fanie Bekker, Dulcie van der Berg, my pa … ag, dis omtrent pelle – laat ek nie eens begin om die name op te noem van die groot name wat ons teaterbedryf een van die sterkstes op die planeet gemaak het, en die spore getrap het waarin soveel trekkers nou hul voetholtes vind nie – wat nou saam met jou sal toesien dat ons werk, en hard werk, en glo, en sukses behaal, wanneer dit ons toekom.