Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Oorbly


Willem de Vries - 2008-07-28

Links van die pad is 'n vlakte wat kilometers daarvandaan in die see verdwyn. Regs is 'n harde wêreld vol brokke witterige klip soos die oorblyfsels van ou koraalriwwe. Laatmiddag nog lê die pad waarop ons ry, één donker grys strook sonder selfs 'n effense draai.

Dit was die tweede dag dat ons so ver ry en die helderkleurige bord van 'n oornagplek het my die afdraaipad laat vat. 'n Entjie van die pad draai 'n stofpad tussen die klipriwwe in tot waar die bed-en-ontbyt-plek staan: Sandy se Skulp Huis. Langsaan staan 'n verwaarloosde vulstasietjie. Die metaalbord waarop "Shell" staan, se "h" het al weggeroes. Die joggie se kamertjie is 'n besige plek waar swaeltjies in- en uitvlieg.

'n Mens sou kon sweer die see is net anderkant die pad, want die buitekant van die ou huis is vol seemotiewe. Twee dik toue is opgerol by die hekkie. 'n Paadjie loop tot by 'n stowwerige stoep en half toe voordeur. Ondervoets gee skulpgruis kirtsend mee.

Die huis se mure was eens wit. Plek-plek is ou, ligte roestrane onder die geute. By ons aankoms groei die skaduwees al geruime tyd op die breë vaalbruin stoep. Op 'n blougrys voordeur is groen seeperde, en liggrys geverfde wiere vat-vat aan die deurknop.

'n Kort skemerige gang loop aan die regterkand tot in 'n sitkamer. Insakstoele oorgetrek met teddiebeer-wol, waarvan die armleunings al blink geskuur is, staan op ronde bruin matte. Uit 'n donker kas speel 'n TV-satelliet-radio treffers.

'n Grys vrou sit in 'n stoel en kyk na die TV. Haarknippies steek soos deurgehaalde gedagtes uit die perlemoer-grys hare. Sy het heldergrys oë en glimlag knikkend toe sy ons gewaar. Ek stel ons aan haar voor en vra of sy 'n kamer het vir ons en of ons iets te ete kan kry.

Haar stem krys effens, maar raak sagter soos wat sy praat. "'n Buurvrou het vir my inkopies van die dorp gebring. Gister. Ek dog toe julle netnou stilhou ek sal Wanda vra om iets te maak vir aandete. Ons kan so sewe-uur aansit."

Die vrou wys waar ons die koffers kan neersit. Sy loop en vertel die huis raak maar moeg in die seisoen, dat net Wanda nog by haar werk, en sy kla dat 'n mens die slytasie oral kan sien.

'n Laag stof oordek al die meubels en linne. 'n Ou stilte hang in die vertrekke. In die kamer wat sy aan ons wys, beweeg die lug traag asof die venster jare gelede toegemaak is en daarna nooit weer oop nie. Tot die voue in die geelbruin gordyne van die kamer lyk antiek.

Ek lees 'n boek, maar die letters swem. Ons probeer die ergste hitte van die laatmiddag omslaap.

Vroegaand bad ek en Tilda. Hoogwatermerke sit in die bad soos jaarringe. Orals is skulpmotiewe: in die ligblou badkamerteëls, in die asbakkies wat perlemoenskulpe was; op die kleedjies en op die bedkassies is mossels geverf om soos blompatrone te lyk. Dit is soos om in 'n ou strandhuis te bly, maar net die geluid van die wind wat waai in die bome in die voortuin klink soos branders.

Die gasvrou staan op om ons te verwelkom in die eetkamer. Een van die tafels is vir drie mense gedek. Toe die vrou die kombuis binneglip, sê Tillie dit lyk of sy lus is om te gesels.

Oor koelerige slaaiblare in bordjies wat aan pierings herinner, stel sy haarself voor as Perla van Wyk. Mense noem haar al die jare tannie Sandy, omdat sy die plek met dié naam gekoop het en nooit die naambord verander het nie. Tillie sê vir haar ons is op pad om te gaan blomme kyk, maar ons is nie haastig nie, ons wil die wêreld 'n bietjie sien.

Die hoofmaal is burgers met 'n donker sampioensous en skyfies. Perla begin vertel van haar seun. Hy het jare lank as sendeling op die see gewerk. "... en 'n ondankbare werk. Ag weet u, Sol het sy pa nooit geken nie. En tog ... dis darem vreemd hoe mense na mekaar aard, nè?

"Klein Sol was soos sy pa. Ewe beginselvas, maar altyd besig om weg te foeter na die een of ander uithoek van die wêreld toe. Kan 'n kind met al sy goeie eienskappe 'n mens so blý bekommer? Hoe verder klein Sol van die huis is, hoe barmhartiger raak hy." Jare lank het sy die poskaarte bymekaar gemaak van oor die hele wêreld, net waar hulle gevaar het. Partymaal het hy vertel van die mense wat hy bedien.

"Ag, maar wat kan jy vertel op 'n poskaart? Hy wou altyd meer sê as wat die kaartjie toegelaat het. Ek ken mos my kind.

"Een van die mense oor wie hy aan my geskryf het, was 'n ou kaptein, Fred. Hy het op daardie lang reise vir Sol al die bygelowe van die see geleer. Só gekonfyt was die kaptein in dié wêreld dat hy kon voorspel hoe hierdie of daardie mense sou maak as 'n storm opsteek. Sol het respek gehad vir hom. Al is hy 'n ateïs, het hy gesê.

"Die mense saam met wie hy gewerk het, is óf diep gelowig óf baie bygelowig. Sol het gesê mens kan jou verluister aan hul gebede. Op een kaart het hy dit so mooi gesê: 'Hulle gewoontes en gebede is ewe onwrikbaar.' En 'n ander een: 'Die lewe op die see is soos donderweer uit 'n grys hemel. Dinge gebeur blitsvinnig - daar's nie kans om te kyk na 'n teken nie.'

"Van al die luister na die kaptein se bygelowe het hy baie van dié mense geleer. Maar Fred het begin einde se kant toe staan. Hy vra Sol toe vir 'n Nuwe Vertaling, wat hy glo daarna heeltyd in sy baadjie se sak gedra het. Toe kom Sol agter hy het 'n Engelse Bybel ook en hy vra hom daarna, waarop ou Fred toe sê: 'Hoe meer talismanne 'n mens het, hoe beter staan jou kanse.'

"Die laaste dae was hy bang en het Sol oor die hiernamaals uitgevra. So asof dit 'n moeilike hawe is waarvoor jy die stuurwerk góéd moet ken. Einde ten laaste is Fred gekersten, maar Sol se geloof het 'n knak gekry en hy het al hoe ongemakliker geword in homself."

Sy gaan haal 'n poskaart en lees hardop. Haar bril bly hang aan die toutjie om haar nek, só goed ken sy dit: "Ons het Kaptein toe veras en wou na een van sy gunsteling-uitsigte vaar. Dit was 'n loutering om tot daar te kom, onstuimig. Toe ek sy as oor die see wou gooi, skep die wind hom terug aan boord, en toe oor my kop, boontoe, tot in die wolke, het dit vir my gelyk. Ek het begin soek na 'n uitleg van die gebeure, maar toe besef ek in my geloof is daarvoor nie voorsiening nie."

Sy wys ons nie die poskaart nie. "Hy is nou terug op land. Maar hy kom nie hiernatoe nie. Nog nie. Wat kan 'n ma sê as sy nog sterk staan? Maar wag. Wil julle nie koffie hê nie?"

Sy verdwyn by die kombuis in ná koffie en ons stap lui kamer toe. Tillie loer by die sitkamer in. Sy gaan staan by 'n ou houtkassie om na hordes foto's te kyk. Sy tel een op, kyk en frons. Ook so met 'n volgende. Sy kyk vlugtig nie al die ander. Toe ons al lê, fluister sy dat al die foto's in die raampies uit tydskrifte geknip is.

Die ontbytkamer die volgende oggend is 'n helder vertrek met tafels wat teen mekaar geskuif is en 'n damastafeldoek is oor 'n lange gegooi. Terwyl ons die ontbytkos ritselend skep, stap 'n man en sy vrou die kamer binne en knik hartlik vir ons. Oor koffie blyk dit hy is 'n aardrykskundige en sy 'n plantkundige. Albei stel belang in die geskiedenis. Tillie vra hulle wat die maklikste pad see toe is. Hulle was die vorige dag daarlangs, sê hulle, en verduidelik toe hoe om daar by 'n dorpie uit te kom.

"Hierdie wêreld het vreemde mense," sê die man toe ingedagte.

Sy vrou vra: "Het julle al vanoggend met Perla gesels?" Ons sê nee, ons het nie. Sy sê niks verder nie.

Ons ry see toe, tot by 'n paar huise en 'n strak wit kerkie wat afgedop het tot 'n onderlaag van hemelblou. Mense is saam met hul stories hier weg. Net die doppe en die skulpe hier vertel jou nog iets.

Ons ry effens teleurgesteld terug na die gastehuis en gaan laai die kar.

Perla lyk of sy die middag lank en diep geslaap het. Sy herken ons skaars toe ons betaal.

Terug in die motor wonder ons oor die uitgeknipte foto's, almal van jongerige mans. "Mense doen vreemde goed as hulle na ander verlang," sê ek. "Ek dink nie Sol was al ooit uit haar gedagtes nie." Ons praat nie verder oor Perla nie.

Ons ry 'n baie warm halfdag lank en kom eindelik by 'n plek aan waar dit vir 'n verandering wemel van die mense. In 'n kafeetjie waar ons sit en koeldrank drink, sit die egpaar saam met wie ons saam ontbyt genuttig het by 'n aangrensende tafel. Hulle wag, iemand werk aan hulle Merc, vertel die vrou. Tillie vra uit oor hul verblyf in die gastehuis. Die aardrykskundige vertel hulle kom al vir baie jare daarlangs op pad om te gaan blomme kyk of by familie te gaan kuier, maar weinig in Perla se plek het met die jare verander.

"Sy bly vertel selfs dieselfde ou stories oor, van toe sy op Bredasdorp gebly het en hoe hard sy daar moes werk. Die ou mens was mos nooit getroud nie, maar daar is al om die ander jaar die storie van 'n seun."

Sy vrou sê: "Ons het eergisteraand laat daar aangekom. Perla het van niks anders gepraat nie as van haar seun wat glo die vorige week daar aangekom het en wat hy als vir haar vertel het, maar ons het hom nog nie ontmoet nie."

Terug op die pad langs die see het Tillie verwoord wat ek ook gewonder het: "Waar sou sy aan die idee van 'n seepredikant gekom het?"