Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Sebastian Kloon gaan rugby kyk by Nat, die grapmaker


Fanus Rautenbach - 2008-07-28

Ek ry volgens ’n perfekte kaart Muizenberg toe. Tot by Lakeside. Ek draai regs in ’n keerweer en sien die OB-Mercedes Diesel. Ek parkeer agter hom. Nat is klaar daar. Hy probeer my deur oopmaak, maar ’n teef bestorm my, ruik aan my goeters, en slaat my met haar sweep. 

“Welkom, Sebastian! Hoe gaan dit met hom?”

“Ek sal hom vra as ek hom weer sien.”

Hy lag nie meer vir my ou grappies nie, is self te besig om iets snaaks uit te dink.

Nat het ’n verbleikte denimpak aan, broek, hemp, baadjie en velskoene. Net reg vir ’n Springboktoets.

“Jy’t ’n mooi plek,” prys ek, maar Nat sê: "Ons gaan agter in die lapa braai. Jy moet sien wat ek alles hier aangevang het … en netnoumaartjies gaan ons die koppie agter die huis uitklim, dan wys ek jou see!”

Ek sal hom eerder dronk maak voordat ek daai koppie uitklim. In sy vonkpos het hy geskryf : "As jy dan moet, bring ’n enkele bottel van jou eie smaak saam – so teen 15.30.” Nou wonder ek of "15.30" die prys van die wyn moet wees, R15,30, of die tyd. Dit blyk die tyd te wees. Gewone ouens sou geskryf het "halfvier", maar Nat is nie gewoon nie. Of miskien is hy …

Nee, hy is nie dóódgewoon nie, maar ook nie bó-gewoon nie. Of bogemiddeld nie. Gewoon? Maar hy is anders. Anders is hy wel. Hy is wel anders. Wel in die sin van baie anders.

Sebastian Kloon is ook nie gewoon nie.

Ek gee ek hom my bottel Boschendal en sê: "Hier is my toetskaartjie!" Ons lag lekker saam. Die teef word histeries. “Sarel!” gil Nat, soos ’n samajoor na agter toe.

“Toemaar …” wil ek sê, maar die hond stamp die deur oop en ons strompel binne. “Eintlik ’n oulike teef dié … Slim? Moenie praat nie! Sebastian, ek jou vertel: as sy buite is, klop sy aan.”

Hy lag. Hier kom ’n oopskop: "Maar sy maak asof sy dom is, want netnoumaartjies moet sy belasting betaal. En Manuel het self ’n paar tewe wat nie ’n pennie betaal nie!” Hy lag oopmond, en ek sien hy het twee goue tande, agter in sy mond.

Hierdie keer het sy nie geklop nie.

“Wat is die teef se naam?”

“Winnie! Wat anders?” Daarna, elke keer as ons in ’n kafee gaan koffie (‘''n koffietjie") drink en die kelner vra: "Hoe wil u dit hê?” antwoord Nat, sonder uitsondering: “Swart en bitter, soos Winnie Mandela!” En lag gouetandlekker vir sy eie grappie.

"Die meubels is ’n vroeë Soutrivier, maar nie twee van die russtoele lyk ewe oud nie. Laat-vendusie, sou ek eerder sê. Teen die een muur hang ses skilderye, drie afdrukke van Pierneef-bome, ’n linosnee van ’n jongeman en ’n olie-selfportret van dieselfde man. “Olie!" reken Nat, trots.

“Olie Oupa?" maak ek ’n simpel grappie.

Langesaan hang ’n ander skildery: ’n rooi-en-geel nagmerrie. Daar is ’n groot arend en mense in die hel wat met hulle arms waai. Ondersteuners by ’n politieke toespraak?

Nat was ’n parlementslid. Maar toe ontmoet hy vir … Wag, ek loop die storie agteruit. Hy verwys weer na die nagmerrie-skildery. “Dis my biografie,” sê Nat, en wag op my reaksie. "’n Vriendin het dit geskilder. Kom ek gaan jou iets wys,” sê Nat, wat nie kan wag nie. Ek kyk na die mure wat afskilfer, die kinderspeelgoed wat oral rondlê, en val oor die teef.

“Sarelllll!"

“Kyk hier," lag Nat, en maak ’n kamerdeur oop. Op die bed lê ’n mummie en rook. “Hartjie, sê hallo vir Sebastian Kloon. Sy verslank vir die Toets!” lag Nat en kyk vir my, want hy het weer ’n grappie gemaak. "Hoe lank nog, Nooi?” vra hy.

“Nog vyftien minute,” reken sy. Sy lê in ’n maermaak-ruimtepak wat verbind is aan ’n maermaak-masjien aan ’n tydmeter verbind. En ’n temperatuursteller.

Toe ons in die sitkamer kom, sit daar ’n jongman in swart op die rusbank. Hy is lank en maer met kort swart hare, en ronde swart oë. Hy is besig om ’n outydse sigaret te rol en te lek.

“Sarel, oom Seb! Meneer Sebastian Kloon!”

Sarel sukkel op. Hy skiet sy regterbeen uit. Dit klingel soos kettings. Hy wik en wip na my toe. “Motorongeluk,” fluister sy pa, “maar baie talentvol. Syne!” Hy wys met die knik van sy kop na die linosnee en die selfportret.

Sarel dink dis aangenaam om my te ontmoet, en sê dit in ’n dun, Engelse stemmetjie, verskonend … en stoot met sy tong. “Jy moet vir my ook ’n zol rol,” probeer ek by wees.

“Sarel! Jy moet vir ons nog twee asbakke gaan haal. Oom Niek rook ook.”

Sarel skiet sy been uit en hink agter toe. Hy draai om na my toe, lyk of hy wil sê dis darem nie ’n zol nie. Maar bedink hom. Die meeste wat hy die hele middag gesê het, was: "Ja, Pa" en "Ekskuus, Pa” en “Jammer, Pa!”

Terwyl hy uit is: "Waar werk hy?" Want ek skat hom so dertig.

“Hy soek nog – dis ’n lang storie. Hy was in ’n motorongeluk, nou’s hy verslaaf aan dagga en drank. Hy is in rehab.

Die teef swiep haar stert. Hartjie kom binne, in swart geklee, sigaret in die een hand en rooi-en-geel mieliemeelkrulle in die ander. Ook toetsbiltong. Met haar bloedrooinaelshand vat sy biltong, om te toets, gaan sit-lê soos ’n advertensie-tier op die bank, trek haar regterbeen onder haar in, en sug.

Ons hoor toe Niek binne kom – lang man met ’n snor en bril en twee blikkies bier. “Sebastian Kloon!” groet hy hard en luidkeels. “Almal ken jou. Ek is Niek Labus–   … noem my sommer Niekie. Ek is maar ’n moeilike man, daarom het ek net twee biere gebring, want as ek gedrink is en een van daai Meksikane keer my voor, dan donner ek hom!”

Chester Williams word deur ’n meisie op die TV gepoeier vir die TV.

“Nou dáár’s nou ’n Meksikaan wat kon rugby speel,” sê Niekie wat ’n moeilike man is. Hy tel ’n bottel wyn op. “Elite, huh?” lag hy met Nat.

Nat is nie bietjie trots nie. “Kanonkop se Stal!”

Niekie kyk na my Boschendal. “En dít drink jy as jy nie invloed het nie!” lag hy.

“Kry iets om te eet,” sê Nat ongemaklik, en vat self ’n hand vol biltong. “Sarel! Is dit die woestyn dié? A nee a! Gaan haal die pastoriesleutel en maak die wyn oop.” Plaas dat hy stilbly, verduidelik Nat: "In hierdie huis is ’n kurktrekker hoeka ’n pastoriesleutel!" Hy lag en loer onderdeur of ek sy humor waardeer.

Toe die teef my glas wyn van die tafel afswiep, verlang ek na my woonstelletjie. Daar by my is dit maar vervelig. Ek …

“Winnie!”

“Kom hier, Winters …” koer Hartjie en vat ’n suig aan haar lang, filterlose sigaret. “Jy is my hart se punt. Winters bring warmte in my hart. Sy spreek “Winters” op Engels uit. Hou glad nie van die naam Winnie nie – dis mededinging vir haar.

Ek moet ’n draai loop. Ek staan op. “Ouman loop pro-straat af, Ouman, ou kalant, Ouman kan nie fluit nie, sy tande is in sy hand!” maak ek my grappie vir die aand. Almal verwag dit en lag hardop. Net nie Hartjie, of Winnie, nie, sy tel net haar slanke plein wit sigaret op as saluut en erkenning.

“Kom ek wys jou die ander badkamer,” sê Hartjie, “dis in Liefie se kamer.”

Sy loop voor. Ek sien sy het die maermaakmasjien nodig. Maar nie te veel nie. In Liefie se kamer is ’n blou-en-geel plastiekspringkasteel. Maar in die deur lê een van haar vuil broekies. Hartjie skop dit ongeërg weg.

Ek kyk na die verval. Ek bid sonder hande gevou. Hartjie … Hartjie is maar 29. Net 25 jaar jonger as haar wellewende gasheerman in sy blou denims. Sal sy nog jare sonder erg vuil broekies kan wegskop? Ek sien Psalm 8 voor my: "Wat is die mens dan, dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak.”

“Hier is die badkamer. Maar dis donker. Daar hang die draad van die lig af.” Ek trek aan die tou. Alles skeur af van die gloeilamp af. Ek dink: die líg hang van die draad af. “Nee, daar is ’n skakelaar,” sê Hartjie, koel en kalm.

“Ek is jammer,” reken ek.

“Moenie wees nie, Nat sal dit regmaak.”   Ek kyk na die stuk wat van die gloeilamp af gekom het. Daar is ’n stuk hegpleister aan.

Sy loop. Ek maak die deur toe. Ek kan nie in die donker piepie nie. Ek spelle toe en loop knyp-knyp terug sitkamer toe. Langs die pad hoor ek hoe Nat ’n foongesprek beëindig: “Maar ek sê dan vir jou ek het jou onderhoud-tjek inbetaal! Sal ek nou daaroor lieg? Ja, dag.”

Die kleintjie, driejarige Liefie, vat haar ma se donkerbril, klim op ’n stoel.

“Nou moet jy sien!” lag Nat vir my. Trots.

Liefie sit die bril op en sê: “Stil! Ek praat nie weer nie, stil! Da-de-lik – of ammal gaan kamer toe!”

Almal lag vrolik. Is sy nie oulik nie! Die teef blaf asof sy self die donkerbril opgesit het.

“Sarel, vat vir Winnie Mandela agter toe! Nou gaan dit begin, niks meer gepraat nie. Daardie Spaanse skeidsregter … ek wonder wat is geelkaart in Spaans?”

Die wedstryd? Watter wedstryd?