Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Bruid


JMT Labuschagne - 2008-07-28

“So jy gaan trou,” sê Hein.

Hannes is besig om sy das reg te trek voor die vollengte spieël.

Hy sê niks.

“Another one bites the dust,” voeg Hein by.

Hannes sê nog steeds niks nie. Hy is te besig om homself in die spieël te bekyk.

“Jy lyk goed,” sê Hein.

Sy ou skoolmaat kyk skerp na hom.

Hein lag senuweeagtig en boks hom speels teen die skouer.

Hannes ignoreer hom weer en begin aan die blom in sy lapel te peuter. Hein trek sy hand deur sy hare. Daar is ʼn oomblik lank stilte tussen hulle terwyl die bruidegom homself in die spieël bevroetel asof hy homself net nie perfek genoeg kan kry nie.

Hein wil nog iets sê, maar Hannes val hom in die rede: “Kom ons gaan solank kerk toe. Die mense is al seker daar.”

Die kerk is al halfvol. Hannes groet almal vriendelik terwyl hy vorentoe loop na die kansel. Toe hulle albei voor gaan staan, vra Hannes vir Hein of hy die ringe onthou het. Hein voel-voel aan sy pak se sakke en tot Hannes se verligting haal hy dit uit sy binnesak. Dit is in ʼn klein, blou fluweelboksie. Hein maak die boksie oop en haal die ring uit. Hy sit dit aan sy vinger en kyk daarna.

“Wat maak jy! Weet jy nie dis bad luck om dit te doen nie?” fluister Hannes verergd langs hom. Hy sit die ring terug en die boksie weer in sy sak. Hannes skud sy kop.

Die kerk vul stadigaan op soos die een gas na die ander opdaag. Hein sug, terwyl Hannes opgewonde op sy tone bons. Dit is asof hy nie kan wag nie.

Soos die gebruik is, kom die bruid laat. Die huweliksmars speel en die bruid kom die kerk binne. Hein merk op dat sy mooier in haar trourok lyk as gewoonlik. Hy kyk weer voor hom, terwyl Hannes se oë vasgenael is op elke tree wat sy gee.

Toe die bruid voor langs Hannes kom staan, raak die hele seremonie vir Hein onwerklik. Alles gebeur in ʼn waas van tydloosheid asof hy nie kan glo dat dit gebeur nie.

Die huweliksformulier.

Die gee van die ringe.

Die soen.

Dinge begin eers weer vir hom werklik raak toe hulle in die saal aankom vir die ete.

Hein sit aan ʼn tafel waar een van Hannes se vorige girls aangaan oor hoe Jung gesê het dat die Heelal ʼn mens se onderbewustelike begeertes vergestalt in gebeurtenisse rondom ʼn mens. Hy vermoed dat sy al tipsy is en kyk in die saal rond na die ander verskillende mense terwyl sy in sy ore babbel. Dit is ook sy vermoede dat Hannes-hulle hom saam met die girl aan ʼn tafel laat sit het met die idee dat hulle dalk afhaak. Die gedagte laat hom verergd voel, maar hy weet nie hoekom nie.

Hannes se oom is die aangewese seremoniemeester en hy maak die saal stil toe almal hul sitplekke ingeneem het. Hy begin sy toesprakie met ʼn staaltjie uit Hannes se jeug. Tussen groot gelag van die gaste vertel die man hoe Hannes nie meisies wou soen nie en hoe hy plegtig belowe het dat hy nooit in sy lewe ʼn meisiekind sal soen nie. “En kyk nou vandag! Vanaand gaan hy meer as net soen!” sê die Oom en knipoog vir Hannes en sy vrou.

Hannes lyk skaam.

Hein lag nie saam nie. Hy sit net en drink aan sy dubbel brandewyn. Die vloeistof begin stadig na sy kop gaan en hy is dankbaar daaroor. Miskien sal dit die gruwelike aand vinniger laat verbygaan.

Terwyl die een persoon na die ander op die podium kom getuig van hoe wonderlik Hannes en sy nuwe vrou is, raak Hein al hoe dronker op brandewyn. Die brandewyn laat hom onthou van sy en Hannes se kuiers saam.

Die sprekers se eentonige gegons van staaltjies maak Hein verveeld en hy haal ʼn foto uit sy beursie. Dit is ʼn foto van hom en Hannes wat in ʼn klub afgeneem is. Hulle hang om mekaar se nekke en elkeen het ʼn brandewynglas in die hand.

Skielik staan almal op om die heildronk in te stel. Hein staan op met die glas in sy hand. Almal drink op Hannes en sy bruid, maar hy drink op hulle goeie tye saam.

Volgende op die agenda is die gooi van die bruid se kousband vir al die ongetroude jongmans. Almal staan nader – Hein inkluis. Hy gaan staan heel agter met sy een hand in sy broeksak. Hy gryp halfhartiglik na die band, maar ʼn entoesiastiese oujongkêrel spring almal voor en haak dit uit die lug uit.

Dan is dit die groot geleentheid waarvoor al die meisies wag: die gooi van die bruid se ruiker. Al die ongetroude dames vorm ʼn groepie agter die bruid se rug. Sy mik-mik om te gooi, en gooi dan die ruiker. Halfpad deur die lug kan ʼn mens aan die boog sien dat sy die ruiker te hard gegooi het. Die ruiker vlieg oor die koppe van die verbaasde vrouens en land kaplaks op iemand se skoot.

Hein glimlag verleë oor die ruiker terwyl almal in die saal skaam begin lag. Die fotograaf staan nader en neem ʼn kiekie van Hein met die ruiker in sy hande.