Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Ons dink aan Mike Schutte


Fanus Rautenbach - 2008-07-23

Een van ons gereelde Umfaanus-lesers vra waarom is oom Fanus dan so stil? Dit is Roelie van Jaarsveld van Radio Laeveld. Hy vra of ons nie ietsie soos ’n huldeblyk aan Mike Schutte in Umfaanus kan plaas nie. Hy skryf hy het dit die eerste keer in een van Fanus se boeke gelees en nou wil hy dit vir Mike Schutte leen. Dit is sy grafskrif:

Hier lê Mike Schutte:
vir die eerste keer in sy lewe
is hy dood –
ernstig.

Eendag vra Kallie hom: Mike, het jy enige kinders?
Mike: Ek is soos daardie ander bekende kunstenaar: "Ek het nie eintlik kinders om van te praat nie!"
Kallie: Maar voordat jy getroud is, wou jy baie kinders gehad het?
Mike: Ja, ’n hele ry van hulle … ’n Schuttery van kinders!

Eers was daar Koos Vannermerwe. Toe word hy vervang met Mike Schutte. Nou lees ek in Umfaanus dat die kinders in die Kaap nog dieselfde ou grappies gebruik, maar hulle het nuwe name vir die ou grapmakers:
Mike Schutte het Jan van Riebeeck geword, en Kallie Knoetze Spiesm.

Koos, Mike en Kallie word deur spietkops by ’n groot winkelsentrum in Benoni afgetrek.
Spietkop: OK, guys, het julle ’n idéé hoe vinnig julle gery het?
Hulle: G’n idee nie – maar jy gaan ons sê!
Spietkop: So vinnig dat julle elkeen ’n spoedkaartjie gaan kry! (Hy haal sy boekie uit.) Wat is jou naam?
Koos kyk rond en sien ’n Woolworths-reklamebord daar naby: “My naam is William Woolworth," sê Koos.
Kallie snap dit dadelik, kyk rond en sien Edgars. “My naam is Eddie Edgars!”
Kallie en Koos kyk benoud na Mike en hoop dat hy verstaan wat hulle gedoen het.
“En jy?” vra die spietkop kwaai.
“My naam is Ken!”
“Ja, maar wat is jou volle name?”
Mike sê selfversekerd: “My naam is Ken, en my van is Takkie Fraaid Tjieken!”

Kallie en Mike gaan vang vis waar daar ’n kennisgewingbord is: VISVANG VERBODE. Hulle het skaars lyntjie natgemaak of Kallie sê vir Mike: "Ons moet nou eers ophou visvang, hier kom Fauna en Flora aan!”
Mike antwoord: "Kallie, los nou eers die vroumense uit – kom ons vang vis!”