Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Anton Goosen: Met liefde ... van die Liedjieboer

Vir tony g om te blog ...


Anton Goosen - 2008-07-17

Oftewel: “Wat maak vir Gansbaai lekker?”

Dis ʼn wêreld van uiterstes daarbuite.

Die duinekind kom in die maag van ʼn silwervoël terug.

Van die Aardvark-shows in Londen na ʼn kunsuitstalling in Gansbaai.

Toe ek by die kantoorvenster uitkyk, sien ek die tente op die hawe: die fees van die ganse. Die musiek styg op tot in my oor. Hier in die nok van die dak waar ek soos breyten se uil sit en tik. Hoe hoe.

Die ou van die pub se backtracks haak vas. By die pub op Pearly Beach sing hy gereeld, want hy is die eienaar. Sy oë dwaal oor die skare van ses by die toonbank, hy stap kroeg toe, skink nog ʼn brannas, sit dit op die klankbord neer, stap terug kroeg toe, gaan haal ʼn lappie en vee die nattigheid af, stap terug en sit die lappie terug, tel dit weer op en vee sommer die toonbank ook af. En dit alles terwyl hy "Cotton Fields" sing.

Die foon lui. Dis uit België. Die Werchterfees. Sy staan heel voor toe Neil Young sing. En so ook die volgende aand toe Ben Harper optree. “If you don’t like my fire then don’t come around, 'cause I’m gonna burn one down.” En REM, Radiohead, Counting Crows …

En aan hierdie kant van my oor, name wat ek nog nie van gehoor het nie – nie dat dit saak maak nie, of dat hul locals is nie, behalwe die een wat homself in sy persuitreiking beskryf as "al die pad van Kaapstad af".

“Well, art is art, isn't it? Still, on the other hand, water is water! And east is east and west is west and if you take cranberries and stew them like applesauce they taste much more like prunes than rhubarb does. Now, uh ... Now you tell me what you know.” (Groucho Marx)

Om te vlieg. Die laaitie van omtrent vier hardloop nader by Oliver Tambo waar ons by Emirates inboek. “Anton Goosen! Ek wil net vir jou sê ek like jou musiek stukkend!” Ek kyk om. Sy trotse ouers staan en kyk. Klein kinders noem jou altyd op die naam en van. Dis een begrip.

Almal noem vir Denzl Keenan, my elektriese-viool-speler, Captain Jack Sparrow. Selfs die Londeniete (die Engelses!).



Die Bushrockband UK 08: Barry van zyl (dromme), Tony G, Schalk Joubert (baskitaar) en Denzl Keenan (viool)


Ek onthou die oorgewigstorie van Schalk Joubert, my bassist by Kaapstad-lughawe. Hy sou heelwat moes inbetaal oor sy bass amp. Toe kyk hy rond … “Maar kyk daardie een daar. Hoekom vra julle haar nie ook oorgewiggeld nie! Kyk hoeveel souskluitjies het sy geëet!”

Almal lag en die bedrag word heelwat verminder. Hoekom moet ons muso’s oorgewig betaal op kitare en die botterbere betaal nie oorgewig nie?

Dis ons grootste vrees wanneer ons oorsee toer, dat ons ʼn souskluitjieliefhebber in die sitplek langsaan gaan kry, want hul hang aan beide kante van die sitplek oor al wat ʼn leuning is ... Of ʼn baba op die skoot naby. Of ʼn tannie wat in die middel van die nag haarself nie opstoot met die hulp van die armleunings nie, maar met die hulp van jou stoel voor haar.

Emirates is steeds ʼn wonderlike redery. Al vlieg hul ure skeef Dubai toe eers. Jy kan die movie op die sitplek voor jou rewind of pause, en jy kan sms'e of e-pos stuur. As jy wil. Die voordeel is dat daar heelwat rookkamers op daardie lughawe is.

Dis vreemd hoe ʼn homogene groep mense altyd ʼn "bonding" vorm. In hierdie geval die rokers (van wie sommige sommer buite staan) wat almal hi en totsiens sê. Soos een familie.

Schalk sê ʼn mens moenie te veel "Achmed the dead terrorist"-grappe soos "Silence! I kill you!" op die lughawe maak nie – hulle gaan dalk nie daarvan hou nie.

Om te blog lyk dit vir my deel jy persoonlike ervaringe, skynbaar met ʼn virtuele gehoor daar buite. Soos byvoorbeeld hoe lekker ek gelag het toe ek daai rooigedrapeerde bome in Dorpstraat gesien het verlede week toe ek deurry Paarl toe.

En dadelik het ek gedink aan die "kunswerk” in Dublin se hoofstraat. Nee, nie die verspotte Millenniumtoring nie, maar ʼn LCD van ʼn voetganger wat stap – 24/7.

Daar was ʼn naam by die werk, maar who cares? "The aim of art is to represent not the outward appearance of things, but their inward significance" (Aristoteles).

Dis Molly Malone se standbeeld wat ons eintlik interesseer. Die mees kamera-gekliekte standbeeld in Dublin.



Sweet Molly Malone

Molly was ʼn fishmonger by day and sell-a-bit by night,” sê die stem van die busdrywer. Maar eers sing hy. A capella:

In Dublin's Fair City
Where the girls are so pretty
I first set my eyes on sweet Molly Malone
As she wheel'd her wheelbarrow
Through streets broad and narrow
Crying "Cockles and mussels, alive, alive o!
Alive, alive o!, alive, alive o!"
Crying "Cockles and mussels, alive, alive o!"

Niks is groener as Ierland nie. Selfs groener as Wentworth Golf Estate in Surrey waar Ernie Els woon, waar geen selfoonontvangs is nie, en geen karre dakke het nie.

Almal in Ierland sing. Hul sing nog oor die regte redes. Bedags wys die toerbus jou die Clarence-hotel wat aan U2 behoort. Saans pub-crawl jy en luister na Ierse bands wat tradisionele Ierse musiek speel. By die Temple Bar is heerlike Guinness. En vir dié wat dit verkies, 180 verskillende soort whiskies op die lys. Die band pas styf langs mekaar op twee bankies in: ghitaar, viola, klein trekklavier en snare drum tussen die bene.

As I was goin' over the Cork and Kerry mountains
I saw Captain Farrell and his money he was countin'
I first produced my pistol and then produced my rapier
I said stand and deliver or the devil he may take ya
Musha ring dum a doo dum a da
Whack for my daddy-o
Whack for my daddy-o
There's whiskey in the jar-o …

Langs die Temple Bar is die pub crawl. Die tweemanskap is baie informatief. ʼn "Reel" is vier letters, dus 4/4, en "Jig jig" is 6 letters, dus 6/8.

Na ʼn kwartier se akoestiese sang en viool staan almal op en gaan na die volgende pub. En na ʼn kwartier dieselfde daar! Akoesties en jy sleep jou gehoor na ʼn ander venue? Dis ʼn eerste vir my.

Die Brazen Head in Dublin is die oudste pub. Dis in 1198gebou. Die Guinness-hoofkwartier is natuurlik in Dublin. Kilkenny word ook daar gebrou. En oral is "leprechauns".

"I wouldn't touch someone/something with a barge pole." Daar word verduidelik dat die uitdrukking dateer uit die dae van die groot pes toe hul vermoed het dat die bedelaars by die stadsmure dit aangedra het. En dus het die soldate bo-op die bedelaars teruggedryf met pale. In werklikheid was dit die vlooie op die rotte.

Die Amerikaanse toeriste is ʼn probleem. Maar hulle is oral ʼn probleem. Die beste is om buite seisoen te gaan kuier. Ook in Gansbaai. Wanneer die binnelanders en inkommers nie hier is nie.

Die haaiboottragedie het die dorp in twee geskeur. Aan die een kant was die vissers, die trawlerskuitmense, wat die haaiboot gewaarsku het om daardie dag nie uit te gaan nie.

Aan die ander kant is die haaiboorbedryf (R1 400 a shot of jy iets sien of nie). Die boot wat langs die een gelê het wat deur die “fratsgolf” omgeslaan is en waar drie toeriste dood is, het na ʼn minuut of twee, in stede om te help, aangegaan met die toer. En hierdie woorde: "The show must go on.”

Na die voorval het ek ʼn gevoel gekry van “the town is restless”. Met net die aanhoor van die vraag: “Wat het gebeur?" word die arms gevou by Joy’s Kitchen waar Gus glimlaggend toekyk.

“Wat wil jy weet?”

"Is dit waar dat die skipper gewaarsku was om nie uit te gaan nie?'

Die mense wat belange het by hierdie toeristebedryf staan almal saam. En ontken dat die boot op ʼn rif gaan lê het wat een oomblik twee meter diep is en die volgende oomblik 45 meter. Selfs die kafee-eienaar het besigheid om te doen met die toeriste.

David Kramer bel. Ons gesels onder andere oor hoe lekker die dae was toe ek en hy net eenkant by ʼn kroegtoonbank kon staan en ongemerk net die stories luister ...

Maar die groot haaikenner, die man wat die witdoodhaai beter as enigiemand anders ken, en nooit skoene dra nie, sê die see was nie reg daardie dag nie.

André Hattingh swem al jare saam met die witdoodhaaie. Op NatGeo Wild-programme sien ʼn mens gereeld hoe hy hul aan die neuse omdop. Hul gaan in ʼn soort trance. In die Buitensteen-pub is ʼn foto waar hy saamswem. Hy sê dat hul teen ongeveer 3 tot 4 kilo's per uur cruise, maar teen 60 kilo's per uur aanval. Maar niemand kan presies meet nie. Die ander kenner, wat onder hom studeer het, is baie meer aggressief in sy antwoorde. Soos dronkes doen. Maar ek het begrip, want hy moes die oorlewendes gaan uitduik en die dooies gaan uithaal.

Die haaibedryf hou vol dat die lokaas wat hul vir die haaie gooi, nie die diere kondisioneer nie.

Die een uitsondering op die aggressie van die bedryf was die eienaar van die boot. Hy is regtig jammer oor wat gebeur het. Ek het baie simpatie met hom, want hy kom opreg voor.

Die perlemoenstories is ook nou minder, noudat niemand dit in die water mag waag met ʼn duikpak aan nie. Stories soos dat die ouetehuis involved was met yskas-spasie wat verhuur word, of lyksondernemers wat nie in road-blocks gestop word nie. Of die selfoon toegebind word in ʼn kondoom en dan wanneer die duiker opkom, ontvang hy ʼn boodskap van die land af. En indien nodig laat val hy maar net sy “Gansbaai hup-caps”.

Gansbaai maak eintlik vir Gansbaai lekker. Die feit dat die historiese-geboue-komitee nee gesê het vir die dude wat sy huis op die hawe wou platslaan, het hom nie verhinder om dit af te brand nie. En nou het hul hom toestemming gegee.

ʼn Man wat met ʼn bulldozer aan die nuwe hawe help bou het, het snuf in die neus gekry dat ʼn ander kêrel by sy vrou aanlê terwyl hy by die werk is. Dus het hy een nag die man se huis met sy bulldozer gaan platstoot. Maar toe onmiddellik daaraan gedink dat die vingers na hom gaan wys. Toe ry hy met sy bulldozer oor sy eie kar. Net sodat die suspisie nie dadelik, of ooit, op hom sal val nie ...

Die Iere maak vir Ierland lekker, maar die Ganse maak vir Gansbaai lekker. Of is dit die Walvisse in Walkerbaai? Die Noorkappers is al hoeka hier om te paar en dan later met die kleinspan en die dolfyne te baljaar.

O ja, die blog ...? Ek het vergeet. Sal maar volgende keer vertel hoe ek opgestaan het en kafee toe geloop het, en dies meer. Maar hier is solank ‘n foto van die sleutelbord waarop ek getik het en op sou geblog het, sou ek onthou het ...



Die ystervoël het geland en dus gaan die duinekind vanaand saam met my kunsuitstalling in Gansbaai toe. Hoekom nie, dalk is daar rooi komberse om die haaie gedrapeer …