Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Al kwyn die sonlig teen die hange


Hennie Aucamp - 2008-07-16

1

Hulle het kort na mekaar ingetrek by Huis Herfsblare, die wewenaar Stefaans Nolte en die oujongkêrel Leonardo Terblanche, en soos die toeval dit wou hê – geluk, het hulle later besluit – was hul woonstelle, die laastes in die gang af, regoor mekaar.

Beide was bles, met iets onsekers, iets apologeties omtrent hul lyftaal, en hulle sou as ’n tweeling aangesien kon word, as dit nie was dat Leonardo soms ’n bietjie opsigtelik aangetrek was nie. Hy het ’n duur olyfgroen leerbaadjie gehad wat helaas te knap gesit het, en hierby het hy ’n vlinderdassie gedra, een van baie, wat die aandag na sy gesig moes trek, weg van sy maag af.

Natuurlik het die weduwees onmiddellik hul strikke vir Stefaans gestel, maar van Leonardo, het hulle geweet, moet hulle maar vergeet. Hulle het met bordjies snoepgoed by Stefaans opgedaag. Die een bring maketaanstukke, die ander semelbeskuit. "Hoe de hel," het Stefaans aan Leonardo gevra, "hoe de hel het Mathilda Matthee geweet dat ek aan hardlywigheid ly?"

“Almal in Huis Herfsblare ly aan hardlywigheid,” het Leonardo lakoniek geantwoord, “ek ook. Maar ek gebruik ’n ou Boereraat, aalwynpille, ‘extra high fibre’. Ek gaan haal vir jou ’n paar, dan toets jy dit.”

Toe Leonardo die pille vir Stefaans gee, sê hy nadruklik: “Baie beter as semelbeskuit. As ek jou raad verskuldig is, Stefaans, hou Mathilda op ’n afstand. Sy is jou tipiese witlewer-geval.”

Stefaans het sy vrou tot die laaste toe versorg, met behulp van ’n dag- en ’n nagverpleegster, maar haar eens geliefde liggaam het hom teen die einde met weersin begin vervul, want dit het begin ruik. Elke ou vrou in Huis Herfsblare, met of sonder loopringe en stutkieries, het hom aan sy oorlede vrou herinner. Hy het wel nog na mooi jong meisies gekyk, maar sonder begeerte, meer soos ’n boer wat na ’n opreggeteelde werfdier kyk, ’n hond of ’n perd. ’n Natuurlike aanvoeling het hom gesê dat hy liewers nie oor vrouens met Leonardo moet praat nie. Kyk nou weer die “witlewer”-storie, sommer so uit die bloute.

Hulle het gou ontdek dat hulle ’n paar belangrike belangstellings deel. Klassieke musiek, maar nie té modern nie, en Kontinentale rolprente en substansiële leesstof, fiksie sowel as niefiksie.

Stefaans bestuur nog flink, en Vrydae ry hulle met sy Mercedes Benz Waterfront toe, soms om ’n nuwe prent te sien, soms net om by boek- en CD-plekke rond te dwaal. En dan het hulle nuwe eetplekke uitgetoets, pannekoeke by Harry se Plek, of sommer net vis en chips op die kaai, of ossobuco by ’n Portugese plek wat dit gereeld in die winter voorsit.

Mathilda Matthee het hulle soms op ’n Vrydag voorgestaan, maar Leonardo het die liegwerk op hom geneem en vae, absurde redes aangegee waarom Mathilda nie kan saamgaan nie. “Vandag móét ons nog Juffroushoogte toe,” sou hy sê, of “’n Niggie van my lê op haar laaste by Karweiderskraal.”

Stefaans en Leonardo het ’n reëling getref om die angel uit Sondagaande te haal: een week ’n musiekaand by Leonardo, die volgende week ’n musiekaand by Stefaans.

Eintlik was Leonardo beter ingerig vir onthaal. Hy het ’n wit eenheid by Boardmans gekoop wat gelukkig net-net ingepas het teen sy langste muur, en hier het hy sy TV-stel en CD-speler en klankversterkers gehou; baie netjies, hi-tech, byderwets. Voor dié eenheid het hy ’n tweepersoonsbank gehad, in die Biggie Best-trant, maar opgebou om ’n onwennige oumenslyf tegemoet te kom by die opstaan.

Leonardo het keurige eetgoed by ’n deli in die buurt gekry – salmbroodjies, dolmades, kaas – en dit saam met tee voorgesit. Wanneer die musiekprogram vir die aand verby was, het hy ’n soetsopie of drie geskink, dikwels ’n tuisgemaakte likeur.

Stefaans was hom pynlik bewus van sy beperkte huishoudelike vaardighede, en het skamerig gevra of hulle nie maar elke Sondag by Leonardo kan saamkom nie. Stefaans het ’n bietjie te gretig “ja” gesê, en haastig hieraan toegevoeg: "Ek het nou eenmaal die bankie.”

Wat selfs Leonardo nie durf hoop het nie, is dat hierdie bankie met sy geblomde kreton-oortrekstel ’n vryersbank sou word.

Dit het só gebeur: Op ’n koue herfsaand, met ’n lae grys lug, het Stefaans triestig gevoel, en Leonardo se keuse vir die aand was miskien nie ideaal nie: Vier letzte Lieder van Richard Strauss, soos gesing deur Elizabeth Schwarzkopf. Leonardo het sy program uitgebreid aangevoor, want Stefaans se kennis van Lieder was baie onseker.

Leonardo haal ’n vergeelde blaadjie uit sy Penguin Book of Lieder en sê verleë: "Jare gelede het ek dié Lieder probeer vertaal, as terapie in ’n liefdeskrisis, maar moenie te veel verwag nie, my Duits is maar optel-Duits.” Hy sit sy leesbril op, kug senuagtig, en begin voorlees:

Nou dat die dag my vermoei het
smag ek na die sterrenag,
mag sy my vriendelik ontvang,
soos ’n uitgeputte kind.

Leonardo loer oor sy bril en sê: “Verskoon my puntenerigheid, maar ek wou nie ‘müd’ herhaal nie, al word dit ook in die Engels gedoen. Jy, weet, as ’n ou skoolvos …”

“Gaan aan,” vra Stefaans, kennelik ontroerd.

Wanneer Leonardo by die tweede lied, “September”, kom, en lees:

Die tuin treur,
koel sink in die blomme die reën.
Saggies sidder die somer
na sy einde toe,

laat Stefaans sy hand op Leonardo se dy val, en druk sy kop teen Leonardo se skouer en begin huil.

Leonardo weet dat hy nie te veel in hierdie gebaar moet inlees nie. Stefaans soek na ’n fokus vir sy emosie ná maande van eensaamheid, eers vóór sy vrou se dood, toe daarna. Maar toe Stefaans opreik na hom en sy kop nadertrek vir ’n soen, laat Leonardo nie op hom wag nie. Hy dank die Here dat hy ’n Listerine-strokie op sy tong gesit het voor die konsert.

Daardie aand is daar nie na musiek geluister nie. Daar is gehuil en gelag en gesoen, en ou verliese en verdriete is na bo gehaal.

“Jy het gepraat van ’n liefdeskrisis …” sê Stefaans.

“O, ja, met Louw, daardie klein ‘gold digger’, maar dit het ek nie destyds geweet nie. Ek praat nou nie van geld nie, maar van die misbruik van my professionele kennis. My kreatiewe energie het opgegaan in sy pretensieuse romans. Maar toemaar, toemaar, dis water onder die brug deur. Jy kom oor jou teleurstelling; jy skep van vooraf inhoud vir jou dag.” En Leonard lê sy ou, maar versorgde hand, op dié van Stefaans.

Stefaans vertel dat hy en sy vrou se sekslewe al redelik vroeg beëindig is. Sy het gevra of hulle nie maar in aparte kamers kan slaap nie, want seks is vir haar ’n beproewing en nie ’n vreugde nie. “Vandag se jongmense wat voor die huwelik saamleef, is baie verstandiger,” het Stefaans gesug. “En toe is ons enigste kind nog ’n probleemgeboorte.”

Stefaans praat selde oor sy seun. Dié het die land verlaat toe die politieke onruste begin het, en hom in Amerika gevestig. Hy neem dit omtrent nooit met sy pa op nie, en het ook nie sy ma se begrafnis bygewoon nie.

Tot seks tussen Leonardo en Stefaans het dit nooit gekom nie. Stefaans en Leonardo was beide op kroniese medikasie, wat ’n slapte in die bedryf gebring het, en beide had ’n hartkondisie, wat Viagra uitgesluit het. Uitreiking, aanraking, ’n soen dan en wan was vir beide oorgenoeg. Hulle het hulself emosioneel veranker gevoel, en het selfs oormoedig geraak en by die Concert Club aangesluit.

Sommer die eerste aand in die Baxter het Leonardo en Stefaans vir Ulrike Trautmann gewaar. Sy het onlangs eers ingetrek in Herfsblare, en op die bostelegraaf het Leonardo gehoor dat sy haar lewensmaat verloor het – glo ’n vrou, het ’n kwaadwillige geskinder, maar hieroor was daar nie sekerheid nie.

“Kom ons gaan chat,” sê Leonardo, “sy lyk so alleen.”

Ulrike se hare, grys met swart gehoog, is streng gekap, wat haar na ’n laat-Romeinse keiser laat lyk. Sy is deftig Duits geklee, met ’n Bleyle-baadjie, en duur, dienlike skoene. Maar haar glimlag was spontaan en warm, want sy het onmiddellik soortgenote in Leonardo en Stefaans vermoed.

Haar musiekkennis was fenomenaal, wat Leonardo en Stefaans na amateurs laat voel het. So het dit dan gebeur dat die twee mans na lang beraadslaging vir Ulrike Trautmann na een van hul musiekaande genooi het, want ’n mens is nooit te oud om te leer nie.

Ulrike het opgedaag geklee in ’n swart langbroek en ’n tweedbaadjie waarop daar ’n bossie viooltjies vasgespeld was, en ’n bottel wyn in die hand.

Leonardo en Ulrike het na mekaar gekyk en geglimlag: Leonardo, lesbiërkundig, het Ulrike se kode verstaan. Stefaans natuurlik nie, en Ulrike het met Teutoniese deeglikheid verduidelik: “Dié gebruik gaan terug na Sapfiese tye. Dit het weer herleef, en in die Duitsland van Marlene Dietrich was dit die maklikste manier om oor te sein: ek is van ’n bepaalde geneigdheid.”

Leonardo het sy program vir die aand hersien en ’n dokumentêre video van Dietrich gewys, gemaak deur Maxmillian Schell. Ulrike was verruk en het allerhande blou stories uit die Berlin von damals vertel. Stefaans het ’n bottel Liebfraumilch gaan haal, en daar is tot laat nag toe gekuier.

En van daardie aand af was Ulrike, Stefaans en Leonardo ’n onafskeidelike driemanskap. Hulle het avontuurlik gaan uit-eet en lang gesprekke oor Europese films op DVD gevoer.

Mathilda Matthee was stinkjaloers op die lewenslus wat die Driemanskap uitgestraal het, en het gaan sit en ’n lang en verbitterde brief aan haar dogter in Australië geskryf: “Hier het ’n hoer van Babilon in Huis Herfsblare ingetrek, daardie Duitse vrou van wie ek jou vertel het, en wat nou van die goeie naam van ons Huis moet word, weet die Here alleen. Gaan hulle al drie saam bed toe, vra ek my af.”

Die dogter het op ’n poskaart van die Operahuis in Sydney geskryf: “Ag, ma, get real, die tye het verander – hoekom breek jy nie ook uit nie?”

Mathilda het by haarself gedink: “Die Here slaap nie.”

En dalk was sy reg.

Toe Leonardo een oggend Stefaans se môrekoffie en beskuit vir hom neem, merk hy dat Stefaans buitengewoon stil lyk. Hy lê op sy sy gedraai, sy wang effens opgedruk deur die kussing. Hy is in sy slaap oorlede.


2

Leonardo sou reddeloos verlore gewees het, met begrafnisreëlings en boedelsake en wat nie alles nie, maar Ulrike Trautmann het hom solied bygestaan. Vir die begrafnisprogram het Leonardo sy eie vertaling van “Im Abendrot” ingesluit, nadat Ulrike dit gekontroleer en verbeter het.

Leonardo het uit eie sak ’n begrafnisonthaal vir die inwoners van Herfsblare gereël, maar sommige van die inwoners het koekies en toebroodjies gebring, want dit was die gebruik, en Mathilda het ’n laagkoek gebak, met Peppermint Crisp oor die versiersuiker gerasper. Die koek het, eerlik gesê, ’n bietjie ontuis gelyk tussen ’n koue ham en ’n koue kalkoen, om van die verskeidenheid brode en kase en salami's nie te praat nie, maar Ulrike het Leonardo gekalmeer: sy wou maar net help.

Stefaans se seun het nie vir die begrafnis gekom nie, en het die opruiming van die woonstel aan sy pa se prokureur oorgelaat. Die prokureur weer het hom op Leonardo en Ulrike beroep.

Leonardo het die Wenning-stillewe gekry, die een met klipblomme in ’n gemmerpot, en ál Stefaans se CD’s. Hy het ook die Mercedes Benz geërf, en ’n stewige kontantbedrag. Aan Ulrike het Stefaans twee Pierneef-houtsneë gelaat, en ’n paar kunsboeke, onder andere ’n standaardwerk oor die Duitse Ekspressionisme, en ’n bibliofiele uitgawe met selfportrette van Käthe Kollwitz.

Vir beide Leonardo en Ulrike het ’n moeilike fase voorgelê: verliesverwerking. Ulrike het die leiding geneem, met haar eie ervaring na Lorna se dood as uitgangspunt. Veertig jaar lank het sy en Lorna in hul lieflike cottage in Mowbray gewoon. Ulrike het hul gehegtheid aan mekaar só opgesom: twee mense, één asem; twee mense, één hart.
Ulrike het tuin gemaak, Lorna het gekook en gebak, in die Duitse styl, om Ulrike ter wille te wees. Maar toe Lorna begrawe is, moes Ulrike self begin kos maak, en dit het tot slordige eetgewoontes gelei. Sy was doodmoeg na haar tuinwerk, maar daar was nie meer ’n Lorna vir wie sy kon sê: “Poppie, hoe lyk dit met tee?” of “Is dit nog te vroeg vir ‘a little something’?” nie.

Mowbray het eensaam geword, en later gevaarlik. Toe daar links en regs van haar cottage inbrake was, en ook oorkant die straat, het Ulrike gesê: Tot hiertoe en nie verder nie. Sy het na Huis Herfsblare getrek omdat dit nie ’n kerkbeheerde tehuis is nie, en daar ’n nogal groot persentasie kontinentale bewoners is – Nederlanders, Duitsers, selfs ’n Italianer en ’n Fransman.

Ulrike het geweet dat jy nie ledig mag wees nie, dan besluip die swart hond jou. (Dié uitdrukking het sy by Leonardo gehoor: swart hond, vir "depressie".)

Sy het nog meer aktiwiteite vir haar en Leonardo beplan as vroeër. Leonardo het ’n brugklub ferm van die hand gewys, en ’n boekklub het hom ook nie gepas nie, omdat dit byna net deur vrouens beheer en beset word.

Toe kry Ulrike die gek inval dat sy en Leonardo aan die Gay Pride-opmars moet deelneem. Leonardo het teësinnig ingestem, maar vir lawwe klere het hy nie kans gesien nie. Laat Ulrike dan ’n gat van haarself maak, met ’n keil op haar kop, en ’n mansaandpak à la Dietrich.

Leonardo het net vier blokke ver gestap, toe hy deur ’n brandpyn in sy bors tot stilstand gebring is. Juis op dié oomblik het die joernaliste en fotograwe op hom en Ulrike toegeslaan, en die volgende dag was hulle op die voorblad van die Cape Times, met dié verspotte opskrif bokant hulle kleurfoto: “The oldest teenagers in town”.

Mathilda Matthee was tot in die wortels van haar gerinsde hare toe geskok. Sy het vir haar dogter in Australië geskryf: “En nou blyk dit dat die Duitse vrou van wie ek laas geskryf het, ’n mannetjiesvrou is, en haar vriend Leonardo ’n deurtrapte ou moffie. Ek sal vir my ’n ander verblyfplek moet begin soek.”

Van haar dogter kry Mathilda ’n poskaart, weer eens van die Sydney-operahuis, want die dogter het ’n stapel van dié poskaarte teen uitverkoopprys gekry. “Ma,” skryf die dogter, “in watter wêreld leef Ma? Ma se geliefde kleinseun is ook gay, and they think the world of him here. Almal sê hy het ’n groot toekoms in die pop-wêreld.”

Daar het ’n effense vervreemding ingetree tussen Ulrike en Leonardo. “Ek meng my te veel in,” het Ulrike gedink, “Leonardo is in wese ’n Einspänner, en dié soort moet jy nie probeer manipuleer nie.”

En dis presies wat Leonardo ook gedink het. “Moet ek aan die einde van my lewe weer deur ’n vrou geboelie word? Eers was daar my ouma en my ma, en toe my suster, en noudat ek, om Aucamp aan te haal, ’n ‘geëmansipeerde vrygesel’ geword het, nou word ek van voor af geregeer.”

Die herinnering aan die Gay Pride March was gedurig by hom. Dis of hy Stefaans oneer aangedoen het met dié bespotlikheid. En skielik weet hy wat om te doen. Hy sal mnr Klein, die taxi-eienaar, en welbekend aan almal in Huis Herfsblare, vra om hom weer ’n slag na Stefaans se graf in een van die Woltemades te neem. Hy kan natuurlik self bestuur, maar dis of hy nie meer die selfvertroue het om in vreemde stadswyke te ry nie. En dan die pyn – of spookpyn – in sy bors.

“Goed mnr Terblanche,” sê mnr Klein, “maar is jy seker jy wil in dié weer ry?”

“Ja,” sê Leonardo, “ek móét gaan. Ek móét met my oorlede vriend gaan praat, soos die Jode maak. Ek sal warm aantrek.”

Mnr Klein ken die Woltemades soos sy handpalm, want hy moet dikwels kliënte soontoe neem. Hy neem Leonardo tot by Stefaans se graf, en sê dat hy hom oor ’n halfuur sal kom haal.

Leonardo het ’n opvoustoel saamgeneem, en ’n termosfles met koffie teen die snerpende wind. Hy gaan sit teenoor ’n grou granietgraf.

“Stefaans,” sê hy, “ek mis jou vreeslik. Ek het nie geweet dat een mens 'n ander so kan mis nie. Ulrike wil help, maar wat ek begeer, is om in vrede gelaat te word, en dit kan sy nie besef nie. Ek wil vir lang rukke in stilte sit en aan ons tyd van saamwees dink. Onthou jy die aande op die bankie, en al die kere dat ons na die Vier letzte Lieder geluister het? Ek het uiteindelik die Lisa della Casa-opname gekry. Sy was die eerste sopraan om dit te sing. Het dit nog onder die maestro self instudeer. En die boeke wat ek met jou wil bespreek, een oor global warming, en die jongste José Saramago – ag, here, wat is die naam daarvan nou weer …”

Leonardo skrik wanneer daar ’n hand aan sy skouer raak. Soos daardie steendruk van Käthe Kollwitz, dink hy, met die dood wat die ou vrou aanraak. Leonardo kyk half om, en dan op: dis mnr Klein. Gelukkig net mnr Klein.

“Mnr Terblanche, dit kom reën, ons moet spring om by die motor te kom.” Mnr Klein raap die mandjie met die termosfles op en die twee mans haas hulle, maar ’n paar druppels piets hulle tog voordat hulle by die taxi kom.

Mnr Klein vergesel Leonardo tot in die foyer van Huis Herfsblare, en dis hier waar Leonardo inmekaarsak. Die ontvangsdame bel dadelik vir Ulrike, en dis Ulrike wat met Leonardo na die naaste hospitaal met ’n harteenheid jaag.


3

Binne vier jaar het Ulrike drie begrafnisse help reël en drie boedels help beredder.
Ná Leonardo se dood was sy erg vermoeid, en moes sy noodgedwonge op Mathilda Matthee se hulp steun.

Eers was daar die begrafnisprogram.

Ulrike het Leonardo se vertaling van “Beim Schlafengehen” deeglik hersien; dit moet beslis in die begrafnisprogram staan. En ook Prediker 12, in die 1933-vertaling; vir Leonardo was dit die mooiste prosa in die hele wêreld.

“Die gemeente moet tog iets sing,” het Mathilda gesê, “en mense sing deesdae net van die begrafnisbrief af. Wat van Psalm 23?”

Ulrike dink na. “Ja,” sê sy, “’n onskuldige kindergebedjie, mooi in alle tale. Ja, dit kán.”

“Daar móét ’n tweede lied wees,” het die praktiese Mathilda aangedring. “Wat van die Aandlied?” En Mathilda sê uit haar kop uit op:

Aan u o God, my dankgesange,
U wil ek in my aandlied prys,
Al kwyn die sonlig teen die hange …

“Stop,” sê Ulrike, “sê weer van voor af op. Ja,” sê sy dan, wanneer Mathilda by “teen die hange” kom, “dit vang die sentimente van ‘Beim Schlafengehen’ mooi op. Dit kan maar in.”

Volgende op Ulrike se agenda: die onthaal in die tehuis, ná die begrafnisdiens.

Mathilda begin oormoedig raak. “Ek het gedink, as ons by Herfsblare se ou gebruik bly en elkeen ’n bordjie bring. Ek kan kaaspoffertjies bring; mans is altoos gek daarna. En mevrou Ten Kate kan ‘spring rolls’ maak …”

Ulrike hef haar hand soos ’n sersant-majoor. “Mein Gott, Mathilda, dit gaan nie ’n NG Kerkbasaar wees nie. Leonardo het geld opsygesit vir die onthaal, en dit gaan in styl wees, met hamme en kalkoene, ensovoorts, en ook wyn. Baie wyn.”

“Mag dit?” vra Mathilda floutjies. “Die wyn, bedoel ek.”

“Natuurlik mag dit. Ons is nie in ’n koshuis met huisreëls nie. En ek het meer drank as wat ek in my leeftyd kan uitdrink. Geërf,” verduidelik Ulrike haastig, “van Leonardo, en indirek ook van Stefaans. Leonardo het sy garage as kelder ingerig.”

Daar trek ’n wolkie oor Mathilda se gesig. Die voordele van ’n dubbele weduskap, dink sy effens bitter.

Ulrike het dié wolkie geregistreer, en weet onmiddellik hoe om dit te kanselleer.

“Mathilda, Leonardo het gesê jy kan iets vir jou uitsoek in sy woonstel, ‘Something to remember me by,’ was sy woorde. Kom ons gaan sommer nou.”

Hoe gou word ’n woonstel ’n praalgraf, dink Ulrike, veral as die son sak. Sy skakel die ligte in Leonardo se woonstel aan, en skaduwees spring terug, soos betrapte kakkerlakke. Die olieverfskilderye glim in die elektriese lig, die vroeë Maggie, die vroeë Irma, die Oerders, die Naudés, die Wenning.

Mathilda is oorstelp: Dalk ’n skildery? Een van Irma sal haar vir ’n lang vakansie na Australië kan neem.

Dis of Ulrike Mathilda se gedagtes raai. “Die skilderye is ongelukkig uit. Hulle kom op ’n veiling, en die geld gaan na Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Behalwe die Wenning, dié is spesifiek aan my bemaak.” Ulrike beduie na ’n stillewe met crassulas.

Mathilda kyk gretiglik rond. “Dáárdie pot,” sê sy.

Ulrike byt haar onderlip vas. Sy het self sinnigheid in die pot gehad, ’n Esias Bosch, uit sy Koreaanse periode. En nou gaan Mathilda dit as blompot gebruik, wat dit nie is nie, en volstop met pompoms of blou vere.

Mathilda steek haar hande uit na haar buit; maar Ulrike sê geskok: “Nee, nee, nie nou nie, ons mag ons erfenis net uit die hande van die prokureur ontvang. Hiermee haal sy ’n molvelboekie uit haar handsak en skryf iets daarin. “Het Matthee een t of twee?” vra sy.

“Twee,” antwoord Mathilda gekrenk.

Terug in haar woonstel dink Ulrike: Nee, van Mathilda sal ek nooit ’n vriendin kan maak nie, al het sy ook mooi borste.

Weke, nee maande, ná Leonardo se dood was Ulrike nog besig om haar nuwe besittings te indekseer.

Skilderye, en selfs boeke, ontwikkel met die jare hul eie aura, en wanneer hulle uit hul vertroude sfeer geneem word, moet hulle dié aura in ’n vreemde omgewing herwin. Ulrike het die simpatiekste muurruimte in haar woonstel aan haar Wenning-stillewe afgestaan. My sekulêre altaarstuk, het sy gedink, veral in die oggendlig, en dan gevoel hoe die diep bloue en diep rooie haar by haarself uitbring.

Wat haar gemoedsrus opnuut versteur het, was ’n CD waarop Pablo Casals “Komm, Süsser Tod” van Bach op die tjello uitvoer. Sy het jare lank daarna gesoek, en nou duik dit skielik in Leonardo se versameling op. Sy het dié CD in die oggend, die middag en die aand gespeel; oor en oor en oor.

Een aand het ’n vrou uit ’n buurwoonstel op haar deur gehamer. Ulrike het die deur na ’n ewigheid kom oopmaak. Sy het na Asbach Uralt geruik. “Ek kan dit net nie meer verduur nie,” het die buurvrou byna histeries geskree.

“Wat kan jy nie verduur nie, vrou?” het Ulrike met ’n sleeptong gevra. “Jou eie miserabele lewetjie?”

Maar sy het nooit weer “Komm, Süsser Tod” gespeel nie, en na beskaafde drinkpatrone teruggekeer.