Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Koos en vriende, neem op die masjiengeweer!


Albert Maritz - 2008-07-10

Hy's grys. Hy sit in ʼn vloed van atmosfeer op ʼn stoeltjie. Lig van agter, lig van bo. ʼn Reënboog van lig wat oor hom hurk. Van voor is hy donker, behalwe die klein lampie wat sy kateder belig, en sy wit-beligte crotch is die backdrop – vir ʼn nuwe Suid-Afrika.

Die een man en sy kitaar.

Die paar liedjies waarmee hy begin, is oues, maar soveel nicer, want Koos is soveel meer van ʼn performer as in die eighties. Hy praat van brûe en alternatiewe drukke. Hy het ʼn gravel rasperstem, en lê hom lekker aan. Hy perform – soos André Stander op kykNET sê – "like a f…actor man!" Mens wil dink Chris Chameleon drink dalk soms tee by die Kombuise, soos Koos sommer ʼn falsetto ook gooi.

In die 80's was boodskappe vaag. Vir my as akteur by die Streeksraad was toneel gereeld goeie kontemporêre kuns, maar op ʼn afstand. Die aand toe ek in die Black Sun in Hillbrow gaan sit en die pessimistiese klavierspeler/sanger met die groot neus, en die kwalik bekwame kitaarspeler/poe-eet met sy bottel port (was dit in ʼn kardoessak?) hul monde oopmaak, het ek ʼn suiwer ervaring gehad. En hul was nie nasty nie; net ráák. Hier het ek kultuur beleef, asof dit uit myself uit gekom het. Ek was op ʼn trip in Afrikaans …

En hul was nie eens nasty met die NP-parlementslid wat in die gehoor was en op pad tronk toe was oor korrupsie nie. Hy is die één wat gevang is. Koos was baie simpatiek en "kind".

Daar was nog ʼn paar sulke ervarings. Ek het in die Johannesburg-koerant gelees van die UCT-student – ʼn groot ou, wat ʼn paar dronk, rassistiese opportuniste gebliksem het by die Drie Gewels buite Stellenbosch. Daar was ʼn foto van hom. ʼn Grooot ou met ʼn bandana. Ek het gewens ek was daar.

Waar ek wel was, was in die Three Arts-teater toe die Voëlvry-trop daar opgetree het. Ek was tussen pelle, met ʼn communal gevoel dat ons almal hierdie goed verstaan.

Die ghoeroe wat vanaand – in die waai van die ryk, atmosferiese beligting – daar voor sit, het nog nie daai touch verloor nie. Hy sê hardop, deesdae in goeie "song", wat mense soos hy, en soos ek en jy, voel. Dis rebellie. Mens kan jou verbeel ʼn neo-Nazi-saamtrek in Duitsland se ondergrond het so gelyk. In ons demokrasie mag mens ten minste jou mond oopmaak. Soms hel ver boonop. Soms te ver. Soms dat dit klink soos ʼn motor machine gun mouth – ʼn donker gat (pun intended).

Die 80's se songs was oor regverdigheid. Was dit Zim, sou een skoot vanaand van Koos ʼn martelaar maak. Maar ons het vergeet hoe bang mense was in ’94, dat die nuwe bedeling ons met geweld sou oorweldig. Hoe bang mense was om te kla omdat al wat Afrikaans was, so geviktimiseer was. Omdat SABC amper als vir Afrikaans toegemaak het.

Afrikaanse witmense het gekeer vir hul wickets, en was bly hulle lewe. Mettertyd, soos ons regte teruggekeer het, deur die dryfkrag van die kapitalisme, het ons die vrees afgeskud. Vanaand sing Koos die “Fokkol song”. (Twee plays op die Innibos-fees het musiek van Fokofpolisiekar.)

In '89 het ons in die Three Arts gesit en gerook. Rook was verbode. Vodka, biere, sigarette was in ons baadjiesakke. Jy stuur jou nippie vodka af in die ry; hy kom nou-nou terug, en na ʼn "swig" stuur jy hom anderkant toe.

Vanaand in die gehoor sit weer van die kamerade. En ek wonder: Is lefties sulke eerlike ouens? Wat jou vodka sal terugstuur? Is ons groen? Is hierdie ʼn reunion?



Robbie en kie in Môre is ʼn Lang Dag


Ek koop vir my ʼn botteltjie wyn vir R15. En ʼn pakkie biltong ook vir R15. Waarde vir geld. Ek verbeel my ek sit tussen ouens wat die goed tussen mekaar rondstuur. Om die idee aan te help, sit Robbie voor my tussen Tauriq en Willy, sy toneelkamerade in die oorlogplay Môre is ʼn Lang Dag, en hulle stuur sy een botteltjie tussen mekaar aan. Hulle deel ʼn pakkie biltong.

Koos sing romanties; Koos protesteer; Koos gryp na die verlede; Koos onthou. Sy lirieke maak korte mette van sy LitNet fight met Deon Opperman en Sean Else. Hulle stem saam, al glo hulle dit nie graag nie. (Koos seg die volgende dag vir my hulle het ten minste seker dan maar dieselfde vyand.)

Koos praat van sy twee jaar in standerd sewe. Is hy dan so geleerd, om hom in staat te stel tot verhewe denke? Of is hy bloot murg en been Westerling? Is ek ʼn rassis as ek dit seg? Sy song kritiseer Pandor, en ek wonder – is hy reg?

Antoinette Pienaar het eendag gesê haar oompie op Beaufort Wes – wat haar leer van die wysheid van die veld, van God se natuur – hy het standerd 4. Maar mense kan ʼn ingebore besef hê van wat God van jou verwag. Sonder skool.

So Koos, ons is in die moeilikheid. Ons kan lekker sit en rebelleer, maar wat as ons demokratiese reg om ons sê te sê, nie water hou by almal nie? Ek wil iets literêrs haal uit “water hou”, en jou wyn op die stage, maar ek besef net hier, ek kan nie stand hou teen jou gelerentheid in ons literatuur nie. Daai aand, tussen die vodka en dinge deur in die Three Arts, het ek besef hoe goed jy DJ Opperman ken. Hy was verweef in jou aanbieding van daai aand.

Dis ʼn pity van Ralph (Kerkorrel), nè? Jou song vat sulke essensies van mens se desperasie vas. Die Jak-song oor hom is ook nogal mooi. En ironies genoeg – een aand wat hy daar by my venue innie Kaap opgetree het – tydens een van daai 10 gig-toere van Impresario – loer hy so deur die visnetgordyn, en sien hoe vol dit is, en kan dit nie glo nie. Hy kon nie glo hy was nog so gewild nie! En na een van sy gigs daar, toe sê ek vir hom: "Jou rebellie is lank nie verby nie, jou musiek nog lank nie uitgedien nie …" Ai … as hy maar net aan jou sy kon wees vir hierdie debat!

Okay, maar nou weet ons – jy en Deon en Sean is sy aan sy (no gay pun intended – nie sy én sy nie). Jul twis is sekerlik maar gebore uit ʼn misplaaste gevoel uit die gut, na ʼn paar knertse laatnag, wanneer die e-pos ʼn angel word.

Maar okay, jou kuns en hulle songs en die Ons vir jou …, wat binnekort open, los nie als op nie. Hoe sal wat jy sing, en wat Sean Else en Deon Opperman skryf, verstaan word deur ouens wat nie … wit is nie? Of deur regses? Ek glo dat dialoog alles kan solve. Maar wie gaan aan die ANC die term debat verduidelik? Wie gaan aan ons regses die term protes verduidelik? Hoe gaan hulle dit te siene kry as groot-pappie Pallo Jordan by omtrent niks opdaag nie?

Hoe gaan ons swart ouens in die gehoor kry om te hoor ons is ongelukkig? Hoe gaan ons swart ouens in die gehoor kry om te sien waardeur ons ook maar is in die grensoorlog? Selfs die Umkontho-ouens is glo versaak, deur hul eie regering. Hoe gaan ons swart ouens kry om Feast of The Uninvited te sien, sodat hulle kan weet die Afrikaner-ou in die noorde is ook maar hel toe en terug in oorloë? (Ek sien Cobus van Bosch skryf in Die Burger oor dieselfde laasgenoemde ding.)



Môre is steeds ʼn Lang Dag

Ah, Steve het mos saam met Zuma gebraai. En moes die gelag betaal. Sean was ook daar. Kyk, dis strate beter as die ou garde soos Pallo Jordan, wat jy kan vergeet om selfs by Saad te kry (dit het niks met seks te doen nie – dis Saartjie se boere/grondkwessie play). Kyk, jy kan nie saam met Pallo braai nie; hy lag mos oor alles – as hy opdaag. Hy sal verstik, en ook nie die gelag betaal nie. So mens sal hom ook nie kan stil hou in ʼn aangrypende play oor ons nasie se lot, oftewel oor ons nasie se trotse geskiedenis, of geldige vraagstukke nie. Die minister van kultuur sal dus nie Keburu of Môre is ʼn Lang Dag sien nie.

Ah! Ek sien die lig! Dalk kom kyk Jordan Ons vir jou… omdat dit so ʼn glansgeleentheid gaan wees, en iemand anders betaal. Pasop Deon, om nie braaivleis voor te sit nie, en sit die kos dalk eers na die tyd voor. Anders kom hulle, verstik, en loop. Ag, weet jy, dis ook okay. Helen Zille en Van Zyl Slabbert en Patricia de Lille sal bly.

En Koos – doe so voort. Ons het net een Koos, Deon (Opperman) en Mandela. Een van die dae kom kyk die veiligheidspolisie weer vir julle. Doe so voort. Dan is die Kaap weer Hollands en klap ons sommer twee vlieë met een skoot (Mugabe bo!).

Hoe lykit? Koos, Ons vir jou …, Feast of the Uninvited – als te siene in Gugulethu, Mbekweni, en Alex?