Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van Bloemfontein tot Upper West Side Soweto


Theunis Engelbrecht - 2008-07-02

CD VAN DIE MAAND 1

Elbow
The Seldom Seen Kid

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelThe Seldom Seen Kid is die Britse groep Elbow se superbriljante vierde album en volg op hul indrukwekkende vorige album, Leaders of the Free World (2005). The Seldom Seen Kid is egter maklik hul beste en sterkste album tot dusver. Anders as met so baie ander albums, kan jy op een slag van voor tot agter daarna luister sonder om een oomblik verveeld te raak. Die musiek trek jou in en kry ‘n hipnotiese houvas op jou.

Sanger Guy Garvey se stem sleur ‘n mens ook dadelik mee en laat jou nie los nie – dit het ‘n grinterigheid en melancholie wat verder bydra tot die eiesoortige atmosfeer wat die groep se musiek skep. Die belangrikste deurlopende temas is liefde en verlies, maar Elbow sing uit ‘n volwasse perspektief hieroor – moenie hier ’n eendimensionele, holruggeryde behandeling van dié temas verwag soos wat mens dit gewoonlik in popmusiek teëkom nie. Klankgewys is daar ook baie variasie: van die minimalistiese elektronika op “Starlings”, rock en selfs ‘n flamenco-invloed in “The Bones of You”. Met “Mirrorball” en “One Day Like This” lewer Elbow ook van die mooiste ballades wat vanjaar opgeneem is.

As teenhanger vir die erns van die musiek is daar ook baie galgehumor, soos in die liedjie “Grounds for Divorce”. “The Loneliness of a Tower Crane Driver” word ‘n metafoor van die moderne mens wat vasgevang is in ‘n wêreld van sieldodende roetine en verontmensliking. Ander uitstaande snitte is “An Audience With the Pope” en “The Fix”.

The Seldom Seen Kid is een van die beste CD’s wat tot dusver vanjaar uitgereik is. Dit het so ‘n meesleurende kwaliteit dat ‘n mens oor en oor daarna wil luister. En elke keer raak dit net mooier en mooier. In Elbow se hande is pop en rock nie net ‘n kommersiële kommoditeit soos wat dit vir so baie ander kunstenaars is nie, maar ‘n kunsvorm in die ware sin van die woord. Superbriljant, inderdaad.

CD VAN DIE MAAND 2

Coenie de Villiers
Weerlig oor die see

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDis ‘n baie goeie jaar vir Afrikaanse musiek met meer as net ‘n handjie vol goeie albums wat al die lig gesien het. Met Weerlig oor die see vat Coenie de Villiers egter die koek – waar ‘n mens byvoorbeeld twee keer sal moet dink voor jy die woord "briljant" gebruik vir die meeste Afrikaanse CD’s wat vanjaar die lig gesien het, kan ‘n mens dié woord sonder huiwering gebruik om Weerlig oor die see te beskryf. Dis De Villiers – wat nog altyd baie goeie albums gemaak het – se beste en kragtigste CD tot dusver. Dit is nie net goed nie – dit is verbluffend goed.

Die CD wemel van hoogtepunte – in so ’n mate dat ‘n mens nie in die bestek van ‘n kort resensie reg kan laat geskied aan die rykdom daarvan nie. Daar is min Afrikaanse liedjieskrywers wat so goed en deurtastend oor een van die moeilikste onderwerpe kan skryf: die liefde tussen twee mense. De Villiers kry dit reg en hoe hy daarin slaag om die weerloosheid van mense uit te beeld in liedjies soos “Ou minnaars” en die titelsnit is niks minder nie as merkwaardig.

Ander uitstaande snitte is “Taj Mahal” met sy Oosterse klanke (met Nianell), “Anne Frank”, die pragtige “Katedraal” en “Spoetnik”. De Villiers se weergawes van Jules de Corte se “Ek sou” en “Waar bly die tyd?” is ook baie besonders en spesiaal. Ander interessanthede is sy weergawe van “Ek verlang na jou” (met Gloria Bosman en Sonja Herholdt), ‘n smooth jazz-weergawe van “Karoonag” (met die internasionaal bekende saksofoonspeler Dave Koz) en “As Hugh Like It” (met Hugh Masekela).

Oudergewoonte is De Villiers se lirieke van hoogstaande gehalte. Weerlig oor die see is die werk van ‘n ryp, volwasse kunstenaar wat skynbaar nou op sy kruin is. Dit is ‘n uitstekende album wat sy plek met reg sal kan inneem onder die heel bestes in Afrikaans. En Coenie is die heel beste ding wat nog ooit uit Bloemfontein gekom het.

CD VAN DIE MAAND 3

Andra
Secrets and Skeletons . . . Notes from a Desert Café

Andra is ‘n sangeres en liedjieskrywer wat van Swakopmund kom. Hierdie CD het die Suid-Afrikaanse musiekwêreld die afgelope maande soos ‘n bom getref. Dit is onbetwisbaar van internasionale standaard – en Andra is myle beter as so baie van die sangeresse van ander wêrelddele wat ‘n internasionale gevolg het.

In die persverklaring word haar stem vergelyk met dié van name soos Toni Childs, Alanis Morissette, Janis Joplin en Natalie Merchant. Vergelykings soos dié is nuttig deurdat dit aan mense wat nog nie Andra se musiek gehoor het nie, ‘n aanduiding gee van wat hulle kan verwag. Maar uiteindelik is Andra se stem en styl uniek. Niemand anders klink soos sy nie. (Ek sal eerder na haar luister as na die vier vroue met wie sy vergelyk is!) Hoe om dié kragtige, rou stem te beskryf? ‘n Mens voel woorde kan nie reg laat geskied daaraan nie! ‘n Woord soos “kragtig” duik op, maar “extremely powerful” is nog meer gepas. Daarbenewens kan ‘n mens ook die emosionele diepte met ‘n stok aanvoel.

Dit is nie net as sangeres dat Andra ‘n mens heeltemal uitboul nie, maar ook haar talent as liedjieskrywer is uitsonderlik. Sy slaag daarin om diep onder die oppervlak te boor wanneer dit kom by onderwerpe soos die liefde, verhoudings, eensaamheid en ontnugtering.

Andra is so ‘n talentvolle kunstenaar dat daar geen enkele liedjie van mindere allooi onder die 12 snitte op die album is nie, maar ‘n mens vermoed tog “Cockroach” sal die eerste groot treffer wees. Haar vertolkingsvermoë laat ‘n mens se bek oop hang en gee jou hoendervel. Absoluut manjifiek.

Andra is een van die grootste vondste van die jaar. ‘n Mens hoop net musiekliefhebbers neem deeglik kennis van haar. Met die ongelooflik patetiese toestand waarin die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese verkeer, weet ‘n mens nie eers of hulle fantastiese werk soos dié op radio en TV sal speel nie – ons word mos net met Top 40-fodder en babapap gebreinspoel.

As jy Andra se musiek nie in jou naaste musiekwinkel kry nie, besoek www.andra.co.za en www.myspace.com/andrasecrets. Andra is een van die opwindendste nuwelinge in jare. ‘n Mens kan nie uitgepraat raak oor haar nie.


Jakob Dylan
Seeing Things

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelNá ‘n paar albums saam met sy groep The Wallflowers het Jakob Dylan – die jongste van Bob Dylan se vier seuns – se solodebuut pas verskyn. Dis onvermydelik dat mense vergelykings tussen hom en sy pa sal wil tref, maar dis onnodig en sinloos. Jakob doen sy eie ding en probeer nie om op Pappie se rug te ry nie.

Dylan het ‘n fantastiese stem: sexy, gevoelvol en intens. Die album skop af met “Evil is Alive and Well”, wat bykans in ‘n elegiese toon gesing word. Dit gee die toon aan vir wat volg – meesleurende melodieë, skerpsinnige lirieke en ‘n sterk akoestiese klank wat terselfdertyd ‘n delikate gevoel aan die klanktekstuur verleen.

Met die eerste deurluister kan ‘n mens dink dis als ‘n bietjie te eenselwig. Maar dit is ‘n album wat herhaalde luister verg en ‘n mens elke keer dieper intrek en al meer betower. Die lirieke is deurtrek van treffende waarnemings van mense en sosiale werklikhede – soos die ironiese “War is Kind” wat handel oor ‘n soldaat wat na sy huis verlang.

Die musiek is introspektief en diep sonder om ooit somber of selfkoesterend te raak. Onder die gedemptheid is daar egter baie ingehoue intensiteit. Moenie vrolike, uitbundige liedjies verwag wat jou voete laat jeuk nie. Na die sterk openingsnit volg een liedjie na die ander wat jou meevoer, soos “Everybody Pays as They Go”, “Will It Grow”, “Something Good This Way Comes”, “On Up the Mountain” en “This End of the Telescope”.

Rick Rubin was die produksieleier – en met hom aan die stuur van die sake kan geen kunstenaar juis verkeerd gaan nie. Seeing Things is ‘n album wat kort voor lank by jou begin spook. Dit is hopelik die eerste van vele.


Coldplay
Viva La Vida
Or Death and All His Friends

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel‘n Interessante titel – “Viva La Vida” beteken “long live life”. Coldplay het die titel gekry van ‘n skildery van Frida Kahlo en “Death and All His Friends” bygevoeg. Die kunswerk op die omslag is ook iets besonders: dis die Franse skilder Eugene De La Croix se La Liberté guidant le peuple waarin die Franse Revolusie uitgebeeld word.

Drie dae nadat Viva La Vida Or Death and All His Friends op 12 Junie uitgereik is, was dit in die eerste plek op die Britse trefferparade vir albums. In dié dae is meer as 302 000 eksemplare daarvan verkoop, wat dit een van die vinnigste verkopers in die geskiedenis van Britse musiek maak.

Viva La Vida is Coldplay se vierde album. Volgens die groep se sanger, Chris Martin, slaan hulle ‘n nuwe rigting in met die album ná die vorige drie, wat hy as ‘n trilogie beskou. Hoe verskil dit van hul vorige werk? Martin eksperimenteer meer met sy stem en sing in ‘n laer register. As een van die album se drie produksieleiers het Brian Eno boeiende/broeiende klanklandskappe geskep wat ‘n meer “spacy” klanksfeer skep. Daarbenewens is Coldplay se komposisies meer avontuurlik en die verwerkings meer eksperimenteel as voorheen.

Die eindresultaat, in sy geheel, is ‘n pragtige, uiters boeiende album van tydlose kwaliteit. Plek-plek laat dit mens aan Pink Floyd dink (soos op “42” en “Violet Hill”), maar dis net ‘n vervlietende indruk – Coldplay is nie nalopers van enigiemand nie.

Die lewe-en-dood-temas word ook nie op ‘n morbiede wyse hanteer nie. (“Those who are dead are not dead/ They’re just living in my head”, sing Martin byvoorbeeld op “42”.) Dis buitendien nie die enigste tema wat aangeroer word nie. Tog jammer die lirieke is nie in die CD-boekie afgedruk nie – dit maak dit altyd soveel makliker.

Viva La Vida is een van daardie albums waarvoor mens nie kan moeg raak nie. Ek sou graag meer uitgebreid hieroor wou skryf, maar ‘n mens moet baie daarna luister om alles behoorlik te kan absorbeer. Dit is ‘n baie gelade album – baie anders as enigiets wat Coldplay al gedoen het, baie sterker, meer eksperimenteel en grensverskuiwend. Ongetwyfeld een van die beste en belangrikste albums van die jaar.


The Kooks
Konk

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelKonk is The Kooks se tweede album en volg op hul debuut, Inside In/Inside Out (2006). Die groep is gestig by die Brighton Institute of Modern Music in Brittanje, waar al die groeplede gestudeer het.

Die mannetjies is nog bloedjonk, en maak hulle vir jou lekker musiek! Pretensielose, uplifting rock propvol goeie rifs, hooks en aansteeklike melodieë. Hulle probeer nie om groot kuns te skep nie, maar gee ‘n mens ‘n baie lekker tyd, wat dalk meer werd is. Die kitaarklanke is ook baie plesierig.

Die uitstaande snitte is “See The Sun”, “Always Where I Need To Be”, “Mr Maker”, “Love It All”, “Stormy Weather”, “Shine On” en “Down To the Market” – en die res is nie te versmaai nie. Verfrissend en heel vars, met hope adrenalien. Vergeet van Red Bull en Bioplus en luister eerder na The Kooks vir ‘n energie-inspuiting soos min.


The Ting Tings
We Started Nothing

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDit is dié Britse indie-popgroep se debuutalbum – en op 25 Mei het dit in sy eerste week op die Britse album-trefferparade vir Neil Diamond uit die eerste plek geskop. Nie net het The Ting Tings een van die snaaksste name vir ‘n groep nie, maar met dié album lewer Jules De Martino en Katie White een van die verfrissendste debute in baie, baie maande. Die eerste treffer van die album is “That’s Not My Name”, en ‘n mens voorsien dat daar nog ‘n hele stroom treffers gaan volg as jy na die album luister – soos “Great DJ”, “Shut Up and Let Me Go” en “Keep Your Head”.

Hulle maak cheeky pop wat ook kan deurgaan as dansmusiek – en baie beter dansmusiek is as die meeste musiek wat gewoonweg as dansmusiek deurgaan. ‘n Mens kan jou ook net indink dat hierdie CD ‘n killer sal wees op ‘n lekker losgat paartie. Daar is ‘n speelsheid en ‘n terterigheid in die musiek wat baie sjarmant is. Oorspronklikheid is nog ‘n kenmerk van The Ting Tings – en in die oorlaaide popwêreld is niks belangriker as oorspronklikheid nie.


Vampire Weekend
Vampire Weekend

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel“Verfrissend en heel vars, met ‘n lekker energie.” Hierdie woorde, wat lekker sou lê in die mond van ‘n kulturele soustannie, is ook gepas om hierdie CD mee te beskryf.

‘n Mens kan die tweede paragraaf oor The Kooks (“Die mannetjies …” tot “… baie plesierig) net so copy-&-paste op Vampire Weekend.

Vampire Weekend is ‘n indie-rockband van New York. Wat hulle interessant maak, is die sterk Afrika-invloed in hul klank, soos in hul treffer “Cape Cod Kwassa Kwassa”. Dit sou interessant wees om uit te vind hoe hierdie outjies aan hierdie invloed gekom het. Van die kwêlakitaarklanke op die CD klink asof dit so reg uit ‘n Suid-Afrikaanse township kom.

‘n Internet-soektog is onvermydelik. Die gawe ooms en immer mededeelsame tannies van Wikipedia bevestig dat die groep beïnvloed is deur “African popular music”. En voeg dan by: “and Western classical music”. Self beskryf die groep hul genry ? genre? as Upper West Side Soweto. En hulle voeg by: “Cape Cod Kwassa Kwassa” is beïnvloed deur Kongolese soukous-musiek.

“Cape Cod Kwassa Kwassa” is al verlede jaar uitgereik en het die 67ste plek behaal op Rolling Stone se Top 100 vir die beste liedjies van die jaar. Die tydskrif Spin het hulle aangewys as die beste nuwelinge van die jaar.

En nou is die debuutalbum, net getitel Vampire Weekend, op die rak. Eksperimentele werk is altyd interessant, en as jy ‘n rigiede rock-kop is, kan Vampire Weekend jou onkant betrap. Dit is iets heeltemal anders as jou tipiese hedendaagse generiese rock. Dit is trouens meer pop as rock – maar dan begewe mens jou weer op ‘n terrein waar hare gekloof word.

Vampire Weekend is slim, en hul lirieke lewer kommentaar op ‘n mal, vreemde wêreld. Die humor is ook skerp – soos op die veelseggende “Oxford Comma” en “Campus”. “A-Punk” (waarop die Afrika-invloed op sy sterkste deurslaan naas “Cape Cod Kwassa Kwassa”) is die volgende treffer – kyk uit vir die video daarvan op VH1 (en ‘n mens hoop MK tel dit ook op).

Daar is baie ander lekker songs ook, soos “M79”, “Walcott”, “One (Blake’s Got a New Face)” en “I Stand Corrected”. Laat hulle maar gerus toe om ‘n bietjie van jou bloed te suig.


Zebra & Giraffe
Collected Memories

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDie beste manier om blootgestel te word aan die wêreld van Zebra & Giraffe is deur op www.zebraandgiraffe.co.za te klik. Dis ‘n visuele toer van sy eie en jy kan met jou eie ore hoor hoekom dié projek van Greg Carlin deesdae op die lippe is van almal wat hou van goeie, oorspronklike Suid-Afrikaanse rockmusiek.

Lees ook Diane Coetzer se insiggewende artikel op die biografie-blad van die groep se webwerf. Collected Memories is inderdaad iets om opgewonde oor te raak. Dat Carlin omtrent alles self gedoen het (behalwe om tromme te speel) is bewonderenswaardig. Saam met produksieleier Darryl Torr maak Carlin intelligente, volwasse rock – ver verwyderd van die wêreld van generiese (aangebrande) potjiekos-rock angstig gillende tieners.

In ‘n onderhoud met Jeanne Calitz in Die Burger se Naweek-Joernaal het Carlin sy klank beskryf as alternatiewe rock met ‘n elektroniese klank. Hy noem ook “enigiets van Muse tot Nine Inch Nails en Chris Isaak” onder sy invloede. Veelsydigheid en verskeidenheid is die wagwoord, en dit is wat Collected Memories interessant maak.

‘n Mens kan met reg verwag dat Zebra & Giraffe nog diep spore gaan trap. Van al die honderde nuwe poprock-kunstenaars in die land is hulle in ‘n liga van hul eie.


My Morning Jacket
Evil Urges

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelEvil Urges is My Morning Jacket se vyfde album en skop af met die sterk titelsnit. As ‘n mens verby jou aanvanklike irritasie kan kom omdat die sanger klink soos iemand wat benoud na lug hap omdat sy broek te styf sit, kan jy goeie rockmusiek verwag van ‘n groep met ‘n goeie reputasie ("… wat dit ook al mag beteken," fluister die spook van Dr Johns in my oor).

Uiteindelik is dit die oneweredigheid van die album wat maak dat ‘n mens eerder jou kosbare luistertyd sal bestee aan die herluister van al die albums hier bo. Teen snit drie het die falsetto my al teen die mure begin uitdryf (ongeag die moerse lekker kitaar-rif), maar dan klink die vierde snit skielik op (“I’m amazed”) en dit is baie lekker. Dan kom snit vyf (“Thank You Too”) en irriteer die kak uit jou, so stroperig en sentimenteel is dit. Daarna tel dit weer spoed op.

Na ‘n stamperige begin kan ‘n mens wel genoeg uit hierdie CD put wat die moeite werd is. Jy moet net eers sorg dat jy genoeg tyd het om meer as een keer daarna te luister sodat jy goed gebreinspoel kan raak daardeur. (En gebeur dit nie maklik nie. Toe ek “Thank You Too” die eerste keer hoor, was dit vir my afskuwelik, maar die tweede keer – met oorfone – het dit skielik vir my ‘n naïewe soort sjarme openbaar.)

Maar mens moet ook nie te neusoptrekkerig wees nie. Die produksiegehalte is uitsonderlik goed, en so ook die verwerkings. Of mens daarvan hou of nie, is ‘n kwessie van smaak. Besluit self, demmit! (In alle regverdigheid moet ek net vermeld dat My Morning Jacket allesbehalwe kak is. Die vraag is net of hulle goue koek is, of watse soort koek presies.)


Radiohead
The Best Of

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelVolgens talle rock-hooggeleerdes is Radiohead die beste groep in die wêreld. Ek noem dit nie omdat ek waarde heg aan so ‘n uitspraak nie, want dit is simpel en sinloos om te wil besluit wie is die beste dit en die beste dat. Se gat. Ek noem dit net vir die rekord.

Ek het ‘n haat-liefde-verhouding met Radiohead. Van hulle liedjies is fantasties en tydloos, soos “Karma Police”, “High and Dry” en “Street Spirit (Fade Out)”. Die ding is net dat dit baie pynlik is om na Radiohead te luister, omdat die groep se sanger, Thom York, so melancholies klink soos min mense nog ooit melancholies geklink het. As ‘n mens in groot dosisse na Radiohead luister, begin dit voel soos ‘n uitgerekte eksistensiële geteem wat jou emosioneel uitgeput laat voel en jou tot drank dryf net om jou gemoedsbalans te herstel.

Daar is baie delikate skoonheid in daardie melancholie, maak geen fout nie. Dit raak ‘n mens diep en krap in jou derms en binnegoed rond. En kuns wat jou ongemaklik laat voel, is waarskynlik belangriker as kuns wat dit nié doen nie.

Hoe dit ook sy, elkeen sal sy eie goue eiertjie op sy eie mishoop kan lê oor hierdie groep. Ten minste kan mens oor hulle praat, redeneer, filosofeer en argumenteer – iets wat ‘n mens nie oor heelwat hedendaagse rockgroepe kan doen nie. Radiohead maak intelligente musiek en hulle is nie bang om grense te verskuif nie.

Hierdie dubbel-CD met sy 29 liedjies is dus ‘n belangrike uitreiking, veral vir mense wat nie al Radiohead se vorige CD’s het nie. En York klink darem nie deurgaans melancholies-temerig nie. ‘n Mens kan jou brein en ore ook op so ‘n manier inskakel dat jy op ander maniere na sy stem kan luister. Dis wat Radiohead lekker maak: dit dwing betrokkenheid van die luisteraar af. Wat vir die een ‘n gesanik is wat jou laat voel of jy jou polse kan sny, kan vir die ander ‘n kreet van breekbare skoonheid en delikate sensitiwiteit wees. So, moenie van my verwag om Moses te speel en ‘n finale oordeel oor Radiohead te vel nie. (Daar is buitendien nie iets soos ‘n finale oordeel nie. Alles is relatief.)


The Offspring
Rise and Fall, Rage and Grace

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelSoos voorheen bied The Offspring opnuut lekker harde, energieke gatskop-rock. En die groep word net beter. Die CD skop af met die onweerstaanbare “Half-Truism”, wat die begin is van ‘n uiters aangename wipwa-trippie wat die adrenalien laat pomp soos wat selfs die vurigste hoer van Humansdorp dit nie kan doen nie. Wat ‘n mens waardeer van The Offspring is dat hulle hulself nie ernstig opneem en dink hulle gaan die wêreld red nie. Hulle maak musiek wat jou lekker laat voel. En enigiets wat ‘n mens deesdae laat lekker voel is nie te versmaai nie! Lekker kitare, lekker sang (dit klink of die sanger so reg uit sy ballas uit sing) – so, die woord hier is LEKKER!


Sarah McLachlan
Rarities, B-Sides, and Other Stuff 2

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelSarah mag maar sing – sy het ‘n pragtige stem. En moenie dat die titel jou laat dink dis haar weggooiwerk wat sy hier byeengebring het nie. Sy sing onder meer The Beatles se “Blackbird” en Joni Mitchell se “River”, asook Cyndi Lauper se “Time After Time” (as ‘n duet saam met Lauper). Daar is ook talle ander gaskunstenaars: Bryan Adams, DMC, Emmylou Harris, The Perishers en Ladysmith Black Mambazo. Selfs die holruggeryde “Unchained Melody” klink verteerbaar uit McLachlan se mond. Al wat uit toon val, is DJ Tiësto se vervelige remix van “Silence”. Wat die res betref: gee vir my enige tyd eerder Sarah McLachlan as Celine Dion.


Carly Simon
This Kind of Love

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelCarly Simon was so lank stil dat hierdie nuwe CD as ‘n groot verrassing kom. Dit maak nie saak wat sy sing nie – sy het so ‘n wonderlike stem dat dit op sigself al die album goed maak. Die musiek stel nie teleur nie – dis die werk van ‘n beleë kunstenaar met baie ervaring. Sy is ook meer eksperimenteel as voorheen, soos op snitte soos “Island” (waarin sy rap soos g’n rapper kan nie – sensueel in ‘n diep fluisterstem), “Hola Soleil” en “Sangre Dolce” met hul Latynse ritme (en lig soos ‘n briesie). Wanneer Simon ballades sing, kry mens sommer hoendervel, of jy nou wil of nie (soos in “Sangre Dolce”). Daai stem! Daai stem! Daai stem!


David Jordan
Set The Mood

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelJy hoef maar net een keer na die musiekvideo van dié 23-jarige sexy Britse sanger se eerste treffer, “Place In My Heart”, te kyk om daarvan te hou. Dit is een van daardie uiters aansteeklike liedjies wat soos ‘n bosluis aan jou bly kleef. Jordan skryf al liedjies vandat hy 11 was en sy held was Prince. As mens bang is dat dit van hom net nog ‘n Prince-kloon sou maak, is jou vrees ongegrond.

“Place In My Heart” sal ook nie net ‘n one-off treffer vir Jordan wees nie: daar is heelwat ander liedjies op Set The Mood wat dit ‘n uiters genoeglike luisterervaring maak danksy Jordan se vermoë om baie goeie melodieë te skryf en ook sy baie goeie sang en mooi stem. “Sun Goes Down” sal waarskynlik die volgende treffer wees, maar daar is nóg – die titelsnit, “Love Song”, “Move On”, “Glorious Day” en “Fight The World”. ‘n Indrukwekkende nuwe talent, dis gewis.


James
Hey Ma

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelKyk, ‘n mens kan nie sê James is sleg nie. Hulle maak goeie musiek en ‘n mens kan hulle nuwe CD deurluister sonder dat jy blywende skade opdoen. Die probleem is net dat hierdie album ‘n ondraaglike gevoel van déjà-vu skep – hulle klink maar soos hulle altyd geklink het en doen niks nuuts of anders nie. Hulle karring maar voort op hul suksesresep. Hul vroeë werk is beter.


Duffy
Rockferry

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDuffy se treffer “Mercy” kan jou aanvanklik laat dink dat sy in-cash op die retro-soul van Amy Winehouse se “Rehab”. Dalk is dit so, dalk nie, wie sal weet? Rockferry is nietemin ‘n heel genotvolle album met ‘n hand vol goeie ander liedjies ook, soos “Warwick Avenue”, “I’m Scared” en “Distant Dreamer”. ‘n Mens kan seker nie sê mense wat hierdie CD as Winehouse-Lite bestempel, is lelik nie. Rockferry het ‘n sjarme van sy eie, maar maak nie sommer ‘n blywende impak nie.


Amy Winehouse
Frank

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelNadat Winehouse se tweede album, Back To Black, vanjaar met vyf Grammys bekroon is, het haar platemaatskappy ‘n sogenaamde “Deluxe Edition”-heruitgawe van haar debuut, Frank, die mark ingestoot. (Slim tog, hierdie mense en rekenmeesters.)

Dis ‘n dubbel-CD, en die tweede een wemel van demo’s en remixes wat elke geharde Winehouse-liefhebber in die sewende hemel sal hê.

Frank is meer jazzerig en R&B as Back To Black en is ‘n heel plesierige affêre om te beluister. Wat jy ook al van Winehouse mag dink, daai stem kruip uiteindelik onder jou vel in, en selfs wanneer sy liedjies van minder allooi sing, is dit genoeg om net na haar stem te luister en hoe sy sing en vertolk. (Baie mense vind haar stem weer irriterend.)

As jy ‘n Winehouse-aanhanger is, moet jy beslis ondersoek instel na Frank. Ná die retro-soul van Back To Black mag Frank jou teleurstel as jy meer in dieselfde trant verwag, andersins kan jy besef dat dié album (as debuut) Winehouse reeds as ‘n unieke sangeres gevestig het.


Def Leppard
Songs from The Sparkle Lounge

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelVerbeel ek my, dink ek terwyl ek na die eerste snit (“Go”) luister, of is Def Leppard nou bietjie swaarder as voorheen? Ek moet bieg, voorheen het die groep nie veel – indien enigiets - vir my gedoen nie. Sover ek weet, is hulle nooit juis baie ernstig opgeneem deur die hoogleraars van rock nie. Daarom was ek aangenaam verras met “Go”. Dis soliede rock wat gatskop dat die kranse antwoord gee. Maar die vreugde is van korte duur, want daarna plat dit af vir ‘n vale en verval die groep maar in patroonmatige, onoorspronklike rock. So, as jy lus is vir harde, rou rock moet ek sê The Offspring skop baie meer gat en bied baie meer plesier. Net een goeie snit maak ‘n album helaas nie die moeite werd nie.


Missy Higgins
On a Clear Night

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDie CD begin redelik belowend met “Where I Stood”, dan rafel dit ook maar stelselmatig uit. Missy Higgins is ‘n sensitiewe sangeres, maar daar is ‘n gebrek aan unieke verbeelding. Flou.


Sara Bareilles
Little Voice

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelIs die titel ironies bedoel? Bareilles het ook een van daardie ultraligte, delikate stemme, soos dié van ‘n feetjie of ‘n meerminnetjie, maar die materiaal is helaas nie opwindend nie. Die album se twee treffers is “Love Song” en “Gravity”, maar ‘n mens twyfel of daar ‘n derde een sal wees. Daar is niks wat Bareilles onderskei van die res wat soos sy klink en wat dieselfde tipe ragfyn klanke optower nie.


Mariah Carey
E=MC2

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDaar is mense wat meen Mariah moet haar van na Scary verander. Ek het ook altyd so gedink, moet moet in alle billikheid rapporteer dat haar nuwe CD ‘n verrassing sal wees selfs vir dié siele onder ons wat nie van R&B hou nie (en hulle is talryk). Die album skop op ‘n hoë noot af met “Migrate” (saam met T-Pain). “Cruise Control”, saam met Damian Marley, is ook nie sleg nie. Dan bederf die souserige, stroperige, sielige ballade “I Stay In Love” alles behoorlik. Dan word dinge weer gered deur die sexy “I’m That Chick”. Hier en daar is die musiek ook heel sensueel. Maar ná “I’m That Chick” is dit helaas al die pad afdraand en kry jy die indruk die res van die album is maar net volgemaak met vullers.


Joe Jackson
Gold

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelOm saam te val met Jackson se onlangse besoek aan Suid-Afrika is dié versameling van sy 37 grootste treffers weer uitgereik – en wat ‘n lieflike versameling is dit nie. Al die ou Jackson-classics is hier – van “Fools In Love”, “One More Time”, “Sunday Papers”, “Look Sharp!”, “Beat Crazy” en “Jumpin’ Jive” tot “Breaking Us In Two”, “Real Men”, “Steppin’ Out en “Wild West”. Onmisbaar in enige ordentlike versameling as jy nie reeds enige Joe Jackson het nie. "Uitstekend" is die woord vir hom – van sy sang tot sy liedjieskryf-talent en klavierspel. Een groot salige heerlikheid van voor tot agter.


Van Morrison
Keep It Simple

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDie outoppies bly dit uitkap en hulle maak in die meeste gevalle beter en ryper musiek as die jong knape. Op Van Morrison se jongste voer hoofsaaklik blues die botoon, en hoogtepunte is die sardoniese kommentaar in “That’s Entertainment” en “Don’t Go To Nightclubs Anymore”. ‘n Goeie album, maar Van Morrison het al voorheen sterker werk gelewer.


Joe Cocker
Hymn For My Soul

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelNog ‘n outoppie wat geen keer ken nie. Die CD begin eers vanaf snit 5, sy weergawe van Creedence Clearwater Revival se “Long As I Can See The Night”, stoom optel. “Just Pass It On” is die hoogtepunt, met sy Afrika-evokasie, en ook “Rivers Invitation” bly mens by. Ongelukkig val dit alles plat wanneer hy ‘n onvergeeflik power weergawe van Bob Dylan se “Ring Them Bells” sing. Dylan doen dit baie beter. Soos in Van Morrison se geval ook nie ‘n slegte album nie, maar Cocker het al voorheen werk gelewer met groter trefkrag.


David Aldo
The Times

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDavid Aldo was eers David Abbate. Hy maak baie goeie folk rock. Die produksie is baie goed en die liedjies is sterk. Aldo het ‘n wonderlike stem. Die CD begin met die stewige “What a Fine Day” (wat hy saam met Big Yank sing). Die album val in die sogenaamde “volwasse kontemporêre"-kategorie. Die outobiografiese “Judgement Day” is ‘n hoogtepunt, waarin hy sing oor misdaad. Die CD eindig met drie baie stewige liedjies: “Freedom”, “Life Is Calling” en “Miracle”. Die moeite werd om na ondersoek in te stel.


Moby
Last Night

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelHierdie CD is ‘n teleurstelling. Dis glad nie so goed soos Moby se beste vorige werk nie. ‘n Mens kry die indruk hy bou bloot voort op vorige suksesse, en sy nuwe retropogings is werklikwaar cheesy. ‘n Mens kry die gevoel van “more of the same – so what?” Die retrogevoel het ‘n vervlietende bekoring van sy eie, maar dan raak dit te veel ‘n geval van op dieselfde ou ramkiekie karring. Gaap (‘n lange).


Rolling Stones
Shine a Light

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelHierdie CD is die klankbaan van Martin Scorcese se gelyknamige fliek oor die Stones. Dit bestaan uit ‘n konsert met hul ou hits. Mense wat die Rolling Stones al op die verhoog gesien het, soos die uwe, sal weet watter louter vreugde dit is. Dis interessant om hulle weer “As Tears Go By” te hoor doen, en “Champagne & Reefer” met Buddy Guy is ‘n hoogtepunt. Ander hoogtepunte is “Little T&A” en “Sympathy for the Devil”. Vet pret.


Wynton Marsalis
Standards & Ballads

Jazz-liefhebbers sal verheug wees oor dié legendariese trompetspeler se nuwe CD, waarop ‘n mens kan kry presies wat die titel sê, met liedjies soos onder andere “When It’s Sleepy Time Down South”, “Flamingo”, “April in Paris”, “Stardust” en “The Seductress”. Glad nie sleg nie, maar ek verkies eerder iets meer avontuurliks soos Miles Davis se musiek.


Chris Botti
Italia

Op hierdie Grammy-benoemde album onderneem die trompetspeler Chris Botti ‘n musikale reis na sy Italiaanse wortels. Op die titelsnit sing Andra Bocelli saam, en op “The Very Thought of You” kan Paula Cole gehoor word, en selfs Dean Martin (uit die argiewe geneem en hierby ingemeng) op “I’ve Grown Accustomed to Her Face”. Daar is ook “Deborah’s Theme” uit Once Upon a Time in America, “Gabriel’s Oboe” uit The Mission, en ou bekendes (en byna holruggerydes) soos “Caruso”, “Ave Maria” en “Nessun Dorma” (ja, wragtig). Dis vreeslik luilekker, erg strelende musiek wat jou soos ‘n zombie kan laat voel as jy dit in te groot dosisse inkry. Botti imponeer egter as trompetspeler, maar helaas, as jy aan insomnia ly, sal hierdie CD wondere verrig wat nie deur slaappille geëwenaar kan word nie.