Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Waar is die lyn tussen lelike kritiek, kundige kritiek en kwetsende kritiek?


Albert Maritz - 2008-06-25

Ek bid dat ek nie dronk moet word op klein oomblikkies van sukses, soms vals sukses, soms blote kortstondige bravade nie. Dat ek nie moet vergeet dat ek baie rede het om dankbaar te wees nie. Dat ek nie moet vergeet hoe dit voel om self aan die ontvangkant van nastiness te wees nie.

Sê niks, dan is daar niks. Maar wat nie gesê word nie, bly ongesê. Maar – dis ook verkeerd, of is dit nie?

Maar mens moet ervaring meet aan: Is dit ʼn mors van energie? Is die daad gebore uit ʼn oorvloed van ongebreidelde energie? Was jy ook eens so abrup, of uitgesproke of dapper? Was dit hoegenaamd nuttig? Was dit hoegenaamd in die belang van geregtigheid, soos wat jy seker gedink het? Wat was jou rêrige agenda? ʼn Sleg selfbeeld? ʼn Geldingsdrang? ʼn Poging om aan die hand van jou eie “bagasie” iets goeds te weeg te bring?

Soms kyk mense net uit sulke verskillende perspektiewe na dieselfde ding ...

Die waarheid is dikwels baie anders as wat mens toe wou hoor. Terwyl ek saam met John Kani gewerk het, byvoorbeeld, het mense gesê hy wil nie in Afrikaans speel nie. Vir my het hy weer gesê hy wil, maar niemand het hom nog ooit gevra nie.

Gepraat van John ...

John is ʼn wêreldster. Ek wonder of mense onthou hy was eens op ʼn tyd ʼn protes-akteur uit die stal van Athol Fugard. Ek wonder of hy onthou. Mense sê vir my hy was eens op ʼn tyd ʼn grootoog akteur in die film Marigolds in August, deur Ross Devenish. Ross was toe al besig om te slyp aan sy eie legende, en was boonop self toevallig ʼn vryheidsvegter deur middel van sy werk. Hy was onlangs regisseur van John Kani se verfilming van sy stuk Nothing but the Truth.

En mens kan die ding na baie kante toe argumenteer, soos ʼn huismoles. Maar uiteindelik is die reine waarheid dit wat ʼn gelowige vriend eendag – ek jok – drie keer vir my gesê het. Eers die derde keer het ek die stelling verstaan en omarm:

“Mense onthou hoe hulle gevoel het: nie wat gesê is nie.”

Onlangs gesels ek met iemand wat sê Darryl Roodt beleef ʼn laagtepunt; nog ʼn gesprek lewer die slegte ervaring op van ʼn akteur in Ella Blue wat “seer” is – want iemand het gesê hoe pateties dit was (een episode wat ek gesien het, was briljant) Darryl Roodt is die regisseur.

En dis nie net in die filmwêreld nie! ʼn Kettingbrief arriveer waarin drie vrouejoernaliste swartgesmeer word. ʼn Ander kettingbrief sit weer ʼn aktrise/skrywer/regisseur (van Confessions of a Gambler) op haar plek. En stel ʼn swak fliek in ʼn swak lig.

Nader aan die huis – my sterre is self te in een lyn ... ’n paar dinge loop reg; ʼn paar sleg. ʼn Senior persoon by ʼn fees ignoreer my. My voorstelle vir opvoerings word afgekeur. Ek hoor van ʼn feesbaas wat my al jare lank in die slegste lig stel. ʼn Ander kollega sê onlangs in my gesig: Feast of the Uninvited was shit! Goeiste, dink ek, ek was in die reeks. Sê dit dan as dit moet, maar sê ten minste: dit was nie in jou smaak nie, of dit was nie so goed soos ander reekse wat jy al gesien het nie.

“Mense onthou hoe hulle gevoel het, nie wat gesê is nie.” Ek vra my af – hoekom het ek nie lankal dié stelling geleer nie? Hoeveel maal was ek al self skuldig daaraan dat ek mense laat sleg voel het, net om die klein skermutseling wat ek maar kon laat staan het, te probeer wen.

Snaaks, van die kritikus se eie fliek sou ek kon sê: vir my kan dit goed werk as ʼn dokkie, want dit het daai reëlmatige tipe verteltrant. En ʼn eienaardige sameflansing van style, en donker beligting, en amper ʼn verteltrant van ʼn happening, eerder as ʼn storie met ʼn twist in die tail. Dan speel ek die bal en beledig hom nie.

Maar waar is die lyn tussen lelike kritiek, kundige kritiek en kwetsende kritiek? As mense slegte flieks maak of slegte teaterstukke op die planke bring, moet dit eintlik gesê word. Ek wonder of deernis en die selfvertroue van suiwer kundigheid nie hand aan hand gaan nie. Ek leer onlangs: die kuns van ʼn goeie akteur … is die kuns om te luister.

Ek is seker die media het met gespitste ore die kettingbrief oor die vervalle huisie en die verkragting van die bekende persoon geïgnoreer. En die kettingbrief rig toe meer skade aan as enigiets anders. Dit bereik toe ʼn selfs meer prominente verspreider as Rapport; en daar is die storie toe amper soos weeklikse voorbladnuus – weekliks in ʼn tydskrif met ʼn reuse-omset!

Baie mense ken die pyn van mense wat jou skade aandoen. Adriaan Nieuwoudt sou ʼn miljoenêr gewees het met sy melkkultuur-skoonheidsroom. Mens wonder wat is die waarheid oor Brown van Fidentia – wat bankvas agter die kunste was.

Wel, mens moet trou wees aan jouself. Wat beteken dit? Ek dink mens word groot wanneer jy leer om die ander wang te draai. Miskien is mense soos die Waterkloof Vier dalk nie so walglik nie; of is selfs jong xenofobe nie so walglik nie. Omdat hul frustrasies het en dit as jong groentjies uithaal op die eerste, beste iets wat hul wil sien as oorsaak. Dis mos die bousteen van rassisme ook. Soos in A Clockwork Orange kan mens deur die gemeenskap kondisioneer word.

Kan jy mense wat kwade bedoelings het, oorsien, aanvaar of liefhê? Maar as hulle skade aanrig, moet mens hul dan liewer konfronteer? Dalk daardeur self die grootste oortreder word. Of volhou om die ander wang te draai?

Ek wil optree teen die volgehoue aanslae van ʼn vrou wat my in die pad gesteek het omdat ek kwansuis nie die werk kon doen nie. En troos my daaraan dat sy nie weet dat haar baas my toe in ʼn top-posisie aangestel het nie? Maar ek sê niks. Is ek verkeerd?

So, was die massa-e-pos oor Confessions of a Gambler ʼn goeie idee? Is die regisseur, oftewel die gewese regisseur, se regte nou herstel?

Wie sal stoei vir die louere as Nothing but the Truth nie ʼn goeie fliek is nie, noudat daar glo die geskil is tussen Ross Devenish en John Kani?

Sal dit help as iemand ʼn universiteitskursus instel wat mense leer om geldige kritiek op beskaafde wyse te lewer? Of moet ons net maniere leer? Of liefde? Met ʼn hoofletter L. Daar is stringe flieks wat met die regte besinning goed sou vaar: Ouma se slim kind met hulp aan die teks; ander aspekte ook, maar veral teks. Faith like potatoes, wat die boodskap dra van die groot L, se teks, se "storyboard", sy kamera …

Maar ons bedryf verdien ook dat mense foute maak, en daaruit leer. Kyk hoeveel beter is Bakgat as Ouma se slim kind; dieselfde vervaardiger; ʼn volgende probeerslag. Dis wat mens verdien. Soos Mac, na 41 jaar.

Dis darem lank wat ʼn mens kan mors, nè? In stede van om die goeie te aanvaar en wat sleg is te los.

Daar is baie mense wat van Feast gehou het. En van Ella Blue. Glo van Malan en kie ook. En van Manie van Rensburg.

Ek wonder of ons regte filmmaker, Manie van Rensburg, ook op die plakkaat van ʼn fliek sou laat druk dat hy die regisseur was as hy nie was nie? Al was hy baie aan die ontvangkant van sulke magsug.