Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Breytenbachs

Kwalifiseer jy vir Britse burgerskap met `n tweejaar-werksvakansievisum?


Breytenbachs - 2008-06-24

Vraag

My seun oorweeg dit om na Brittanje te gaan met die gewilde tweejaar-werksvakansievisum. Sal hy vir Britse burgerskap kwalifiseer met dié tipe permit?

Antwoord

Alvorens ‘n persoon kan kwalifiseer vir Britse burgerskap, moet hy vir ‘n jaar lank die status van permanente verblyf hê. Permanente verblyf kan op ‘n verskeidenheid maniere verkry word. Hier onder word net enkele van die maniere genoem, aangesien daar ook ander maniere is om dit te bereik:

• Op grond van die voltooiing van ‘n vyfjaar-grootouervisum (Ancestry visa)
• Op grond van ‘n tweejaar-eggenootvisum – dit is ‘n huwelik met ‘n Britse burger
• Op grond van ‘n vyf jaar lange huwelik met ‘n EU-burger en waartydens die verblyf in Engeland was
• Op grond van die voltooiing van ‘n vyfjaar-werkspermit of permit vir hoogs geskoolde persone (HSMP).

Dit is belangrik om daarop te let dat slegs tyd wat op visums en permitte in die permanente kategorie spandeer word, tot permanente verblyf lei. Tyd wat spandeer word op tydelike permitte soos die studentevisum of tweejaar-werksvakansie tel nie vir ‘n persoon se kwalifikasietydperk vir permanente verblyf nie. (In hoogs uitsonderlike gevalle kan die tyd egter wel in ag geneem word.)

Tyd wat jou seun dus op die tweejaar-werksvakansievisum spandeer, sal dus nie tel vir die tyd om vir Britse burgerskap te kwalifiseer nie, en as dit sy einddoel is, moet hy eerder ander permanente kategorieë oorweeg. Die tweejaar-werksvakansievisum kan egter ‘n goeie wegspringplek wees waarvandaan om te begin.

Jou seun moet ook asseblief daarop let dat die tweejaar-werksvakansievisum opgeskort gaan word en vervang gaan word met ’n Jeugmobiliteitskema. Volgens dokumente wat uitgereik is, sal dit na verwagting teen die einde van Augustus 2008 geïmplementeer word. Die tweejaar-werksvakansievisum sal dan op dieselfde datum herroep word.

Dit lyk in dié stadium nie of lande soos Suid-Afrika en Namibië uit die staanspoor deel gaan wees van die nuwe Jeugmobiliteitskema nie, en soos dinge nou lyk, lyk dit hoogs onwaarskynlik. Breytenbachs raai gevolglik mense aan wat wil aansoek doen om dié tipe visum om ons kantoor onverwyld te skakel om hul aansoeke in te dien vóór die tweejaar-werksvakansievisum opgeskort word.

Kontak ons gerus vir verdere inligting.

Het jy enige vrae of wil jy om ‘n Britse permit aansoek doen? Kontak Breytenbachs by info@breytenbachs.com of besoek hul webtuiste by www.breytenbachs.com.