Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Roux, Maree en Masote sorg vir skitter-tuiskoms


Adriaan Visser - 2008-06-10

Groot verwagting is in die media geskep oor Coming Home deur Isak Roux, op Saterdag 17 Mei in die Johannesburgse Stadsaal aangebied as produksie van Total Miagi se 2008-fees.

Aan dié verwagting is enersyds voldoen.

Isak Roux se veelsydigheid, wat hom heel bo in sy musiekportuurgroep plaas, is duidelik in Coming Home getoon. Roux is inderdaad meesterlik as komponis, verwerker én pianis. Van die delikate orkestrale prelude in klassieke styl regdeur 'n verskeidenheid inheemse en sinkretiese style, almal met jazz-flair georkestreer, tot by die grootse finale, is Roux se werk verbysterend, ook in die agtergrondstukke vir die narratief.

Roux het opnuut getoon dat hy 'n toppianis is en heeltemal in aanvoeling met die plek van die klavier se klank in solo-, ensemble- en begeleidingspel.

Kutlwano Masote het met die ryk klanke van dié musikaal geskakeerde jazzkantate hoëkaliber-werk gelewer deur die duidelik bekwame feesorkes sterk gedissiplineerd te lei. Masote was boonop innemend aanskoulik.

Thinus Maree het onder die soliste uitgestaan. Ten spyte daarvan dat kantates sang van partiture af "toelaat", was hy die enigste solis wat daarsonder gesing het en was daarom loshande die professioneelste. In alles was hy konsekwent. Maree se stem- en asembeheer was perfek, sy artikulasie duidelik, en sy vertolkings sensitief en selfs ontroerend, soos in "In the garden". Sy interaksie en samesang met die koor was deurgaans sinvol. Maree het ook die andersins statiese uitvoering opgekikker met 'n paar vrolike dansbewegings uit sy musical- en Soft Shoes-dae … op presies die regte oomblikke.

Sibongile Khumalo se veelsydigheid is goed ten toon gestel. Haar Zulu-vertolking van die bekende Magaliesbergse Aandlied ("Evening song") was treffend en het haar pragtige stem en sang ten volle tot sy reg laat kom. Dit is net jammer dat die partituurstaander só geplaas was dat sy haar kop soms van die mikrofoon moes wegdraai en daardeur hoorbaarheid ingeboet het.

Robert Brooks se lieflike stem het in "Sweet hour of prayer" liries geseëvier, en hoewel hy hom goed van sy taak gekwyt het, het die ander stukke nie heeltemal by die pragtige stem gepas nie.

Die Gauteng Choristers het in hul sang nie dieselfde hoë standaard en dissipline gehandhaaf waaraan die publiek al gewoond geraak het nie.

Dié koor het egter wel, saam met Sibongile Mngoma op haar beste, vir die narratief se grootste en uiters aangrypende hoogtepunt, "Not alone", gesorg. Die rou "bayede"-saluut ? bayete? was as aangrypende klimaks ook dan die regte, "hoë" oorgang na die manjifieke, amper opruiende finale.

Sibongile Mngoma se narratiefvoorlesings is met fyn aanvoeling vir die teks gedoen. Ongelukkig is sy nie voldoende afgerig vir die Afrikaans wat sy wel gespreek het nie. 'n Mens moes mooi luister om te kon agterkom dat dit wel Afrikaans is. Trouens, dit was ook feitlik die enigste paar woorde Afrikaans wat in die kantate gehoor is, al bied die program die kantate aan as veeltalig in Engels, Zulu, Sesotho en Afrikaans.

Die "andersyds" van die aanvanklik geskepte verwagting oor Coming Home is ongelukkig juis in die libretto geleë.

Tussen die oorspronklike "Song of the exiles" aan die begin en "Not alone" aan die einde – met treffende literêre in- en aanslag, ook as oorgangstekste – was daar 'n groot insinking tot op die vlak van loutere, onliterêre schmaltz. Soos vele ander resensente met toegang tot die oorspronklike libretto, wat konsekwent op hoë vlak geskryf en vertaal is, kan dié resensent met reg sê dat die gebruik van sulke minderwaardige tussentekste afbreuk doen aan Isak Roux se andersins skitterende konsep.

Die gehoor het egter oudergewoonte letterlik aan die einde die laaste sê: 'n staande, lang ovasie vir Isak Roux en almal wat deel gehad het aan Coming Home!


Coming Home veeltalige jazz-gospelkantate deur Isak Roux, Johannesburgse Stadsaal, 17 Mei 2008

Soliste: Isak Roux (pianis), Robert Brooks (tenoor), Sibongile Khumalo (mezzosopraan), Sibongile Mngoma (verteller), Thinus Maree (bariton)
Koor: Gauteng Choristers onder Sidwell Mhlongo (koorleier)
Jazz-kamerorkes onder Kutlwano Masote (dirigent)