Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Na de wedstrijd: ʼn Wipplank tussen blatant en fyn spot


Maryke Steenkamp - 2008-06-02

Richard Groenendijk, bekende Nederlandse komediant en kabaretkunstenaar, se vertoning Na de wedstrijd se speelvak het onlangs tot ʼn einde gekom. Maryke Steenkamp was by die voorlaaste vertoning in Hoofdorp naby Amsterdam.

Die Nederlandse taal lê nog nie heeltemal gemaklik op my ore nie. Dus was ek effe bekommerd om die vertoning by te woon, maar ek kon nog nooit nee sê vir teater nie, so om te gaan was ’n maklike besluit.

Die stampvol teater het voorspel dat Richard ʼn geliefde en gerekende kunstenaar onder sy volk is en met die gordyn se eerste oopgaan kon ek verstaan hoekom. Richard het summier die aandag vasgevang – sy rug gekeer op die gehoor, strakke postuur, oorweldigende stilte. Hy het sy mond oopgemaak en teen die tweede woord het die giggels reeds uit die gehoor opgeklink. Want hierdie man is snaaks. Baie snaaks.

Die vertoning het geen ontsag vir heilige koeie gehad nie. Op ʼn komiese manier het Richard jou gedwing om, somtyds tot die skok van hierdie konserwatiewe kyker, hedendaagse kwessies te belag en terselfdertyd te bedink. Hy het gewipplank tussen blatante grappe en fyn spot. Beweeg tussen banale galgehumor en subtiele kwinkslae. En in die proses die gehoor met hom saamgeneem, skommelend tussen weergalmende gelag en hikkende geproes.

Die minimalistiese verhoogdekor het beteken dat Richard soveel harder moes werk om die aandag te behou en hy het nie teleurgestel nie. Sy energie was aansteeklik. Sy oordrewe gebare en vele kleurryke karaktersketse het verseker dat hy voortdurend verras het met ʼn nuwe wending of storielyn. Sy ryk sangstem het ook bekoor.

Richard het die verhoogtafel met humor gedek vir die aand, maar tog het ʼn onderliggende dieper boodskap vroeg in die vertoning reeds deurgeskemer wat gekulmineer het in sy vertel van die onlangse dood van ʼn vriendin. Tog, selfs toe hy beskryf het van afskeid neem voor ʼn kis, het hy nog daarin geslaag om deur komedie die seer draagliker voor te stel, die pyn effe ligter.

Richard wou van kleins af nooit hê dat sy ma “wel te rusten” moet sê voor hy gaan slaap nie. Eerder “tot morgen” – sodat hy seker kon wees daar is ʼn mộre. Sodat hy kon glo in dinge wat nog kom. Ek het by die vertoning weggestap en my voorgeneem om van nou af dieselfde te doen. En as dit by Richard Groenendijk kom, die taalgapings wat ek hier en daar self moes vul ten spyt, dan sê ek “tot volgende keer”, want van hierdie komediant wil ek vir seker meer sien.

Verdere inligting: www.richardgroenendijk.nl