Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Goudvissies tussen piranhas


Theunis Engelbrecht - 2008-05-27

Goldfish

Perceptions of Pacha

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel Van al die honderde nuwe CD’s het dié een die grootste plesier aan ons uitgelese paneellede gebied. Die rede is dat die groep van die beste dans- en partytjiemusiek maak wat jy tans kan kry. Daar is min dinge deesdae wat ‘n mens vrolik laat voel. Baie rockmusiek is ‘n erge gewroeg, en borrels in ‘n skuimbad het meer bestaansreg as die meeste kommersiële popmusiek. Daarteenoor laat Goldfish ‘n mens voel of die lewe werklik ‘n lied is. ‘n Onwerklike gevoel – en as musikante soos dié dit kan regkry om so ‘n gevoel te skep, verdien hulle al die lof wat hulle daarvoor kan kry.

Perceptions of Pacha is David Poole en Dominic Peters se tweede album en volg op die suksesvolle Caught in the Loop. Dié twee jazz-musikante van Kaapstad het oornag ontwikkel van ‘n relatief ondergrondse elektroniese groep tot kunstenaars wat hul merk internasionaal maak. Hul CD’s word deur baie Europese radiostasies gespeel. Hulle het ook al opgetree in Japan, Dubai, Amerika, Brittanje, Ibiza, Frankryk en Spanje en gaan ook binnekort saam met Macy Gray en Fedde le Grande in Amerika optree. Hulle is ook reeds bespreek om vir die hele Europese somer elke Vrydagaand in die Pacha-nagklub in Ibiza op te tree.

Beyers vertel hy was onlangs in ‘n groot CD-winkel en die musiek wat daar gespeel het, het talle mense na die toonbank laat stroom om te hoor wat dit is. En dit was hierdie CD. Dit word letterlik opgeraap vanaf die winkelrakke, en ‘n mens kan verstaan hoekom.

Dis misleidend om die groep se musiek as elektronika te kategoriseer. Hulle beweeg seepglad deur verskillende genres en kombineer dit ook moeiteloos – van house, louse en jazz tot Afrika-style. En hulle gebruik nie net rekenaars nie, maar ook instrumente soos ‘n kontrabasviool, saksofone en fluit. Heelwat sangers maak ook gasverskynings, soos Monique Hellenberg, Max Vivima, Hlulani Hlangwani en Zakhile Moleshe. Die produksie is ook uitstekend en afgerond – die meestermeng is in Londen gedoen deur Soundmasters International, wat ook al die meesterbande vir mense soos Fatboy Slim, Moby en Depeche Mode gemeng het.

Dis musiek wat ‘n mens laat goed voel – dis hoe eenvoudig dit is. Die album wemel van potensiële treffers. “This Is How It Goes” is die een wat tans die meeste oor die radio gespeel word, maar daar is nog talle ander liedjies wat net so aansteeklik en oorrompelend is, soos “Fort Knox”, “Hold Tight”, “Wet Welly”, “Cruising Through”, “Sound Tracks and Come Backs” and “Are You Lulu”.

Dis altyd lekker as Suid-Afrikaanse musiek die wêreld verower, en dis presies wat Goldfish doen. Dit word sterk aanbeveel vir almal wat daarna smag om ‘n bietjie lekker te voel – dis meer werd as die meeste ander dinge wat mens hulle verbeel hulle goed laat voel, soos Prozac, drank, drugs en watter ander vorme van ontvlugting ook al. Goldfish se musiek is allesbehalwe ontvlugting – dit pols van positiewe, seëvierende lewe.


Muse
H.A.A.R.P.

Hierdie CD bevat die meeste liedjies van ‘n konsert wat Muse in Junie 2007 in die Wembley-stadion in Londen opgeneem het, asook ‘n DVD met al die liedjies wat by die konsert gespeel is.

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDie paneellede is dit eens dat dit een van die mees mind-blowing en opwindende konserte is wat hulle tot nog toe gesien het. Die groep se liedjieskrywer, sanger, kitaarspeler en pianis, Matthew Bellamy, is iets om te aanskou (en nie net om die redes wat Yvette de Wet, die middelklas-slet van Moreletapark-Wes, gaande het nie). Dat ‘n man so kan sing! Dat daai selfde man so kitaar kan speel! En klavier! Dat daai einste man sulke meesleurende epiese rockliedere komponeer! Verbluffend om dit alles mee te maak.

Wat Muse onderskei van en uitlig bo ander kontemporêre rockgroepe is in die eerste plek die musiek. Alice meen hulle klink soos ‘n mix tussen U2 en Radiohead, maar die res stem saam dis simpel om sulke vergelykings te wil tref. Muse maak meer as net epiese stadionrock. Wat in Muse se guns tel, is dat hulle juis nie soos enige ander rockgroep klink nie, al mag hulle deur hulle beïnvloed wees. Die klank is groot en solied en sterk, en met ‘n meesterlike aanvoeling vir drama en spanning weet Bellamy en sy kêrels net waar om alles af te breek totdat dit letterlik in net die eggo van ‘n enkele klaviernoot hang, net om dit weer daarvandaan op te bou en op asembenemende wyse tot ‘n ontploffende einde te voer.

Al die treffers is daar: “Knights of Cydonia”, “Supermassive Black Hole”, “Map of the Problematique”, “Invincible”, “Soldier’s Poem” – altesame 19 liedjies. Die DVD is ‘n visuele skouspel – dis nie bloot vervelige beeldmateriaal van die kêrels wat daar staan en musiek maak nie. Die beligting, die backdrop, die spesiale effekte – dit alles sorg vir een van die heel beste konsert-DVD’s waarop ‘n mens tans jou hande kan lê.

H.A.A.R.P. is ‘n belewenis. Liefhebbers van rock hoef nie twee keer te dink om dit aan te skaf nie.


Yael Naim & David Donatien
Yael Naim & David Donatien

As jy Yael Naim & David Donatien se huidige treffer, “New Soul”, oor die radio of TV hoor, sal dit jou ‘n goeie aanduiding gee van die aard van Naim se werk – musiek met ‘n subtiele, delikate skoonheid en sterk hipnotiserende kwaliteite.

Naim sing en Donatien speel die meeste instrumente. Naim is in Frankryk gebore, maar woon al die grootste deel van haar lewe in Israel. Wikipedia weet te vertel dat sy op haar dag ‘n solis in die orkes van die Israelse lugmag was! Sy het haar sangloopbaan toe verder gevoer met ‘n verskyning in die musiekblyspel Les Dix Commandements en daarna het haar eerste album, In a Man’s Womb, gevolg. Met “New Soul” het sy dan ook die eerste Israelse kunstenaar geword wat ‘n toptien-treffer in Amerika gehad het. Vir hierdie album, haar tweede, het sy saamgespan met die multi-instumentalis David Donatien en die resultaat is ‘n uitstekende album. Dit is verblydend dat dit wêreldwyd soos ‘n veldbrand versprei danksy “New Soul”.

Al gee dié treffer vir jou ‘n aanduiding van die eiesoortige aard van haar werk, moet ‘n mens nie verwag dat al die liedjies op die CD in dieselfde trant is nie. Baie van die liedjies word in Frans gesing en is allesbehalwe jou tipiese kommersiële pop. Die CD is een hoogtepunt van voor tot agter, met geen minderwaardige werk wat tussenin geprop word as vullers net om die album vol te kry nie. Een van die indrukwekkendste en mees betowerende CD’s wat tot dusver vanjaar die lig gesien het. Indien jy nog nie haar musiek ken nie, doen gerus die moeite om ondersoek in te stel. Die verrassing sal aangenaam wees en vir ure se luistergenot sorg – dis die soort musiek waarvan ‘n mens nie maklik genoeg kan kry nie.


Nick Cave & The Bad Seeds
Dig!!! Lazarus Dig!!!

Die agbare lede van ons luisterpaneel is dit eens dat Nick Cave se musiek ‘n mens altyd laat voel of dit jou wind uitslaan. Ná sy vorige projek, Grinderman, het Cave beloof sy veertiende album met die Bad Seeds sal vol van dieselfde rou garage-rock as Grinderman wees.

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelOp albums soos The Boatman’s Call, No More Shall We Part en Nocturama het Cave van die mees hartverskeurend mooi ballades gesing. Moet egter nie veel in daardie trant verwag op Dig!!! Lazarus Dig!!! nie. Op hierdie CD is die musiek soos intense, aggressiewe krete oor ‘n wêreld wat van sy trollie afgeraak het.

Cave self praat soos volg oor die titelsnit: " Ever since I can remember hearing the Lazarus story, when I was a kid, you know, back in church, I was disturbed and worried by it. Traumatized, actually. We are all, of course, in awe of the greatest of Christ's miracles - raising a man from the dead - but I couldn't help but wonder how Lazarus felt about it. As a child it gave me the creeps, to be honest. I've taken Lazarus and stuck him in New York City, in order to give the song a hip, contemporary feel. I was also thinking about Harry Houdini who spent a lot of his life trying to debunk the spiritualists who were cashing in on the bereaved. He believed there was nothing going on beyond the grave. He was the second greatest escapologist, Harry was, Lazarus, of course, being the greatest. I wanted to create a kind of vehicle, a medium, for Houdini to speak to us if he so desires, you know, from beyond the grave."

Een van die mees uitstaande snitte is “We Call Upon the Author”. “Who is this great burdensome slavering dog-thing that mediocres my every thought? I feel like a vacuum cleaner! A complete sucker! (It’s fucked up and he is a fucker), but what an enormous en encyclopaedig brain! I CALL UPON THE AUTHOR TO EXPLAIN! O rampant discrimination, mass poverty, Third World debt, infectious disease, global inequality and deepening socio-economic divisions – (it does in your brain!) WE CALL UPON THE AUTHOR TO EXPLAIN!”

Hierdie sosiale kommentaar word woedend uitgespoeg. En direk daarna, in “Hold On to Yourself” is die toon skielik een van ‘n weemoedige weerloosheid. So wissel Cave die emosionele inhoud trefseker af – die een oomblik skop hy jou in die maag, die volgende wil hy jou hart laat breek met die toon van melankolie wat deurslaan (soos ook op die briljante “Jesus of the Moon”).

Daar is nog baie meer om oor hierdie album te skryf, baie wat ‘n mens kan ontleed en uitpluis, maar plek ontbreek. Kortom: Cave kan nie ‘n kak album maak nie, al wil hy. Nie baie kunstenaars slaag daarin om musiek te maak wat werklik by jou spook nie. Cave is een van hulle.


Portishead
Third

Met hul eerste album, Dummy (1994), het die Britse groep Portisheid musiekliefhebbers orent laat sit en hulself gevestig as van die eerste eksponente van trip-hop. Die tweede album, net genoem Portishead, het in 1997 verskyn en het die groep se reputasie verstewig. Watter reputasie? Onder meer as kunstenaars wat daarin slaag om ‘n unieke klank te skep, hulle musiek te verwerk op ‘n manier wat uitdagend is en nie voorspelbaar nie en wat ook ‘n haunting gevoel skep.

Yvette en Tom háát Portishead. Hulle sê die musiek is hopeloos te depressief en is genoeg om ‘n mens jou polse te laat sny. Hulle sê ook die groep se sangeres, Beth Gibbons, se sang klink na die geteem van ‘n erg neurotiese vrou.

Nouja, die wêreld sou ‘n verskriklik vervelige plek gewees het as almal van dieselfde goed gehou het, en Yvette en Tom het die volste reg op hul mening, al is dit volgens die res van ons ‘n eenogige en ongegronde mening. Maar ‘n mens kan verstaan dat Portishead se musiek nie vir sissies is nie. Die melancholie in hul musiek kan ‘n mens inderdaad maklik aansteek. Op plekke laat die gevoel van pyn wat in Gibbons se vertolkings na vore kom ‘n mens voel of dit jou hart kan breek en jou derms kan opslurp en uitspoeg. Op party snitte probeer Gibbons nie neuroties klink nie en sing in ‘n gewone, sagte stem (soos op “Hunter”), en dié verskillende stemteksture skep deurgaans fabelagtige kontraste op die CD.

Wat dit ‘n interessante ervaring maak, is dat die groep se Weltschmerz (soos op hul vorige albums) in die boeiendste verwerkings getooi word en met die interessantste klankeksperimente opgedis word. Dis beslis nie ‘n album vir dié mense wat wil hê musiek moet al met die eerste luisterslag al haar geheime prysgee nie. Dis verleidelike en sensuele musiek, al klink dit op plekke asof dit vanuit ‘n yskoue, kloustrofobiese ruimte kom.

Portishead volg ook nie die maklike uitweg en bly by die resep wat vir hulle gewerk het op Dummy nie. Met elke nuwe album durf hulle nuwe eksperimentele grense en soniese horisonne aan. Of kom ons gebruik eerder die woord soundscape.

Third is tot dusver een van die hand vol werklik indrukwekkende uitreikings van die jaar. Portishead-liefhebbers sal nie teleurgesteld wees nie en die lang wag die moeite werd vind. Dis ‘n swaarmoedige album met onverwagte oomblikke van skreiende teerheid wat by ‘n mens bly spook. Wat die res betref: luister eers self voor julle koop. Portishead akkordeer nie met elke tipe gemoed op dees aarde nie. Maar wanneer dit wel gebeur, is dit ‘n luisterervaring wat ‘n mens nie ligtelik vergeet nie, want dit gebeur mos ook alte min dat mens gevoelens van suiwer verrukking ervaar.


R.E.M.
Accelerate

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelR.E.M. moes die afgelope paar jaar baie kritiek verduur oor die vermeende wisselvallige gehalte van hul laaste klompie albums. Veral die vorige album, Around the Sun, het deurgeloop as sou dit te lam en tam en half klam wees. Nie almal op ons uitgebakte paneel deel dié mening nie, want daar was darem pragtige liedjies op daardie album, soos “Leaving New York”, “Electron Blue”, “The Outsiders”, “Wanderlust” en “Boy in the Well”.

Dalk het R.E.M. se aanhangers nie in daardie stadium ‘n rustige, stil album verwag nie, maar eerder een met die groep se ou kenmerkende energie en intensiteit. Wel, hierdie is daardie album. Ek moet sê R.E.M. kan ook net-net by my wegkom met Around the Sun, maar as hulle in die trant van daardie album voortgegaan het, sou ek hulle afgeskryf het.

Accelerate is vol donkieskoppe. Die songs is kwaai, man, kwaai, beduie Beyers begeesterd. Selfs Alice en Yvette, wat gewoonlik rockmusiek as te macho en domdof beskou, het ná die luister daarna geborrel van energie en lewenslustigheid.

Die snitte vol elektriese woema en hamerende ritme – soos “Supernatural Superserious” en “Accelerate” - word afgewissel met ballades soos “Hollow Men” en “Until the Day is Done” wat so vol sensitiwiteit is dat dit net die mees gevoellose, hartelose siele onder ons koud sal laat.

Die sosiale waarnemings is skerp en ontluisterend en daar is geen sprake van niksseggende, oppervlakkige lirieke gehul in die cliché-taal wat so eie is aan baie musiek nie. Wat die klank betref, laat die effe donkerder, onheilspellender, broeiender gevoel wat deurkom op die fantastiese “Houston” ‘n mens wens R.E.M. wil meer in dié rigting begin weeg.

Wat die res betref, is dit vintage-REM wat nietemin daarin slaag om ‘n mens weer met ‘n nuwe gevoel van verwondering na hulle te laat luister. En dis nogal baie om te sê van ‘n groep wat al so ‘n lang pad kom.


Neil Diamond
Home Before Dark

Met sy vorige album, 12 Songs, het Neil Diamond vriend en vyand verras met die wending wat hy met sy loopbaan geneem het. Vir dié album het hy die hoogs gerespekteerde produksieleier Rick Rubin nadergeklap – die man wat benewens werk saam met groepe soos Red Hot Chili Peppers, Beastie Boys, Slayer, System of a Down, ook Johnny Cash se produksieleier was in die laaste tien jaar van sy lewe, en waaruit Cash se grootste reeks American Recordings in vyf aflewerings en een box-set voortgevloei het.

12 Songs het net gloeiende resensies ontvang en is oral met lof begroet. Die aanslag was gestroop en akoesties, en Rubin se aanvoeling om Diamond se sterk komposisies nie te verswelg in die tipiese popverwerkings wat ‘n mens daarvan sou maak nie, het vrugte afgewerp. Die resultaat was ‘n intieme album waarvan die eerlikheid besonder aangrypend was.

Op Home Before Dark sit Diamond en Rubin hierdie resep voort. Dit is ‘n uitstekende album. Net dikvellige monsters sal byvoorbeeld koudgelaat word deur ‘n mooi, eenvoudige en pretensielose liedjie soos “Pretty Amazing Grace”. Die liedjies is sterk en die vertolkings spreek van algehele opregtheid – Diamond sing uit die hart en derms, nie die kop nie.

Waar 12 Songs ‘n grensverskuiwende album in Diamond se loopbaan is, is Home Before Dark dit egter nie. Dit bly veilig binne die vaarwater van 12 Songs. Wat pla van die nuwe album, is dat dit deurgaans die heeltyd op dieselfde trant is – hoofsaaklik met akoestiese kitare en klawerborde. As ou Rick en ou Neil byvoorbeeld ‘n snit soos “Forgotten” meer skop kon gegee het met lekker dromme en elektriese kitare sou dit al klaar ‘n bietjie meer afwisseling gebied het. Daar is egter aan die uitgekuierde lede van ons paneel bewys dat hierdie album een is wat op jou groei. Aan die begin oorweldig dit jou nie heeltemal nie, maar hoe meer jy daarna luister, hoe meer groei dit – en dit is wel ‘n aangename proses, in hierdie geval.

Dis ook interessant om kennis te neem dat Home Before Dark in die eerste week van uitreiking die eerste plek op Billboard se Top 200 ingeneem het – in daardie week is 145 840 eksemplare verkoop. En glo dit of nie, maar dis Diamond se eerste nommer 1-album in sy loopbaan. Veertien van sy albums het wel al die Top 10 gehaal, maar hierdie is die eerste een in die eerste plek.

"The exhilarating sound of a mature man truly reconnecting with his younger, hungrier self," het die resensent van Dallas Morning News geskryf. “True to the organic blueprint that casts Diamond's gifts in a fresh, gratifying light,” het die enetjie van Boston Globe geskryf. Luister ‘n mens na die album, besef jy (ondanks ‘n relatief onbenullige voorbehoud of twee) dat hulle nie kak praat nie.


Sergio Mendes
Encanto

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel Die Brasiliaanse musiekmeester Sergio Mendes se eerste album het in 1961 verskyn. Hy het veral naam gemaak met sy groep Brasil ’66. Deur die jare het hy nie bly terugval op die suksesresepte van sy vroeër werk nie, maar telkens bygebly met nuwe tendense, klanke en verskynsels in die musiekwêreld en daarmee geëksperimenteer deur ‘n fusion daarvan met sy eie kenmerkende styl.

Dit het ‘n voorlopige hoogtepunt bereik op sy vorige album, Timeless, en word voortgesit op Encanto. Hy het heelwat ou treffers afgestof, soos die bekende “The Look of Love”, “Funky Bahia”, “Odo Ya” en “Y Vamos Ya” en dit heeltemal re-invent. Dis nie bloot maar net nóg weergawes of herinterpretasies nie, maar ‘n totale facelift. Deur die vermenging met nuwe, moderner style en klanke soos hip-hop en R&B en rap kry hierdie liedjies nuwe asem en bestaansreg. Ek meen, ek weet van baie mense wat wil kots as hulle Burt Bacharach se “The Look of Love” hoor, maar as jy eers die sexy, sensuele, smeulende weergawe hoor wat Mendes hier speel, sal jy met nuwe ore daarna luister.

Om die projek nog interessanter te maak het Mendes van die wêreld se voorste kunstenaars genooi om saam te kom sing en musiek maak, soos die Colombiaanse superster Juanes, die Japanse popgroep Dreams Come True, die Belgiese groep Zap Mama, die Italiaanse rapper Jovanotti, Carlinhos Brown en Vanessa da Mata van Brasilië en die Amerikaanse sterre Fergie, Ledisi, Natalie Cole, Herb Alpert en sy vrou Lani Hall (wat die eerste sangeres van Brasil ’66 was).

Ons uitgelese paneellede is dit eens dat hierdie ‘n befokte, fantastiese CD is. Dis tegelykertyd ultra-cool en vuurwarm. Dit bly in jou CD-speler boer as dit eers daar is. Die grooves is te lekker vir woorde. Ook een van die hoogtepunte onder die nuwe CD’s. Hier bo is in ons paneel se besinning oor Goldfish se nuwe CD genoem dat daar maar min CD’s is wat ‘n mens net vanself vrolik en blymoedig laat voel. Encanto is so ‘n CD. Koop hom sommer ook as jy Goldfish koop en jy sal nie Prozac of drugs of drank nodig hê om jou te verbeel jy voel goed nie.


Counting Crows
Saturday Nights & Sunday Mornings

Enkele van ons eerbiedwaardige paneellede sê hulle het nog altyd lou gevoel oor Counting Crows en net hier en daar van ‘n liedjie gehou, maar selde van ‘n album in sy geheel. Wel, met Saturday Nights & Sunday Mornings behoort die bordjies verhang te word. Dit is ongetwyfeld Counting Crows se beste album tot dusver. Die een helfte is vervaardig deur Gil Norton en die ander deur Brian Deck.

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel Die veelfasettigheid van die groep kom nou veel sterker na vore. Dis ‘n album vol lig en donker en subtiele tekstuur – ‘n bewys dat hierdie manne weet hoe om intelligent en sensitief met musiek om te gaan. ‘n Troos is dat die sanger ook al hoe minder teem as voorheen – op dié album slaan dit net deur op “On a Tuesday in Amsterdam Long Ago”. Desnietemin, Counting Crows kry al hoe meer en meer bôls en Saturday Nights & Sunday Mornings is een van die sterker onlangse rock-uitreikings (al is hulle helaas nie so opwindend soos Nick Cave & The Bad Seeds, Muse en REM nie).


Gerald Clark
Sweepslag

Gerald Clark is ‘n baie welkome nuwe stem op die Afrikaanse toneel, waar die meeste van die mannetjiesmense wat sing, óf te veel na mekaar klink óf in hul lirieke vasval in die goedkoop sentiment van adolessente middelmatigheid.

Clark is nie ‘n groentjie nie – hy was lank die sanger van die blues-groep Delta Blue. Hierdie is egter sy Afrikaanse debuut en reeds met die eerste liedjie, die titelsnit, kan ‘n mens hoor hier is ‘n vars en eiesoortige klank in Afrikaans. Blues is aardse musiek, en Afrikaans is ‘n aardse taal. Nie alle kunstenaars kan die twee suksesvol meng nie, maar Clark laat dit natuurlik gebeur.

Die CD is besaai van die plesiere. In die eerste plek is daar Clark se stem, wat glad nie klink soos die skoongesig-soetgat-gestamel van so baie ander Afrikaanse sangers nie. In die tweede plek ‘n hele klomp sterk liedjies. In die derde plek genoeg variasie – van die vrolikheid van die titelsnit en “As ek kon” tot hoendervel-ballades soos “Somerreën”, “Seuntjie in haar oë” en “Spasie in die Kaap”. En in die vierde plek Clark se fantastiese akoestiese kitaarspel en die nommerpas verwerkings.

Die eerste musiekvideo op dié album is Clark se toonsetting van ID du Plessis se “Rietfontein se leidam” – ‘n meesleurende liedjie waarin die dramatiese ontwikkeling in die teks behendig in die musiek oorgedra word.

‘n Sterk debuut. Clark het meer bestaansreg as al die Afrikaanse sangers wat verbeeldinglose vertalings van Euro-trash-treffers met backtracks sing of studentikoos oor die liefde kwyl. This is real stuff.


Goldfrapp
Seventh Tree

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelGoldfrapp se vierde album is ‘n verrassing ná sy voorganger, Supernatural. Waar laasgenoemde ‘n meer elektroniese dansklank gehad het, is Seventh Tree ‘n baie meer introspektiewe en rustige album, amper op die grens van ambiënt. Nadat die groep ‘n akoestiese optrede in ‘n radioprogram moes doen, het hulle begin speel met die idee om ‘n meer akoestiese gevoel op hul volgende album te skep. Dit was ‘n slim skuif, want daardeur illustreer Goldfrapp hul veelsydigheid.

Hul gestroopte, stadiger liedjies is ook meer boeiend as die vinniger dansnommers. Seventh Tree is ‘n baie behaaglike luisterervaring – dit laat jou voel asof jy in ‘n warm borrelbad gedompel word. “A&E” en “Happiness” was die eerste twee treffers, maar daar is nog veel meer wat vir lekkerluister sorg, soos “Eat Yourself”, “Some People”, “Cologne Cerrone Houdini” en “Monster Love”. Dis ook een van daardie seldsame albums wat ‘n mens laat voel jy kan net nooit moeg raak daarvoor nie. Beslis die moeite werd, en ‘n vars briesie tussen die meeste ander nuwe popalbums.


Sheryl Crow
Detours

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel Sheryl Crow het met haar laaste klompie albums met wisselende mate beïndruk. Ná haar eerste twee albums was daar hier en daar ‘n insinking, maar op Detours is sy weer op haar stukke. Sommige mense meen dis meer in die gees van haar album Tuesday Night Music Club, en hulle mag dalk net ‘n punt beet hê. Die album spog met meer as ‘n hand vol sterk liedjies, soos “Shine Over Babylon”, “Gasoline”, “Out of Our Heads”, die titelsnit, “Motivation”, en “Lullaby for Wyatt”.

Ons paneel is dit eens: gee ons enige tyd eerder Sheryl Crow as Celine Dion. Detours is ‘n sterk album wat aan die einde van die jaar waarskynlik ook uitgelig sal word as een van die noemenswaardigste uitreikings van die jaar op folkrock-gebied.


Lize Beekman
Sit ‘n bietjie langs my

Lize Beekman laat ‘n mens aan ‘n feetjie of ‘n engel dink. Haar musiek is soos balsem vir die siel. Met haar nuwe CD bewys sy dat sy net bly groei en groei en dat haar werk net sterker en beter word. Die sensitiwiteit van die vertolkings en verwerkings betower ‘n mens. Sy beïndruk nie net as gevoelvolle vertolker nie, maar ook as ‘n vaardige liedjieskrywer wat weet hoe om clichés te vermy. Voeg daarby die gevoel van eerlikheid en opregtheid wat haar musiek skep, en ‘n mens verstaan hoekom dit so spesiaal is.

Die album skop op ‘n hoë noot af met “Dit dan dit”, waarop Dave Ferguson se uitsonderlike harmonika-spel en Juan Oosthuizen se akoestiese kitaarspel ‘n mens dadelik in die greep van die musiek kry. Die Franse weergawe van “’n Bietjie nader” is delikate skoonheid soos wat ‘n mens dit maar min kry, en so ook “Suidland Gebed”, ‘n stuk van Mozart waarvoor Beekman Afrikaanse woorde geskryf het.

‘n Verdere pure lekkerkry is die drie snitte waarvan die verhoogweergawes op aanvraag vir hierdie CD opgeneem is – “Dankbaar vir Aeroplanes”, “Ami” en “’n Sonneblom uit Bethlehem” (laasgenoemde is ongetwyfeld die heel mooiste weergawe van hierdie liedjie wat nog deur enigiemand opgeneem is).

As daar teen die einde van die jaar teruggekyk word na wat die werklik beduidende CD’s van die jaar was, sal Sit ‘n bietjie langs my beslis sy plek daar verdien.


k.d. lang
Watershed

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestel Nodeloos om te sê: ‘n baie mooi album, danksy Lang se wonderlike stem wat so vol krag, waardigheid en warmte is. Haar emosionele krag word op ‘n onderbeklemtoonde manier oorgedra, wat dit nóg sterker maak. Dis ‘n rustige album, maar dis ‘n misleidende soort rustigheid, want daaronder kruip die duiwel rond. As ‘n mens die album in een sitting deurluister, voel dit egter of jy na die einde se kant toe aan die slaap wil raak. Dis nie ‘n grootse album nie, maar veel beter as dié van al die Britneys en Whitneys.


Madonna
Hard Candy

Klik hier om die CD by Kalahari.net te bestelDis neusie verby met Madonna. ‘n Mens kan nie glo sy kon so ‘n swak album soos hierdie een maak nie. Die hoogtepunte van haar loopbaan bly maar Ray of Light en Like a Prayer, en Confessions on a Dance Floor was nie te sleg nie. Veral nadat ‘n mens sulke sterk albums gehoor het, is Hard Candy ‘n skok. Dis maklik Madonna se kakste CD ooit. Daar is absoluut niks goeds daaroor te sê nie. Dis ‘n vermorsing van kosbare spasie om daaroor te skryf; dis ‘n vermorsing van breinkrag en energie om enigsins daaroor te dink en uitlatings daaroor te formuleer. Wat dink sy van haar aanhangers om sulke onverdunde kak aan hulle af te smeer? Sies!


DVD’s

Chris Chameleon
Klassieke Chameleon

Klik hier om die DVD by Kalahari.net te bestelSkaars ‘n paar maande na sy vorige DVD, Flight of an Extraordinary Alien, is Chameleon se nuwe DVD reeds op die rakke. Die eerste ene was natuurlik Volkleur. Dis ‘n interessante reeks CD’s, ? DVD's? want dit beeld verskillende aspekte en fasette van dié verkleurmannetjie uit. Op die eerste een het hy gewys dat hy net met ‘n kitaar in die hand ‘n gehoor vir langer as ‘n uur in die holte van sy hand kan hou. Op Extraordinary Alien het hy gewys dat hy beter kan rock as baie plaaslike rockgroepe, en op Klassieke Chameleon is die klank dié van viool, tjello, fluit, akoestiese kitaar, kontrabas, tromme en perkussie. Ons paneel voel van die drie DVD’s is hierdie die beste een. Die dekor op die verhoog is fantasties en die musikante is uitsonderlik briljant en ‘n vreugde om te aanskou.

Danksy die verwerkings kry treffers wat al amper holrug geraak het omdat die video’s te veel op kykNet en MK gespeel word, soos “Die onverkrygbare” en “Sterredank”, nuwe lewe en klink dit weer so vars soos toe ‘n mens dit die eerste keer gehoor het. Boo se “OOAA” klink ook baie goed en anders hier.

Kortom: Chameleon beïndruk weer eens en verstom ‘n mens met sy briljantheid. Om hom daai hoë note te hoor slaan laat ‘n mens altyd met ‘n gevoel van onwillekeurige bewondering en verwondering.

Daar is baie konsert-DVD’s van Afrikaanse kunstenaars beskikbaar. Die meeste daarvan is so vaal en vervelig dat ‘n mens na vyf minute al begin gaap. Gelukkig is Klassieke Chameleon een van die heel beste konsert-DVD’s van ‘n plaaslike kunstenaar.


Mika
Live in Cartoon Motion

Klik hier om die DVD by Kalahari.net te bestelOp hierdie DVD kry jy die volgende: ‘n konsert wat Mika in Junie 2007 in die L’Olympia in Parys, Frankryk, gehou het; ses musiekvideo’s en drie akoestiese optredes (onder meer waar hy “Grace Kelly” net met ‘n klavier uitvoer op The Jools Holland Show) en ‘n dokumentêr, A Long Way From Home, wat hom volg op sy Europese toer, onder meer in Berlyn.

Die dokumentêr en die musiekvideo’s is die beste deel van die DVD. In eersgenoemde gesels Mika onderhoudend oor sy lewe tot dusver en hoe dit gebeur het dat hy ‘n musiekloopbaan gevolg het. Hy gesels ook oor spesifieke liedjies en hoe hulle ontstaan het. Daar is ook baie mooi visuele materiaal van die Europese stede wat hy besoek het.

Ongelukkig is die konsert self maar bra so-so. Dis een ding om musiek met baie layers in ‘n ateljee op te neem, en ‘n ander ding om dit op ‘n verhoog uit te voer sonder al die tegniese hulpmiddels van die ateljee. Op die verhoog raak Mika se falsetto-note ondraaglik om na te luister – dit klink of hy die knypskyt onder lede het of iets. Daarteenoor klink die falsetto-dele wat in die ateljee opgeneem is, baie beter op die oor, omdat dit bietjie versag is deur harmonieë ens.


Tiësto
Elements of Life World Tour

Genade, wat ‘n ervaring. Tiësto is ‘n DJ wat elektroniese dansmusiek vir ‘n klomp mense speel. Dat DJ’s sterre uit eie reg word, is vir ons nog onverklaarbaar en ’n teken van die eindtye. Duisende mense het gestroom na die konsert in Kopenhagen wat vir die DVD opgeneem is, en dis vreemd om te dink dat daar maar net ‘n man staan met twee draaitafels en almal gaan so te kere asof die son uit sy gat skyn. What’s the big deal, huh?

Dis ‘n dubbel-DVD en sal net vir Tiësto-aanhangers behaag. Daar is altesaam 41 liedjies en as bonusmateriaal ‘n kykie na hoe dit gaan as Tiësto toer, TV-advertensies, ‘n musiekvideo en ‘n MP3-klankbaan. Die musiek is afgryslik – dis net doemdoemdoem-, breinlose elektroniese klubmusiek.


Luisterpaneel: Tom Blom, Yvette de Wet, Beyers Eybers en Alice Ellis

Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht