Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

In die sweet van jou aanskyn


Albert Maritz - 2008-05-21

Ek het 12 jaar in Johannesburg spandeer terwyl ek my voete gevind het in die vermaaklikheidsbedryf. Natuurlik was die enigste goeie ding daar die pad Kaap toe, en ek en my jong gesin het gretiglik die pad gereeld aangepak. Ons sou ook oorslaap – soms oor die kar breek; soms oor ons wou. Eendag toe ons op Victoria-Wes deur die dorp stap, sien ons ’n ou bioskoop. Ons stoot ’n agterdeur oop, en deur berge stof en spinnerakke beland ons op ’n balkon – met daar onder ’n hele bioskoop – nog net so; net onder stof. Dan aanvaar mens net - deur die afname in fliekgangers het die pragtige plek sy deure gesluit (figuurlik gesproke).

So is die Bulls-pawiljoen nou een naweek leeg. Spookgedagtes begin by mens opkom. Sal die kerk van die mense van die Noorde ooit so onder stof kan raak? Daar is so baie Kapenaars daar – meer as wat daar Suid-Afrikaners oorsee is – so as die WP daar bo speel, sal daar seker mense kom? En daar wen die Bulle vêêeeeeer!

Met die vermaaklikheidsbedryf verspil mense 99 persent van die tyd ook so hul kanse. Ja, hulle gaan kyk ’n stuk net oor daar famous mense in speel, en dan is die play okay, maar nie REGTIG SPECIAL nie, en dan gaan hulle nie weer nie en dan mis hulle soveel lewenswaarde! Nog plekke waar dit gebeur, is die filmfees by die KKNK. Die Weskus Kunstemakietie se filmfees in die agtergeblewe buurte was nogal goed bygewoon. Die launch van die Kaapse Wynland Filmfees kon nog beter bygewoon gewees het. Daar's in die kunste – en sport (benewens rugby, sokker en krieket) – baie ruimte vir verbetering.

En as dit kom by vermaak is dit nie prestasiegebonde nie. Die ernstigste werke, soos die Bulls-wedstryd nou die naweek, is soms die mins bygewoondes. Vat nou klassieke musiek. En die teater. Hendrik Hofmeyr is by die Kannas vereer vir sy lewensbydrae tot klassieke musiek (hy lyk baie na ’n Suid-Afrikaanse superheld, Willie Hofmeyr). Hy sê hy druk hom daarin uit omdat dit die veld is waarin jy jou met die grootste omvang kan uitdruk. (Hy sal debat optel met teatermense.)

Maar okay, die ernstige werke se bywoning is dan nie so groot nie. Soms is dit. Hoe dit ook al sy, die ouens wat met minder erns werk (mens moet seker definieer – geestelike erns, of finansiële erns - is jou geestelike erns een met ’n lag, ’n traan, of iets van alles?) … okay – so - die ouens wat met minder erns werk, moet weet dat hul die ouens met die erns nodig het. ’n Dag is ’n lang tyd, en “'n oogwenk is ’n duisend jaar. En ons moet derm vir derm daardeur” (Jeanne Goosen, Kombuisblues).

Doen die popster dit vir iets anders as die geld en die lekkerkry wat vir homself daarin is? Teenoor die kunstenaar, wat een kans vat op die ander? Wie se kans op populêre sukses is minder? Mors hy of sy? Of is populêre sukses ’n given, as die werk in die regte hande is. Is Deon Opperman se Boesman my seun ook goed bygewoon? So goed soos Kaburu byvoorbeeld was? (Maar waarom word Kaburu nie landwyd gesien nie, aangesien dit seker die teatermeesterstuk van die afglope 12 maande is?)

Ieder geval, die uitvoerende kunste is die ouens vir wie die KKNK eers bestem was. Of is ek verkeerd? Ek was toe ’n regisseur by die SyBC in Johannesburg, en het die eerste ses feeste gemis. Maar ek het verstaan daar was baie plays en kabarette en keurige sangoptredes. En dat die gehore gestroom het.

Tydens die pas afgelope fees kom pelle van my – bekendes wat op die musiek scene is – en kla dat die massas musiekoptredes dit vir hulle onmoontlik maak om geld daaruit te verdien. Boonop druis die harde musiek wat van orals af opslaan, in met ernstige teater, kabaret en klassiekemusiek-optredes in die omtrek. Wat die publiek nie weet nie, is dat die KKNK dit wil beheer, maar dat die geraas agter die Burgersentrum van ’n roofbron kom. Dis ’n ou wat die plek huur of besit en niemand kan hom keer om die publiek se geld te vat vir iets wat niks met die KKNK te doen het nie. Selfs toe ek op die Dros se systoep gaan stilte soek vanjaar, begin sing daar skielik iemand op die voorstoep. Dis toevallig daar wat die muso met my gepraat het. Het hy nie dalk op die stoep gespeel nie?

Gelukkig – die KKNK is in ’n gesonde toestand. Die oënskynlike afname in getalle is omdat hul glo letterlik die voete in meer rigtings kanaliseer, en – glo ek – omdat die fees nou right-size. Met ander woorde, omdat die fees nou effe nader beweeg aan wat hy eers was. En dis kerngesond. ’n Bietjie minder geld; baie meer myle.

’n Les in tyd – soos wat die KKNK was toe hy begin het – is die Kaapse Wynland Filmfees. Weer Karen Meiring; dié keer saam met Leon van der Merwe. En mens kon seker voorspel dat derduisende mense nie op die fees sal toesak nie. (Karen, laat weet die opkoms, toe?) Maar kyk: dis iets wat begin, deur iemand se harde werk. Deur iemand se dalk laag besoldigde harde werk. En dit tel dalk by sommige sakemanne min, maar dis wat jou eerste in die hemel sal kry. Per definisie?

Ons het nog hiervan nodig: mense wat ongeag die vergoeding, ywer aan die dag lê en dinge begin wat hul weet goed gaan wees vir almal. Hou hierdie fees dop! Hou dop. Reeds was die openingsaand by Oude Libertas groots. Met ons eie sterre (onder andere Katinka Heyns en Tobie Cronjé), sterre van Frankryk en Afrikalande, van Taiwan – van oral. En daai massiewe skerm so oor die verhoog gespan – tipies wat ons die meeste nodig het – groot gemeenskapskerms vir die massas, en terselfdertyd baie, baie classy.

Daar is nog plekke waar sulke feeste kan werk; waar almal binne loopafstand is van so een of twee cinemas: Prince Albert, Hanover - sulke dorpe. En nie een fees sal op die ander se tone trap nie Soos die meeste kunstefeeste dit ook nie doen nie. Trouens, die feeste netwerk goed. En dit beteken baie vir almal in die omtrek. Meer platforms. Meer geleenthede. Goedkoper geleenthede. Meer gehore. Meer visie. Meer uitkomste. Meer entrepreneurs. Meer blootstelling. Meer opvoeding. Meer siel …

Wel, in die sweet van jou aanskyn …

Die Apollofees was, met my besoek in 2007, bietjie soos ’n tuiskoms. By die spinnerakteater waar ons daai keer dit tot op die balkon gewaag het.

Die plek is pragtig reggemaak. Met selfs uitstalling van ou kameras en dinge.

Die gebeure was goed gereël, maar op die nippertjie. Want daar is glo swak kommunikasie, laat of geen betaling. Onduidelikheid. Mens kan net gaan op hoorsê. Behalwe vir wat jy sien.

So bywoning was amper nul. De Beers borg die fees, die gebou is nou pragtig, die flieks wys, maar dis al. Daar is baie meer vrae as antwoorde.

De Beers het glo ook die rekenaarsentrum agter die fliek uitgedos. Maar daar is op die oog af weinig oor. Gaan die fees hou? Indien nie – gaan die gebou hou?

Indien nie – gaan die gemeenskap hou? Ek dink mos solank as wat ons begraafplase laat vergaan, sal ons nie eers verreweg lyk na ’n beskawing nie. Wat nog te meer as ons ons glans laat vergaan? Wat kan dan nog hou?

Die vorige verval was darem omdat Dallas die aandag van flieks afgetrek het. Wat sal die rede dié keer wees. Vooruitgang? Waarvoor wie verantwoordelik is?

Wat mens nie doen nie, word nie gedoen nie. Wat jy insluk, is weg.