Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Decaluwe trek sy gehoor in so ‘n mate in dat jy soms blootgestel voel ...
Haydee Morgan-Hollander oor Van Gogh


Haydee Morgan-Hollander - 2006-10-16

Van Gogh
 
Bank Windhoek Fees
16 en 17 September 2006
Teater Skool, Mugabe Straat, Windhoek
Toneelkonsep/Regisseur – Jo Gevers
Vincent van Gogh – Jo Decaluwe
  
 
Decaluwe begin sy eenman-drama met die uitdeel van programnotas op skilderdoek gedruk, die simboliek hiervan ‘n roerende herinnering aan ‘n kunstenaar wat in sy leeftyd net een skildery (Die Rooi Wingerd) van die hand kon sit, enkele maande voor sy dood. En hiermee vestig die grootse Belgiese akteur onmiddellik ‘n rapport met sy buitelandse gehoor. Verplaas die stukkie doek jou na Auvers-sur-Oise, naby Parys, na 1890 en 19 Julie – Vincent se sterfdag. Hy was maar 37 jaar oud.
 
Hartverskeurende besonderhede van die kunstenaar se laaste ure word onthul in die verklarings van dr Gachet, Adeline Ravoux (die herbergier se dogter) en Theo se briewe aan sy vrou Johanna. Persoonlike getuienis van sy beklemmende lewe is vervat in die briewe aan sy broer (Theo), sy moeder Anna Cornelia en die skilders Paul Gauguin en Camille Pissarro, en dit is dié getuienis waarop Jo Decaluwe se aangrypende monoloog gebaseer is. Ook sy verhoudings met onder meer Kee Vos-Stricker (‘n niggie), Sien Hoornik (‘n prostituut en ongehude moeder) en Margot Begemann (in alle waarskynlikheid die vrou wat hom die liefste gehad het); die lang, eentonige dae in Drente, omswerwinge in Frankryk en die onstuimige tyd in Arles; sy vrywillige verblyf in ‘n sanatorium in Saint-Remy-de-Provence, asook die noodlottige dag waarop hy homself skiet. Van Gogh se kort lewe is gekenmerk deur drama, terugslae, onbegrip en armoede, maar deur die geloof dat hy iets gehad het om te sê; dat hy iets moes uitdruk, moes meedeel.
 
In Gevers en Decaluwe se woorde gee die sowat 700 briewe aan Theo ons ‘n beeld van Vincent se bedoelings, van sy oortuigings, van sy teleurstellings en hoopvolle oomblikke, van sy wisselende fisieke- en geestelikegesondheidstoestand, van sy skilderkuns en van sy daaglikse lewe. Van Gogh het hom so goed uitgedruk en situasies so skerp ontleed dat sy versameling briewe betekenis het as ‘n groot outobiografiese en letterkundige werk – ‘n werk wat getuig van ‘n onrustige gemoed, van die pogings, van die mislukkings, van ‘n uitsonderlike kunstenaar en besonderse mens wat, helaas, gaandeweg deur ‘n opeenvolging van geestelike krisisse ondermyn is, aldus Gevers.
 
Dr Jan Hulsker, ‘n kenner van die briewe, skryf: “[Zijn brieven] vertellen ons meer over Van Gogh's leven en idealen dan welke andere kunstenaar. De brieven zijn een ononderbroken commentaar op zijn werk en een menselijke getuigenis zonder weerga.”
 
In een so ‘n brief (aan Theo) is op 28 Mei 1888 geskryf:  
… als jij dan zo goed begrijpt dat zich voorbereiden op de dood iets is wat je moet laten voor wat het is, zie je dan niet in dat ook toewijding, leven voor anderen, een vergissing is als dat leidt tot zelfmoord, omdat je in dat geval van je vrienden juist moordenaars maakt.  
So besorg as wat hy oor Theo en Johanna was, so besorg was hy oor sy eie finansiële nood en onsekere toekoms waarvan dié brief uit Den Haag aan Theo op 22 Julie 1883 getuig:  
Voor Uw schrijven, voor het ingeslotene dank ik U, ofschoon ik een gevoel van droefheid niet kan onderdrukken over wat ge zegt, “betreffende 't vervolg kan ik U weinig hoop geven”. Bedoeld ge dat uitsluitend ten opzigte van het finantieele, ik zou er 't hoofd niet om laten hangen …” 
Auvers was in meer as een opsig betekenisvol vir Vincent. Hy het geweet dat hy nie in Parys (of enige groot stad) kan bly nie as gevolg van sy senu-toestand, maar terselfdertyd sou hy altyd die gemis aan ‘n artistieke vriendekring en die uitruil van idees voel, veral met Gauguin. Die woede-uitbarsting teenoor sy ou skilder-vriend en kameraad (soos hy Gauguin genoem het, ook in briewe, 28 Mei 1888) word dramaties opgebou in Van Gogh – ‘n uitbarsting wat sou lei tot die afsny van sy oorlob en selfopgelegde verblyf in ‘n sanatorium. Decaluwe trek sy gehoor in so ‘n mate in dat jy soms blootgestel voel – asof jy in dieselfde vertrek as die beroemde kunstenaar is.
 
Die briewe word ondersteun deur skilderye wat Jo Decaluwe (in die rol van Vincent) een vir een op ‘n esel pak. Gevers het op Van Gogh se selfportrette besluit wat – soos sy briewe – ‘n duidelike (visuele) beeld skets van ‘n versteurde emosionele lewe. Vir die doel van dié stuk is hulle in monochroom en toon die tweestryd wat in sy gemoed heers; ook die geestelike aftakeling ten tye van die briefskrywery, verskillende episodes van belang vir die gehoor. Ons sien die selfportret wat hy aan Gauguin opdra (1888), die een met sy oor in verbande, ‘n jong Van Gogh voor ‘n esel, aan’t skilder. En soms word die rolle omgeruil as Decaluwe terugstaan (met sy rug na die gehoor) om ‘n portret op die esel te beskou: hy word die (gesiglose) skilder én kritikus, die verhoog tegelyk sy kamer in Auvers, maar ook ‘n hedendaagse galery.
 
Op Sondag 11 November 1883 skryf hy onder meer aan Theo:  
… voor mijn leven is mijn plan zoo veel en zoo goede schilderijen & teekeningen te maken als ik kan, dan, als mijn leven uit is hoop ik niet anders weg te gaan dan met liefde en weemoed terugziende en denkende, o schilderijen die ik gemaakt zou hebben! 
‘n Brief aan sy ma word sonder veel emosie voorgehou en kry so groter trefkrag, die inhoud daarvan diep ontroerend.
 
In België is daar al verwys na Decaluwe se vermoë om sonder geforseerde mimiek en oordadige bewegings die foltering wat Van Gogh deurgemaak het, op te roep. Decaluwe se vertolking is vol hartstog en verken die donker kant van die kunstenaar se skeppingsdrang, van sy skerp intellek en waarnemingsvermoë. Sy aanbieding is vaartbelyn, subtiel belig, maar bowenal intiem.
 
Die teks ontsluit Vincent se verdriet en die tragiese omstandighede rondom sy dood. “Mense zijn stipjes op die aarde, soos pointiliste en impressioniste ...” sê Decaluwe teer en sag. Die speeltegniek wys nooit nie, en in die slottonele tref dit jou dat as ‘n akteur regtig goed speel, jy vergeet dat hy die verkeerde ouderdom is vir Vincent en nie soos hy lyk nie ... na ‘n ruk wórd hy gewoon Vincent.
 
Dié meester-akteur, -regisseur en -skrywer vertolk sedert 1986 die rol van die beroemde skilder voor gehore in België, Nederland, Parys, Rome, Windhoek en Suid-Afrika. Sy teaterloopbaan het in 1962 begin toe hy vier jaar lank regie aan die Brusselse akademie studeer het. Ná nog drie jaar se dramastudie in Gent was hy nie net akteur nie, maar direkteur van die Arca-teater, wat konsentreer op eietydse produksies en nuwe tekste. Vanaf 2001 is hy direkteur van die Tinnenpotteater in Gent. Decaluwe se eerste optrede in Suid-Afrika was in 1995, toe hy deur ‘n Belgiese vriend na Stellenbosch genooi is. Sedertdien het nog uitnodigings gevolg en vanjaar was hy al by die Woordfees op Stellenbosch, die Volksbladfees in Bloemfontein en die Bank Windhoekfees. (Jo Gevers was stigter van die dramadepartement aan die Universiteit van die Vrystaat.)
 
Die keuse van instrumentale musiek in party tonele was aandoenlik, maar kon die oorbekende en kommersiële Don MacLean-liedjie in die slottonele vervang het. Die Engelse liriek het vreemd op die oor geval en die (slot-) toneel te veel gerek.
 
Gevers se vindingryke regie verdien spesiale vermelding, ook die wyse waarop hy beelde (doeke) gebruik om briewe en (belangrike) aanhalings uit briewe te illustreer. Soos die laaste doek met net die beroemde handtekening daarop. Geen prentjies, geen beelde nie, asof die kunstenaar wat dikwels van geheue geskilder het, nie meer kon onthou wat hy gesien het nie:  
… wat is er toch veel moois in de kunst; als men maar onthouden kan hetgeen men heeft gezien, dan is men nooit ledig of waarachtig eenzaam, maar nooit alleen. (Vincent van Gogh aan Theo, Laeken, 15 November 1878)