Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Die Francois Toerien Show Ses stereotipeer skokkend voort


Stefan Prins - 2008-05-20

“My pa sê kaffers stink so dan moet daar ’n kaffers agter jou ore wees.” Sommige mense sal hierop sê: Skokkend. Ek sal dan antwoord: Presies. Skoktegniek en stereotipering is immers die kernbestanddele van Die Francois Toerien Show.

Die première van die sesde episode van hierdie gewilde reeks het tydens die 2008-Woordfees in die Klein Libertas Teater plaasgevind. Verskeie elemente vanuit vorige episodes word in die sesde een voortgesit. Net soos Francois Toerien en Altan Ungerer in Episode 5 kaal op die verhoog verskyn het, word skoktegniek hierdie keer ingespan deur die omstrede “k”-woord te gebruik. Dit geskied tydens ’n toneel waarin twee skooldogtertjies (die een mooi en die ander een lelik) hulself in gesprek op ’n bankie by die skool bevind. Die lelike meisie is egter nie baie gewild nie, omdat sy blykbaar stink weens ’n aanpaksel agter haar ore. Die mooier een sit dan dit wat sy so pas gehoor het, en dit wat sy by haar pá gehoor het, bymekaar en vandaar dan die skokkende uitdrukking. Die stelling moet egter nie verkeerd geïnterpreteer word nie, aangesien daar juis na “’n kaffers" verwys word – die jonger generasie van Suid-Afrika se onkunde oor rasverwante terme word dus uitgebeeld.

Die toneelstuk val in dieselfde genre as Britse komediereekse soos Monty Python’s Flying Circus en net soos sy Britse eweknieë bestaan Die Francois Toerien Show 6 uit ʼn reeks flitse waarin verskeie alledaagse optredes in die samelewing gestereotipeer word. En dit is stereotipering, eerder as skoktegniek, wat die belangrikste eienskap is.

Esther von Waltsleben sit in die eerste toneelflits haar optrede as ’n karaoke-sangeres vanuit Episode 5 voort. Dié keer sing sy haar lied “Eggo”. Die stereotipering in hierdie flits is egter effe gebrekkig, aangesien daar te veel klem gelê word op haar agtergrond-CD wat vashaak in plaas van die vals note waaraan karaoke-sangers eerder uitgeken kan word.

Martelize Kolver speel weer eens die alwetende, irriterende, onoortuigbare middelklas tannie. Sy maak in meer as een toneelflits haar verskyning, maar die regverdiging hieragter kort verduideliking. Is Francois Toerien se idees besig om op te raak? Hoekom is dit nodig dat Kolver se karakter meer as een keer in sulke lang, uitgerekte tonele verskyn wat in elk geval nie veel aftrek by die gehoor vind nie?

In ʼn latere toneel word die stereotiperingsresep suksesvol verbreek. Francois Toerien verskyn op die verhoog as Dave Pepler, die aanbieder van die program Groen op kykNET. Daar word dus nie meer op sosiale gedrag gefokus nie, maar eerder op ’n spesifieke persoon. Toerien boots Pepler se stadige, alomwaarderende manier van praat op ’n uiters effektiewe wyse na en net soos die aanbieder gereeld maak, gaan kniel hy dramaties by ’n plantjie om dan die Latynse naam daarvan aan die “kykers” te verskaf. Pepler word op die ou end deur ’n luislang verwurg en wanneer hy vra, “God, hoekom ek?!” antwoord God se stem dawerend oor die luidsprekers: “Want jy irriteer my” – ’n baie meer oorspronklike en kreatiewe (en snaakse!) toneel as enige van die ander.

Die Francois Toerien Show se wenresep kan miskien ten beste opgesom word deur een van die ouer gehoorlede se reaksie na afloop van die opvoering: “Ek het nie al die grappe verstaan nie, maar dit was baie vrolik.” Dit is met vrolikheid, die gebruik van kleurvolle en eenvoudige verhoogdekor, baie beweging en briljante toneelspel – en nie met goeie dramaliteratuur nie – dat Die Francois Toerien Show Ses mense na die teater lok wat dit andersins as ’n dooie, ongesellige plek sou sien.