Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wyndagboek

Eikendal bied pruttende smulgenot met kaas fondue


Johann H Crafford - 2008-05-20

Sus die smullus met ‘n smelt-in-die-mond-eetervaring hierdie winter wanneer Harald’s – die nuut-getooide restaurant van die Eikendal-wynlandgoed – die potte laat prut met hul immergewilde kaas-fondue tussen Mei en Augustus.

Vanaf 23 Mei tot 22 Junie en weer vanaf 16 Julie tot einde Augustus kan jy Vrydag- en Saterdagaande kom aansit vir sjef Harald Siedler se weergawe van die kaasfondue – ‘n nostalgiese eetervaring wat opnuut vlam gevat het sedert sy ontstaan in die sewentigerjare.

Met Eikendal se eienaars wat van Switserland afkomstig is, is dit geen wonder dat hierdie restaurant oor die afgelope twee dekades alreeds ‘n stewige gevolg van fondue-fanatici gewerf het nie.

Pretensieloos vernuwe met ontspanne dekor en ‘n gesellige atmosfeer bied hierdie gewilde restaurant in die Helderberg jou die perfekte geleentheid om letterlik ‘n stokkie voor neerslagtige wintersaande te steek. Die uitgebreide restaurant-area spog ook met ‘n private eetkamer, ideaal vir funksies of groepsbesprekings.

Gruyere en Emmental streel die sintuie met uitmuntende Eikendal-wyne tydens ‘n driegangete wat sop, ‘n rojale kaasfondue met groente en brood bedien, asook nagereg insluit. Dié gesellige aand word jy verwelkom met ‘n gratis glas Glühwein. Vir die vleisliefhebbers sal daar ‘n paar van Harald se gunsteling-vleiskeuses vanaf die restaurant se nuwe winterspyskaart as alternatief wees.

Kaartjies vir die kaasfondue kos R125 per persoon en besprekings is noodsaaklik. Skakel Harald by (021) 855-5033, 082 663 5901 of stuur ‘n epos aan haralds@eikendal.co.za.

Harald’s Restaurant is geleë op die Eikendal-wynlandgoed op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Die restaurant sal tussen 22 Junie en 16 Julie gesluit wees.