Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

’n Kat-en-muis-speletjie


Fanus Rautenbach - 2008-05-13

In een of ander stadium van ’n kind se lewe wil hy of sy graag ’n troeteldiertjie hê.

“Pappa, Jaydy het die mooiste hamstertjie by haar pa gekry. Dis nie reg nie – ek wil ook een hê!”

“Wat is ’n hamster?” vra die pa gewoonlik. Dan gaan haal hy sy  WAT en daar staan: “Enigeen van die knaagdiere van die Ou Wêreld. Behorende aan die familie, Crecitiniae. Hulle het kort stertjies, klein oortjies, knobbelrige kieste met wortels, wolwange. Hulle leef in ’n nes onder die grond wat twee in- en  uitgange het. Word baie in laboratoria as proefdiere gebruik en is baie gewild as troeteldiertjies.” Nouja, ’n pa is ’n pa is ’n pa. Daar is twee moontlikhede: hy gee die dogtertjie haar hamster of hy gee dit nie, maar as haar naam Tersia is en die pa se naam is Piet Coetzer, het sy al klaar haar hamstertjie. Pieta is nes Henka – hy sê nie maklik nee nie.  

“Maar jy kry die hamstertjie op een voorwaarde: die dag as hy/sy nie kos of water het nie, is dit dit einde van Suzy! Ek sien juis jy en Jady het sulke fris katte wat graag Suzies eet!” “Sies, Pappa!”

Nou kom ek by my storie (’n ware verhaal wat elke moederhart sal roer!) Een oggend om drie-uur kruip Tersia bang-bang by Pappa en Mamma in die bed. “Ek het so ’n nare droom gehad: ek droom  Brutus of  Pluto … elk geval, een van die twee grys katte … vang vir Suzy …” En dan “Oeeeeee!” gril sy en raak dadelik aan die slaap.

Die eerste ding wat sy die volgende oggend doen, is om te gaan  kyk of haar hamstertjie nog veilig is. En wat sien sy? Die twee katte, Brutus en Pluto, het die hamsterhokkie oopgewikkel en is besig om met Suzy “kat en muis” onder die selonsroosboom te speel. En Suzy geniet dit net so baie soos hulle! En daar is nie ’n skrapie aan haar toe Tersia haar snik-snik gaan haal en weer veilig in haar hokkie bêre nie. ’n Gewone storie sou hier geëindig het, maar nie hierdie ware verhaal nie …

Pieta is ’n man wat baie vroeg opstaan. Dit het net lig geword toe hy in sy studeerkamer kom. En daar, op sy aktetas, lê ’n pasgestorwe rot. Groot en dood. Wat wou Brutus en Pluto vir Pieta sê? “Kyk,Pieta, so lyk ’n rot!”

(Wat sou jou boodskap aan Piet Coetzer gewees het?)