Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Twee gay-gedigte


Hennie Aucamp - 2008-05-12

Tema is onverskillig, en hieruit volg dat homofobie net so ’n geldige tema as homofilie is, mits hierdie temas literêr oortuigend vergestalt word.

Homofobie duik meerdere male op in die verse van Lina Spies, maar nêrens so verbitterd as in die vers “Skemertyd” in Oorstaanson nie. Die gay-gemeenskap het aanstoot geneem aan hierdie vers, maar dit nie fyn genoeg gelees om te besef dat die ek-spreker – kennelik ’n vrou – ook haarself ontluister nie.

Die spreker stuur die gedig, of dit nou so bedoel is of nie, op ’n beproefde literêre baan, naamlik dié van die dramatiese monoloog. In sy uitstekende essay oor die dramatiese monoloog sê DJ Opperman dinge wat ook op “Skemertyd” toegepas kan word. Die dramatiese monoloog, sê Opperman, kom dikwels op ’n uitgebreide selfregverdiging neer, ’n regverdiging wat selde gemoedsrus vir die spreker bring, omdat hy of sy nie in staat is om ’n ernstige morele fout in eie karakter of betoog raak te sien nie. (Dink hier aan oom Gert in Oom Gert vertel, wat eintlik ’n kollaborateur was, in vandag se idioom, en dié feit probeer wegsteek, ook vir homself.)

Die ek-spreker in “Skemertyd” bevind haar tussen homofiele en drink saam met hulle wyn en luister na kabaretmusiek – skraps gegewens wat ’n dekadente leefstyl wil suggereer; ’n styl wat nie sonder meer deur die spreker goedgekeur word nie: “alles is moffie-sag en smaakvol”. Te midde van al dié gay-bonhomie voel die spreker haar toenemend uitgesluit, en groei haar verbittering oor seksuele onvervuldheid:

Ek ril, ril tot in my borste,
tot in die tepelpunte wat hulle skielik styf verset,
krap teen my bra se binnekant.

Wat helaas uitbly, is “die skerp vaginale kramp van liefhê”.

Skerp gedagtes, skerp verwoord, maar tog bereik “Skemertyd” nooit werklik ’n tragiese dimensie nie. Die spreker is doodgewoon masochisties: sy gaan soek liefde waar sy dit by voorbaat nie gaan kry nie, naamlik tussen mans wat net tot hul eie geslag aangetrokke voel.

Literêre middele word effektief aangewend, soos die glas-motief, wat aan GA Watermeyer se gekonsentreerde reëls herinner:

Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.

Twee keer in “Skemertyd” word dieselfde reëls uit “Pastorale” aangehaal, ’n kabaretlied wat oor die jare die lyflied van Liesbet List geword het:

Ben ik de kou,
ben ik het ijs,
ben ik de dood …?

Eers in die slotreël van die Spies-gedig bereik die aanhaling uit “Pastorale” sy vervulling:
Ik ben de liefde.

Die ironie hier is dat die gedig, literêr gesproke, sy vervulling vind in ’n sterk “exit line”; die spreekster, hierteenoor, nie.

Elisabeth Eybers het op 25 Januarie 1988 aan my geskryf: “Uit seksuele frustrasie kan pragtige gedigte ontstaan (dink maar aan Emily Dickinson), maar nie elkeen wat tot onvervuldheid gedoem is, is per se ’n tweede Emily nie.”

“Skemertyd” is ’n goeie gedig, mits dit as ’n wrede selfontmaskering gelees word. Was dit die bedoeling van die ek-spreker? Wat hier onthou moet word, is dat ’n vers dikwels ’n bedoeling van sy eie het, sonder dat sy skepper altyd helder bewus is daarvan. DH Lawrence het in hierdie verband gewaarsku: “Never trust the artist. Trust the tale.”

’n Minder ambivalente gedig van Spies, weer eens in die homo-kader, is “Versoening” in die bundel Hiermaals, wat vrá om naas “Skemertyd” gestel te word, in die eerste plek omdat dit ’n stewige gedig is, en verstegniese en tematiese ooreenkomste met “Skemertyd” toon.

“Versoening” maak óók gebruik van ’n interteks, soos “Skemertyd”, maar waar die interteks in “Skemertyd” uitgespel word, naamlik die kabaretlied “Pastorale”, word daar in “Versoening” veronderstel dat die leser sal weet wie die Nederlands-Joodse digter Jacob Israel de Haan is, en dat hy talle homoërotiese gedigte geskryf het, onder andere die volgende kwatryn:

Twijfel

Wat wacht ik in dit avonduur,
De Stad beslopen door de slaap,
Gezeten bij den Tempelmuur:
God of den Marokkaanse Knaap?

Die vraag ontstaan of die gedig “Versoening” hom oorwegend op ’n gay-publiek rig, want De Haan se naam sirkuleer sterk in gay-kringe, tot die huidige dag toe. ID du Plessis, self van homofiele aanleg, is kennelik beïnvloed deur De Haan en het selfs reëls by De Haan “geleen”.

Die boeiende in “Versoening” is dat die spreker in die vers sig volledig met De Haan se “stryd” vereenselwig en, net soos De Haan, opposisies in eie psige probeer versoen. Die sterkste reëls in “Versoening” is ’n volledige korrektief op die neurotiese gedig “Skemertyd”, en lui soos volg:

Omdat van onrus tot onrus
ek steeds minder weet van liefde en gebed
begin ek langsaam verstaan.

“Versoening” is ’n emosioneel ewewigtige gedig wat tot baie lesers gaan spreek, ongeag hul seksoriëntasie.