Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

'n Volhoubare plek vir Afrikaans in hoër onderwys en regeringsteun daarvoor II


Niek Grové - 2006-10-11

Vervolg van deel I

4. Die skoolstelsel

“Second language is learned best where first language is learned well.”

Wanneer Afrikaans en universiteite ter sprake kom, is dit eerstens belangrik om te weet wat tans in die skoolstelsel gebeur. Die skoolstelsel is die voedingsbron vir universiteite. Indien daar nie leerders is wie se onderrigtaal op skool Afrikaans is nie, gaan daar ook nie universiteite wees waar Afrikaans as voertaal vir algemene onderrig gebruik gaan word nie.
                          
Die belangrikste bepaling in die Grondwet wat onderrigtale betref word vervat in artikel 29(2). Genoemde artikel lees soos volg:

Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminrigtings, oorweeg, met inagneming van –

  1. billikheid
  2. doenlikheid; en
  3. die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel

Die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 199612 bepaal onder andere die volgende:

 "6(1)    Behoudens die Grondwet en hierdie Wet kan die Minister, na oorleg met die Raad van Onderwysministers, by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant norme en standaarde vir taalbeleid in openbare skole vasstel.

(2)      Die beheerliggaam van ’n openbare skool kan die taalbeleid van die skool bepaal, behoudens die Grondwet, hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet.

(3)      Geen vorm van rassediskriminasie mag in die uitvoering van beleid wat kragtens hierdie artikel bepaal is, plaasvind nie.”

Die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring volg 'n toevoegende of “toename"-benadering tot veeltaligheid, te wete:

  1. Alle leerders leer hulle huistaal en minstens een addisionele amptelike taal;
  2. Leerlinge word vaardig in hulle addisionele taal terwyl hulle huistaal gehandhaaf en ontwikkel word;
  3. Alle leerders leer 'n Afrikataal vir 'n minimum van drie jaar voor die einde van graad 9.13

Die Departement van Onderwys se “Taal-in-onderwysbeleid 1997” het onder andere die volgende doelstellings:

4.5.1   to promote full participation in society and the economy through equitable and meaningful access to education;

4.5.2   to pursue the language policy most supportive of general conceptual growth amongst learners, and hence to establish additive multilingualism as an approach to language in education;

4.5.3   to promote and develop all the official languages;

4.5.4   to support the teaching and learning of all other languages required by learners or used by communities in South Africa, including languages used for religious purposes, languages which are important for international trade and communication, and South African Sign Language, as well as Alternative and Augmentative Communication;

4.5.5   to counter disadvantages resulting from different kinds of mismatches between home languages and languages of learning and teaching;

4.5.6   to develop programmes for the redress of previously disadvantaged languages.”

Die betrokke dokument dui verder aan dat daar bykomende ondersteuning is vir leerders wat hulle eerste addisionele taal as leer- en onderrigtaal wil gebruik.

Ingevolge die bepalings van ons wetgewing en beleidsdokumente wil dit voorkom asof ons as Suid-Afrikaners goeie vordering gemaak het met betrekking tot die vestiging van meertaligheid in ons onderwysstelsel. Ons beleide, indien mens 'n voorstander van meertaligheid is, is indrukwekkend. Die kernvraag is egter of hierdie maatreëls in die praktyk gerealiseer het en of dit maar net nog een van ons politieke adams is wat blote stof gebly het?

Ons kan die huidige situasie met betrekking tot onderwys en taal in die land soos volg opsom:14

Engels-eerstetaalsprekers: Die posisie het, wat hierdie groep betref, in wese dieselfde gebly as wat dit voor 1994 was.

Afrikatale: Voorheen het leerders in die eerste vier jaar van hulle laerskoolopleiding algemene onderrig in hulle moedertaal ontvang. Daarna moes hulle, wat die algemene onderrigtaal betref, oorskakel na Engels. Tans moet leerders na afloop van graad 3 na Engels as algemene onderrigtaal oorskakel. Algemene moedertaalskoolopleiding in 'n inheemse Afrikataal ná graad 3 bestaan dus vir alle praktiese doeleindes nie. Die resultaat hiervan is niks minder as 'n nasionale ramp nie. Studie na studie wys daarop dat waar leerder op laerskool nie genoegsame kognitiewe vaardighede in hulle moedertaal gevestig het nie en sodanige leerders verplig word om hulle skoolopleiding in 'n tweede taal te doen, hulle werklik sukkel om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Dit is veral die geval waar die leerders se ondersteuningsraamwerk binne en buite die skool nie na wense is nie.

Wat Afrikaans betref: Die persentasie skole wat eentalig Afrikaans is, het die afgelope tien jaar drasties verminder. Hierdie getalle word hier onder uiteengesit.15

Tabel 11: Getal Afrikaansmediumskole

Provinsie

1993

2003

Gauteng

 276

158

Wes-Kaap

 759

564

Vrystaat

 153

 97

Mpumalanga

  90

  3

Noord-Wes

  82

 13

Limpopo

  38

 12

Totaal

  1 398

847

Moedertaalskoolonderrig het die afgelope dekade nie vordering gemaak nie. Inteendeel, daar is tekens van ’n grootskaalse agteruitgang. Ten spyte van al die ideale van onder andere die Grondwet, vind moedertaalonderrig in die oorgrote meerderheid van ons skole na graad 3 nie plaas nie.

Die uitkomste van ons skoolopleiding is steeds nie goed nie, terwyl ons reeds 12 jaar besig is met die hervorming van ons onderwysstelsel. Is daar dus enigsins hoop dat ons onderwysstelsel binnekort oor die hele spektrum heen leerders gaan lewer wat oor goeie kognitiewe en akademiese vaardighede beskik? Leerders wat oor die nodige denk-, lees-, praat-, skryf-, reken- en sosiale vaardighede beskik wat ons land só broodnodig het?

Dr Kathleen Heugh (verbonde aan die RGN) maak die volgende stelling in 'n artikel getiteld “Die Prisma Vertroebel: Taalonderrigbeleid geïnterpreteer in terme van Kurrikulum-verandering”16, waar sy ’n opsomming gee van die onderwysvordering (of gebrek daaraan) wat tydens die afgelope 12 jaar gemaak is wat moedertaalonderrig betref:17

Dit is moeilik om voldoende verduidelikings te vind vir hoe en waarom die huidige taalpraktyke saamgevoeg is. Daar is min in die toepassing van die beleid wat voldoen aan die vereistes van die Grondwet rakende regverdigheid, die bevordering van tale, die regverdige gebruik van amptelike tale en niediskriminasie. Die onderwys- en taalverwerwingsteorie waarop die taalonderrigbeleid gebaseer behoort te wees, is geïgnoreer of verkeerd voorgestel. Die primêre doelwit van kwaliteitonderwys, met ander woorde optimale kognitiewe en akademiese ontwikkeling, is onvervulbaar gemaak deur onvoldoende begrip van die situasie en kortsigtigheid. Die tragedie is dat die huidige onderwyspraktyk mislukking en onregverdigheid beloof op 'n skaal wat apartheidsonderwys vergelykenderwys baie goed laat lyk …”

Sy verwys na 'n onlangse Wêreldbank-nuusbrief18 waarin aangevoer word dat die rede waarom soveel kinders wêreldwyd nie in die skool is nie, 'n wanpassing tussen skool- en huistaal is:19

Fifty percent of the world’s out-of-school children live in communities where the language of schooling is rarely, if ever, used at home. This underscores the biggest challenge of achieving Education for All (EFA): A legacy of non-productive practices that lead to low levels of learning and high levels of dropout and repetition.

Waarom huiwer en sukkel ons so wanneer al die beskikbare data redelik duidelik is oor wat gedoen moet word? Soos Heugh tereg opmerk, word moedertaalonderwys in Suid-Afrika gesien as kode vir die toenmalige Bantoe-onderwys, apartheid en alles wat daarmee saamgaan. En hierin lê die groot tragiek van die huidige Suid-Afrikaanse taaldebat. 'n Nuwe geslag Suid-Afrikaners se ontwikkeling, groei en uiteindelike sukses in die wêreld word gekompromitteer omdat ons beleidmakers, met die beste bedoeling ter wêreld, beleide skep wat die teenoorgestelde bewerkstellig as wat hul graag wil sien gebeur.20

5.       Amptelike tale en hoër onderwys

Die belangrikste dokumente betreffende taal en hoër onderwys in Suid-Afrika is die Grondwet van die Republiek21 en die Wet op Hoër Onderwys.22 Dit is belangrik om daarop te let dat artikel 29(2) van die Grondwet ook op hoëronderwysinstellings van toepassing is en kortom dit stel dat almal in openbare instellings onder sekere voorwaardes die reg het op onderwys in die amptelike taal of tale van hulle keuse (sien volledige aanhaling op bladsy 8).

Soos ook reeds voorheen gemeld, maak die Grondwet self dit nie baie duidelik wat dit beteken as 'n taal die status van 'n amptelike taal geniet nie. Vermoedelik beteken dit dat die regering maatreëls moet tref om toe te sien dat genoemde tale gebruik en uitgebou word, óók op die vlak van hoër onderwys “in die mate waarin dit redelikerwys uitvoerbaar is”.

Artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys, 1997 bepaal die volgende:

Subject to the policy determined by the Minister, the council [of a University], with the concurrence of the senate, must determine the language policy of a public higher education institution and must publish and make it available on request.23

In 2002 het die vorige Minister van Onderwys ingevolge die bepalings van die Wet op Hoër Onderwys van 1997 'n taalbeleid afgekondig waarin daar onder meer gemeld word dat die minister en die departement:

... acknowledges the current position of English and Afrikaans as the dominant languages of instruction in higher education …

Die Minister was egter nie bereid om 'n enkeltalige Afrikaanse universiteit te ondersteun nie. Hy was eweneens óók nie bereid om 'n posisie te steun waar een of meer universiteite die spesifieke opdrag sou kry om na die belange van Afrikaans om te sien nie:24

The notion of Afrikaans Universities runs counter to the end goal of a transformed higher education system, which as indicated in the National Plan for Higher Education (NPHE), is the creation of higher education institutions whose identity and cultural orientation is neither black nor white, English or Afrikaans-speaking, but unabashedly and unashamedly South African. 25

In die Taalbeleid van die Departement van Onderwys26 dui die Minister aan dat hy:

[A]cknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource ... [The Ministry] fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education, and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded. 27

Alle universiteite moes hulle taalbeleide aan die Departement van Onderwys voorlê vir goedkeuring deur die Minister (spesifiek die Histories Afrikaanse Universiteite). In diverse beleidsdokumente van die staat is egter aangedui dat toegang tot die hoëronderwyssektor in effek 'n supernorm is. Dit beteken dat studente nie weens die taal waarin onderrig plaasvind, toegang tot hoër onderwys ontneem moet word nie.28

Die netto effek van die Minister se Taalbeleid vir hoër onderwys is dat Engels die verstektaal in die sektor geword het. Indien 'n instelling lesings in Afrikaans aanbied, moet daardie instelling poog om die lesings ook in Engels aan te bied, hetsy by wyse van formele duplisering, tweetalige aanbiedings of tolkdienste.

Die regeringsbeleid kan werk mits die staat bereid is om dit behoorlik te befonds. Nie een van die meertalige universiteite in die land ontvang egter 'n enkele sent van die staat om hulle meertalige opdrag te implementeer nie. Die befondsingsformule vir WITS (eentalig Engels) versus TUKS ('n meertalige universiteit) is identies.

Wat kos dit werklik om programme in meer as een taal aan te bied? Is die befondsingsargument nie net 'n rookskerm waaragter universiteite skuil om sodoende hulle eie onvermoë om meertaligheid te bestuur, verdoesel nie?

Die bestuursinligting wat by die Universiteit van Pretoria beskikbaar is, dui aan dat dit die Universiteit tans in die omgewing van R55 miljoen per jaar kos om lesings in Afrikaans en Engels te dupliseer. Indien álle programme en modules in beide Afrikaans en Engels gedupliseer word (wat byvoorbeeld die Fakulteite Gesondheidswetenskappe en Veeartsenykunde insluit), kan hierdie koste baie maklik eskaleer na R90 miljoen per jaar.29

Bostaande moet gesien word in die lig van die nuwe befondsingsformule wat tans op hoëronderwysinstellings van toepassing is. Genoemde formule kan in wese as 'n herstel- of “redress”-formule gesien word. Vele van die komponente in die formule het ten doel om histories benadeelde universiteite te help. Hoewel dit nie nou die geskikte tyd is om die detail van die saak te bespreek nie, kan tog gemeld word dat die nuwe formule meebring dat die meeste Natuurwetenskappe-fakulteite aan ons universiteite tans verliese ly. Veral die posisie van Gesondheidswetenskappe-fakulteite grens aan die haglike.30 Die verliese wat hulle ly, neem jaarliks toe, in so ’n mate dat indien daar nie iets daadwerkliks binne die volgende paar jaar gedoen word nie, sommige van hierdie fakulteite waarskynlik op risiko is.

Waarom gee ek al hierdie inligting vir u? Hoofsaaklik om aan te dui dat die kwessie van onderrigtale nie die enigste probleemgebied aan universiteite is wat opgelos en befonds moet word nie. Die realiteit is dat daar tans doodgewoon meer van universiteite verwag word as wat hulle binne hulle bestaande hulpbronbeperkinge kan lewer.31

Benewens bogenoemde is daar 'n aantal ander sake wat die posisie van meertaligheid by ons universiteite raak.

  • Verandering in die demografiese samestelling van die studentekorps

Ek verwys u graag na die huidige posisie by die Universiteit van Pretoria as voorbeeld van hoe die studentedemografie en taalvoorkeure die afgelope tien jaar verander het. In 1990 was ongeveer 20% van UP se studente Engelssprekend. Tans dui bykans 59% van die voorgraadse studente aan dat hulle voorkeurtaal Engels is, terwyl bykans 68% van nagraadse studente aandui dat hulle voorkeurtaal Engels is. In 2005 was daar ook meer as 2 200 buitelandse studente van 60 verskillende lande aan die Universiteit geregistreer. U moet u egter nie deur die persentasies laat mislei nie. Daar is tans nog 16 000 Afrikaanssprekendes wat by UP studeer.

  • Wetgewing rakende Billike Diensbetrekkinge

Die Universiteit van Pretoria moet, soos ander instellings, voldoen aan die bepalings van die Wet op Billike Diensbetrekkinge. Sommige lede van UP se personeel uit die aangewese groepe is nie noodwendig by magte om Afrikaans te verstaan of dit as onderrig- of spreektaal te gebruik nie. Hierdie feit het 'n wesenlike invloed op die Universiteit se vermoë om sy eie taalbeleid te implementeer. Die ras-samestelling van die Universiteit se personeelkorps is besig om in ooreenstemming met die Universiteit se EE-plan te transformeer. Die Universiteit se taalbeleid vereis egter dat sommige personeellede, op grond van operasionele vereistes, daartoe in staat moet wees om onderrig deur die medium van Afrikaans aan te bied. Om hierdie twee vereistes gelyktydig te probeer aanspreek mag daartoe lei dat daar tussen personeel onderling 'n oneweredige toedeling van onderrig- en administratiewe pligte is. Personeellede wat sowel Afrikaans as Engels magtig is, mag wat onderrig-, vertaal- en administratiewe pligte betref, meer belas word as personeellede wat slegs Engels magtig is.32

  • Internasionale en plaaslike relevansie

Suid-Afrikaanse universiteite moet poog om 'n balans te bewerkstellig tussen finansiële volhoubaarheid en die vermoë om internasionaal te kan kompeteer aan die een kant, en plaaslike relevansie en impak aan die ander kant. 'n Senaatskomitee aan die Universiteit van Pretoria het hom onlangs soos volg hieroor uitgelaat:33

English language skills are becoming increasingly important for success in a career, both locally and abroad. English holds an uncontested position as the most widely used language in international higher education, research, academic publishing, business and commerce, and in professions such as engineering, information technology and investment management. The University has been accredited by several international professional bodies, e.g. for actuaries, accountants, information technology specialists and investment managers, all of which require prospective members to pass examinations that are usually written in English ... The strategic drive of the University for the achievement of international recognition and competitiveness should be balanced with the historical, cultural and language mandate of the University. University programmes should respond to the needs of the societies concerned and, since modern societies are often multilingual, their linguistic needs are self-evidently also multilingual and multicultural. Members of some professional groups (e.g. teachers, lawyers and healthworkers) practise their professions in a multilingual market and therefore should provide their services through multilingual interaction. Universities should ensure that such professionals are trained to communicate effectively with their multilingual clients. The University should therefore strike a balance between financial sustainability and international competitiveness on the one hand and local relevance and impact on the other.

Om op te som: meertaligheid voer 'n opdraande stryd by ons universiteite. Die belangrikste rede waarom universiteite sukkel om meertaligheid uit te bou, is die feit dat die regering nie die universiteite se meertaligheidsopdrag befonds nie.34 Die saak sal reggestel moet word, anders gaan daar van die lofwaardige ideale en aspirasies van die Grondwet, asook van die Minister se eie beleidsdokumente, bitter min tereg kom.

6. Eerstetaal-onderrig en akademiese geletterdheid35

Dit is waarskynlik wenslik dat ek op hierdie tydstip die een en ander sê rondom taal en hoër onderwys vanuit 'n suiwer opvoedkundige oogpunt.

Die afgelope aantal jaar is die vlakke van akademiese geletterdheid van nuweling-studente aan die Universiteite van Pretoria, Noordwes en Stellenbosch getoets.36 Die doel met die toets is om studente te identifiseer wie se akademiese geletterdheid sodanig is dat hulle 'n wesenlike risiko loop om nie die program waarvoor hulle inskryf, suksesvol te kan voltooi nie.

Tabel 12: Nuweling-eerstejaarstudente aan UP – Persentasie studente wat weens lae akademiese-geletterdheidsvlakke as akademiese risikogevalle beskou word

Jaar

2000

2001

2002

2003

2004

2005

2006

Gemiddeld

% akademies nie geletterd nie

28

33

30

29

31

30

30

30

Die syfers in bogemelde tabel weerspieël slegs ten dele die waarheid. Nuweling-studente wat van voorneme is om in Engels te studeer, druip in verhouding baie meer as wat die geval met die Afrikaanse studente is.

Tabel 13: Nuweling-eerstejaarstudente aan UP – Persentasie studente wat weens lae akademiese-geletterdheidsvlakke as akademiese risikogevalle beskou word*

*Onderskeid word getref tussen studente wat die Afrikaanse en dié wat die Engelse weergawe van die toets geskryf het .

Jaar

2003

2004

2005

2006

Gemiddeld

% wat die Afrikaanse toets nie geslaag het nie

22

26

25

26

25

% wat die Engelse toets nie geslaag het nie

34

35

35

32

34

Die rede vir die verskille is voor-die-hand-liggend: die meeste Afrikaanse studente wat die toets skryf, is eerstetaalsprekers, terwyl 'n wesenlike aantal van die studente wat die Engelse toets skryf, tweede-, derde- en selfs vierdetaalsprekers is.37
Die verskille en agterstande eindig ongelukkig nie hier nie. Sodra 'n student as 'n risikogeval geïdentifiseer is, word hy of sy verplig om addisionele akademiese-geletterdheidsmodules te neem. Diegene wat eerstetaalsprekers is (hetsy Afrikaans of Engels) (Groep 1, Figuur 1 hier onder), vind heelwat meer baat by hierdie verpligte intervensie as persone wie se eerste taal 'n Afrika- of ander taal is (Groep 2).

 

Figuur 1: Verbetering in akademiese geletterdheid vir verskillende groepe moedertaalsprekers (1 = Afrikaans en Engels; 2 = Afrika- en ander tale)

Maar wat beteken hierdie resultate?

Aan die een kant is dit waarskynlik 'n aanduiding dat indien ons wil hê dat moedertaalsprekers van inheemse Afrikatale dieselfde prestasies moet lewer as Afrikaanse en Engelse moedertaalsprekers, dit noodsaaklik is dat die inheemse Afrika-tale 'n sterker rol in die skoolstelsel asook in hoër onderwys moet speel.

Ons behoort ons, wat inheemse Afrika-tale betref, baie sterk te beywer vir moedertaalonderrig op ten minste laerskoolvlak.38 Indien ons dit nie gaan doen nie, gaan ons in die toekoms baie leerders op ’n baie groot skaal benadeel soos die syfers aandui ons reeds in die verlede gedoen het. Daar is baie probleme in Suid-Afrika wat ons moeilik iets aan kan doen. Hierdie is egter ’n saak wat ons kan regstel as ons net die nasionale wil het om dit te doen.

7. Gevolgtrekking

Ons tale en alles daarrondom was nog altyd 'n twispunt onder Suid-Afrikaners. As samelewing het ons dit in die afgelope 100 jaar nog nie reggekry om volhoubare oplossings te vind nie. In hierdie proses is ons besig om ons eie mense en ook die land se toekomstige potensiaal en sukses te benadeel. Die rede waarom dit so moeilik is om volhoubare oplossings te kry, is dat die debat nie net ’n opvoedkundige kant het nie, maar vele ander sake betrek, soos etnisiteit, politiek, geskiedenis, die emosionele, kultuur, klasseverskille, ens.

Die ondersteuners van meertaligheid word dikwels daarvan beskuldig dat hulle “ethnic seperatism” oftewel rasseskeiding aanmoedig. Dit is een van die argumente wat sommige Republikeine in die VSA gevolg het om steun te werf vir grondwetlike voorstelle om Engels as die enigste amptelike taal in die VSA te verklaar. (Laasgenoemde sou ten koste wees van onder andere ’n groot groep Spaanssprekende minderhede in die VSA.)

Hoe behoort ons die taalkwessie in Suid-Afrika te benader?

Taal moet positief aangewend word in die proses van nasiebou – in die skep van ’n gemeenskapsbewustheid en samehorigheid. Hoe kan mens dit in ’n multitaal-omgewing bewerkstellig?

Thomas Friedman skryf in die New York Times van 10 September 1995 soos volg in sy kommentaar op die “English only”-debat in die VSA:

Well, unless we give people of diverse cultural and language backgrounds a sense of belonging, unless we give them a sense that their identity and heritage are valued threads in the tapestry of American society, real community is impossible.

That is why it is important to bridge people into the community, if necessary with languages other than English, and to encourage people of different backgrounds to express their cultural identities as a way to enriching the community as a whole.

We should oppose a notion of diversity that becomes an end in itself, a diversity that becomes a substitute for neighbourhood and community, where Hispanics, Blacks, Asians, Jews have their corners separate but equal. Diversity without a spirit of community leads to tribalism. Community without a spirit of diversity leads to alienation for all minorities.

The goal should be a tension between the two. You won’t feel the tension if you just live in your separate corner or walled community. And you won’t feel the tension if the majority so overwhelms the minority that it is smothered into silence. You will only feel the tension when groups are rubbing against each other, trying to express their unique ethnic or linguistic identities, and at the same time trying to keep those identities enough in check to maintain the common bonds of community. That is the hard work of nation-building.

Ek kan my met hierdie siening versoen. Om ’n pad by ons universiteite te loop soos dié wat Friedman voorstel, bring egter groot verantwoordelikhede mee vir die Staat, Universiteitsrade en besture.

Om ’n universiteit met ’n enkele onderrigtaal te bestuur, is relatief eenvoudig. Om ’n universiteit met meer as een onderrigtaal te bestuur, is ongelukkig nie so maklik nie. ’n Magdom sake kom ter sprake: die werwing van studente, die vraag oor hoe die toedeling van toelatings tussen taalgroepe verdeel moet word in die geval waar die instelling kapasiteit bereik, die aanstelling van personeel en die tale wat hulle magtig moet wees, die mate waarin dienste gedupliseer moet word, die kwessie van die duplisering van onekonomiese programme, en so meer. Om hierdie sake sinvol, billik en regverdig op te los is nie maklik nie.

In die afwesigheid van enkeltalige Afrikaanse instellings moet die kwessie van onderrigtale by ons Histories Afrikaanse Universiteite egter met groot omsigtigheid hanteer word om te verhoed dat ons groot taalskades ly. Om die redes hier bo uiteengesit, is dit nie altyd moontlik om taalkwessiesop ons kampusse te hanteer soos mens graag sou wou doen nie. Aan die ander kant het die breër taalgemeenskap maar min begrip van of geduld met die probleme wat universiteitsrade en besture het om al die balle waarna so pas verwys is, in die lug te hou.

In die Ministeriële Taalbeleid van minister Kader Asmal wat in 2002 gepubliseer is en wat tans nog geld, vind ons die volgende sitaat:

[The ministry] acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource ... [The Ministry] fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education, and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded.”39

Die meertalige universiteite het die steun van die Staat nodig om op lang termyn aan hulle taalmandaat te kan voldoen. Dit geld veral by die universiteite wat reeds in ’n baie groot mate, wat hulle residensiële studente betref, op ’n integrerende wyse getransformeer het. Ek verwys spesifiek hier na die universiteite waar die Afrikaanssprekende studente tans die minderheid van die totale studentegroep vorm.40

Om die bestaande probleme op te los gaan geld kos. Die bedrae ter sprake is egter nie só astronomies dat ons dit nie kan doen nie. Ons kyk waarskynlik na so ongeveer ’n 8% addisionele subsidie vir hierdie instellings om hulle in die posisie te plaas om aan hulle taalmandaat te kan voldoen.41 Dit is noodsaaklik dat hierdie persentasie behoorlik deur die staat en die instellings bepaal word.

Vergelykbare internasionale data dui aan dat ons hoëronderwyssektor van staatsweë onderbefonds word. As dít reggestel kan word, sal ons vele van die probleemareas in hoër onderwys kan aanspreek – onder andere ook die billike en regverdige hantering van taalsake soos dit in die Grondwet beoog word.

Om op te som: In ons wetgewing en in die regerings se beleidsdokumente is daar baie steun vir meertaligheid en vir, onder andere, die uitbou van Afrikaans as universiteitstaal. Dit is egter tyd dat die Staat se woorde die Staat se dade word.

8. Enkele standpunte

Met die oog op verdere bespreking gedurende die Beraad wil ek graag enkele standpunte voorhou.

Algemene opmerkings

8.1 Afrikaans het steeds nie die juk van 1976 afgeskud nie. Dít beïnvloed nie slegs Afrikaanse moedertaalonderwys nie, maar moedertaalonderwys in die algemeen, op ’n negatiewe wyse. Die beskikbare data dui aan dat die land hiervoor, uit 'n opvoedkundige oogpunt beskou, 'n besonder duur prys betaal. Almal behoort dus daarop te konsentreer om dié saak te benader vanuit 'n opvoedkundige en nie soseer 'n politieke, maatskaplike, historiese of enige ander oogpunt nie.

8.2 Met die inwerkingtreding van die nuwe Grondwet het die land op 'n amptelike vlak ’n werklik meertalige era betree. Dit is uiters noodsaaklik dat die onderrigpraktyke in sowel ons laer- as ons hoërskole dié feit weerspieël.

8.3 Baie van die stemme wat opgaan ten gunste van Afrikaanse moedertaalonderwys gebruik ongelukkig steeds Afrikaans as ’n surrogaat om politieke steun vir ander agendas te mobiliseer. Die effek hiervan is dat vele Afrikaanssprekendes vir wie Afrikaans baie na aan die hart lê, maar wat nie noodwendig met genoemde politieke agendas saamstem nie, baie terughoudend is om hulle té direk met hierdie saak te assosieer.

8.4 Dit is so dat 'n taal nie kan kies wie hom praat nie en dat daar uit die monde van sommige van sy sprekers groot dwaashede sal kom en uit die monde van ander groot wyshede. Dwase en wyses, linkses en regses en als tussenin kan hulle taal egter ewe lief hê. Daarom is dit belangrik dat as daar namens Afrikaanssprekendes met die regering of wie ook al in gesprek oor Afrikaans getree word, dit moet geskied onder die beskerming van een of meer eerbare makelaars (“honest brokers”), anders gaan die proses waarskynlik gekaap word (waarskynlik deur die politici).

Universiteite en Afrikaans

8.5 Die eerste verpligting van die Raad en Bestuur van ’n Universiteit is om toe te sien dat die Universiteit waarvoor hulle verantwoordelik is, wat onderrig en navorsing betref, werklik internasionaal kompeterend is, ongeag in watter taal of tale algemene onderrig aangebied word. Om ’n swak instelling te bedryf met ’n goeie taalbeleid is nie ’n opsie nie.

8.6 In soverre dit gaan oor die beskerming en uitbou van Afrikaans as onderrigtaal by die Histories Afrikaanse Universiteite (HAU’s) is daar meerdere modelle wat gebruik kan word. Die model wat elke instelling volg, word bepaal deur 'n magdom faktore. Dit is egter so dat individuele instellings se vermoë om sinvolle oplossings te bereik, beperk word deur faktore waaroor hulle nie veel beheer het nie. Die effek hiervan is dat Afrikaans as onderrigtaal tans onder druk is.

8.7 Die taalmandate van al ons hoëronderwysinstellings behoort in oorleg met die instellings op 'n nasionale basis bepaal te word (dit sluit die Universiteite van Tegnologie in). Individuele instellings moet nie by magte wees om op kort kennisgewing en eensydig hulle taalmandate te kan wysig nie. Die gemeenskap het by veranderinge van dié aard 'n wesenlike belang en tans maak die Wet op Hoër Onderwys, 1997 glad nie daarvoor voorsiening dat enige van hierdie aangeleenthede deur 'n publieke deelnemingsproses getoets kan word nie.

8.8 Dit is belangrik dat die bevordering van meertaligheid nie moet lei na 'n situasie waar ons weer wit en swart kampusse het nie.42 Meertaligheid moet ten doel hê om elke Suid-Afrikaner opvoedkundig gesproke 'n billike kans in die lewe te gee, en terselfdertyd moet dit bydra tot nasiebou. Soos Friedman (hoër op aangehaal) dit gestel het: “Diversity without a spirit of community leads to tribalism. Community without a spirit of diversity leads to alienation for all minorities.”

8.9 Waar universiteite vanaf die staat 'n mandaat verkry om in meerdere tale algemene onderrig te verskaf, behoort die staat daardie mandaat te befonds. Die staat behoort egter van die instellings te verwag om behoorlike implementeringsbeplanning te doen. Die staat behoort óók te monitor in welke mate universiteite aan hierdie mandaat uitvoering gee. Een van die meganismes wat hier gebruik kan word, is die HEQC se ouditproses.

Die posisie van Engels uit 'n Afrikaanse oogpunt

8.10 Engels is waarskynlik vandag die belangrikste gedeelde taal in Suid-Afrika. Nieteenstaande die feit dat die meerderheid Afrikaanssprekendes graag in hul moedertaal onderrig wil ontvang, is dit belangrik dat hulle vlot en vaardig in Engels moet wees. In hierdie verband is dit dus belangrik dat skole en universiteite baie aandag skenk aan tweede- en derdetaalverwerwing.

Dit is dus paradoksaal dat as Afrikaanse skole wil oorleef, hulle veel meer moeite sal moet doen met Engelse tweedetaal-opleiding.43

Voetnotas

12 Die Skolewet moet natuurlik binne die konteks van die Grondwet gelees word.

13 Die betrokke bepaling van die kurrikulum word nie orals eenvormig toegepas nie.

14 Gebaseer op die navorsing van dr Kathleen Heugh: “Die Prisma Vertroebel: Taalonderrigbeleid geïnterpreteer in terme van Kurrikulum-verandering”, 2006 Tydskrif vir Geesteswetenskappe Vol 46 Nr 2, Junie 2006, 63.

15 Sien Alet Rademeyer, “Doodsklok lui vir Afrikaanse Skole”, 2005-02-02 Beeld, 15. Die artikel is gebaseer op navorsing van dr Bertie du Plessis. Wat egter meer onrusbarend is, is die feit dat waar daar in eertydse Afrikaanse skole parallelle onderrig in Afrikaans en Engels aangebied word, die skole oor tyd volkome Engels word. Daar word na ’n aantal skole in die Gauteng-omgewing verwys as voorbeelde hiervan: die hoërskole CR Swart, Voortrekkerhoogte, Elandspoort, Langlaagte, Pretoria-Wes, en ander.

16 Tydskrif vir Geesteswetenskappe Vol 46 Nr 2, Junie 2006, 63.

17 P 73.

18 Education Notes. The World Bank: http://worldbank.org/education/.

19 P 73. Dit herinner aan Langenhoven se versugting van bykans ’n eeu gelede: “Als ik ’n Hollander of ’n Engelsman was, hier in Suid-Afrika, dan was my posiesie van mijn kinders dieselfde alsof ik in mij Holland of in mij Engeland geblij het. Dan kon hulle hulle huistaal skool-toe neem en hulle skooltaal huis-toe breng …” (Uit Ons Weg deur die Wêreld (1913))

20 In gevalle waar leerders ’n tweede taal moet verwerf, toon studies daarop dat sodanige leerders (in optimale toestande) vir minstens 6 jaar in hulle moedertaal algemene onderrig moet ontvang (“Second language is learned best when first language is learned well”). “Bilingual programs are most successful where the goal is to make children literate in their first language and also to acquire fluency in the second (usually the former colonial) language; these should not be either/or propositions.”  (Education Notes. The World Bank.) Dat ons skoolstelsel steeds in ernstige moeilikheid verkeer, kan nie betwyfel word nie. Sien Eleanor Momberg, “Grade 8 Pupils can’t read, DET Deputy Warns”, 2006-08-27, Sunday Independent, 6 (alhoewel ek nie in die minste wil voorgee dat die moedertaal-probleem die enigste probleem is waaronder die skoolstelsel gebuk gaan nie).

21 Wet 108 van 1996.

22 Wet 101 van 1997.

23 My kursivering.

24 Soos destyds deur die Gerwel-komitee voorgestel is (Report to the Minister of Education AK Asmal by the Informal Committee Convened to Advise on the Position of Afrikaans in the University System (2002)). Die Gerwel-komitee se voorstel was dat US en PU vir CHO vir die uitbou van Afrikaans verantwoordelikheid moes aanvaar en dat UP, RAU en UV al hulle programme in Engels moet aanbied, hoewel laasgenoemde universiteite se vermoë om Afrikaanse programme aan te bied, indien daar ’n aanvraag sou wees, nie ingeperk (“impair”) moes word nie. Terselfdertyd sou beide US en PU vir CHO moes aandui hoe hulle “racial and social inclusivity” sou verseker in ’n omgewing wat oorwegend Afrikaans sou wees.

25 Die Grondwet, daarenteen, verbied nie enkelmedium openbare instellings nie. Sien artikel 29(2) van die Grondwet.

26 Language Policy for Higher Education (par 15.4).

27 My kursivering.

28 Indien die Departement van Onderwys se beleidsrigtings in die eerste tien jaar na 1994 in ’n enkele woord opgesom kan word, dan sal dit die woord access wees.

29 Uitgesluit ekstra eenmalige investering in meer lesinglokale ens.

30 Die universiteite is hier in vennootskap met die onderskeie provinsiale owerhede. Die terugsny van poste en begrotings en die groter klem op primêre gesondheidsorg het ernstige druk geplaas op die opleiding van gesondheidswerkers. Universiteite is nie by magte om dit wat die provinsies nie befonds nie, oor te neem nie.

31 Die staat ondersteun universiteite nie met enige befondsing ten opsigte van kapitaalbehoeftes nie. Die infrastruktuur by ons universiteite verouder en veral die opgradering van noodsaaklike laboratoria en apparaat is besig om ’n baie groot prioriteit te word. Tussen 1996 en 2004 is geen spesifieke gelde hiervoor deur die staat op ’n geordende basis toegeken nie. In 2006 het die Minister meer as ’n miljard hiervoor beskikbaar gestel aan ’n aantal instellings op ’n (ongelukkig) baie arbitrêre wyse.

32 Sien die Universiteit van Pretoria se Report of the ad hoc Working Committee of Senate to identify problems regarding the University’s Language Policy (S5728/06), 12.

33 Report of the ad hoc Working Committee of Senate to identify problems regarding the University’s Language Policy (S5728/06), 13.

34 In Engels ’n sg “unfunded mandate”.

35 Die inligting vir hierdie deel van die referaat is verskaf deur prof Albert Weideman, die direkteur van die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid aan UP.

36 Die UP-syfers word hier as verwysing gebruik. Die data dui daarop dat soortgelyke probleme by US en NW bestaan.

37 In die Engelse groep self is daar verdere groot verskille. Engels-eerstetaalsprekers se uitslae is gemiddeld 13% beter as die groep studente wat Engels as tweede taal gebruik.

38 Ek is van mening dat ouers en leerders ná die laerskoolvlak oor keuses van onderrigtaal moet beskik. Dit is waarskynlik raadsaam om as ’n eerste stap ten minste die probleme op laerskoolvlak te probeer aanspreek.

39 My kursivering.

40 As meertaligheid op hierdie kampusse nie suksesvol is nie, gaan die wekroep vir uitsluitlik Afrikaanse instellings baie sterker word. Die ATKV het onlangs aangedui dat hulle beoog om sterk vertoë tot die regering te rig vir die daarstelling van twee Afrikaanse openbare universiteite in Suid-Afrika.

41 Bereken op die totale subsidiebedrag. As dit bereken moes word op die onderrigkomponent van die subsidie alleen, sou dit ongeveer 14% beloop. Dit is belangrik dat die Departement van Onderwys en die instellings volledig hierdie aangeleentheid ondersoek, sodat die werklike koste van meertalige onderrig aan ons universiteite bepaal kan word.

42 Dit is om hierdie rede dat die Universiteit gedupliseerde akademiese programme op die Universiteit se Mamelodi-kampus wil uitfaseer waar die programme óók op die Hatfield-kampus aangebied word. “Separate but equal” is nie ’n opsie nie.

43 Daar is ’n aanduiding dat Afrikaanssprekende ouers in ’n hoër mate hulle kinders na Engelstalige hoërskole stuur as wat in die verlede die geval was.