Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

'n Volhoubare plek vir Afrikaans in hoër onderwys en regeringsteun daarvoor I


Niek Grové - 2006-10-10

It is a frequently asked question whether and why languages should be maintained. In a global human heritage perspective, languages are as unique as biological species and linguistic diversity should therefore be maintained in the same spirit as biological diversity.
                             – Pekka Sammallahti, Universiteit van Oulu, Helsinki

1. Algemeen1

Daar is baie min Suid-Afrikaners wat vandag onbewus is daarvan dat een van die grondoorsake vir die 1976-studenteopstande in Soweto die feit is dat die destydse regering vereis het dat Afrikaans in swart skole as onderrigmedium vir sekere vakke gebruik moes word.

Die vraag ontstaan wat ons as Suid-Afrikaners in die afgelope 30 jaar geleer het en na aanleiding daarvan toegepas het wat die onderrigtale aan ons skole en universiteite betref. As 'n gemeenskap het ons sonder twyfel veel geleer en verander. Suid-Afrika het ’n goeie grondwet. Ons het 'n demokratiese regeringstelsel. Ons het gereelde verkiesings. Ons het 'n onafhanklike regbank. Ons pers is een van die vrystes ter wêreld. Ongetwyfeld dinge waarvoor alle Suid-Afrikaners besonder dankbaar kan wees.

Dit is egter so dat daar 'n klompie gevaarligte in ons samelewing flikker. Sommige van ons staatsdepartemente grens aan die disfunksionele en dit wil nie lyk asof die bestuurders wat vir hierdie departemente verantwoordelik is, die situasie kan omkeer nie. Sommige van ons provinsiale regerings en stadsrade funksioneer nie na behore nie. Alhoewel die ekonomie sterk groei, is werkloosheidsyfers onrusbarend hoog. Te veel van ons mede-Suid-Afrikaners is werkloos en derhalwe ekonomies gemarginaliseer. Daarbenewens is die vaardigheidstekorte in ons ekonomie besig om krisisafmetings aan te neem.

Talle van hierdie probleme is struktureel van aard en kan ongelukkig nie oornag opgelos word nie, hoe graag ons dit ook al sou wou doen. In 'n baie groot mate pluk ons vandag die wrange vrugte van 'n onderwysstelsel wat die afgelope 40 jaar mishandel is: as land sukkel ons met ongeletterdheid, 'n skoolstelsel wat onderpresteer, 'n hoëronderwyssektor wat sukkel om sy voete te vind ná ingrypende herstrukturerings, gebrekkige taal- en syfervaardighede by studente en skoliere, en 'n tegniese-opleidingstelsel wat onder baie ernstige druk is.2

Wat is die een enkele ding wat ons as land kan en moet doen om te verseker dat dinge iewers in die toekoms verbeter?

Eerstens moet ons sorg dat die gehalte van onderrig en opleiding in Suid-Afrika dramaties verbeter. Ons moet ons onderwysers beter oplei én beter betaal. Dieselfde geld vir die personeel aan ons universiteite. Ons moet sorg dat ons onderwysbeleide sinvol en realisties is en dat dit gepaardgaan met goeie implementeringsbeplanning en afleweringsmeganismes sodat die stelsel die soort produkte kan lewer wat van ons land 'n suksesstorie kan maak. En dit geld vir alle vlakke van ons onderwysstelsel: vanaf die preprimêre fase tot en met die produkte van ons navorsingsuniversiteite.

In hierdie verband speel taal en als wat daarom draai, 'n belangrike rol. Geletterdheid, syfervaardighede en goeie kommunikasievermoëns is die sleutel waardeur ons mense bemagtig sal word om op grond van hulle eie arbeid en kreatiwiteit hulle lewensgehalte te verbeter.

Ons eie verlede lewer duidelike voorbeelde van gevalle waar probleme rondom taal asook taal- en kommunikasieverwarring 'n groot rol gespeel het in die wyse waarop ons eie geskiedenis ontvou het. Soweto 1976 is één so ’n voorbeeld. Daar is ander. So byvoorbeeld kan ons verwys na die telegram wat die sogenaamde “Uitlanders” in 1896 aan Jameson gestuur het en waarin hulle om hulp gevra het in hulle stryd teen die regering van Paul Kruger in die ZAR:

It is under these circumstances that we feel constrained to call upon you to come to our aid should a disturbance arise here the circumstances are so extreme that we cannot believe that you and the men under you will not fail to come to the rescue of the people so situated.3 

Die telegram is later in The Times gepubliseer met 'n punt na die woord aid. Dit is egter óók moontlik om die punt te plaas agter die woord here.4 In laasgenoemde geval verander die betekenis van die boodskap totaal. In die eerste geval moet hulp dadelik kom; in die tweede geval, daarenteen, slegs indien 'n “disturbance arise”. Oor die antwoord op die vraag of Jameson inderdaad deur die inhoud van die telegram verwar is, kan mens maar net spekuleer. Meer as ’n honderd jaar later met die opstande van 1976 in Soweto het 'n “lost in translation”-tipe situasie klaarblyklik ook ’n bydrae gelewer tot die uitbreek van die opstande.5;6 Die dinge wys mens maar net dat taal en kommunikasie regtig saak maak, en selfs die lotgevalle van mense en volkere kan beïnvloed.

My opdrag vandag is om oor Afrikaans en hoër onderwys te praat en spesifiek of daar ’n volhoubare plek vir Afrikaans in hoër onderwys is en wat presies die rol van die staat in dié verband behoort te wees.

2. Statistiese gegewens

Voordat ek enigsins voortgaan, sou dit miskien raadsaam wees om 'n klompie statistiek wat spesifiek op die hoëronderwysomgewing van toepassing is, onder oë te neem.

Die getal studente wat tans aan ons hoëronderwysinstellings studeer, asook die vlak waarop universiteite tans befonds word, is faktore wat 'n groot invloed uitoefen op dit wat universiteite vandag kan doen, onder andere wat onderrigtale betref.

Tabel 1 hier onder dui vir u aan hoe die hoëronderwyssektor die afgelope tien jaar gegroei het.7

 Tabel 1: Totale aantal studente (1993 en 2004)

 

1993

2004

Groei

Tipe instelling

Getal

%

Getal

%

 

Universiteite van Tegnologie

80 378

17,3

194 981

26,2

 

Universiteite

180 034

38,8

343 321

46.1

 

Toegewysde afstandsinstellings
(UNISA/TSA/VISTA)

204 101

43,9

206 187

27.7

 

Totaal

464 513

100,0

744 489

100,0

62%

Bostaande het plaasgevind nieteenstaande die feit dat die aantal kandidate wat matriekvrystelling verkry het, jaar op jaar skerp gedaal het. Die afgelope drie jaar is daar egter weer ’n stygende tendens:

Tabel 2: Matriek met Universiteitstoelating

1994

1995

1996

1997

1998

1999

2000

2001

2002

2003

2004

90 000

78 821

76 774

70 127

71 000

63 725

68 826

67 707

75 048

82 010

85 117

Waar kom die groei van studente vandaan as kandidate met matriekvrystelling oor tyd dramaties verminder het? Die antwoord lê daarin dat vele studente tot die universiteitsektor toegelaat is sónder matriekvrystelling. Die getalle word in Tabel 3 uiteengesit (ander kategorieë soos ouderdomsvrystelling – ongeveer 5 000 per jaar – word nie vermeld nie).

Tabel 3: Senaatsdiskresionêre en Voorwaardelike Toelatings

 

1995

1996

1997

1998

1999

2000

2001

2002

2003

2004

2005

Senaats-diskresionêr

   64

 179

   344

 923

1 018

1 817

2 755

2 822

5 752

5 957

6 078

Voorwaar-delike vrystellings

1 250

1 326

1 181

1 312

1 584

1 919

2 674

2 842

3 630

4 053

3 540

Tabel 4 verskaf 'n aanduiding van die volgende: (1) die persentasie van die totale onderwysbegroting wat aan hoër onderwys spandeer word; (2) die persentasie van die RSA-begroting wat vir hoër onderwys aangewend word; en (3) die onderwysbegroting as persentasie van die nasionale BBP.

Tabel 4: Hoëronderwysbegroting (HOB) as % van die RSA-begroting en die BBP

 

1995

2000

2005*

Item

%

%

%

HOB as % van DVO

12,1

13,0

11,6

HOB as % van RSA

 2,7

 2,8

 2,2

HOB as % van BBP

 0,7

 0,6

 0,6

 

* Sluit NSFAS en eenmalige bewilligings om samesmeltings te befonds uit

Die gemiddelde persentasie van BBP wat die afgelope 19 jaar aan die openbare hoëronderwyssektor bestee is, beloop 0,76% per jaar. Die vergelykende internasionale syfer is 0,81% per jaar. In vergelyking met internasionale standaarde spandeer ons te min aan ons universiteite.

Die probleem eindig egter nie hier nie. Ons spandeer tans 0,87% van die BBP aan navorsing.8 Ons spandeer egter slegs 0,16% van ons BBP aan basiese navorsing. Australië bestee 0,42%, die VSA 0,50% en Frankryk 0,53% van BBP aan basiese navorsing.

Tabel 5 handel met die sogenaamde “A-Waarde”. Daar is ingevolge die staat se befondsingsmodel twee partye wat moet bydra tot hoëronderwysbefondsing, te wete die staat en die student. Ingevolge die staat se eie formule behoort 'n student 20% van die totale koste verbonde aan sy opleiding te betaal. Die staat is teoreties vir die ander 80% verantwoordelik. Indien die staat dus die volle 80% betaal, is die stelsel teoreties 100% befonds. Weens begrotingsdruk en ander beperkinge kan die staat egter nie die volle gedeelte waarvoor hy verantwoordelik is, betaal nie. Dit is dus noodsaaklik om te bepaal watter persentasie van die gedeelte waarvoor die staat verantwoordelik is, inderdaad deur die staat betaal word (met ander woorde, in welke mate die staat daadwerklik besig is om by te dra tot die befondsing van die hoër onderwysstelsel).

In 1985 het die staat 85,7% van die bedrag betaal. Sedert hierdie datum het die persentasie bydrae stelselmatig verminder. Na raming het die staat se bydrae in 2004 slegs 57% bedra.9

Tabel 5: “A-Waarde” (Vlak van staatsbefondsing)

Jaar

Universiteite

Technikons

HO-sektor

1987

0,847

0,909

0,857

1988

0,788

0,817

0,793

1989

0,795

0,715

0,780

1990

0,775

0,729

0,66

1991

0,699

0,695

0,698

1992

0,677

0,611

0,662

1993

0,667

0,564

0,658

1994

0,664

0,605

0,650

1995

0,656

0,621

0,648

1996

0,681

0,686

0,682

1997

0,659

0,646

0,656

1998

0,652

0,643

0,650

1999

0,650

0,641

0,647

2000

0,636

0,628

0,634

2001

0,638

0,629

0,636

2002

0,637

0,631

0,635

2003

0,603

0,603

0,603

2004

0,570

0,570

0,570

Waarom is die A-waarde besig om so skerp te daal? Dit kan direk toegeskryf word aan 'n groei van 62% in die hoëronderwysstelsel tussen 1993 en 2004. Indien die staat die stelsel steeds teen 'n 85%-vlak sou finansier, sou die huidige onderwysbegroting dramaties moes styg. Dit is natuurlik ook die rede waarom klasgelde die afgelope aantal jaar so sterk gestyg het en waarom die “right to learn campaign” weer in volle swang is op 'n groot aantal kampusse. Die student-dosent-verhouding is ook besig om onder baie kwaai druk te kom. Laasgenoemde word in “DOE-speak” gemeet as “onderriginseteenheid tot voltydse ekwivalente onderrig-/navorsingpersoneel”. So gemeet was dit 33,3 in 2000, 36,7 in in 2001, 38,5 in 2002 en 41,5 in 2003.10

Tabel 6 gee vir u 'n aanduiding van hoe die ras-samestelling van ons hoëronderwysinstellings, wat studente betref, gedurende die afgelope 10 jaar verander het.

Tabel 6: Ras van die studentekorps in hoër onderwys

 

1993

2004

Ras

%

%

Onbekend

0,0

0,2

Kleurling

 6,2

 6,2

Indiër

 6,9

 7,3

Swart

38,9

60,9

Wit

48,0

25,3

Totaal

100

100

Tabel 7(a) en 7(b) dui die groei in skoliere aan wat Afrikaans en Engels (Eerste Taal) op matriekvlak tussen 1997 en 2003 geslaag het.

Tabel 7(a): Matrikulante met Afrikaans/Engels as 1ste taal (HG en SG) – 1997*

*Slegs studente met vrystelling of voorwaardelike vrystelling is in ag geneem

 

1997

 

Afrikaans

Engels

Beide Afrikaans en Engels

Totaal

17 994

28 838

1440


Tabel 7(b): Matrikulante met Afrikaans/Engels as 1ste taal (HG en SG) – 2003*

 *Slegs studente met vrystelling of voorwaardelike vrystelling is in ag geneem

 

2003

 

Afrikaans

Engels

Beide Afrikaans en Engels

Totaal

23 167

43 089

2 348

Hiervolgens sal u sien dat die aantal studente wat Afrikaans as eerste taal neem en wat vrystelling of voorwaardelike vrystelling verkry het, gegroei het (weliswaar nie so vinnig soos die groep wat Engels Eerste Taal geneem het nie).

Tabel 8 dui vir u aan hoe die getal Afrikaanse studente by Technikons (nou Universiteite van Tegnologie) verminder het.

Tabel 8: Afrikaanse studente by Technikons/Universiteite van Tegnologie (1993 en 2004)

 

Universiteite van Tegnologie (uitgesluit TSA)

 

1993

2004

Ras

Aantal

Aantal

Blank

24 147

13 537

Kleurling

 2 953

 4 603

Totaal

27 100

18 140

Tabelle 9(a) en 9(b) verskaf 'n aanduiding van die aantal Afrikaanse studente by Universiteite.

Tabel 9(a): Afrikaanse studente by residensiële Universiteite (1993 en 2004)

 

Universiteite (uitgesluit Unisa/Vista)

 

1993

2004

Ras

Aantal

Aantal

Blank

53 835

55 074

Kleurling

 5 612

 7 354

Totaal

59 447

62 428


Tabel 9(b): Afrikaanse studente by afstandsonderrig-instellings (1993 en 2004)

 

Unisa/Vista/TSA

Unisa (Nuut)

 

1993

2004

Ras

Aantal

Aantal

Blank

44 206

29 939

Kleurling

 5 781

 5 180

Totaal

49 987

35 119

Tabel 10 dui vir u die verhouding oor tyd aan tussen Afrikaanssprekendes en ander studente in ons hoëronderwysinstellings.

Tabel 10: Verhouding Afrikaanse studente tot totale studentegetalle

 

1993

2004

Instansie

Afrikaans

Totaal

%

Afrikaans

Totaal

%

Technikons/Universiteite
van Tegnologie

 27 100

 80 378

33,7

 18 140

194 981

 9,3

Universiteite

 59 447

180 034

33,0

 62 428

343 321

18,2

Unisa/Vista/TSA

 49 987

204 101

24,5

 35 119

206 187

17,0

Totaal

136 534

464 513

29,4

115 687

744 489

15,5

3. Die Grondwet

In 1976 was daar twee amptelike tale, te wete Afrikaans en Engels. Gegewe die 1976-geskiedenis is dit so dat die skrywers van die Grondwet heelwat tyd bestee het aan die formulering van die bepalings met betrekking tot taal. Die saak was veral vir die Afrikaanssprekendes van groot belang.

Die uitkoms van die grondwetonderhandelinge was dat die Grondwet tans bepaal dat daar 11 amptelike tale is. Benewens Afrikaans en Engels is al die ander inheemse Afrikatale tans amptelike tale. Dit is 'n wesenlike verandering van die posisie wat in 1976 gegeld het. Die Grondwet dui egter nie uitvoerig aan wat dit beteken wanneer 'n taal die status van 'n amptelike taal geniet nie. (Voorgenoemde word dan ook as een van die probleme met die Grondwet beskou.) Vermoedelik beteken dit dat die regering maatreëls moet tref om toe te sien dat genoemde tale gebruik en uitgebou word en dat landsburgers in (onder andere) die howe en in hulle interaksie met die staat 'n amptelike taal van hulle keuse kan gebruik.11

Vervolg in Deel II

Voetnotas:

1 Teks van ’n referaat (met enkele regstellings) wat op 1 September 2006 op Stellenbosch aangebied is.

2 Mnr Con Fauconnier, ’n vorige president van die Kamer van Mynwese, het hom in 2005 by die Algemene Jaarvergadering van die Kamer soos volg uitgelaat:  “[I am] deeply concerned about the short-, medium- and long-term capacity of our country to achieve the levels of growth that are needed to meet our government's aspirations to deal effectively with unacceptable levels of poverty and unemployment … Figures emerging from recent research demonstrate a seriously inadequate national artisan-training commitment … This raises grave questions about how it will be possible – unless drastic action is taken to resolve the problem – to do the work that trained artisans so indispensably perform to raise levels of occupational activity that are sufficiently productive to emancipate our country from the grip of economic stagnation … To illustrate my point, I take you back to the early 1960s, when a severe shortage of artisans in South Africa demanded the recruitment of competent tradesmen from abroad. Slightly more than ten years later, in 1975, to be precise, the problem had clearly been recognised and measures introduced to resolve it ...”

Hy het aangedui dat daar meer as 33 000 vakleerlinge in 1975 geregistreer was, die oorgrote meerderheid van hulle by Yskor (nou Mittal Steel), die “Steel and Engineering Industries Federation of South Africa” (Seifsa), die spoorweë, asook die motorindustrie.

Hy gaan voort: “By 2000, only 3 000 apprentices were registered in our country, and in 2005 – with particularly bad consequential implications for the mining industry – 1 440 apprentices, or engineering learnerships, as they are now more commonly referred to, are registered with the Mining Qualifications Authority.”

Volgens Fauconnier is die gemiddelde ouderdom van gekwalifiseerde ambagslui in Suid-Afrika 54 jaar. “What this means, presenting a quite generous ten-year working existence for artisans who are currently economically active, is that by 2015 – unless radical treatment is imposed to repair the problem – there will be a dangerously short supply of artisans available to ply their trades in South Africa's industrial and commercial sectors. … A growth rate of 6% will become a pipe dream incapable of being realised.”

3 Telegramme het nie leestekens bevat nie.

4 Sien LynneTruss, Eats, Shoots and Leaves (2003), 11.

5 Blame it on Bureaucracy. ’n Oudminister, mnr Louis Pienaar, noem in ’n essay getiteld “Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans” (in Van Rensburg, Afrikaans Lewende Taal van Miljoene (2004), 136–137), dat in een van die destydse Departement van Bantoe-onderwys se omsendskrywes aan skole in Soweto die Afrikaanse teks van die omsendskrywe ’n sin bevat het wat skoolhoofde opdrag gegee het dat die gelyke gebruik van Afrikaans en Engels op sekondêre vlak gehandhaaf moes word "waar moontlik", en dat departementele goedkeuring vir enige afwyking verkry moes word. Die woorde waar moontlik het nie in die Engelse weergawe van die teks voorgekom nie en dit het onder andere volgens Pienaar daartoe gelei dat die beleid geïnterpreteer is om veel meer rigied te wees as wat dit inderdaad was.

6 Taal en kommunikasieverwarring het elders in die geskiedenis al ’n groot rol gespeel. Die bekendste geval in die moderne era is dié tydens die val van die Berlynse muur. Nadat Erich Honecker in Oktober 1989 verplig is om te bedank, het Egon Krenz oorgeneem as leier van die GDR. In ’n poging om die druk wat aan die opbou was in Oos-Duitsland te verlig, het hy en sy kollegas ’n dekreet uitgevaardig om sommige van die reëls wat op reise van Oos-Duitse burgers tussen Oos- en Wes-Duitsland van toepassing was, te verslap (nie op te hef nie). ’n Politburolid, Gunter Schabowski, het die pers op ’n perskonferensie hieroor ingelig. Weens wankommunikasie van die besluit tussen hom en Krenz kondig hy toe aan dat al die grensposte permanent oop is. Die nuus het baie vinnig na die Oos-Duitse burgerlike gemeenskap versprei en hulle het by die grensposte begin saamdrom. Toe Krenz uitvind wat aangaan, was dit te laat. Die massa mense by die grensposte was te groot. Die wagte by die Bornholmer Strasse-grenspos het op sterkte van die perskonferensie die grens oopgestel, omdat hulle geen ander opdragte gehad het nie. Sien Hans-Hermann Hertle, “The Fall of the Wall: The Unintended Self-Dissolution of East Germany’s Ruling Regime”, Cold War International History Project Bulletin # 12/13 (Herfs/Winter, 2001), 131-140; Gaddis, The Cold War (2005), 245–246. Vir die invloed van die val van die Berlynse muur op Suid-Afrika se eie politieke geskiedenis, sien Van Zyl Slabbert, Duskant die Geskiedenis (2006), 42-43.

7 Die inligting is verkry van HEMIS (Higher Education Management Information System), die Departement van Onderwys se bestuursinligting-databasis.

8 2004/2005. Die syfer sluit beide die openbare en privaatsektore in.

9 Waarom is daar hier sprake van 'n raming? Die Befondsingsformule het in 2004 verander en die formule werk tans nie meer met A-waardes nie. Derhalwe moes die bedrae betaalbaar ingevolge die nuwe formule verwerk word om vergelykbaar te wees met vorige jare. Dit is egter so dat die staat intussen die NSFAS-beursskema ingestel het. Die NSFAS-skema raak egter die gedeelte wat die studente moet betaal om die stelsel te befonds en het dit derhalwe nie op die A-waardes enige invloed nie. Slegte skuld is besig om te styg in die stelsel. So, byvoorbeeld, is daar nasionaal R190 miljoen se studenteskuld in 2003 afgeskryf.

10 ’n Verdere gevolg hiervan is die verhoogde vlakke van “managerialism” wat ons deesdae in ons hoëronderwysinstellings sien. In wese kom dit daarop neer dat daar ’n groter klem geplaas word op ’n verhoogde doeltreffendheid en effektiwiteit in opleiding, navorsing en prosesse, asook die optimalisering van die sg “derdestroom”-inkomste (fondswerwing, kontraknavorsing, kortkursusinkomstes, besigheidsaktiwiteite van kampusmaatskappye, ens).


11 Dit is belangrik dat ons as gemeenskap meer aandag daaraan behoort te skenk om skoliere en studente op te lei oor wat ’n grondwet is, hoe ons eie Grondwet tot stand gekom het, en wat dit vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap behoort te beteken. Onder ’n baie groot groep studente met wie ek in aanraking kom, bestaan die persepsie dat die Grondwet iets soos ’n beleidsdokument is; ’n dokument, dus, wat maklik verander kan word, of erger nog, geïgnoreer kan word as die bepalings daarvan jou nie pas nie. Die regstaatgedagte wat ons liberaal-demokratiese Grondwet onderlê, is iets waarvan 'n mens maar min hoor in die kampuspolitieke gesprekke van die dag.