Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Rubrieke | Columns > NetZen

Die Zen-kombuis:
''Dit gaan nie oor die kos nie''


Johann Rossouw - 2006-10-10

Dit is wanneer hy sy moue oprol wat die kok die gees van die Weg verwesenlik

– Meester Dogen, Instruksies aan die Zen-kok

’n Paar jaar gelede het ek die eerste keer tydens ’n somerkamp van nege dae as kombuishulp gewerk by die La Gendronnière-Zen-tempel onder leiding van ’n baie ervare tenzo (kok). Aan die einde van die kamp het ek oor ’n glas wyn met hom oor die kombuiswerk staan en gesels, en hy het vir my gesê: “Dit gaan nie oor die kos nie.”

Sy uitspraak het my dronkgeslaan: Hoe kan ’n monnik wat jaar na jaar sy hele Europese somervakansie afstaan aan ses somerkampe by La Gendronnière, en heelwat daarvan in die kombuis deurbring, so iets sê?

Die praktyk van Zen is ’n praktyk van die alledaagse, om elke oomblik in gedagte, woord en daad met die hier en die nou besig te wees, oftewel die gyo ji. Hierdie volgehoue indagtigheid klink vir baie leke na ’n bomenslike ideaal. Natuurlik is die gyo ji ’n bomenslike ideaal as ’n mens dit verstaan as iets wat jy deur wilsinspanning moet regkry, oftewel met die ego. Dít is egter nie die gyo ji nie, maar totalitêre beheer!

Die gyo ji kom nie deur die inspanning van die ego as die wil nie, maar deur die aflegging daarvan. Hierdie aflegging is wat ons doen met die praktyk van toegewyde en gereelde zazen (meditasie), en dit is iets wat natuurlik, spontaan en onbewustelik gebeur deur zazen. Natuurlik begin almal zazen aanvanklik met ’n mate van wilsinspanning, en dit is ook goed so, selfs noodsaaklik. Maar algaande ondervind die toegewyde praktisyn ’n merkwaardige en ongelooflike wending: om anderkant die wil te tree en met groot vryheid spontaan te praktiseer. Dan word die gyo ji eers werklik moontlik, en dan kan ’n mens ook die eerste maal die diep vreugde daarvan begin smaak om een met die werklikheid te wees.

In die Zen-tradisie is daar verskillende praktyke naas zazen om die gyo ji te versterk. Die somerkamp self, wat ontleen word aan die gebruik van die Boeddha om 2 500 jaar gelede tydens die reënseisoen met sy dissipels – die sangha – in grotte terug te trek vir tye van intense zazen, is so ’n praktyk. Dan is daar ook verskillende vorme van samu – werk vir die welsyn van die sangha – soos naaldwerk en kombuiswerk. In my eie geval het ek, ten spyte van my fisieke onhandigheid en tradisionele onkunde oor kos, die afgelope jare deur die gyo ji van kombuisdiens meer intense oomblikke van vreugde en dankbaarheid as op enige ander plek – buiten in zazen – ervaar.

Die hedendaagse praktyk van die Zen-kombuis is oor eeue ontwikkel, en een van die invloedrykste beskrywings daarvan is op die ouderdom van 37 geskryf deur meester Dogen (1200–53), die grondlegger van die Soto-Zen in Japan. In sy Instruksies aan die Zen-kok skryf hy: “Die voorwerpe en die goed van die gemeenskap wat jy daagliks gebruik, is die appel van jou oog. Behandel die kos met net soveel respek asof dit vir die tafel van die keiser bestem is … Dit is wanneer hy sy moue oprol wat die kok die gees van die Weg verwesenlik. Maak seker dat jy nie ’n ryskorrel vir ’n sandkorrel aansien en dit laat wegraak nie …”

Hiermee vat Dogen in enkele sinne die kern van die praktyk van die Zen-kombuis saam. Daarmee antwoord hy ook op ’n vraag wat mense my dikwels vra: “Wat maak julle kos in Zen anders?” Wat die kos in ’n Zen-kombuis anders maak, is nie soseer die geregte wat gemaak word nie, maar die gees waarmee dit gemaak word, as gyo ji. As die kos nie met hierdie gees gemaak word nie, sal dit nie moontlik wees vir die tenzo en sy tien kombuishulpe om drie maal per dag vir drie honderd mense kos te gee, soos ek dit pas weer tydens ’n somerkamp by La Gendronnière self beleef het nie.

Een van die eerste dinge wat kombuiswerk tydens ’n somerkamp jou leer, is om telkens jou verstandsprosesse oor waarmee jy besig is, af te lê en terug te keer na dit wat jy doen, met volle konsentrasie. As ’n mens naas drie of vier zazens van minstens 90 minute elk ook nog gemiddeld ses ure per dag in die kombuis deurbring, kom jy gou agter dat jy eenvoudig geen energie oor het om op jou illusies te vermors nie!

Dit het een keer tydens ’n somerkamp in die kombuis met my gebeur dat ek, net voor ek vir die middagskof in die kombuis aangemeld het, my hewig deur iets laat ontstel het. Na ’n uur se verdeeldheid tussen die veeleisende kombuiswerk en broei op my ontsteltenis was ek so uitgeput dat ek my energie kon terugkry slegs deur eenvoudig my ontsteltenis te laat gaan!

As ’n mens volgens hierdie benadering in die kombuis werk, as jy jou ego gewoon aflê en jou heeltemal leegmaak sodat jy vol kan word van dit waarmee jy besig is, ervaar jy ’n intense toename in energie. Dit is niks anders nie as die energie van die kosmos self wat ’n mens te enige oomblik kan ervaar as jy een is met hierdie oomblik. Dan beoefen jy die eerste deug van die bodhisattva, die wese wat alles vir die verligting van andere in die stryd werp, naamlik die geskenk. Jy ontdek dat om absoluut te gee, sonder enige berekening of verwagting, jou tegelyk in staat stel om oneindig te ontvang.

Dit het my ’n hele paar jaar se praktyk en kombuiswerk gekos om te verstaan wat die ervare tenzo bedoel het toe hy gesê het” “Dit gaan nie oor die kos nie”, naamlik dat dit oor die gees van die Weg self gaan, wat dit moontlik maak om absoluut te gee, sodat dit die kosmos self is wat deur jou hande kook en sny.

 

* Zazen vind van Maandag tot Vrydag van 07:30 tot 08:30 en Saterdag van 07:30 tot 09:00 plaas in die Durbanville Zen-dojo by Berghshoop 27, Langebergweg 60, Durbanville. Inleiding tot zazen is Saterdagoggende om 07:00 en almal is welkom. Vir meer inligting, kontak Johann by soho2@lantic.net of by 083 459 6364.