Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Oor plastiekblomme en so


Fanus Rautenbach - 2006-10-10

Die eerste plastiekblomme (kunsblomme?) wat in Suid-Afrika gemaak en verkoop is, is gedoen deur ’n sakeman wat ek in die sestigerjare in Bloemfontein leer ken het. Noudat Pote Human, die rugby-afrigter, weer in die nuus is, dink ek daaraan en verbeel my die blomme is destyds juis deur 'n Human gemaak. Daar was ook ’n motorhandelaar met dieselfde naam. Nou wonder ek of ek dit reg het. Is daar ’n leser wat kan help?

*

Daardie selfde tyd moes ek ook by ’n funksie van die Suid-Afrikaanse Weermag optree. Die bevelvoerder stuur toe sy amptelike motor om my by die hotel op te laai. Al agtergekom, die Engelse sê: “He picked me up at my hotel”? Of hulle sal sê: “Meet me at my house!”

*

Dit laat my nou weer dink aan die regering se nuwe planne met rasseklassifikasie: elke kieser moet nou aandui of hy een van die volgende is: Engelsman, Afrikaner, Indiër, bruinmens, Jood, Mohammedaan of Afrikaan. ’n Groepie studente het beswaar gemaak, hulle swart gesmeer met skoenpolitoer en hulle by die President gaan aanmeld. Een Sondagkoerant se opskrif: "Swart gepolishde Afrikane protesteer!”
Mens moet vir Leon Schuster of Karen Zoid lirieke skryf op die wysie van "Afrikaners is plesierig"! So iets, dalk?

Afrikane is plesierig
hul’s pikswart gepolish
en hiermee het ons apartheid
finish en klaar ge-abolish!

*

Terug na Blomfontein in die sestigs … En die bestuurder (of is dit deesdae die drywer?) van die ampsmotor wat my by die hotel kom haal het? Niemand anders nie as die pa van Ruan Pienaar, die Haaie se skrumskakel, Gysie Pienaar, wat toe sy diensplig gedoen het.

*

En terug na die kunsblomme. Dis ook die eerste keer wat ons die grappie op Flink Uit Die Vere gemaak het: “Waarmee word kunsblomme natgegooi? Met plastiekgieters!” Verlede week is die grappie in ’n storie op TV herhaal. (Ook hierdie oopskop is op TV gehoor: “Hoekom eet kannibale nie hansworse nie?" Antwoord: "Omdat hulle ‘snaaks’ smaak!”)

So twintig jaar gelede was ek ’n ywerige, maar onsuksesvolle, bonsai-kweker. Vandat die kunsblomme weer so gewild geword het, sê ek dat die eerste ou wat kuns-bonsais maak, ’n fortuin gaan maak. Nou kom ek by ’n groot huisware-winkel en daar is honderde soorte kunsblomme. Van die kunsblomme het ook in ons ouetehuis beland. By die hysbak is daar ’n pragtige rangskikking daarvan. Almal wat op die hysbak staan en wag, vat aan die kunsblomme en ruik daaraan. Toe ek een inwoner vra waarom sy dit doen, is haar antwoord: "Ek wil net seker maak of dit egte blomme is of kunsblomme.”

“En?”

“Dis plastiekblomme!”

“En?”

“Nou weet ek.”

“Maar hoekom wil jy weet?”

“Ek hou nie daarvan as mense vir my jok nie.”

“Maar niemand jok vir jou nie.”

“Nee, nie rêrig nie, maar die mense wat die kunsblomme maak, wil ons laat glo dat dit eg is. Nou weet ek dit is nie.”

“En noudat jy weet?”

“Wel, nou kan ek vir iemand sê: 'Haai, het jy daai blomme by die hysbak gesien? Dis nie regte blomme nie!'”

Dit laat my weer aan Jan Schutte se pragtige storie dink … Een dame sê aan ’n ander wat net uit die haarkappersalon uitkom: “Jou hare is so mooi, mens sal dink dis ’n pruik!”

“Maar dit is ’n pruik!”

“Haai, mens sal dit nooit sê nie!”

Nou vertel ek my vriend Piet Coetzer die hele episode van die kunsblomme en ek sê: "Wat ’n mens moet doen, is om iets op die kunsblomme te spuit wat soos jasmyn ruik – dan sal hulle werklik glo dis rêrig!”

Kom Piet met ’n beter voorstel: "Gooi peper op die blomme!” Hy lag. “Of nog beter, snuif! Dit sal hulle aan die nies kry en dan sal hulle sê: 'Daai blomme is eg! Dit gee my hooikoors!'”

Dit laat my dink: Waarom hou so baie mense so baie van TV? Want hulle dink dis rêrig.

Groetnis!
Fanus