Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

My een vraag aan God I


2006-10-10

 

My een vraag aan God

"Waarom moet ek so sukkel in hierdie lewe, om vorige lewens se baggage te verwerk, as ek nie die geheue van my vorige lewens het nie?

Dit sou soveel makliker gewees het as ek geweet het waaraan ek werk!"

MaanKind

My vraag aan God

"Hoekom kon mens nie met die wysheid en insigte wat in Spreuke en Prediker te vind is, sommer gebore word nie en waarom is dit so moeilik om soos in Hooglied lief te hê?"

Pierre van Niekerk

Een vraag aan God...

"Indien u bestaan, waarom speel u wegkruipertjie? Hoekom al u voetspore
uitvee en die natuur laat met aanduidings dat ons bestaan te danke is aan
toevalligheid?"

Persius

My vraag aan God

Ek het ’n vraag aan God, so as julle ongelukkig en ongeduldig wil raak met my gewaffle, gebruik die muis se wieletjie en hardloop vinnig tot heel onder aan hierdie brief.

Aangesien LitNet se “Mission Statement” egter sê die “homegrown philosopher” is ook welkom, gaan ek eers my twee stuiwers in die kollektebordjie gooi.

Die grootste dilemma wat ek het met die vraag, is dat ek nie glo in ’n God nie. Ek glo in godsdiens, ja, maar nie in ’n God nie.

Ek put baie vreugde daaruit om soms ’n mis by te woon. Die poësie van rituele is vir my pragtig. Ek is ook deur drie jaar van filosofie-opleiding (wat ek deurgekom het), sonder om ’n beter etiese kode te kry as “hê jou naaste lief soos jouself”. Ek het grootgeword in ’n Christenhuis en daarom dink ek steeds dis baie cool dat iemand ’n godsdiens kon uitdink waar die Grootbaas kan sê: “Ag, chill man, ek sal worry oor die offerandes, gaan hê mekaar lief en doen goed aan ander.” Dis eintlik ’n moerse idee.

Ek glo dat die mens God geskep het na ’n eie beeld. God kan dus vredeliewend wees en liefdevol, of God kan gays haat, seks buite die huwelik verdoem, vir vroue sê hulle moet onderdanig wees ... God kan egter ook liberaal wees en demokrasie najaag, die omgewing probeer oppas en arm mense se nood probeer verlig.

As ons gaan krap in die Bybel, in die Torah en die Koran, sal ons sien dat God-JHWH-Allah by tye ’n baie vredeliewende ou toppie was. (Vir daardie skrywers was hy HY, met hoofletters.) Dis egter in daardie selfde geskrifte waar ons sien dat sy volgelinge op ander tye gedink het dis cool om meisies te laat verkrag en gays op te dôner en hele stamme met masjiengewere uit wis – oeps swaarde – ‘skuus, ek het vir ’n oomblik gedink aan moderne politici se gode.

Dit gaan nie help om vir God-JHWH-Allah te probeer vra waarom sy-hy-dit toelaat dat ’n spul mans haar-hom-dit se naam so deur modder sleep nie, want vir my lê die antwoord nie in ’n oproep van BOWE af nie.

My slim vriend, Anil, ’n Hindoe, het my ’n slag baie netjies tereggewys toe ek sê ek is ’n ateïs. Hy het Deepak Chopra aangehaal wat gesê het: “I used to be an Atheist, till I found out I was God.”

Dis moeilik vir my om uit te roep: “Ek is God!” Dit klink vir my te veel na selfverheerliking. Ek sal eerder soos Nietzsche se mal man my lantern vat en op die pleine gaan roep: “Bliksems! Ons het God doodgemaak! Ek én julle!”

Tog moet ek my op Chopra beroep om LitNet se vraag te kan beantwoord. As julle my dus hard genoeg druk om ’n vraag aan God te stel, sal ek voor die spieël gaan staan en vra: “Sakkie, wat gaan jy vandag doen om die wêreld ’n beter plek te maak?”

Izak de Vries

My een vraag aan God

"Gaan ek bewus wees van my lewe op aarde na die dood?"

Dirk Nagtegaal 

My een vraag aan God

"God, as jy bestaan, hoekom is jy so geheimsinnig?"

Paul Cilliers

My een vragie aan God

"Het U oorpluisies ingesit voor die Oerknal?"

Kleinboer

My net een vraag aan God:

"Waarom laat jy toe dat mense mekaar (of hulle self) doodmaak?"

die man op straat

My een vraag aan God

"Hoe vra ek 'n vraag aan die Grootste Vraag?"

Johan Rossouw

Een vraag aan God

"God, waarom bestaan jy nie?"

Adamsvy