Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Dié outoppies druk die regte knoppies


Theunis Engelbrecht - 2006-10-09

'n Mens moet altyd met die nodige aandag en ontsag luister na die musiek wat deur outoppies gemaak word, want hulle het al die pad (en bowenal afdwaal- en kronkelpaaie) geloop.

Wanneer daar in een maand nuwe CD's van vier hoogaangeskrewe outoppies is, is dit dus 'n gedenkwaardige gebeurtenis (al sal Praag-Afrikaners nie noodwendig so dink nie, om nie eens te praat van ATKV-Afrikaners en RSG-Afrikaners nie; maar ons los hulle maar vir eers buite die prentjie).

Boonop is Bob Dylan se Modern Times ook intussen uitgereik, maar omdat hierdie aflewering van Sound Bites gekonfigureer is voordat Dylan se CD die rakke getref het, sal ek en my beste vriendin wat altyd saam met my na nuwe plate luister, Jana-Mariana Human, eers in SoundBites 14 ons ekstase daaroor met die res van die ondermaanse ou mensdom in hierdie tranedal kan deel.

Intussen moet die ander outoppies nie oor die hoof gesien word noudat Dylan die toneel weer gaan oorheers nie. Die vier wat vandag aan die beurt kom, is Johnny Cash, Neil Young, Paul Simon en Tom Petty.


CD's van die maand: 1

  • Johnny Cash - American V: A Hundred Highways en
    Johnny Cash - Personal File





    Daar word so lekker ingecash op Johnny Cash dat 'n mens nie moet kla nie. Want kyk: alwéér TWEE CD's deur EEN kunstenaar as CD van die maand. Te wonderlik vir woorde. En boonop is Personal File 'n dubbel-CD, dus is dit as't ware drie CD's deur net één kunstenaar, en een wat boonop al dood is.

    Cash het in die laaste tien jaar van sy lewe so 'n magdom liedjies opgeneem dat daar met sy dood nog sowat 50 onvoltooide opnames in Rick Rubin se ateljee gelê het. Rubin het die beste 12 daarvan met fyn sorg voltooi en nou, drie jaar na Cash se dood, is die langverwagte vyfde aflewering in sy American-reeks, A Hundred Highways, op die rakke.

    Die CD bevat die opnames wat Cash in die laaste paar maande van sy lewe gemaak het. Hy is vyf maande na sy vrou, June Carter, dood. Party van die liedjies op A Hundred Highways is na haar dood opgeneem, en dus kort voor sy eie afsterwe. Cash was al aan 'n rolstoel gekluister en half blind.

    Dit is dus, nodeloos om te sê, 'n pakkende ervaring om hierna te luister, want 'n mens kan hoor oom Johnny staan al as't ware met sy een voet in die graf. Wat jy hoor is 'n treffende en inspirerende afskeid aan die lewe,
    en 'n omarming van die onafwendbare onbekende. Dis egter geensins 'n morbiede treurmare nie, maar aangrypend en in sommige liedjies amper selfs 'n soort van religieuse ervaring. Die manier waarop Cash met die dood as tema werk in liedjies soos “On the 309” (die laaste liedjie wat hy geskryf het), “Further Up on the Road” en “Four Strong Winds” dui op iets wat ek Jana-Mariana nie wil laat probeer artikuleer nie, want vir haar is musiek wat die vangnet van woorde ontglip, nog altyd die kwaaiste en coolste van alle musiek.

    Met sy weergawe van die bekende “If You Could Read My Mind” bewys oom Johnny dat daar niemand is wat 'n cover version kan doen soos wat hy dit doen nie. Uit al die cover versions op die vyf albums in die American-reeks is dit duidelik dat sy weergawe van 'n liedjie 102 persent van die tyd altyd myle beter is as die oorspronklike, sê Jana-Mariana. Sy herinner my ook daaraan dat Cash ook werklik fabelagtige cover versions opgeneem het op sy boksstel Unearthed. (Hier verwys sy nie na die sport boks nie, maar die woord doos sou nie deug en respekvol klink in die geselskap van Johnny Cash nie, meen sy.) Op dié stel is Cash se weergawes van Bob Marley se “Redemption Song”, Simon & Garfunkel se “Bridge over troubled water”, Cat Stevens se Father and son, The Beatles se In my life en Roberta Flack se First time ever I saw your face volgens Jana-Mariana stralende bewyse van haar beskouing. En wie kan nou met Jana-Mariana stry?

    Na sy dood het Cash se familie in sy tuisateljee afgekom op 'n klomp opnames wat hy self daar gemaak het, maar nooit vir iemand gespeel het nie. Die resultaat is te hoor op Personal File, 'n dubbel-CD met 'n magdom liedjies – die eerste skyf is sekulêr en die tweede skyf religieus. Net Cash en sy kitaar. Eerlik. Deurleef. Passievol. Intens.

    Soos ek vroeër al oor Cash opgemerk het: in die laaste jare van sy lewe het hy geklink soos 'n oeroupa wat kreun onder die wavragte wysheid van sy deurleefde grysheid. As jy enigsins geld het en American V: A Hundred Highways in die hande kan kry, moet jy nie die geleentheid en voorreg deur jou vingers laat glip nie, want dan sal die gode jou nie vergewe nie, al het Cash met een voet in die graf gestaan toe dit opgeneem is. Soos gesê, is dit juis dit wat hierdie CD 'n onmisbare ervaring maak. En op Personal File voel dit ook deurgaans of jy direk in aanraking kom met hierdie man se siel.

    Jana-Mariana hou benewens sielsmusiek ook baie van musiek wat haar laat voel of dit haar in aanraking bring met dit wat rym met 'n sanger se siel, en dat sy haar ook van hierdie betrokke gewaarwording bewus geword het ten aanhore van beide A Hundred Highways en Personal File. So, wat meer kan 'n mens vra? Dit klink na hemel op aarde.


CD van die maand: 2


  • Neil Young: Living with War

    Ek en Jana-Mariana is albei versot op Neil Young. Sy musiek het bôls, sê sy. Ek stem saam. Living with War is 'n protes-CD gemik teen militarisme, George Bush, oorlogsugtigheid en bloeddorstigheid. En ook mense wat (al die tyd) met oorlog in hul harte leef.

    Al kon Young nie al die clichés systap op hierdie CD nie, vergewe 'n mens hom dit maklik, omdat jy kan hoor die musiek en woorde kom opreg en sonder aansitterigheid diep uit sy hart – soos wat Young nog altyd was. Niks fênsie kak by hom nie. 'n Ou hippie met integriteit (en daar is nie baie van hulle van wie 'n mens dit kan sê nie, sê Jana-Mariana).

    Die hoogtepunt op die CD is die siedende aanval op Bush, “Let's Impeach the President”. Na dese sou ek nie omgegee het om 'n vlieg te wees teen die muur van die FBI-kantoor waarin Young se lêer gehou word nie. 'n Mens kry baie mal mense, en ek is seker die heethoofde sal nie toelaat dat Young se skerp kritiek soos water van 'n eend se rug loop nie. Hierdie liedjie behoort op elke radiostasie gespeel te word en neem onmiddellik sy plek in die galery van klassieke moderne versetliedere in.

    Benewens die Bush-snit is die titelsnit, “Shock and Awe”, “The Restless Consumer”, “After the Garden” en “Roger and Out” van die ander hoogtepunte. Young het van 100 agtergrondsangers gebruik gemaak, en 'n mens voel half jammer dat hulle so sag in die mix gesit is. Jy kan jou net verbeel hoe dit sou klink as die menger daai knoppies oopgedraai het – groots, apokalipties, onheilspelled – maar die drol het nie; hy was seker weer gerook of iets.

    Hoe dit sy, dis vintage Young. Hierdie outoppie verdien 'n goue medalje én 'n standbeeld én dat 'n dorp of 'n lughawe in Amerika na hom vernoem word.


  • Paul Simon: Surprise

    Jana-Mariana sê sy het al reviews van hierdie CD gelees waarin dit vyf sterre kry, en ander waarin dit net een ster kry. Hmmm, interessant, het ons gedink en was dus baie nuuskierig toe dit in Sound Bites se boksie
    beland het.

    Simon is 'n outoppie vir wie beide ek en Jana-Mariana baie respek het. Hy het al wonderbaarlike musiek gemaak en hy is 'n uitstekende liriekskrywer – een wat 'n volbloed-digter is (nie alle liriekskrywer is volbloed-digters nie, herinner Jana-Mariana ons).

    Surprise is 'n gepaste titel vir die CD, want dis nie Simon soos jy hom ken nie. Hy het die hulp van die legendariese elektronieselandskap-meester Brian Eno ingeroep, wat Simon se musiek heeltemal anders laat klink as enigiets wat hy tot dusver gedoen het.

    Met die eerste luisterslag het ek en Jana-Mariana albei gedink, ag nee wat. Maar met die tweede en derde luisterslae het dit meer boeiend geraak. Ons bewonder Simon vir sy avontuurlikheid om iets heeltemal anders te probeer doen, anders as so baie ander outoppies, wat bly vassteek in dieselfde voorspelbare resep. Met al 11 liedjies op Surprise bewys Simon in die eerste plek weer dat hy 'n baie slim en uitstekende liedjieskrywer is. Die elektroniese teksture is subtiel ingeweef en nie oordonderend nie en verleen beslis 'n ander soort edge aan Simon se klank.

    Mense wat twyfel, hoef maar net na die liedjies “Once upon a time there was an ocean” en “That's me” te luister – aandágtig te luister en die woorde mooi te volg. Dan sal die res vanself vloei en sal dit vir jou makliker wees om onder die vel van die ander songs in te kom.

    Die CD wemel van lekker lyne en idees. Soos: "It's a dead end job and you get tired of sitting, it's like a nicotine habit you always think about quitting." Of: "A tear drop consists of electrolytes and salt. The chemistry of crying is not concerned with blame or fault. So, who's that conscience sticking on the sole of my shoe?"

    Die platemaatskappy wat Surprise uitgereik het, het ook pas Paris Hilton s'n uitgereik. Hulle het aan my gesê Simon se CD is nie een van hul prioriteit-uitreikings nie, maar Hilton s'n wel. Ek en Jana-Mariana was sprakeloos.

    Surprise is 'n CD wat lekker op mens groei, en elke keer hoor jy iets wat jy nie die vorige keer gehoor het nie. As ek gedwing sou word om dit 'n gradering te gee, sou ek dit vier sterre gee. Jana-Mariana sê sy sou dit drie gee. Ek staan en val by vier, my dier. Hierdie outoppie verskaf nog baie plesier.

  • Tom Petty: Highway Companion

    Hierdie is 'n goeie CD – lekker songs, stewige produksie deur Jeff Lynne. Petty probeer nie nuwe paadjies ooptrap nie, maar doen dit wat hy doen met oorgawe en integriteit. Jana-Mariana sê dit het haar 'n bietjie lank gevat om byt hieraan te kry, want vir haar begin ou Tom nou 'n bietjie lank in die tand en lam in die pram klink. (Jana-Mariana se metafore is nie myne nie.)

    Hy het nie bôls soos Johnny Cash en Neil Young nie, het Jana-Mariana aanvanklik gesê. Daarna het sy met oorfone na die CD geluister, en nou is sy van mening dat ou Tom die wonderlikste man is – sensitief, 'n dromer, sag, 'n kind van die natuur, 'n onbesmette siel. Dat hy nie jou tipiese rock-breker is nie. Sy is sommer verlief op die man.

    Ondanks al my respek vir Petty, bly ek maar lou oor hierdie album. Toegegee, party songs is super, soos die blues rocker “Saving grace”, waarmee die CD begin, en Damaged by love. Maar vir my begin hy nou helaas ook voorspelbaar raak. Selfs Neil Diamond se 12 Songs is volgens my én Jana-Mariana beter as Highway Companion. Die puriste kan ons maar kruisig. Ek stem saam met Jana-Mariana oor al haar ewaarwordinge, maar desondanks sal ek hierdie CD as 'n teleurstelling beskryf. Hierdie outoppie kort 'n sterk doppie.


Volgende keer: Die jong poppies en die blowjoppies.