Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Artikels | Features > Afrikaans

Tref en trap


Jaco Botha - 2008-05-06

Kyk, ek is mos so half van ’n wannabe komediant. Toe gaan doen ek bietjie navorsing oor wat Afrikaanse mense snaaks vind. Sekerlik die belangrikste ding wat ek uitgevind het, is dat die poepgrap Afrikaners al vir honderde jare laat skater. Of dit nou Suutjiespoepers in Stellenbosch of Spuitpoepers van Springs is, almal geniet die ou klankie van ’n bobaas buikwind. Mense soos Leon Schuster en Willie Esterhuyse verstaan hierdie feit intiem en laat dit vir hulle werk. Selfs ’n windmakerkomediant soos Casper de Vries het ’n stewige sarsie poepgrappe in sy arsenaal (as jy nou verstaan wat ek bedoel).

Maar waar kom hierdie voorliefde dan vandaan?

Soos wat ek die spoor van die poep probeer naspeur, begeef ek my al dieper en dieper in die annale van die Afrikaner.

Ons is mos oorspronklik van Holland, tuiste van die windmeule. Op die skip op pad hiernatoe moes baie Afrikaner-voorsate oorleef op ’n dieet van gedroogde vleis en sousbone. Kombineer dit met die verveling van ’n lang seereis en jy sal verstaan uit watter rigting die wind waai.

“Kaptein, hoe ver is dit NOGGGG?” het baie van hulle uitgeroep, en as die kaptein antwoord: “Ons wag vir die wind”, is hy met "grofgeskut" en etlike lagbuie begroet. Die konsep van die a capella-koor wat ons vandag ken, het ook op hierdie Hollandse skuite ontstaan, maar was eers as ’n kakkapella-koor bekend.

Aan die winderige Kaap was buikspraak ’n gewilde tydverdryf, maar dit is eers met die Groot Trek dat die poep behoorlik tot sy reg gekom het. Met droëperskes, biltong en droëwors as stapelvoedsel, hoe kon dit dan anders? Dit het soms maar benoud gegaan op daardie waens met die laggas wat so by die tente uitborrel. Met die opsukkel teen die Drakensberg uit is die gesegde “skuit-skuit die bult uit” dan ook gemunt.

En so het die Afrikaner dan hoes, poep en horrelpoot voortgeknor deur die geskiedenis – die hele tyd aan’t opbou aan die enorme poep van ons kultuur.

Eugène Marais het digterlik gemymer oor “Hoe koud is die windjie en skraal?” WJ du P Erlank het op sy beurt daai mooi lied “En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef” neergepen. Om nie te vergeet van “Ouma en Oupa sit op die stoep, Oupa gee ’n harde poep” nie.

So het die taal gegroei met woorde soos windgat, spuitpoep, poephol en stofpoepertjie. Bekende spreuke sluit in: “eerste geruik het gaatjie gebruik”; “dis maar net ’n poep in die wind”; of “dis so maklik soos poep in die bad”. My ouma Pietie het altyd oor ’n lekker ou stinke gesê: “Daardie poep kom so reg van die drol af.”

Poep was later so belangrik vir ons dat toe die Britse eerste minister, Harold Macmillan, in 1960 net begin praat van “die winde van verandering”, toe is ons so kwaad, ons breek sommer weg van die Commonwealth en stig ons eie Republiek.

Vandag, ten spyte van die sogenaamde windstilte in die Afrikaanse letterkunde, staan hierdie trotse poepkultuur sterker as ooit vantevore. Ons eet steeds graag biltong, braaivleis, koeksisters en melktert – nie omdat dit juis vir ons so lekker is nie, maar omdat dit ons so lekker laat poep.

Die grootste ondersteuners van Afrikaanse musiek kry mens in plekke soos Van der Bijl en die Oos-Rand, waar dit kwansuis die fabrieke is wat so stink - maar ons weet tog van beter. Dis g’n wonder tifus, tering en diarree voel ook so tuis in daardie geweste nie.

Ten slotte voel ek Koos du Plessis het dit die beste opgesom in daai mooi Afrikaner-anthem van hom: “En eindelik is almal maar net kinders van die wind.”

Ja-nee, ons almal kom van Holland – ons is kinders van die wind.