Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

By die bekendstelling van Andries Bezuidenhout se debuutbundel Retoer (Protea, 2007)


Martjie Bosman - 2008-05-06

Andries Bezuidenhout is reeds bekend – as rocksanger en liriekskrywer, as rubriekskrywer, en ook miskien as sosiologie-navorser. Vanaand is dit egter my voorreg om die digter Andries Bezuidenhout bekend te stel, ’n kant van hom wat u miskien ook so sal verras as wat dit my verras het, en die faset van sy skrywerskap wat, wie weet, die ander kan oorstyg en oorleef.

Soos Bezuidenhout self, is sy debuutbundel Retoer veelkantig, en by hierdie geleentheid kan ek net enkele dinge aanroer wat my met die lees en herlees daarvan getref het en wat dalk vir u die bundel ’n bietjie kan oopmaak. Nie dat Retoer ’n ontoeganklike bundel is nie. Inteendeel. Maar die skynbare eenvoud van Bezuidenhout se styl is bedrieglik, en onder die oppervlak lê, soos die goud van die stad Gomorra wat so ’n belangrike gegewe in die bundel is, heelwat om te ontdek.

Retoer is ’n bundel wat van voor tot agter gelees behoort te word. Kyk ook mooi na die omslag, dan na die inhoudsopgawe en na die verskillende afdelings waarin die gedigte aangebied word: "Spronge", "Reise", "Sodom", "Gomorra" en "Vertrekke". Lees dan die motto: “Wie is die kaptein? Wat gaan ek vir hom sê?” (Ons wag op die kaptein – Elsa Joubert). Aha, sal party van u dink, Bezuidenhout is mos al lankal besig met die kaptein. As mens dan die Bybelse aanhaling gelees het oor die geskiedenis van Lot en die stukkie oor die Slagtersnekopstand (waar Bezuidenhouts ’n groot rol gespeel het), kom jy by die eerste gedig, “Pleidooi”. Dis ’n sleutelgedig wat ek graag bietjie nader wil beskou. Die eerste paar reëls lui:

Dus is jy nou hier,
Kaptein,
met vlamme in jou hande
en ’n kraai op jou skouer …”

Met die lees van hierdie gedig word dit duidelik waarom die motto iets dreigends inhou: die kaptein is nie ’n redder nie, maar eerder ’n soort regter of selfs ’n kaperkaptein met ’n kraai as adjudant of geleigees by wie die spreker ’n pleitskrif wil inlewer. Die “vlamme in jou hande” laat ’n mens ook verstaan waarom daar in die motto van die afdeling na Sodom en Gomorra verwys is. Hierdie stede is mos met vuur en swael vernietig. Hiervandaan af ontvou die res van die bundel as dele van die pleitskrif, as brokke getuienis wat aangebied word ter versagting van die vonnis van die “ons” met wie die spreker hom vereenselwig. Hy sê in die laaste reëls van hierdie gedig:

Al is ons waarskynlik

taamlik
skadelik –

wees ons tog genadig.

Hier word Breyten Breytenbach se woorde “kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig” omgedop. Hieroor later meer.

Wat die inhoud van die klagstaat teen die “ons” is, word nêrens nader gespesifiseer nie. Dit bly vaag, en ons kan slegs uit die aard van die verweer wat aangebied word, aflei dat dit te make het met die blote teenwoordigheid van die “ons” hier aan die suidpunt van Afrika, mense wat gedink het hulle gaan net tydelik hier bly, maar so half sonder vaste bedoelings en toevallig al verder die binneland ingetrek het in die “rigting van water en gras.// So loop ons aanhoudend/ so hou ons aan loop” (“Wingerdranke groei”, p 27).

Wie die “ons” is, word wel later aangedui in die gedig “Ons” (p 35): dié geslag wat nie die Du Plooys van Soetmelksvlei geken het nie, wat nie jammer voel nie, wat nie maak of hulle die land verander het nie, maar wel diegene is “wat in Angola en in Wimpy Bars moes vrek”.

In hierdie gedig word dit reeds duidelik dat Bezuidenhout stem gee aan ’n geslag wat nie baie gehoor word nie, die jongstes van dié wat nog diensplig gedoen het, die laaste ontnugterde “deelnemers" aan die instandhouding van die vorige bewind. ’n Losgeslane geslag, wil dit lyk in die gedig “Ons”.

Maar ook nie heeltemal losgeslaan nie. Die talle gedigte oor momente uit die geskiedenis van Suid-Afrika (die agt gedigte van die reeks “Retoer”, byvoorbeeld, en “Vernichtungsbefehl”) dui op ’n digter met ’n historiese bewussyn. Gedigte soos “Ons ry iewers naby Ottersfontein verby” en “Afrika se wit kinders” dui op ’n verbondenheid aan familie en vriende, terwyl die twee afdelings “Sodom” en “Gomorra” eintlik ’n ondersoek is na die verbondenheid aan plekke.

Daarby is Bezuidenhout se poësie ook stewig veranker in die Afrikaanse letterkunde. Daardie verwysing na Breytenbach waarsku die leser dat hierdie digter heeltemal bewus is van die tradisie waarbinne hy skryf en dat hy sy eiesoortige antwoord daarop gaan gee. Hy verwys nie, soos talle van sy generasiegenote, by voorkeur na buitelandse skrywers nie. Hier vind jy aanhalings uit en inspelings op Totius se Trekkerswee, Toon van den Heever se “In die Hoëveld”, NP van Wyk Louw en DJ Opperman, Karel Schoeman, en natuurlik Elsa Joubert. Die motto’s is oorwegend afkomstig uit die lirieke van Afrikaanse sangers en Afrikaanse gedigte. Van die treffendste inspelings is dié op “Die towenares” van Eugène N Marais in die droewige “Probeer meestal vergeet”, met die frases “Bedags hoor sy nie meer die spreeus/ se gekwetter … nie”; “Sy ruik nie meer die aroma van/ gemaalde koffiebone … nie” en “Wanneer dit donker word/ kan sy nie meer na krieke luister nie”; en as die spreker sê: “Nou soek sy na woorde”, weet ons dat die stem van die storieverteller vir die banneling/emigrant in Vancouver stil geword het. Teen hierdie agtergrond is dit nie vergesog om van die oproep van getuienis en die uitspeel van taferele uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis van Retoer te praat as ’n soort eietydse Die dieper reg nie.
Maar met ’n verskil: die mense, die landskap is hier nie verhewe of mooi nie, eerder banaal, gestroop. Huislike tonele, stadstonele en landskappe sonder veel maklik herkenbare skoonheid word hier aangebied, soos in die lakonieke slot van “Brixton, Johannesburg”:

Ons skrik as ’n rukwind plathand
teen ’n dakplaat en die agterdeur klap.
Ag, nou ja, sê jy,
ons het nou wel nie ’n uitsig nie,
maar ons het reception.

Bezuidenhout skryf nie juis oor die meer gebruiklike poëtiese temas van liefde en verlatenheid nie. Hy skryf oor gewone mense in alledaagse situasies en oor die vraagstukke waarmee baie van ons tans spook, soos in die gedig “Plein”:

As dit dan eendag
tog daarop neerkom
sal ons vlug. Intussen
sit Lot en sy vrou
in ’n verkeersknoop vas –
noord of suid, met dié twee stede
is dit maar om ’t ewe.

Die leser sou kon vra: Maar is dit kuns? Lyk poësie dan so? So sonder mooi beeldspraak en rym en metriese patrone? Of moet ons die poëtiese dalk ook soek in die hegte struktuur van die bundel as geheel en in die uitgebreide metaforiek wat deur die “wag op die kaptein” gevorm word? Daaroor sal seker nog heelwat gesels word.

In die laaste afdeling, “Vertrekke”, word die kaptein weer aangespreek deur die pleitbesorger. Hy sê:

Ek is moeg
om hier agter woorde
te waak
vir jou, Kaptein,
jy en jou kraai
en jou implemente
van oordeel en wraak.

en ’n bietjie later, met woorde wat klink of dit uit vanoggend se koerant kom en tog ook ’n bietjie na Van Wyk Louw:

Miskien langs die pad
sal ek weer kniel
met jou loop teen my skedel,
miskien in ’n winkelsentrum
tussen die geweer
en die kassier beland
met lood deur my kop,
of dalk ’n mes teen my keel,
’n bottelskerf,
’n strykyster,
kookwater –
alles so

asemrowend

pateties

en doodgewoon.

Word Sodom en Gomorra uiteindelik vernietig? Lees die bundel en besluit self!

Martjie Bosman
20 Februarie 2008