Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Ook mens


Sebastiaan Nouwen - 2008-04-30

Hy was die laaste van vyf viewings.

“Are you English or Afrikaans?”

“Afrikaans.”

“My naam is MJ. Ek is 25 jaar oud. Geskeer. Besny. 16 cm onder. FBM is my spesialiteit. Ek doen dinge 'n bietjie anders as die ander boys.”

Sy presentation was selfversekerd. Uitdagend en uitnodigend.

Hy is so 1,8 m lank. Skraal, maar macho. Die donkerbruin hare is in 'n moderne styl gesny en gejel. Sy donker oë vonkel en daar speel ʼn vriendelike glimlag om sy mondhoeke. Van die vyf viewings was hy beslis die aantreklikste … so 'n amperse Tom Cruise.

Die uur was intens. Sonder haas. Hy gesels so 'n bietjie aan die begin en dan is dit asof hy totaal verlore raak in sy spel. Soos ʼn kind op die strand vorm hy die hoop sand met verwondering en toegewydheid asof dit al is wat op die oomblik bestaan. Hy herskep dit tot 'n sagte lyf. Daarna kieliestreel hy die rugkant asof hy met verwondering 'n roos met dou in die vroeë oggend aanraak. Sy geslag laat hy doelbewus, maar baie subtiel, nou en dan vir 'n sekonde of wat iewers kontak maak, wetende dat dit vorm gee. Dan gaan lê hy, asof soos die Man aan die kruis, met sy hele liggaam – sonder enige reserwe - oor sy skepping. ʼn Fosforgloed versprei van die een liggaam na die ander. Eers baie later het hy die ander se geslag terloops begin aanraak. Dit gestreel. Geterg ... totdat uit die sagte broos sand ʼn ligtoring verrys.

Het die Pottebakker dalk hierdie deel van die anatomie ook laaste geskep? Of is dit eerste geskep en toe die mens daarrondom? Snaaks dat 'n mens in sulke oomblikke ervaar dat die grens tussen die skynbaar banale en die sakrale een word. Ander kere weer, hoe 'n mens in die mees sakrale ook plek sien vir die skynbaar banale.

Juniemaand is altyd 'n moeilike maand. Die bookings is min, maar hy sê dit sonder om te skimp vir 'n groter fooi. In hierdie job, sê hy, is 'n mens maar uitgelewer. Party van die kliënte is vol stront. Jy gee jou beste en jy doen wat hulle vra, want jy hoop dit is 'n comeback. Maar sommige kakke wil nie betaal nie. Glo nie tevrede nie. Het iets anders verwag. Die shot by die anders ouens is beter. En al sulke stront. Dit is soos by die bar waar hy gewerk het. Die ouens suip die helfte van die glas uit en dan sê hulle skielik dit was nie reg gemeng nie, of daar’s fout met die drank. Deesdae vra hy eers die geld voordat hy begin. Hy het nog nooit so baie van mense geleer as in hierdie job nie. Hy vertel dat hy voorheen ʼn besigheid gehad het, maar hy het bankrot gespeel. Dié dag toe hulle sy kar kom haal het, het hy amper geflip.

In Julie vertel hy van sy suster wat nie ver daarvandaan bly nie. Maar hy het nie eintlik kontak met haar nie. Hy het nog 'n broer, maar hy weet glad nie waar dié woon nie. Hy het hom jare laas gesien. Op sy ma se begrafnis. Sy is so sewe jaar gelde na n lang siekbed oorlede. Keelkanker gehad. Sy stem verraai ʼn effense bewing met die laaste mededeling. So terloops, as 'n afterthought, noem hy dat hy die swartskaap in die gesin was.

Die 1ste Augustus kom daar 'n sms: "New adress: Call me." Hy en die baas van die agentskap het kak gehad. Hy het nou sy eie plek. Hy weet nie of hy dit op sy eie gaan maak nie. Die woonstel is leeg. Daar is net die uiters noodsaaklike vir oorlewing – 'n dubbelbed en ʼn wasmasjien vir die handdoeke. Hy maak verskoning dat dit so karig lyk, want hy weet dit is nie goed vir sy ryk klandisie nie. Hulle hou van ʼn plek wat upmarket is. Tog glinster sy oë meer as die vorige maand.

September. Hy het 'n televisie aangeskaf – party van die kliënte wil weet of daar 'n TV is as hulle 'n booking maak. Maar, sê hy, die dae en nagte is ontsettend lank. Hy kan nie ver van die woonstel af gaan nie, want partykeer wil iemand binne tien minute 'n draai kom maak. Hy kan nie bekostig om 'n booking te mis nie, anders gaan die kliënt dalk na 'n ander ou toe en kom nie weer terug nie. Van Maandag tot Sondag is hy op die job. Die geheim van sukses in hierdie job is dat jy altyd beskikbaar moet wees. Daar lê 'n sponsmatras voor die TV. Hy lê maar daar en TV kyk. Hy kyk altyd nuus, want hy moet op hoogte wees van wat daar buite gebeur. Vroegoggend stap hy kafee toe en koop ʼn koerant, want hy wil informed bly. Eintlik wil hy net seker maak dat sy advert in die koerant is. Dan kyk hy sommer of daar nuwe M2M adverts is. Dit is ʼn harde wêreld hierdie. Nuwelinge probeer in die mark kom met goedkoper dienste. Maar hulle hou gewoonlik net so 'n maand of wat. Hulle het hom ook aan die begin gebel en gedreig. Die koek is immers ook net so groot.

Oktober, die mooiste, mooiste maand. Op ʼn tafel staan drie glaspotte met reuse-bosse gemengde blomme. Dit is beslis nie die soort wat jy langs die straat of by die kafee op die hoek koop nie. Hy verjaar nie. Hy sê die mense het seker gedink hy is mal toe hy met die drie bosse blomme wat voor by sy leerbaadjie ingesteek was, op sy motorfiets deur die strate ry. Hy het in die winkelsentrum geloop en toe besluit hy fok die woonstelhuur, hy gaan vir hom blomme koop. Hy hoop hy kry 'n ekstra booking of twee. Sy ma het in Oktober verjaar.

ʼn Maand later lyk die woonstel heeltemal anders. Hy het iewers twee antieke kassies gekoop. Bo-op staan twee portrette met familiefoto's van hulle gesin toe hulle nog klein was. Op een van die foto's is daar vier kinders saam met Pa en Ma. Teen die muur hang drie skilderye. Sy ma, sê hy, was ʼn skilder. Hy het dit gevat toe sy dood is. Hy het dit iewers gestoor. Hy is bly hy het nou sy eie plek om dit te kan ophang. Daar is weer so ʼn effense bewing in sy stem.

Desember is ook ʼn stil maand. Die mense is met vakansie. Baie is weg en kan nie sommer op pad werk toe 'n draai maak nie. Die ouens wat by die huis is, kan nie net iewers heen verdwyn nie. Die meeste van sy kliënte is getroud. Hy het sy pa probeer bel, maar hy weet nie of hy nog dieselfde nommer het nie. Hy weet nog nie wat hy Kersdag sal doen nie. Miskien is daar 'n booking of twee van iemand wat dalk verveeld is, wat alleen is.

Januarie is hy laat. Hy sê hy is jammer. Dit gebeur nooit. Maar hy was by iemand in die hospitaal. Dit is iemand van die vorige agentskap waar hy gewerk het. Hy weet nie of die ou dit gaan maak nie. Hy lyk bedeesd, maar die massering is puik.

Die volgende dag bel hy.

“Is jy nog is nie stad?”

“Ja.”

“Wil jy nie gou 'n draai kom maak nie?”

“Uhh …”

“Asseblief!”

Dit is die eerste keer wat hy so ʼn halwe smeking in sy stem het.

Sy oë is rooi en waterig soos iemand wat onder die invloed is. Maar hy ruik nie na drank nie. Hy was heelnag by die hospitaal.

“Hy’s dood. Die dokter het gevra of ek sy mense sal laat weet. Hy het my naam by opname as naasbestaande opgegee. Ons het so drie maande saam gewerk. Ek weet nie of sy ouers sal opkom Jo'burg toe en of ek sal moet reël dat sy lyk Bloemfontein toe vervoer moet word nie. Hy het my eenkeer so vinnig vertel dat hy ʼn ryk boer is. Maar ek is nie seker nie, want hier lieg ons almal baie. Sy sisteem het net eenvoudig ingegee.”

Stilte.

“Fok! Hy is die bliksem wat altyd vir ons gesê het om versigtig te wees.”

Dan begin sy skouers te ruk. Sy vingers dring diep in die rugspiere in wat hy normaalweg strelend aanraak. Net die materiaal keer dat daar wonde by sit.

Hoer en egbreker ontmoet mekaar. Sakraal banaal. Banaal sakraal. Wat kom eerste? Wat's laaste? Of is dit een en dieselfde ding? Toe die greep verslap, sê hy dankie vir die vashou.

Dit is 'n reënerige Februarie-oggend. Hy is op pad kafee toe om die koerant te gaan koop. Verkreukelde nat plakkate met lopende trane klou aan die lamppale vas: LERAAR ERKEN DAT HY GAY IS.

Terug by die woonstel maak hy vir hom 'n koppie stomende koffie en gaan sit in die groot, sagte gemakstoel wat hy die vorige week vir hom aangeskaf het. Hy het die vorige maand goed rand gecash.

Met die oopvou van die koerant herken hy dadelik die foto onder die hoofopskrif.
“My goeie fok!” Hy het skielik bitterlik begin huil ... soos Petrus ... of was dit Thomas ... of dalk Judas? Hy kan nie onthou wie in die Bybel gehuil het nie, want die laaste wat hy uit die Bybel gelees het, was so ʼn week voor sy ma in ʼn koma ingegaan het. Sy ma het vir hom gevra om vir haar Psalm 23 te lees.

Die volgende maand sê hy niks oor die berig nie. Tydsaam, sorgsaam, het hy met oorgawe gespeel totdat sy kunswerk hom met druppels vernis beloon het. Hy het gelukkig gelyk soos iemand wat sy taak volbring het.

Dit was net dat toe ons by die deur kom ... By die deur het hy vasgesteek, omgedraai en met 'n ligte bewing in sy stem gevra: “Jy ken nie dalk my pa nie?”