Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wyndagboek

Groot wynmakietie op Stellenbosch om die draai


Johann H Crafford - 2008-04-22

Dit is tyd vir alle wynliefhebbers om hul vere reg te skud en koers te kies na die Boland vir die jaar se grootste wynopskop, want die Stellenbosch-wynfees vind vanaf 31 Julie tot 3 Augustus plaas by die Paul Roos-sentrum op Stellenbosch. En hierdie jaar se fees beloof ‘n allemintige, pretbelaaide makietie vir almal met ‘n lus vir die lewe en dus vir die uitsonderlike wyne van die Wes-Kaap.

Die Stellenbosch-wynfees vind elke jaar plaas en lok duisende plaaslike en oorsese besoekers wat ‘n wonderlike naweek van wyn uit die boonste rakke kom geniet. Met meer as 500 wyne om te proe, is jy verseker dat jou smaakkliere sal toi-toi van plesier en kan jy ook sommer jou wynversameling aanvul tot volgende jaar se fees. Die fees bied smulpape die geleentheid om insiggewende wynproeë te onderneem, hul gunsteling-wynmakers te ontmoet en smaaklike kossensasies van die land se top sjefs te beproef.

Vanjaar se opwindende program sluit die fees se eerste Wynkenneraand in op 31 Julie, asook modeparades, kaberet-optredes met die parmantige Amanda Strydom, en vele meer prettige aktiwiteite.

En die kinders is nie vergeet nie! Familiedag op Sondag bied genotvolle vermaak vir die jonges terwyl die ouers hulle sintuie streel met Stellenbosch se beste wyne.

Kaartjies vir die wynfees is beskikbaar by Computicket en wissel van R100 tot R350 per persoon. Die eksklusiewe Wynkenneraand se kaartjies kos R250 per persoon, wat die prys van vingerhappies en kosbewyse insluit, en vind plaas van 17h00 tot 21h00.

Maak hierdie ‘n plesierige wegbreeknaweek vir die hele gesin! Uitstekende reispakkette is beskikbaar vanaf alle omliggende gebiede.

Vir meer inligting oor die Stellenbosch-wynfees, skakel (021) 886-4310 of besoek www.wineroute.co.za.

Vir meer inligting oor die verskillende reispakkette, skakel American Express® Travel by (011) 790-0009 of besoek www.americanexpresstravel.co.za.