Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wyndagboek

Allesverloren hou makietie met wyn, kos en musiek


Johann H Crafford - 2008-04-08

Allesverloren-landgoed, die oudste wynlandgoed in die Swartland en alombekend vir sy puik Shiraz en Port, bied oor die naweek van 3–4 Mei ‘n verlustiging van uitsonderlike wyne, egte Swartlandse gasvryheid, verruklike kos en musiek tydens die jaarlikse Riebeekvallei-Olyffees.

Allesverloren – geleë teen die hange van die Kasteelberg tussen Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes – is die ene plesierigheid tydens dié twee pretbelaaide dae en sorg vir hope plattelandse jolyt vir oud en jonk met musiekvermaak en prettighede vir die kleingoed.

Saterdag 3 Mei

Op Saterdag word smullekker brood- en kaasborde met tuisgemaakte lekkernye soos kouevleise, kase, konfyt, slaaie, patees en olyfbroodrolletjies tussen 10h00 en 16h00 bedien teen R100 per persoon. Die brood- en kaasborde moet vooraf bestel en betaal word. Ligte verversings sal ook beskikbaar wees vir diegene wat nie te honger is nie.

Allesverloren se jaarlikse opera-aand op dié aand beloof om al die sintuie te streel met die klanke van die parmantige vroulike sanggroep Da Capo Quartet en ‘n genotvolle driegang Mediterreense ete.

Da Capo Quartet se hoogs begaafde viertal – Hanlee Louw, Pauline du Plessis, Elizabeth Frandsen en Rika Vermeulen – sal gaste vermaak met hul besonderse repertoire wat wissel van opera tot musiek uit Broadway-musiekblyspele en goeie ou jazz van vroeër jare. Die aand begin om 18:00 en kos R150 per persoon.

Sondag 4 Mei

Smul aan ‘n heerlike, ontspanne driegang Bolandse middagete belaai met tradisionele lekkernye op Sondag 4 Mei, met instrumentale musiek wat sorg vir ‘n luilekker atmosfeer. Die middagete begin om 12h00 en kos R125 per persoon vir volwassenes en R65 per persoon vir kinders jonger as twaalf.

Die hoofgeleenthede vind by Allesverloren se pragtige onthaal- en konferensiesentrum plaas.

Vooruitbetaalde besprekings is ‘n moet vir alle geleenthede en etes.

Allesverloren bied oorgenoeg veilige parkering.

Vir besprekings, skakel Anchen by (022) 461-2320 gedurende kantoorure.