Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans

Joan Hambidge gesels met Henning Pieterse oor die bekroonde Duino-elegieë


Henning Pieterse - 2008-04-08

Duino-elegieë
vertaal deur Henning Pieterse
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869191511
Klik hier en koop Duino-elegieë by Kalahari.net


Jou bundel vertalings, Duino-elegieë, is pas bekroon deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is algemeen bekend dat NB-uitgewers nie belang gestel het nie en dat Protea toe wel die boek opgeraap het. Hoe voel jy hieroor?

NB-uitgewers het aanvanklik positief gereageer op die voorlegging van die manuskrip, my toe ses maande aan ’n lyntjie gehou en uiteindelik laat weet dat hulle nie vertalings uitgee nie. Ek het aan hulle gesê dat die besluit uiters kortsigtig is. Nicol Stassen van Protea het onmiddellik die manuskrip laat keur en daarmee begin werk. Uiteraard is ek Protea baie dankbaar vir hulle besluit en moeite.

Jou kennis van Duits, veral ouer Duits, en jou enorme insigte in musiekstrukture speel hier saam, omdat jy geweldig aandag gee aan die musikaliteit van die elegiese vers. Kommentaar?

Ek het gedink dat my Duits redelik vlot is, maar het gou besef dat ek basies van voor af gaan leer hier. Rilke se Duits is – selfs binne sy tydskonteks – “saamgebal” en in ’n verhewe register geskryf wat ek telkens met behulp van verskeie woordeboeke moes dekodeer en “losmaak”. Vanuit die musiek het ek geleer om visueel te luister, om te soek na maatslae en “golfbewegings” wat dalk nie so ooglopend in die digkuns voorkom nie. Dit het weer op ’n foniese vlak gehelp om klankpatrone in die gedigte raak te sien en te hoor, wat weer die keuses tussen dikwels talle sinonieme vergemaklik het. Op ’n makrovlak het ek die tien gedigte as dele of bewegings van ’n reuse-simfonie begin lees, wat miskien ook gehelp het om interne ritmes te ontsluit. Iemand het lank terug gesê dat Gustav Mahler eintlik net een simfonie geskryf het en dit toe in nege verdere variasies herhaal het (Mahler het tien simfonieë geskryf, die laaste een onvoltooid). Hierdie siening het my gehelp om die onderlinge samehang tussen die tien gedigte te “hoor”. As ’n mens in gedagte hou dat Rilke tien jaar op hierdie tien gedigte gebroei het, hou so ’n siening dalk water, maar dit is aan die einde van die dag net ’n subjektiewe opinie (dink dalk ook aan Walt Whitman se talle verwerkings en bywerkings van Leaves of Grass). Ek het elke gedig oor en oor hardop gelees om te luister of die musikaliteit in die vertaling – wat in die assonansies, alliterasies en ritme en metrum opgesluit lê, asook in die golfbewegings binne en tussen die gedigte – aansluit by Rilke se oorspronklike teks en of ek die oorspronklike nie ’n onreg aandoen nie.

Rilke het 'n besondere invloed gehad op Van Wyk Louw en Eybers. En sy gedigte keer weer terug in Die burg van hertog Bloubaard in resente gedigte van Cas Vos. Sy invloed op Wilma Stockenström is eweneens daar. Hoekom sou dit wees?

Rilke word wyd beskou as een van die voorste liriese digters van die twintigste eeu en dit is vir my net logies dat eggo’s van so ’n groot digter gaan neerslag vind by digters wat hom lees en ontvanklik is vir sy stem. Kyk maar na die stempel wat ’n groot digter soos Breyten Breytenbach oor bykans vier dekades op tientalle digters nagelaat het en steeds nalaat. Dit is opvallend dat dit die “latere Rilke” is wat sy inslag vind by die gemelde digters, nie die jong Rilke wat dikwels redelik naïewe gedigte geskryf het nie.

Jy maak 'n relevante stelling dat jou vertaling weifel tussen getrouheid en vryheid. Wat presies bedoel jy hiermee?

As vertaler probeer jy in die eerste instansie so na as moontlik aan die oorspronklike teks kom met jou vertaling – jy probeer so getrou as moontlik aan elke faset van die teks bly. Terselfdertyd probeer jy om die teks ook in ’n kontemporêre konteks en idioom weer te gee – die “pool van vryheid” waarna jy beweeg. En sodra jy na hierdie pool neig, skop die twyfel in: Is ek nog getrou aan die oorspronklike? Verraai ek nie die oorspronklike op enige wyse nie? Vertaling is uiteindelik net grade van verraad – daarom die ou gesegde “traduttore, traditore” (“vertaler, verrraaier”). As die vertaler tot die besef kom dat hy/sy net ‘n benadering (“approximation”) van die oorspronklike teks gaan weergee, skop vertwyfeling oor bykans elke aspek van die proses in, ook omdat vertaling net so ’n subjektiewe aangeleentheid as kreatiewe skryf self is.

Jy beskryf die verse as selfterapie. Dit is die tyd van psigoanalise en Freud. Hoe sien jy die verbintenis tussen hierdie gedigte en die Freudiaanse kelder van die onbewuste? En dat hy teen psigoanalise gewaarsku is deur Lou Andreas-Salomé?

Hierdie gedigte het ontstaan ná ’n redelik lang skrywersdroogte en in ’n tyd waarin Rilke geteister is deur depressie en selfvertwyfeling. Die Duineser Elegien word bykans uit die onbewuste uit gelanseer tot tussen die engelereie in (soos wat gedigte dikwels die geneigdheid het om te doen), as ’n modus van ontsnapping aan die aardse. Dit was ’n kreatiewe uitbarsting waartydens groot dele van die elegieë in die bestek van ’n paar dae geskryf is. Die “verlossende” aspek van hierdie werkswyse was sekerlik vir Rilke terapeuties. Sy vrou, Clara, het psigoanalise voorgestel, maar die skryf van poësie, as selfterapie, was die pad wat Rilke uiteindelik gevolg het – die pad wat Lou Andreas-Salomé vir hom voorgestel het. Lou was heel waarskynlik die vrou wat Rilke die beste geken het en sy het besef dat hy die sleutel tot “genesing” binne hom dra en homself via poësie sal kan genees, in plaas daarvan om jare op die terapie-sofa deur te bring.

Hoe sien jy haar verhouding met ander beroemdes van die tyd?

Lou Andreas-Salomé (1861-1937) was ’n briljante, fassinerende vrou wat van jongs af in filosofie, teologie, kuns en letterkunde belang gestel het en haar nie veel aan sosiale mores of genderstereotipering gesteur het nie. Sy was romanskrywer, essayis en opgeleide psigoanalis. Lou het vanuit haar ondersoekende geaardheid verhoudings - platonies of andersins – met verskeie groot denkers, kunstenaars en skrywers van haar tyd gehad en het ook met die wysheid van nabetragting dikwels oor hulle geskryf. Sy was in ’n verhouding betrokke met Friedrich Nietzsche, maar wys sy huweliksaanbod van die hand in 1882; sy skryf insiggewend oor die vrouefigure in Henrik Ibsen se dramas; was vriendin van die grafiese kunstenaar Käthe Kollwitz, van die dramaturg Frank Wedekind, van die skrywer Gerhart Hauptmann en sy vrou, Marie, student van en vriendin van Freud en sy dogter, Anna, en vriendin van Viktor Tausk, die briljante maar versteurde kollega van Freud, om maar enkeles te noem. Haar verhouding met Rilke – eers as minnares en later as mentor, kritikus en vriendin – was volgens alle aanduidings van haar intensiefste betrokkenheid by ’n kreatiewe gees.

“Alhoewel daar dan nie sprake is van ‘n noukeurige navolging van die klassieke metrum nie, verskaf die dikwels voorkomende daktiliese metrum (as een van die vormgewende beginsels) tog die ‘gevoel’ dat mens hier met ‘n klassieke elegie te make het. Die metriese opbou van elke afsonderlike reël word ten slotte irrelevant, aangesien die struktuur van elke reël ook deur sy sintaktiese verbande met voorafgaande en daaropvolgende reëls bepaal word” (p 15), skryf jy. Wil jy hierop uitbrei?

’n Mens kan sekerlik al die Duino-elegieë reël vir reël metries skandeer - iets wat ek nie probeer doen het nie. Ek het wel die ritme probeer naboots in Afrikaans, maar het gou besef dat ek dit nie sal kan volhou nie. Die ritme en metrum word beïnvloed deur byvoorbeeld enjambement en woordorde en om dit in Afrikaans na te boots, is ’n onbegonne taak. In die plek daarvan het ek die “elegiese gevoel” – ’n konsep wat baie moeilik omskryfbaar is! – probeer naboots. Hierdie “gevoel” kan deels toegeskryf word aan die daktiliese metrum (een van die “kenmerke” van die “klassieke elegie”), ja, maar die tematiek – die verganklikheid van mens en dier, die meesleurende besinning daaroor en hoe om hierdie sentrale tematiek op ’n geloofwaardige, verstaanbare wyse aan die leser oor te dra – was vir my uiteindelik van meer belang as metriese kwessies. Ek wou die “poetry of idea […] the metaphors [Rilke] makes out of the very edge and absence of meaning, the intense metaphysical quality of his vision” (Gass 2000: 89) so noukeurig as moontlik weergee in vertaalde vorm.

Wat beteken die volgende vir jou in bundelverband?

Nêrens, geliefde, sal daar wêreld wees, as binne nie (p 69).

Die tydsgees verskaf vir homself ruim voorraadskure vol krag,
vormloos (p 69).

Oorvloedige bestaan ontspring in my hart (p 83).

"Nêrens geliefde …" Hierdie is een van die mees sentrale reëls van die Elegieë. Dit kom uit die sewende elegie, waarin die konsep van “Verwandlung” (“verandering, verinnerliking, vergeesteliking”) uiteengesit word. Hierdie konsep kan soos volg verduidelik word: die digter probeer om die objekte/dinge en ervarings van ons bestaan na ons innerlike lewe oor te plaas deur “verinnerliking”, waardeur hierdie dinge, ervarings en die aarde self ’n nuwe bestaan binne ons belewing kry, binne ons “herskep” en aan die verganklikheid ontruk word. Lewe en werklikheid bestaan, volgens hierdie siening, slegs in die innerlike belewenis van die mens.

"Die tydsgees verskaf …" Hierdie reël kom ook uit die sewende elegie en sluit aan by die bespreking hier bo: Volgens Rilke se siening kan slegs die beleefbare dinge, soos kunswerke, katedrale, tempels, die sfinks, ens, verinnerlik word, nie produkte van die moderne tegnologie, wat “vormloos” is, nie. Hierdie “beleefbare dinge” het reeds onsigbaar geword en is opgeneem in die innerlike ruimte van belewing en hul “gestalte”, in teenstelling tot die vormloosheid van die produkte van die moderne tegnologie; is die vorm waarin hierdie onsigbaarheid waargeneem kan word (kyk ook Bronzwaer 1978: 116-117). (Lekker esoteries, nè!) Die “tydsgees” hier kan opgevat word as die Eerste Wêreldoorlog en die nagevolge daarvan, asook die tegnologie van daardie tydperk.

"Oorvloedige bestaan …" Hierde is die slotreël van die negende elegie, waarin die konsep “Verwandlung” verder uitgewerk word. Die voorafgaande reëls lui: “Kyk, ek leef. Waarvan? Nóg kindsdae nóg toekoms/ word minder …” Bestaan, wees, en ook geluk, het hul oorsprong in die binneruimte van die mens, in sy hart, hier en nou, en is nie te vinde in of afhanklik van “eksterne” dinge of tye nie.

Tussen 20 en 21 Januarie 1912, toe Rilke die prinses Marie von Thurn und Taxis-Hohenlohe by die Duino-kasteel besoek het, het hierdie gedigte hul beslag gekry. Dit is dan – volgens verskillende kommentare – geskryf tydens ‘n moeilike fase in die digter se lewe. Tydens ‘n wandeling langs die see het die volgende woorde in hom opgekom: "Wer, wenn ich schriee, hörte mich denn aus der Engel Ordnungen?" Wil jy verder kommentaar lewer hierop en hoe hy van 'n middelmatige digter getransformeer het tot 'n digter van internasionale statuur? En oor sy raad aan 'n jong digter?

Kyk ook my antwoord op die vyfde vraag. Die Elegieë het ontstaan ná ’n lang skrywersdroogte en tydperke van depressie en siekte. Reeds met Das Buch der Bilder [Die boek van beelde] (1902) en Neue Gedichte [Nuwe gedigte] (1907) bewys Rilke hom as wêreldklas digter. Die sprong wat hy gemaak het van ’n middelmatige digter tot een van internasionale statuur, kan toegeskryf word aan ’n paar faktore: lewenservaring (veral saam met Lou), kritiek van Lou en dan veral van die beeldhouer Auguste Rodin, wie se sekretaris Rilke in 1905 was. Rodin het ’n eenvoudige leuse vir sukses gehad: “travailler toujours” (“werk altyd”), en by hom sou Rilke ’n buitengewoon intensiewe werkswyse geleer het. Hy het geleer om nie bloot op die muse te sit en wag nie, maar om daagliks aktief te skryf en deur skryf self verder te leer. In hierdie jare reis hy ook uitgebreid en onderneem lesingtoere. In Die Aufzeichnungen des Malte Laurids Brigge beskryf Rilke die totstandkoming van ’n gedig: dit is nie goed genoeg om slegs te leef nie; die digter moet verskeie intense ervarings beleef (dood van ’n geliefde, geboorte, ens) en daaruit mag ’n woord of beeld dalk ontstaan wat dalk (let op die konjunktief) mag lei tot ’n gedig. Rilke het deur harde werk, intens leef en die lesse wat hy daaruit geleer het, gegroei tot die digter van die Duineser Elegien en die sublieme Sonnette an Orpheus (wat eintlik saam met die Elegien gelees behoort te word). “Bottom line”: skryf, en goeie skryf, is harde werk.

'n Bekende Afrikaans digter het beweer sy gaan nie jou vertaling lees nie, omdat Rilke onvertaalbaar is. Wat dink jy hiervan?

Sy is sekerlik geregtig op haar opinie (in die gevleuelde woorde van Dirty Harry: “Opinions are like assholes, everybody has one”), maar ek vind dit jammer dat sy vooruit oordeel, sonder om eers te lees. Is dit te veel gevra om die teks te lees en dan ’n oordeel te vel? Indien wel, weerhou jou liewers van kommentaar.

Jy verskaf uitgebreide notas vir die leser rondom die persoon Rilke, feite, die geskiedenis en so meer. Dink jy dit is korrek dat 'n vertaling kan verskyn sonder sodanige notas? Daar is 'n skool wat meen dat die vertaling alleen vir sigself moet praat.

Dit is ’n subjektiewe kwessie. Ja, ideaal gesproke moet ’n vertaling vir sigself kan praat. In die geval van die Duineser Elegien, wat moeilike, esoteriese poësie is, in dieselfde liga as The Waste Land en Four Quartets van Eliot of “Groot ode” van Van Wyk Louw, was ek van mening dat die leser hopelik baat kan vind by die aantekeninge, asook by ’n vertaalde brief van Rilke waarin hy sy eie lesing van en kommentaar oor die Elegien verskaf. Ek het aanvanklik ’n Engelse vertaling van die Duineser Elegien gelees met geen notas by nie en ek het geen idee gehad waaroor die gedigte handel nie (ek praat uiteraard nie van ’n eenduidige betekenis of lesing nie). Nie dat ek aanvanklik veel van ’n idee gehad het met die oorspronklike Duits nie …

Wanneer verskyn daar weer 'n bundel van jou?

Ek weet nie.



Geraadpleegde bronne

Bronzwaer, WJM. 1978. Rainer Maria Rilke. De Elegieën van Duino. 1912/1922. Een Duits-Nederlandse uitgave van de Duineser Elegien, vertaald, ingeleid en van aantekeningen voorzien door W.J.M. Bronzwaer. Amsterdam: Ambo.

Gass, William H. 2000. Reading Rilke: Reflections on the problems of translation. New York: Alfred A Knopf.

Pieterse, HJ. 2007. Duineser Elegien. Duino-elegieë. Rainer Maria Rilke. Uit die Duits vertaal, ingelei en van aantekeninge voorsien deur H.J. Pieterse. Pretoria: Protea Boekhuis.

Lees die resensie in Die Volksblad.