Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

ʼn Tsoenami van bloed en Afrikaans


Theunis Engelbrecht - 2008-04-08

Luisterpaneel: Alice Ellis, Yvette de Wet, Tom Blom, Beyers Eybers en Fritz Brits

Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Vandag, vir die eerste keer in Sound Bites se geskiedenis, het die agbare lede van ons luisterpaneel daarop aangedring dat dit ʼn eksklusief Afrikaanse extravaganza moet wees. Hulle sê daar is so baie goeie nuwe Afrikaanse musiek dat hulle met alle mag en mening hul eie Afrikaanse Top 10 vir LitNet wou saamstel uit die duisende Afrikaanse CD’s op die mark – ongeag die feit dat daar pas fantastiese nuwe CD’s van onder andere Muse, Sheryl Crow, kd lang, Goldfrapp, Nick Cave & The Bad Seeds, REM, The Rolling Stones en Portishead op die mark is. Wie wil na Afrikaans luister as jy na dié ouens kan luister?

Maar nee, wag. Láát hierdie internasionale grootkokkedore ʼn bietjie opsy staan vir Afrikaans – hulle kan almal nog ʼn bietjie wag en eers in die volgende aflewering van Sound Bites aan die beurt kom, sê Tom Blom gesaghebbend. Yvette de Wet, die ou mediaslet, is egter skepties, want sy sal eerder verkies om na Nick Cave en Mick Jagger te luister as na al die Afrikaanse Bobby’s en Robbies en Nadines en Nedines en Nodines, maar toe sy verseker is dat sy nie gevra sal word om kritiese uitlatings te maak oor CD’s van Kurt Darren, Jurie Els, Nicholis Louw, Patricia Lewis en Melindi Charlé nie, was sy inskiklik.

Beyers Eybers en Fritz Brits moes helaas aanvanklik met drank en dagga omgekoop word deur Tom om hulle diensbaar te stel ter wille van taal en kultuur in plaas van ruk en rol en postcrackle-pop en trip-hop, maar toe almal eers op die Afrikaanse Top 10-wa was, was daar geen keer nie. Die notulehouer het amper van daai wa afgedonder, so begeesterd het die intellektuele reuse op ons paneel geraak.

Geniet die trippie, taalgenote en plesiervennote. (Moet egter nie bekommerd wees nie, stel die eerbiedwaardige lede van ons paneel gerus: hul Afrikaanse Top 10 stem glad nie ooreen met kykNET se vreesaanjaende DKNT nie.) Dit is dus nie Dana Winner se Platinum Collection wat in die eerste plek is nie, maar wel die absoluut fenomenale, briljante nuwe CD van een van ons mees spesiale Afrikaanse kunstenaars. Roffel die tromme, hef op die horings, blaas die trompette en skud die tamboeryne vir nommer een:

Koos Kombuis
Bloedrivier

Hierdie is een van die beste Afrikaanse CD’s ooit, indien nie die heel beste nie, het die ingeligte en nugter lede van ons luisterpaneel bevind. Bloedrivier is ʼn meesterstuk, kort en klaar.

Bloedrivier is ʼn oorweldigende ervaring. Om die volle impak te waardeer is die beste manier om hierna te luister, kliphard laat in die nag, in een sitting van voor tot agter. Dit het almal op die paneel, insluitend die verloopte sameroeper, totaal weggeblaas. En ʼn mens kan oor en oor daarna luister sonder om moeg te word daarvoor. Elke keer raak dit net beter en lekkerder.

In ʼn tyd waarin Afrikaanse protesmusiek die afgelope jaar of twee ʼn enigsins patetiese bandwagon geword het, wys Kombuis opnuut, en baie oortuigend, wat protesmusiek wérklik is. Dit is nie aangeplak nie. Dit is nie besaai met clichés nie. Dit is nie eenogig of eendimensioneel nie. Die satire is slim en skerp en nie kunsmatig nie. Historiese perspektief word nie saam met die baba se drinkwater uitgegooi nie.

Beyers sê om een of ander rede laat Bloedrivier hom dink aan Neil Young se protesalbum Living With War, wat twee jaar gelede uitgereik is. Almal het gesê as protesalbum tref Living With War jou soos ʼn vuis tussen die oë en blaas dit nuwe lewe in dié genre. Wel, ons is van mening dat Bloedrivier jou nie tref soos ʼn vuis nie, maar soos ʼn voorhamer – en nie net tussen die oë nie, maar ook die ore, bene en hart. Kombuis skop dus as’t ware stof in Young se oë. Living with War is ʼn Sondagskoolpartytjie vergeleke met Bloedrivier.

Dit is sy eerlikheid wat Koos Kombuis nog al die jare uitgelig het bo 99 persent van al die miljoene Afrikaanse musiekmakers. Hy is ʼn voorbeeld aan ander kunstenaars dat die belangrikste reël is dat jy aan jouself getrou moet bly, ongeag die verwagtinge van wie ook al. Om ondanks teenstand en aanvalle deur afgunstige oudkollegas (in baie gevalle onder skuilname) steeds jou eie ding te bly doen, op jou eie manier en heeltemal eerlik en sonder pretensie.

ʼn Mens sien daarna uit dat Bloedrivier die mense aan die praat kry. Daar behoort debatte en diskoerse oor hierdie album gevoer te word op die meningsblaaie van koerante en tydskrifte en in radioprogramme. Daar is so baie dinge oor hierdie CD te sê dat ʼn kort resensie soos hierdie nooit reg daaraan kan laat geskied nie. ʼn Mens kan byvoorbeeld net dink hoe dit die polities-korrekte siele onder ons sal ontstig, en dit behoort groot pret af te gee om te hoor hoe hulle mekaar in openbare forums aan die strot gryp.

Dis lekker om Kombuis weer kwaad te hoor. “Reconciliation Day” is loshande die mees bloedstollende versetlied oor misdaad, geweld en politiek tot nog toe in Afrikaans. Die rou woede is tasbaar. Dit is dinamiet. Oor “Die Fokkol Song” het die paneel baie geargumenteer: Yvette en Alice voel dis ʼn oordrewe doemprofesie. Beyers en Tom meen dit is ʼn realistiese profesie. Fritz sê dis hoog tyd dat al hierdie dinge hard en duidelik gesê word. Die sameroeper sê dis ʼn befokte song daai – met die donderende kitare, moerse groot koor wat saamsing, en die trombone en trompette en ander horing- en blaasinstrumente. As Schalk Joubert nie vir hierdie CD benoemings kry vir pryse vir die beste produksieleier en verwerkings nie, eet ons almal op die paneel De la Rey se doodsmasker op.

Die CD is baie slim aanmekaar gesit om dit vir jou soos ʼn trip op ʼn emosionele roller coaster te laat voel. Die woedende, oorweldigende rock-songs word net op die regte oomblikke afgewissel met puik ballades soos “Oumense moenie in die water mors nie”, “Mercy Me”, “Waar is Mandela” en “Matjiesfontein”.

Kombuis se skryfwerk is nog net so goed soos altyd, indien nie nog skerper nie. Luister na ʼn paar uittreksels uit lirieke: "Hulle skiet jou van agter as jy sibbolet sê, hulle skiet jou van agter wat jy ook al sê," sing Kombuis in “Waar is Mandela”. En: "Waarheen moet ek vlug as my land aan die brand is, as daar net broedertwis in al wat koerant is. Hulle veg vir die taal, hulle vrees revolusie. Hulle skryf en baklei vir die beste posisie terwyl die honger spook loop deur Cloetesville en Atlantis … Wat moet ek doen as die land begin vrot. Die boere praat oorlog en van hulle God."

En in “Die einde van die reënboog”: Die Afrikanervolk is leierloos, sy wyse manne almal voos. Breyten het gefokkof en Marthinus is ʼn doos … Daar’s tsoenami’s in die ooste en bomme in Irak. By ons eet almal pap en vleis maar nogtans voel ons kak. Israel is in vlamme, Zimbabwe het niks brood, maar my mense sit en worry oor die taal en oor Dan Roodt."

Hierdie is maar net enkele van die talle treffende woorde op die CD. ʼn Mens het hier immers te doen met die werk van ʼn digter in die ware sin van die woord. Hy kan jou laat lag én huil én dink. Hy laat jou hoop én wanhoop. (Van hoeveel Afrikaanse sangers kan ʼn mens dit sê?)

Daar is nog baie, baie meer te sê oor hierdie CD. Die beste raad wat ons aan lesers kan gee, is om op die omslag hier bo te kliek met jou muis (nee, nie daai een nie) en Bloedriver terstond te koop. Dit is verpligtend. Daar is min albums waarvan ʼn mens kan sê dat dit ʼn ongekwalifiseerde meesterstuk is. Hierdie is een van hulle.


Laurinda Hofmeyr
Reis na die Suide

Na Koos Kombuis is hier bo verwys as ʼn digter in die ware sin van die woord. Luister ʼn mens met groot vreugde na Hofmeyr se derde CD, besef jy opnuut dat die kunstenaars wat dit regkry om ware poësie tot musiek om te toor, dié is wat van die heel beste en avontuurlikste werk lewer in Afrikaans.

Hofmeyr het al die reputasie verwerf as die beste toonsetter van Afrikaanse poësie. Wat sy veral vermag met die poësie van nog ʼn digter in die ware sin van die woord, Breyten Breytenbach, is asembenemend.

Elke liewe snit op die album is ʼn hoogtepunt uit eie reg, maar dit is veral “Die reis” en “ʼn Halwe engel” (albei Breyten-verse) wat uittroon. Hierdie is van die mooiste liefdesliedjies ooit in Afrikaans – net soos “Ek wag in my hart” (ook Breytenbach) op Hofmeyr se vorige CD, Daglig.

Hofmeyr se werk is die enigste Afrikaanse musiek wat ʼn mens as World Music kan klassifiseer, sover ons kennis strek. Onnodig om te sê: Reis na die Suide is briljant. Dit is ʼn album waaroor mens liewers nie te veel wil sê nie: jy wil net almal verplig om dit te koop sodat die musiek ook vir hulle self die praatwerk kan doen. Hierdie is die derde meesterstuk in ʼn ry vir Laurinda Hofmeyr. Kliek NOU met jou muis op die foto’tjie van die omslag hier bo en koop dit dadelik. Dit is absoluut verpligtend. As jy dit nie doen nie, verarm jy jouself emosioneel en geestelik.

Almal op die paneel sê hulle hoop ons hoef nie weer so lank te wag vir Laurinda Hofmeyr se volgende CD nie. En dat haar Breyten-toonsettings ʼn mens laat besef hy is nou maar ten ene male die grootste digter in Afrikaans. En dat ʼn mens hoop dat sy nog baie van sy werk sal toonset.


Laurika Rauch
ʼn Lekker verlang liedjie

Hierdie CD is nou wel nie splinternuut nie en het al verlede jaar verskyn, maar verdien nie net om vermeld te word nie, maar ook om wyd en syd beluister te word deur al wat leef en beef.

Selfvernuwing is altyd een van die grootste uitdagings vir ʼn kunstenaar, en op hierdie CD slaag Rauch daarin om dit weer eens op ʼn baie subtiele manier te doen. “Ek wou nog altyd ʼn kitaar-album gemaak het – verwerkings wat amper soos dié van Cat Stevens, Jim Croce en miskien ʼn vroeë James Taylor klink,” skryf Rauch in die CD-boekie. “Hierdie is dáárdie album – maar eietyds.”

Dit is ʼn klank wat Rauch soos ʼn handskoen pas. Die kitaarwerk is deurgaans fenomenaal en die spelers - Juan Oosthuizen, Louis Britzz en Gideon Botes - oortref hulself. Rauch se stem is soos rooi wyn en raak net al hoe beter hoe ouer sy word – dis ʼn stem wat jou kan raak op plekke waar baie min ander stemme kan. Dit is veral die liedjies van Emile Minnie, soos “Waterval” en “Sê dit”, wat uitstaan, en die nuwe opname van “Winterure” is ook spesiaal. Daarbenewens is daar ook sterk werk deur Chris Barnard en Christopher Torr, en Louis Britzz se “Nothing’s Coming Out” is net so uitstaande.

ʼn Mens hoop Rauch stap verder op die pad wat sy met hierdie CD ingeslaan het. En dat sy meer van Minnie se komposisies sal sing met sulke puik verwerkings soos dié op hierdie nuwe album van haar. Dan gaan sy ons nog sommer lank elke keer hipnotiseer en in die palm van haar hand hê.


Bill Knight
Dorsland

Bill Knight is nie so bekend soos wat hy behoort te wees nie. Hy is ʼn versteekte juweel aan die suidpunt van die Skiereiland. wat nie in die eerste plek liedjies skryf en sing omdat hy graag op TV of op Huisgenoot se voorblad en beroemd wil wees en baie geld wil maak nie. Dis nie waaroor dit vir hom gaan nie. Hy is glad nie jou tipiese egobehepte liedjieskrywer en sanger nie.

Knight is ʼn deurwinterde folk-sanger en –skrywer. Wat jy kry, is hart-en-siel-musiek, eerlik en opreg en onopgesmuk, en pragtige melodieë wat jou hart kan breek.

Dorsland is die derde in ʼn trilogie van uitreikings – die voriges was Kaapse mengsel en Sout. Soos die werk van David Kramer, Radio Kalahari Orkes en Rian Malan is dit ʼn boeiende speurtog na die roots van Afrikaans. (Soos wat die Americana-tendens in Amerika ook is. Sal ons dus Afrikaanse werk in dié kategorie Afrikana kan noem?)

Wat interessant is in Knight se geval is dat hy Engelssprekend is. (David Kramer is Engelssprekend. Rian Malan is Engelssprekend. Bernoldus Niemand was Engelssprekend … en kyk watter ongelooflike bydrae het hulle gelewer tot die Afrikaanse kultuur. Sulke ouens verdien dat ʼn mens jou hoed vir hulle afhaal.)

Knight verdien dit ook. Sy musiek en lirieke is deurtrek van aardsheid en opregtheid en heimwee en skoonheid. (Is daar ʼn mooier liefdesliedjie as “Loving Eyes” op Knight se Kaapse Mengsel-CD?)

Dorsland is die resultaat van die bekoring wat die Noordwes-Kaap en Namibië vir Knight het. Hier is dit beter om homself aan die woord te stel uit sy persverklaring, want uit die perd se bek kry jy ʼn baie goeie idee van wat jy op Dorsland kry: “The countryside is stark, bleak and amazingly beautiful, a Dorsland both physical and spiritual. Born in the Kalahari in Botswana, I learned at an early age to appreciate the subtleties of the Desert, and the simple hospitality and ‘help-mekaar’ of isolated communities. I also developed a fascination for the motley bands of immigrants who crossed the borderland from the south - the Oorlamse, the Namas and the Basters. They were mixed groups of Koi-San, escaped convicts, deserters, Adventurers and absconded Slaves, all driven by a need for freedom and to determine their own destinies. They formed themselves into Kommando bands, elected a democratic Leader, the “Kaptein” from which we get that familiar phrase “hello Keptin”. They were adept Horsemen and skilled Shots. They raised cattle, rustled cattle, raided passers-by, and bickered with the local tribes. They were Bandits to some, heroes to others. They are a hardy, stoic and tenacious People, as easily given to laughter as to tears, with a love of stories, music and celebration.Of course there’s a further significance for those of my generation who unwillingly served time in the Borderland with Uncle Magnus’s Adventure Safaris. I dedicate Dorsland to them and all People who thirst for Freedom, self-determination and Dignity, who have the courage to travel beyond the Borderlands into the unknown, to wrestle a Life out of raw Nature, and staying true to the simple ethics of Community.”

Op Dorsland word dié mense se stories vertel en oor hul lewe geskryf en gesing. Daar is liedjies wat jou in hoendervel laat uitslaan, soos “Dolos” en veral “Soek die reën”.

Doen moeite om Bill Knight se musiek in die hande te kry. Besoek www.billknight.co.za en bestel die hele trilogie. Sout en Kaapse mengsel is net so onmisbaar soos Dorsland vir enigiemand vir wie die speurtog na die siel van roots-musiek ʼn opwindende avontuur is. (En as dit vir jou nie een is nie, moet jy jou kop laat lees.)


Amanda Strydom
Kerse teen die donker


Vintage-Strydom. Die werk van ʼn volwasse kunstenaar met deurleefde, volbloed-musiek.

Reeds in die openingsnit, “Boord van woorde”, wys Amanda haar slag met woordwerk. Die musiek is vol hart en siel. Baie kunstenaars klim nou op die nostalgie-wa, maar Strydom is een van min wat dit heeltemal oortuigend regkry op snitte soos “My nostalgie” en “Sara Stoepsit”.

Erns word afgewissel met spitsvondige speelsheid (“The Cooking Channel” en die bekoorlike “Slippers van satyn”). Haar cover versions van José Feliciano se “Rain” en Kris Kristofferson se “Me and Bobby McGee” is nog beter as die oorspronklike weergawes. Die nuwe weergawe van “My kamer”, as ʼn duet saam met Stef Bos, is ʼn emosionele kragtoer.

Alles word afgerond met die gestroopte, aangrypende “Pelgrimsgebed”. Amanda Strydom het weer eens ʼn besonder sterk bydrae tot Afrikaanse musiek gelewer. Volgens die agbare lede van die luisterpaneel is dit nou ware kuns. Ons sien uit na nog vele meer.


Valiant Swart
Vrydagaand/Saterdagaand

Yvette de Wet: Valiant is die beste. Hy is so sonder fieterjasies en foefies dat dit hom in ʼn klas van sy eie plaas. Dit is fantasties dat daar so gou ná Horisontaal en Vuur en vlam ʼn nuwe CD van hom is. Jaag al die Robbies en Bobby’s en seuntjiesangers in die see in, hier is die Ware Jakob.

Alice Ellis: Die CD is meer gestroop as Horisontaal en laat mens dink aan Dorpstraat Revisited. Die gestrooptheid en eenvoud werk soos ʼn bom. “Somer 86” is een van die beste nuwe Afrikaanse liedjies wat oor nostalgie handel. Daar is ʼn baie warm kwaliteit aan hierdie CD. Valiant is een van die ware gentlemen van Afrikaanse musiek.

Beyers Eybers: My gunstelinge is “Vrydagaand/Saterdagaand” en “Spook en Diesel”. Teenoor liedjies soos dié wat op die oor af vrolik klink, kry jy ook roerende ballades soos “In my donker droom” en “Goud, en ʼn blaar”. Dis nou vir jou real stuff.

Tom Blom: Die Engelse liedjies is vir my die grootste verrassing. “Maybe in Slow Motion” en “Heaven Hill Blues” is werklik uitstaande. ʼn Mens hoop Valiant maak ʼn hele Engelse CD met liedjies soos dié.

Fritz Brits: Die man is ook ʼn digter. Sy lirieke is baie beter as dié van die meeste Afrikaanse sangers van sy generasie (én jonger én ouer).

Sameroeper: Vintage stuff! Onmisbaar.


Fjay
Dit sal jou reinig

Dit moet vir nuwe talent seker moeilik wees om hul merk te maak te midde van al die hardebaarde wat deurlopend goeie werk lewer aan die een kant, en aan die ander kant al die middelmatige en substandaard stront wat in die naam van sogenaamde Afrikaanse pop uitgereik word.

Fjay is egter een van die nuwelinge wat ʼn mens gerus kan dophou. Hy maak basies bluesrock en sterk ballades. En wat ʼn stem het die man nie! Alice en Yvette het soos roomkoeke op ʼn baie warm dag geword toe hulle hom hoor. Hy het so ʼn hees gravel-stem. Nie net as sanger nie, maar ook as liedjieskrywer maak Fjay ʼn baie sterk indruk. Die produksie en verwerkings is ook van die boonste rak en daai kitare word gespeel en gelooi dat die biesies, en alles anders wat in sig is, bewe.

Dit is ʼn besonder volwasse debuut – wel, as mens na Fjay kyk op die omslag, is dit duidelik dat hy nie heeltemal vandag se kind is nie. Dit verklaar die rypheid van die werk.

Die titelsnit is ʼn volbloed-bluesrocker, en daarteenoor kry mens ballades soos “Waar waai die wind” en “Tula Ma” wat nie anders kan as om ʼn hartsnaar of twee te raak nie.

ʼn Mens hoop net Fjay kry al die aandag en erkenning wat hy verdien. Van hom hoef jy nie te sê hy moes homself eerder Fjou genoem het nie. Fjoy is ʼn beter woord om hierdie album mee te beskryf.


Gideon
Murg

Wees nie bevrees nie: hierdie CD het niks uit te waai met daai Murgpyp-musiek op die mark wat klink soos goedkoop Boeremag-propaganda nie.

Dit gebeur ook maar min dat iemand vorendag kom met ʼn klank wat op ʼn spesifieke tydstip heel vars en eiesoortig klink, en dis wat Gideon van Zyl doen. Om te begin, het hy ook ʼn unieke stem wat soos dié van niemand anders klink nie.

Van Zyl woon en werk in Dubai en is nou ook nie jou tipiese, deursnee-plastiekpopster nie. Hy is ook nie een van die snotkoppe op die sangtoneel nie, en dis juis die volwassenheid van sy werk wat dit laat uitstaan bo die Robbies en die Bobby’s en die res van die melkbaardbende. Noem sy musiek volwasse kontemporêre rock met ʼn kommersiële edge – en gelukkig stort Gideon nie oor daardie edge nie.

As dit by Afrikaanse musiek kom, imponeer die werk van kunstenaars wat onafhanklik werk, omdat hulle weier om hul kreatiwiteit deur die voorskriftelikheid van platemaatskappye aan bande te laat lê mens in die meeste van die gevalle. So is dit ook met Gideon se Murg. Luister en besluit self. Gaan na www.myspace.com/gideonvz of www.gideonvanzyl.co.za, beveel ons paneel aan, en probeer om vir jouself in woorde te stel hoekom hierdie musiek so anders en eiesoortig klink in die oorlaaide ou brulpaddapoel van Afrikaanse musiek. Die lede van die luisterpaneel sê julle kan wragtag nie van hulle verwag om namens jou te dink nie.


Anton Goosen
33 a-sides (liedjieboer-treffers)

Dit is te betwyfel of mense wat reeds Goosen se CD’s met grootste treffers, Riviersonderend en Putonnerwater het, hierdie een sal aanskaf. Vir jonges wat nou eers Goosen se CD ontdek, is dit egter die ideale bekendstelling, en terwyl hulle lekker kry terwyl hulle 33 treffers van een van die voorste Afrikaanse liedjieskrywers geniet, wag mense wat Goosen se werk goed ken intussen in afwagting op 33 b-sides en 33 sea-sides, wat later vanjaar verskyn, en waarop meer liedjies glo aangetref sal word wat nog nooit voorheen op CD beskikbaar was nie as in die geval van 33 a-sdes (liedjieboer-treffers). Dus: ʼn hele kompendium van 99 Goosen-liedjies. ʼn Mens kan net hoop en bid dat ou albums van Goosen wat onverkrygbaar is, soos veral 2de Laan 58 en Tussen twee rooi mure, sterk verteenwoordig word op die volgende twee CD’s.


Gwendoline
Gwendoline

Van Gwendoline weet ons absoluut niks nie, maar die paneel was nogal aangenaam verras met haar debuut-CD. Hoekom sal ʼn mens na Juanita du Plessis, Nadine, Nedine, Patricia Lewis, Amor Vittone en al die kommersiële sangeressies luister as jy na Gwendoline kan luister?

Die aanslag is oorwegend lig en delikaat, en op plekke laat sy mens aan Laurinda Hofmeyr dink. Gwendoline klink soos ʼn onbevlekte vlindertjie wat nog nie haar verwondering oor die lewe verloor het nie, en as sodanig is dit als heel sjarmerend. Hier is ʼn soort onskuld wat op ʼn vreemde manier verfrissend is, sê Yvette, die vet mediaslet, en Alice, wat almal se pel is. Die verwerkings is ook heel verbeeldingryk – luister maar na die beste snitte, “Wonderwerke” en “Vriendskap”. ʼn Mens hoop Gwendoline beweeg in die toekoms meer in die rigting van dié soort eksperimentele elektroklank en aanslag op dié liedjies.


Belangrike kennisgewing

Twee Afrikaanse CD’s waarna die paneel uitsien – dié van Gerald Clarke en Lize Beekman – het ongelukkig nie betyds hier opgedaag voor die spertyd van hierdie Afrikaanse Extravaganza Sound Bites nie, anders sou hulle die Top 10 lekker deurmekaargekrap het. Die paneel sien daarna uit om vir die volgende Sound Bites daarna te luister. Maar nou is dit eers tyd vir Muse, Sheryl Crow, kd lang, Goldfrapp, Nick Cave & The Bad Seeds, REM, The Rolling Stones en Portishead – om net ʼn paar te noem.

Happy listening.