Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Yster


Nandi Venter - 2008-04-08

“Voel hier.” Die vrou vat sommer my hand en druk dit op haar knieg met die lang, lelike letsel op. “Ysterknieg, my eksvrou het my knieg afgebliksem toe ek by die voordeur instap.” Sy snork ongeërg en gooi haar kop agteroor. Ek kyk haar ongelowig aan en vra waarom haar “vrou” haar dan so aangeval het. “Nee, ek praat nie daaroor nie. Wat drink jy? Kom ek koop nog ’n dop vir julle elkeen.” Nog voor ek ja of nee kan antwoord, wink sy die ou agter die kroegtoonbank nader. “Gooi bietjie Springbokkies in vir die dames, toe, en gooi sommer een met horings in vir jouself ook.” Die bar-outjie glimlag maar net en doen soos die vrou hom gevra het. Hy laat haar teken op ’n papier met skewe skrif op langs die bedrag. Die getal drankies wat reeds daarop geskryf staan, het aansienlik gestyg sedert vanoggend elfuur. “Ek is JD en dis my nuwe vrou, Gerda.” JD sit haar een been se enkel op die ander been se knieg en ek sien dat nie sy of Gerda hulle beenhare skeer nie. Ek vra waarvoor staan JD. “Dit maak nie saak nie. My naam is JD en dis al.” Ek stel myself en my vriendin ook voor aan die twee vroue. JD kwetter soos ’n spreeu.

“Nee maar cheers julle, kom ons gooi daai Springbokkies.” En soos ’n Meksikaanse golf word die glasies gelig en dan hard op die toonbank neergesit. Die volgende ronde drankies word bestel terwyl JD nog steeds kwetter. Sy vertel dat sy in die polisie is, maar dat hulle nie genoeg betaal nie en daarom moes sy haar eie besigheid oopmaak. Sy wil nie uitbrei oor watter soort besigheid sy het nie. “Ek het my vrou gaan oplaai daar tussen niks en nêrens. Al die pad one-eighty gery. Die polisie het my afgetrek toe flip ek net my badge en sê ek’s op ’n case en ek is warm op die spoor van die misdadiger. Toe escort hulle my tot in die dorp. Nice nè?” JD se “nuwe vrou” lyk skaam en sy maak glad nie oogkontak met ons nie. “Ek tune toe sommer haar ma reguit en sê vir haar dat haar dogter ’n lesbian is en sy moet nou maar daarmee deal. Gelukkig like haar ma my kwaai.”

Gerda staan op en gaan badkamer toe. JD leun oor na my kant toe, gryp my om die nek en fluister vertroulik in my oor. “Die probleem is dat ek nog nie oor my eksvrou is nie. Sien, ek dra nog my trouring. En nou sit ek met dié girl, en ek het haar sak en pak gaan haal en sy kan nou nie meer teruggaan na haar ma’le toe nie en sy het ook nie ’n werk nie.”

Ek kry vir JD skielik baie jammer. Al die bravade van vroeër is verlore. En ek voel amper half belangrik omdat sy hierdie groot geheim met my gedeel het.

“Maar miskien moet jy haar net ’n kans gee,” probeer ek vir Gerda opkom, want ek kry haar ook maar jammer. “Partykeer is dit juis die mense wat jy nie van die begin af op verlief was nie, wat jy op die ou einde die liefste kry.” Terwyl ek dit sê, wonder ek of ek so iets self sou glo as ek in JD se posisie was. Gerda kom terug van die badkamer af en die gesprek word beëindig. Dit raak stil tussen my en JD. My vriendin het intussen opgestaan en met Gerda ’n gesprek gaan aanknoop.

“Wat het daar op jou arm gebeur?” Ek wys na die letsels op JD se arm.

“Praat nie daaroor nie.” Sy kyk half skaam weg.

Ek sit agteroor en sê vertroostend: “Ag kom nou, ons het maar almal sulke letsels iewers.”

JD lyk nog steeds ongemaklik. “Nee, jy verstaan nie, ek het op nog baie ander plekke ook.” Sy sê dit sag.

“Ek ook,” sê ek, “no big deal.”

JD vat aan haar kop. “Voel hier”, en sy vat weer my hand en vryf dit oor die kroon van haar kop. “Staalplaat. Ek het my kar probeer omgooi.” Sy lyk skielik oud in die dowwe lig van die kroeg. “Dis wat die liefde aan mens doen.” Sy skud haar kop stadig.

“Ja, jong,” sê ek, “been there, done that, got the scars.” Ek vind dit nogal gerusstellend, hierdie tipe kameraadskap wat ontwikkel het tussen my en hierdie vrou.

“Ag nee man, dié drank is dan nou so warm soos die hel vanself.” Sy wink weer die bar-outjie nader. “Gooi tog daar vir my ’n koue een, toe man.”

Die outjie lyk bietjie senuweeagtig. Hy verdwyn vir ’n oomblik agter ’n muur in en kom dan terug met die papier waarop haar rekening al hoog staan. “Ons mag nie vir jou ’n tab hoër as R350 gee nie. Dis die limit, sê die eienaar van die kroeg.” Hy sê dit so half koes-koes, want JD kyk hom met skrefiesoë aan.

“Ag nee man, waar wil jy nou wees? Ek het met die eienaar gereël dat ek sal stop by R500. Gooi nou daai dop, ek is dors. En gooi sommer vir die girls ook.” Ek kry die outjie jammer – hy probeer haar ook maar net eintlik help om nie so baie geld op drank uit te gee nie. Ek lei af sy’s gereeld hier in die kroeg.

Die goue ketting om JD se nek flits toe sy die koue drankie nader skuif. Sy is al redelik aangeklam en vat nou ook meer aan my been. Ek dink nie regtig dat sy by my aanlê nie, ek dink dis eerder ’n tipe van hunkering na gemeensaamheid.

My vriendin het intussen weer langs my kom sit. Sy wys op haar horlosie en ek sien dat dit amper halftwaalf is. Ek skuif my leë glas terug en staan op.

“Dankie vir die drankies, ons gaan nou huis toe, ons is bietjie moeg na die besige kwartaal.”
JD draai in haar stoel en gee my ’n stewige greep om die nek en druk haar mond teen my oor. Sy fluister iets, maar ek kan nie mooi uitmaak wat sy sê nie, dit het iets geklink soos ek moet my blonde girl geniet. Ek maak my stadig los van haar greep en groet vir Gerda. Buite skyn die neonstraatligte dof en ek loop kop onderstebo kar toe.