Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Voorwaardes vir die behoud van Afrikaans as wetenskapstaal: 'n taalbeplanningsperspektief


Vic Webb - 2006-10-03

Vic Webb is die direkteur van CentRePoL (Centre for Research in the Politics of Language), UP1

Inleiding

Daar is die afgelope tyd buitengewoon baie gedebatteer oor taalbeleid by HAU's, en ek neem aan dat HAU's wat die beginsels van toeganklikheid, gelykheid, transformasie, kompeterende akademiese opleiding en die bevordering van meertaligheid en diversiteit (insluitende die behoud van Afrikaans as taal van onderrig en leer (TO/L) en die bevordering van die Afrikatale) wil bevorder, waarskynlik reeds ’n betreklik duidelike beeld het van die inhoud van ’n gepaste taalbeleid, soos in die geval van die Vlottenburggroep se voorstel vir ’n alternatiewe taalbeleid vir US. Ek wil dus nie taalbeleidsontwikkeling bespreek nie, en ook nie die talle argumente ten gunste van die behoud van Afrikaans as akademiese taal nie (maar vgl Webb, 2006). Ek wil eerder fokus op een van die twee daarvolgende en dringende take waaraan taalbeplanners aan universiteite aandag moet gee. Hierdie twee take is die ontwikkeling van ’n implementeringsplan vir taalbeleid en die voorbereiding vir ’n gesprek met die Departement van Onderwys oor die sigbare ondersteuning en befondsing van meertalige universiteite. Ek wil in my aanbieding fokus op eersgenoemde.

Die ontwikkeling van ’n effektiewe taalbeleidimplementeringsplan is, waarskynlik, die vernaamste voorwaarde vir die behoud van Afrikaans as TO/L. Die sentrale belang van so ’n plan blyk baie duidelik uit die onlangse geskiedenis van sowel die UP as US se taalbeleid. UP het in 1997 ’n taalbeleid aanvaar wat oa bepaal het dat Afrikaans saam met Engels as TO/L gebruik sal word. Hierdie bepaling is egter nie sistematies geїmplementeer nie en is oorgelaat aan die heersende markkragte – ’n benadering dus van vraag en aanbod – en die gevolg was dat UP sedertdien in hoë mate verengels het. Dieselfde geld US: US se bestaande taalbeleid is redelik, maar die taalplan was nie toereikend nie, wat een van die vernaamste redes is waarom hierdie beraad plaasvind. ’n Taalbeleid sonder ’n spesifieke en voldoende plan van implementering het min waarde. Dit is essensieel dat ’n taalbeleid vergesel word van ’n spesifieke stel riglyne, prosedures en meganismes vir die implementering, monitering en bestuur daarvan.

Ek wil graag ses vereistes bespreek waaraan so ’n implementeringsplan moet voldoen.

Vereistes vir ’n implementeringsplan vir taalbeleid

2.1. Taalbeplanning moet nie gesien word as ’n geïsoleerde en hoofsaaklik linguistiese proses nie

Ek wil graag drie aspekte van hierdie vereiste noem.

Die eerste is dat taalbeplanning gesien moet word as ’n aktiwiteit wat gerig is op mense (byvoorbeeld die akademiese vorming van studente). Taalbeplanning gaan nie in eerste instansie om die belange van ’n taal nie, maar, in die geval van ’n universiteit, om die belange van die studente en dosente.

Tweedens moet taalbeplanning gerig wees op die breër konteks: afgesien daarvan dat ’n taalplan op aantoonbare wyse gerig moet wees op ’n universiteit se visie en missie, moet dit voorsiening maak vir die impak van globalisering en internasionalisering, tegnologisering, die kennis-ekonomie, die ongelyke taalpolitieke speelveld, ens.

Derdens moet taalbeplanning ook gesinchroniseer wees met alle ander beleidsbesluite aan die universiteit, soos die beleid oor onderrig, navorsing, gemeenskapsdiens, taalaanleer en taalvaardigheidsontwikkeling, institusionele beplanning, finansies, ens. Taalbeplanning moet gehanteer word as ’n funksionele bousteen in ’n omvattende, koherente geheel. Dit is nie ’n aktiwiteit wat in isolasie van ander oorwegings gehanteer moet word nie.

2.2 ’n Taalplan moet uiteraard presies aandui hoe elke beleidsbepaling uitgevoer moet word

In die geval van sommige taalbeleidsbepalings is hierdie taak nie problematies nie, maar met ander is daar ’n probleem. Dis byvoorbeeld problematies in die geval van begrippe soos diversiteit, meertaligheid, multikulturalisme, meertaligheid as menslike bate, ’n regime van meertaligheid, waardetoevoeging tot Afrika (Giliomee en Schlemmer [G/S], p 3), en die behoeftes van Afrika (G/S), p 4). In die meeste taalbeleidsvoorstelle word hierdie konsepte opgeneem, maar sonder aanduidings van hoe hulle geїmplementeer moet word (soos in US se Taalplan, wat geen aandag gee aan diversiteit nie). Die probleem lê waarskynlik daarby dat daar nie duidelikheid is oor wat onder hierdie begrippe verstaan moet word nie. Brink (B) (2006: 83, 109 en 126–129) gee ’n netjiese bespreking van die konsep diversiteit, waarin hy onder meer daarop wys dat diversiteit ’n voorwaarde is vir kwaliteit, en dat dit gerig is op inklusiwiteit en rekonsiliasie,2 maar dis nie daaruit duidelik hóé ’n beleid van diversiteit (of meertaligheid, of multikulturalisme) op universiteitskampusse gevestig moet word nie.3 Watter meganismes en prosedures moet daarvoor gevolg word? In die Stellenbosch-debat word die T-opsie byvoorbeeld gemotiveer oa op grond daarvan dat dubbelmediumonderrig ’n “multikulturele ervaring” verskaf. Maar in watter opsig is die gebruik van Afrikaans en Engels in een klas “multikultureel”? (Hierdie siening neem vermoedelik aan dat verskillende tale verskillende “kulture”, of kulturele identiteite, konstitueer, wat nie ’n geldige aanname is nie.) Verder laat hierdie standpunt ook die feit buite rekening dat daar naas die klaskamer etlike ander (en moontlik beter) forums is vir multikulturele ervarings. Dieselfde tipe kritiek kan genoem word teen die mening dat parallelmediumonderrig ’n vorm van taalapartheid is. Afhangende van hóé parallelmediumonderrig toegepas word, hoef dit nie hierdie gevolge te hê nie.

Dis dus duidelik dat die kernkonsepte in taalbeplanning gedefinieer moet word indien daar op regverdigbare implementeringstrategieë besluit wil word.

2.3 Taalbeplanning is ’n rasionele proses

Die taaldebat rondom US is te emosioneel, met skerpighede en oorvereenvoudigde voorstellings van opponente se standpunte. G/S verdedig hul standpuntstelling teen aanvalle reeds in hul voorwoord, en gebruik omskrywings soos helde of boewe (5), die vyand (5) en huigelary (17), terwyl B in dieselfde gees optree op pp 65, 66, 69, 75, 78, 79, 87, 143 en 151. Dit skep die indruk dat die taal-“debat” eintlik ’n stryd is om mag en beheer, terwyl dit, veral in die lig daarvan dat dit ’n geëmosionaliseerde en gepolitiseerde kwessie is, volkome rasioneel gehanteer moet word.

’n Tweede aspek van die rasionele aard van taalbeplanning is dat dit gebaseer moet word op feitelike inligting oor die hele spektrum van relevante dimensies, insluitende die volgende:

  • Studente, dosente en administratiewe personeel se taalkennis, taalvaardighede, taalvoorkeure, taalopinies en -houdings, taalgedragspatrone en talige behoeftes. (UP is nou in die proses om hierdie inligting per vraelyste in te samel.)
  • Inligting beskikbaar vanaf universiteite se rekords (soos van UP se Buro BINEB by UP):

i. Studentegetalle per fakulteit; voorgraads/nagraads; voltyds, deeltyds; volgens ras
ii. Studentegetalle: internasionale studente, per land
iii. Studentegetalle: afstandsonderrig
iv. Demografiese verandering in studentegetalle (totale; per ras)
v. Huistaalverspreiding van studente
vi. Voorkeurtaal voorgraads en nagraads per ras
vii. Getal modules per fakulteit en aanbiedtaal (A; AE-afs; AE-dm; E)

  • Inligting vanaf departemente:

i. Personeel wat in (i) A, en (ii) E kan klasgee; per fakulteit
ii. Kan alle modules per departement in beide A & E aangebied word, per fakulteit
iii. Kan studente ondersteuning kry in beide A & E per fakulteit
iv. Taalspesifikasie van studierigting soos bemarking, voorgraads; nagraads
v. Werklike taalaanbod per voorgraadse/ng. Program of module
vi. Mate waarin fakulteite by bemarkte taalspesifikasie hou
vii. Aanbiedingstaal van voorgraadse modules: slegs A; slegs E; A en E afsonderlik; dubbelmedium per departement, per fakulteit
viii. Beskikbaarheid van studiegidse, studiemateriaal, vraestelle in A & E, toelaatbaarheid van taalkeuse in eksamen.

  • Die sosiolinguistiese karakter van die universiteit se onmiddellike omgewing. (’n Taalbeleid wat vir NWU werk, sal waarskynlik nie vir UP of US werk nie: die NWU kan ’n taalbeleid implementeer wat Afrikaans as vernaamste onderrigtaal vestig op die Potchefstroomse kampus met Engels as enigste onderrigtaal op sy ander kampusse, omdat sy Potchefstroomse teikenmark hoofsaaklik Afrikaanssprekend is, en omdat Potchefstroom ’n relatief klein stedelike omgewing uitmaak. So ’n beleid is byvoorbeeld nie moontlik in Johannesburg nie, wat hoofsaaklik Engels is en ’n baie omvattender en komplekser stedelike karakter het.
  • Inligting oor die aard, voor- en nadele van die verskillende TO/L-modelle (enkelmedium, parallel- en dubbelmedium), en elk se implikasies vir hoe ’n universiteit sy strategiese doelwitte wil bereik, met antwoorde op vrae soos: Hoe waar is dit dat dubbelmediumonderrig noodwendig lei tot die agteruitgang of ondergang van “klein tale” as tale van die wetenskap? En is dit waar dat parallelmediumonderrig eintlik maar net ’n vorm van taalapartheid verteenwoordig en noodwendig tot segregasie sal lei? (Vgl B, 79 se opmerking oor die “volkstaat of the mind”.) Watter faktore het bepalende rolle in hierdie situasies? Indien hierdie bekommernisse geldig is, hoe moet hierdie moontlike gevolge teëgewerk word in die plan van implementering?

Bogenoemde inligting moet dan strategies ontleed word (dus op basis van die verwesentliking van die universiteit se doelwitte) en die bevindinge moet dan as inset dien vir die bepaling van die implementeringsplan.

2.4 ’n Konsultatiewe benadering tot die implementering van taalbeleid is essensieel

Daar is aanduidings dat die taaldebat op US negatiewe gevolge het, dat dit sleg is vir die Universiteit se openbare beeld, en meegebring het dat die moraal in die universiteitsgemeenskap laag is. Een van die redes hiervoor is waarskynlik dat baie lede van hierdie gemeenskap die gevoel het dat hulle nie deel van die gesprek is nie, dat die debat min verskil aan hulle maak, en dat dit eintlik maar net ’n stryd tussen twee stelle opponente is.

Die les wat uit hierdie situasie geleer moet word, en wat algemeen aanvaar word deur taalbeplanners, is dat ’n taalplan nié kan werk as dit nie die volle samewerking van al die vernaamste rolspelers het nie. Vir effektiewe taalbeplanning moet ’n “bo-na-onder-benadering” aangevul word met ’n “onder-na-bo-benadering”. Lg benadering beteken minstens die volgende drie dinge:

a. Die steun en samewerking van al die rolspelende gemeenskappe aan ’n universiteit moet verkry word in die beplanning, opstel, implementering en evaluering van die beleidsprogram: die staat (DvO), topbestuur, administrasie, dosente, studente en die gemeenskap. Dit moet gebeur deur uitgebreide en betekenisvolle konsultasie met al hierdie gemeenskappe. Die taalplan moet beleef word as ’n konstruk wat die belange van die hele gemeenskap dien: studente se studies en hul regte; administratiewe personeel se werkslading; dosente se vryhede en navorsingstyd; en die universiteitsbestuur se stryd om befondsing van die staat te verkry.

Indien die steun en samewerking van alle betrokkenes verkry kan word, kan die legitimiteit (of dan: eienaarskap) van die taalplan ook gevestig word, omdat die lede van die verskillende groepe die persepsie het dat hul demokratiese reg eerbiedig is, dat die plan nie van bo af op hulle afgedwing is nie, en dat dit hul behoeftes en prioriteite bevredig. Op hierdie wyse kan betrokkenes se verbintenis tot die implementering van die plan verkry word, ’n vereiste waarsonder die plan nie effektief toegepas kan word nie.

In hierdie verband praat die literatuur oor bestuursbeginsels ook van koalisies wat gesluit moet word met alle betrokkenes, strategies gesproke veral met meningsvormers, belangegroepe en invloedryke kliënte. Wat taalbeplanning betref, sou universiteite koalisies kon sluit met instellings soos die DvO, ASSAf, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die SBA, HESA, Pansat, die Departemente van Kuns en Kultuur, en van Wetenskap en Tegnologie, die Federasie van Onderwysbeheerliggame, ander HAU's, ens.

b. ’n Tweede belangrike dimensie van die konsultasieproses is dat uitgebreide en voortdurende inligtings- en bewusmakingsveldtogte onderneem word ten opsigte van veral drie kwessies:

i. Die fundamentele rol van taal in akademiese opleiding (waarvan waarskynlik 99 persent van die dosente nie bewus is nie).
ii. Die potensiaal van taal as instrument van manipulasie, diskriminasie en eksploitasie, en die rol daarvan in voortgesette benadeling en armoede.
iii. Die bestaan van etlike mites, oorvereenvoudigings en oordrewe (en selfs foutiewe) stellings in die taaldebat. Van hierdie mites is die volgende:

  • dat dit nodig is om tersiêre opleiding in Engels te ontvang om die (nasionale of internasionale) arbeidsmark te betree of internasionaal kompeterend te kan wees (vgl die aanhaling van die ongeldige siening van die rektor van die Universiteit van Maastricht, in B, 37)
  • dat vaardighede, uitnemendheid en prestige slegs bereik kan word indien ’n meerderheidstaal gebruik word as TO/L (en, selfs, dat ’n vak soos Wiskunde meer effektief bestudeer kan word in Engels)
  • dat blootstelling aan Engels essensieel is vir die verwerwing van vaardigheid in Engels
  • dat studente wat aan ’n enkelmedium Afrikaanse universiteit studeer, nooit deel sal word van die hoofstroom in Suid-Afrika nie; dat so ’n universiteit noodwendig transformasie sal belemmer (B, 17); dat voorstanders van ’n Afrikaanse universiteit ’n “enklawe” sal skep, wat sal lei tot parochialisme en akademiese isolasie (B, 145); en dat parallelmediumonderrig ’n vorm van taalapartheid is
  • dat die Afrikatale nie geskik is vir akademiese opleiding nie as gevolg van ’n tekort aan tegniese terme en registers
  • dat diversiteit nie erken en bevorder kan word aan ’n enkelmediumuniversiteit nie, en
  • dat ’n taalbeskermingsbenadering en ’n multikulturele benadering tot taalbeleidsontwikkeling mekaar onderling uitsluit (B, 117).

c. Die derde kwessie wat van belang is in ’n “onder-na-bo-benadering” is dat die gebruik van argumente wat op kulturele oorwegings gegrond is, in ’n ernstige mate problematies kan wees,4 omdat hulle geïnterpreteer kan word as ’n poging om die belange van ’n bepaalde “kultuurgroep” te beskerm of te bevorder. In die geval van ’n beleid wat gerig is op die behoud van Afrikaans as TO/L in hoër onderwys beteken dit dat die saak vir Afrikaans nie gebaseer moet word op die instandhouding en bevordering van ’n sg Afrikaanse gees en karakter nie.5 Daar is verskeie redes vir hierdie sienswyse:

i. “Afrikaans” sowel as die sg “Afrikaner” is in ’n baie hoë mate gepolitiseer en sal telkens verset uitlok, wat die saak vir Afrikaans as TO/L in hoër onderwys uiteraard sal benadeel. ’n Kultuurgerigte benadering is potensieel konfrontasioneel omdat taal in Suid-Afrika ’n etnopolitieke verdelings- en mobiliseringsinstrument was, en taal én kultuur terreine van stryd is, en dus konflikgenererend.
ii. Die standpunt dat Afrikaans behou moet word omdat ’n bepaalde kulturele identiteit op dié manier beskerm sal word, is in elk geval hoogs problematies. Hierdie standpunt berus op ’n algemene aanname onder taalpolitieke en kultuurleiers dat daar ’n kousale, deterministiese verhouding bestaan tussen taal en kultuur, ’n 1-tot-1-korrelasie, so asof enige verlies aan taalkant (byvoorbeeld ’n verlies aan of ’n vermindering van prestige, status of funksie) sonder meer ’n negatiewe uitwerking gaan hê op die besondere taalgroep se kulturele identiteit. Hierdie aanname kan nie geregverdig word nie. Daar is wel ’n verband tussen taal en kulturele identiteit: taal reflekteer sy sprekers se waardes, gebruike, oortuigings, gedragspatrone, ens; taal is ’n instrument waardeur individue gesosialiseer word en geënkultureer word; en taal is ook dikwels ’n simbool van kulturele identiteit. Máár taal determineer kulturele identiteit nie op ’n noodsaaklike en afdoende wyse nie en is nie kousaal daarmee verbind nie.
iii. Dis in elk geval nie duidelik wat verstaan moet word onder die term Afrikanerkultuur nie. “Kultuurgroepe” is nie duidelik afgebakende entiteite wat intern homogeen, oorerflik (biologies bepaal) en onveranderlik is nie. Hulle kan telkens opnuut gerekonstrueer word deur elke geslag onder nuwe omstandighede. Die Afrikaanssprekende jeug van 2006 verskil duidelik van die Afrikaanssprekende jeug van 1976, net soos die Afrikaans van 2006 verskil van dié van 1976. Soos G/S (140) dit stel (maar vermoedelik met ’n ander bedoeling): Afrikaans is “’n kultuur-historiese gegewe”.

Om strategiese redes (weer eens) moet daar toegesien word dat daar geen onduidelikheid is oor die motiewe onderliggend aan die standpunt ten gunste van Afrikaans as TO/ L in hoër onderwys nie.

2.5 Die plan moet regulatories wees

’n Regulatoriese benadering, dws ’n benadering waarin spesifieke reëlings, voorwaardes, maatreëls, implementeringstrategieë en kontrole- en beheermeganismes gespesifiseer word, is betreklik algemeen in beleidsbepaling.6 Wat taal betref, is daar in verskeie lande selfs wette (met boetes vir oortredings) wat openbare taalgedrag beheer, soos in Frankryk, Ierland, Pole en Spanje (met Katalaans). Aan die Universiteit van Helsinki word die gebruik van Sweeds, ’n minderheidstaal in Finland, selfs wetlik beheer: daar moet 27 Sweedse professorate aan die Universiteit wees, ’n Sweedse Skool van Sosiale Wetenskap moet in stand gehou word waarin Sweeds die enigste TO/L mag wees, minstens een lid van die rektoraat moet Sweeds wees, Sweeds moet gebruik word op alle akademiese en bestuursvergaderings, en 6,5 persent van alle studente moet Sweeds wees (voordrag van Thomas Wilhelmsson, professor in die regte en viserektor, Universiteit van Helsinki, by die kongres oor Twee- en Meertalige Universiteite, Augustus, 2005).

’n Regulatoriese benadering is in Suid-Afrika nodig vanweë die ongelyke taalpolitieke speelveld, homogeniserende markkragte en die hegemonie van Engels. Die behoefte aan so ’n benadering kan geïllustreer word met verwysing na die feit dat die dominansie van Engels die meerderheid Suid-Afrikaners in werklikheid geen vrye keuses laat ten opsigte van taalgedrag in die openbare lewe nie, ook wat betref die keuse van TO/L. Dis asof Engels beheer gekry het oor mense se denke en hulle laat optree asof hulle hul reg op eie vrye keuses uitoefen. Engels se houvas op mense se denke blyk selfs uit stellings dat die keuse van Engels so natuurlik is soos “water flowing downhill” (B, 100) en dat die verskuiwing na Engels “perfectly natural” is (B, 103).

Daar word soms beweer dat ’n regulatoriese benadering in opposisie staan tot ’n waardegedrewe en taalvriendelike benadering. Dit is natuurlik nie noodwendig die geval nie. Trouens, so ’n benadering moet juis waarde-gerig wees. ’n “Waardebenadering” sonder ’n duidelike stel toepaslike regulasies is egter nie realiseerbaar nie, hoofsaaklik as gevolg van die impak van globalisering, tegnologisering, markkragte en die gepaardgaande dominansie van Engels. Die belangrikheid van ’n regulatoriese benadering blyk byvoorbeeld duidelik uit die feit dat die waardes onderliggend aan die Suid-Afrikaanse Grondwet in groot mate steeds nie gevestig is onder die breë publiek nie.

’n Statutêre benadering tot die behoud van Afrikaans as TO/L in hoër onderwys beteken verder ook nié dat ’n Afrikaansgerigte taalbeleid met rigiede reëls toegepas moet word en met “meganismes van uitsluiting en dwang” afgedwing moet word nie (Landman en Le Roux, Rapport, 12/3/06). Inteendeel: studente (en dalk selfs departemente, skole en fakulteite) moet binne ’n regulatoriese benadering steeds toegelaat word om binne die stel regulasies vrye keuses uit te oefen ten opsigte van die onderrigtaal wat hulle verkies. ’n Regulatoriese benadering is dus in beginsel nie mens- of taalonvriendelik nie; inteendeel, dit wil juis bydra tot die vestiging van ’n kultuur van meertaligheid en moet daarom juis taalvriendelik wees.

2.6 Kapasiteit

Die laaste vereiste vir effektiewe taalbeplanning is dat daar regstreeks kennis geneem moet word van die kapasiteit van die universiteit om die beleid effektief te implementeer.

Hier gaan dit natuurlik om meer as die universiteit se finansiële kapasiteit (waarvoor ’n volledige kosteberekening noodsaaklik is). Dit gaan ook om die instelling se tegnologiese kapasiteit (ook vir masjienvertaling, taalaanleerprogramme, taalvaardigheidsontwikkeling, en “WebCT”), sy administratiewe kapasiteit (vermoë tot bestuur en dienslewering, en die bestaan van ’n sterk sosiale en organisatoriese kultuur), en sy infrastrukturele kapasiteit (taalsentrum, taalombudsman, vertalers, tolke en redigeerders).

Gegee die taalpolitieke realiteite in Suid-Afrika en probleme rondom staatsbefondsing, is die belangrikste kapasiteitskwessie vir die effektiewe implementering van ’n taalplan egter die mate waarin die topbestuur van die universiteit leierskap verskaf ten opsigte van meertaligheid, die behoud van Afrikaans en die bevordering van die Afrikatale. Naas doelgerigte leierskap moet daar in hierdie oord ook ’n sterk verbintenis tot die saak wees.

Samevattend kan mens beweer dat effektiewe beleidstoepassing slegs sal plaasvind indien die algemene bestuursbeginsels aan die instelling toegepas word, nl leierskap, organisasie, bestuur en beheer.

Slot: die erns van die EU met meertaligheid en diversiteit

Op die oomblik, sou ek wou sê, is daar in die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika (maar ook elders in die wêreld) ’n gees van korporatisering, met finansiële bestuur as die sentrale oorweging, en met te min besef van die fundamentele belang van die geesteswetenskappe in die algemeen en tale in die besonder. Maar, kan mens redeneer, die voormalige HAU's kan daarvan vergeet om internasionaal kompeterend en plaaslik relevant te wees, en om die vlakke van uitnemendheid te bereik waaroor hulle so dikwels praat, as die taalkwessie nie effektief gehanteer word nie. In hierdie verband kan daar gerus kennis geneem word van die erns waarmee die Europese Unie (wat vroeër slegs ekonomiese en markgerigte doelwitte gehad het) taalkennis en meertaligheid beskou. Afgesien daarvan dat hulle verskeie taalgerigte instellings gestig het (byvoorbeeld in Strasbourg en Graz), en drie omvattende programme tot stand gebring het (Lingua, Socrates Comenius en Socrates Erasmus) op die terrein van meertaligheid, multikulturalisme en taalverwerwing, wat dwarsoor die lidstate van die EU geïmplementeer word, ontvang die Raad van Europa 30 miljoen euro vir hul taalaktiwiteite.

Dalk moet die insigte van die EU, saam met inligting oor hoe meertaligheid en multikulturalisme in ander diep-verdeelde en kompleks gediversifieerde gemeenskappe (soos Indië) gehanteer word, deel uitmaak van die gesprek wat gevoer moet word met die Departement van Onderwys.

Verwysings
Brink, Chris. 2006. No lesser place.
Giliomee, H en L Schlemmer. 2006. ’n Vaste plek vir Afrikaans.
Landman en Le Roux, Rapport, 12/3/06
Webb, Vic. 2006. English in higher education in South Africa: inclusion or exclusion? MIDP-simposium, Bloemfontein, 24-27 April
Wilhelmsson, Thomas. 2005. Voordrag, Kongres oor Twee- en Meertalige Universiteite, Augustus, 2005


1 Erkenning word hiermee gegee aan W Webb, Dept Publieke Administrasie, Universiteit van Johannesburg, vir insiggewende gesprekke oor beleidsimplementering in die openbare sektor.

2 Mens sou kon byvoeg: die bevordering van gedeelde waardes, klem op gelyke regte, en die teenwerking van sieninge van kulturele meerderwaardigheid en van antagonisme tussen gemeenskappe.

3 Afgesien van die gebruik van meer as een TO/L en die aanleer van meer as twee tale, sou mens die volgende implementeringsaksies hiervoor kon insluit: die inhoud van sillabusse, didaktiese metodes en aandag aan kruiskulturele kommunikasie.

4 Vir die duidelikheid: hierdie stelling wil nie impliseer dat kultuur nie ’n rol speel in ’n opleidingsverband nie. Inteendeel: ek meen dat die kulturele konteks ’n fundamentele rol het in akademiese ontwikkeling.

5 In G/S kom hierdie begrip in verskeie gedaantes voor, soos op pp 16, 22, 30, 37, 38, 40, 45, 121, 125-6, 133, 135, 136, 139 (wit Afrikaner gemeenskap), 140 en 144.

6 US se bestaande Taalplan is ook grootliks regulatories.

Referaat gelewer op die Taalberaad: 'n Volhoubare plek vir Afrikaans in die tersiêre onderwys, Stellenbosch, 1 en 2 September 2006. Aangebied as 'n gesamentlike aksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.