Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Expats > Breytenbachs

Wat is die vereistes vir 'n Suid-Afrikaner om in Brittanje te studeer? Breytenbachs antwoord


2008-04-02

Vraag

My seun is tans in sy laaste skooljaar in Suid-Afrika. Ons ondersoek die moontlikheid vir hom om aan ’n Britse universiteit sy studie voort te sit na skool. Kan julle my asseblief inlig oor die vereistes vir ’n Suid-Afrikaner om in Brittanje te studeer? En sal dit vir hom moontlik wees om deeltydse werk te doen terwyl hy studeer?

Antwoord

Die immigrasiereëls ten opsigte van studentevisums bepaal dat ’n student by ’n goedgekeurde instansie (universiteite val ook in dié kategorie) ingeskryf moet wees vir ’n kursus wat minstens 15 uur per week georganiseerde dagstudie behels. Die studentevisum-aansoek word gebaseer op die sertifikaat van inskrywing by die betrokke opvoedkundige instansie. Die universiteit sal ook op die lys van goedgekeurde opvoedkundige instansies moet verskyn, waarvoor ingeskrewe buitelandse studente studentevisums kan bekom.

Sodra jou seun se aansoek vir sy studie aan een van die Britse universiteite waar hy aansoek gedoen het, goedgekeur is, en hy ingeskryf is as student, kan daar aansoek gedoen word vir die studente visum. Die aansoek vir ’n studentevisum sal gedoen moet word by die Britse Hoë Kommissaris in Pretoria.

Rakende die moontlikheid van werk op ’n studentevisum: terwyl klasse aan die gang is, mag die student nie meer as 20 ure per week werk nie, behalwe waar die werk deel is van die studie-opleiding. Gedurende vakansietye mag ’n student op ’n studentevisum voltyds werk.

Daar is ook ’n verskeidenheid ander reëls en regulasies; kontak gerus ons kantoor vir meer inligting in dié verband.