Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

James se Vioolkonsert in F


Johan Reiners - 2008-04-02

Simfoniekonserte sou nooit weer dieselfde wees nie. Veral nie na dié Donderdagaand nie. En, net vir die rekord, James kon nog nooit viool speel nie, ten minste nie op die tradisionele manier nie. Maar laat ek heel voor begin.

Die Natalse Filharmonie is, soos enige simfonieorkes, nes ʼn familie. ʼn Doodnormale disfunksionele gesin met al die trimmings en woelinge wat met die daaglikse sleurgang van die lewe gepaard gaan. Aan die hoof van die orkestafel was daar Mr B, ons jong, oorentoesiastiese orkesvader wat net genoeg teenwoordig en afwesig was om die 60+ woelige testosteroon- en hormoonbeneukte musikanttieners tot allerhande uiterstes te dryf. Nou nie dat die musikante regtig tieners was nie; baie van hulle het meestal net soos tieners opgetree. Aan onse pa-direkteur se sy was ons hoogs ongeliefde stiefma, Cruella de Vil, soos sy alom berug en onbemind was. Cruella de Vil was natuurlik nie haar regte naam nie, maar om lastereise van ongekende proporsies te vermy en haar kleinkinders te beskerm, volstaan ons met hierdie naam.

Cruella was, om dit diplomaties uit te druk, nie ʼn mannetjieshond nie. Kort, koketterig, korterige vlamrooi hare, pikant met ʼn wipneusie het me Cruella haar ding gedoen. Veral as die kat – dit is nou onse direkteur – die dag nie daar was nie, was Me "in Charge" – soos julle sien, "Charge" met ʼn hoofletter. Eienaardige vrou, dié De Vil. Sy het met so ʼn snaakse Franse aksent gepraat. Glo Suid-Afrikaans van geboorte, maar met hogere diplomate as ouers het sy iewers in ʼn Franse villa grootgeword onder die bekwame leiding van ʼn goewernante. Vandaar glo die sterk Franse aksent. Tot die dag toe ons Franse trompetspeler met haar begin Frans praat het. Toe was sy skielik doof en stom. Kon natuurlik nie ʼn woord Frans praat nie! Ons het later uitgevind die meisie was als behalwe Frans en die Franse villa was iewers in haar kop en nêrens op die kaart nie. Ons vermoed haar “Pargi”, soos sy dit gestel het, was eintlik die Vrystaatse Parys. Maar, onse De Vil het ook sigare gerook, die dunnetjies, net vir die "class" daarvan, so het sy ons wysgemaak.

Een ding waarvan geen sterfling De Vil kon beskuldig nie, was diplomasie. Op een of ander eienaardige manier het haar blote teenwoordigheid menige vredeliewende mens tot op die rand van brutale moord gedryf. Haar tongetjie was vlymskerp – sy kon met gemak enige opponent in sekondes aan flarde hê. Dit was deur haar dat Willem, onse man in beheer van publisiteit, menigmaal teatraal en met klappende deure, swaaiende arms en vallende vloeke agter hom, die trappe op na die gebou se dak opgevlug het om daar net weer tot kalmte te mediteer. Sien, Willem was bietjie van ʼn kween wat sterk aan new age goed soos meditasie en astrale projeksie en sulke goed geglo het. Met De Vil in die omgewing het dit sy new age kennis tot die uiterste beproef. Selfs ons bedeesde, kalm en gewoonlik flegmatiese bibliotekaresse het menigmaal ʼn string verbale poef uitgelaat wat nie in goeie geselskap gehoort het nie. Heel teen haar natuur in en natuurlik tot die res van ons se stomme verbasing. “Haai, Di, nie geweet jy kan ook vloek nie!”

En dan was daar natuurlik James, my assistent en verantwoordelik vir enigiets wat met konsertgangers te doene gehad het. James was nie ʼn eerstespan-rugbyspeler nie. Inteendeel, hy het duidelik vir die ander kant gespeel. James het die onderskeiding gehad dat sy bene vir lank op ʼn bekende damesbroekieskous-vervaardiger se advertensie gepryk het. Bene wat enige straight na sy asem sou laat snak. Alhoewel hy vir seker nie die eerste rugbyspan sou haal of selfs per ongeluk as ʼn bokser aangesien sou word nie, was James nie ʼn meisie met wie jy wou lol nie. Hy het die eienaardige vermoë gehad om enige moeilike situasie met gemak en grasie te ontlont en kon homself daarby tot in ʼn totale toestand van wanorde werk. En tot sy krediet het hy en Cruella nogals nie sleg klaargekom nie. As daar een persoon was wat haar buie en tonggeweld kon hanteer, was dit James.

Donderdagaande was konsertaande. Van vroegdag af was almal in hoogste versnelling. Die konserte is reg oorkant die Playhouse in die Durbanse stadsaal aangebied, met die gevolg dat al die instrumente en enigiets anders wat daar gebruik is, daarheen gekarwei moes word. Ek was verantwoordelik vir alles wat met die publiek te doene gehad het. Al die subskripsies, konsertkaartjies, programme, voorportaalbestuur, personeel ens. In die voorportaal van die stadsaal het ons gewoonlik ʼn sentrale inligtingstasie gehad. Dit het bestaan uit vier tafels wat in ʼn vierkant in die middel van die voorportaal staangemaak is. Daar kon gaste en subskripsiehouers hulle kaartjies afhaal en enige navrae is ook daar hanteer. Omdat die tafels op sigself maar bra vaal en boring was, het ons moeite gedoen om dit te versier. Vir dié besondere seisoen het James, in sy artistieke wysheid, dit goedgedink om die voortafel te bedek met ʼn rangskikking van blomme, wynbottels, publisiteitsmateriaal en ʼn ou viool wat hy iewers in die orkesbiblioteek opgetel het.

Die gewraakte Donderdag het egter bietjie anders verloop. Die ding het so gebeur. Ek was besig om my rondtes te doen om te kyk of als in die saal reg is, die personeel ingelig is oor als wat gaan gebeur, en ander roetinesake. Maar in die voorportaal was daar ietwat van ʼn drama. James was in beheer van die tafel en, soos ek verneem, aan’t trippel en woel om als gereed te kry. Dit was redelik vroeg en konsertgangers het stadigaan ingedruppel gekom. Maar daar is nog een ding van James wat nodig is om te weet. Eintlik twee. James kon ʼn glasie wyn waardeer. En, as dié meisie besig is met ʼn rangskikking, pla jy hom nie! Dit was toe net hier waar die neukery begin het. Stel jou die prentjie voor: ʼn hoogs gespanne moment met ʼn hoogs gespanne James woelig aan die werk aan sy meesterstuk – ʼn komposisie van blomme, takke, pamflette, en natuurlik viool. En ʼn glas wyn langsaan.

Dis net toe dat me Cruella de Vil daar inkom, neusie in die lug, kaftan al vloeiende om haar en ʼn syserpie warrelende agter haar. Trippe trappe tone met haar nommer 4-skoentjies en handjies sywaarts in marsformaat kom sy daar in- en aangesweef. Lippies bloedrooi, en ogies bedonnerd verby, sweef sy pylreguit op onse James af. Tot die verbasing van die gaste vlieg sy James daar in oor die glasie wyn. “What, may I ask, is thissss (sy sisss dit so uit) doing here?” Haar rooigeverfde krommerige wysvingertjie wys reguit na die glas wyn. “That!” Die oomblik is swanger. Almal wag. Cruella chirp voort – yap, yap, yap. Voor almal verneder sy onse nie-eerstespanspeler daar dat hoor en sien vergaan.

Dit was toe, net toe, dat James lewe kry agter daai blomme, viool en kie. Skielik, sonder waarskuwing, sonder enige waarskuwing, gryp hy die viool en sis deur sy tande: “Vandag fokken slaan ek jou kop plat.” Als in mooi Afrikaans. Toe Me sien hierdie man is vandag ernstig, hardloop sy. Al om die tafel, gillend en trippelend. Met James al sissend en f-end agter haar aan. Sy is later die gang af en toe ons weer sien, die ander gang uit.

Teen dié tyd het die gehoor reeds gegroei, ook dié wat in ʼn draffende prosessie die ontvouende drama agternasit.

Uiteindelik, skielik en sonder waarskuwing kom die twee tot stilstand in die orkesgang. Beide het besef dat sulke gedrag nie regtig van pas is voor hogere gaste nie. Asof vanuit nêrens staan hulle stil en kyk vir ʼn oomblik ‘n doodskyk na mekaar. Cruella wip haar neusie, wat teen dié tyd spierwit geskrik is, gooi haar rooi serpie om haar dun nekkie, skud die rooihaarkoppie agteroor en stap uit asof niks gebeur het nie. James, die opgevoede meisie wat hy is, kyk vir ʼn oomblik half stuurs na sy viool asof dié verantwoordelik is vir die onaangenaamheid, druk dit teen hom vas, lig sy ken, en draai, sonder om ʼn woord te sê, om en loop terug na sy rangskikking, vat ʼn sluk wyn en plak die viool-ding tussen die blomme. Toe draai hy om en maak ʼn ligte buiging vir die steeds stomgeskrikte skaretjie konsertgangers en personeel in die voorportaal.

Toe hy wegloop, het hy iets soos “fucking bitch” gemompel. Ons kon nie mooi uitmaak of dit vir die viool of vir De Vil bedoel was nie. Al wat ons geweet het, was: dit was James se Vioolkonsert in F. Hy kan tot vandag toe nog nie viool speel nie. Maar hy weet om ’n viool te gebruik.