Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Johann Rossouw se nuusbrief uit Taiwan

Tee in my kombuis


Johann Rossouw - 2008-04-02

Ek maak tee in my kombuis en woerts, daar betrap dit my. My blokkasie het verdwyn. Ek kan nou die nag deurskryf. Ek maak MS Word oop; vir my brein voel dit te stadig. Die woorde woel deur my gedagtes. Ek wil skryf, ek wil. Halleluja! wil ek gil.

Ek wil skryf oor die lewe, vriende, die wêreld en alles daar buite. Ek wil my woorde weer eens op papier neerlê. So oneindig baie woorde. Ek wonder of dit is hoe ‘n skilder voel wanneer die prente in sy gedagtes maal en hy dit dan op die doek vaslê. Ek’s werklik bly ek kan weer skryf.

Terwyl ek tee maak in my kombuis, dink ek aan my vriende in Taiwan. Ek dink aan hulle. Ek wonder wat hulle doen, waarmee hulle besig is. Is hulle ook besig om tee te maak in hulle kombuise? Dis al na twaalf, middernag. Maande het ek voor my rekenaaar gesit en daar was niks; nou, om twaalfuur, kom die woorde.

Ek wil vir julle vertel van my vriende. Die meeste van hulle is van Suid-Afrika. Hulle kom van alle "walks of life", verskillende mense met verskillende belangstellings. My vriende is wonderlik, en wanneer ons kuier, kuier ons ‘n hond uit ‘n bos uit. Ek het vriende regoor die klein eilandjie Taiwan. Hulle beteken vir my baie, en ek sal berge vir hulle versit en hulle weet dit.

Ek het ‘n paar jaar gelede geskryf oor hoe vriende stil word. Waarom? het ek gevra. Waarom word mens so deel van mekaar en binne ‘n oogwenk kan julle net weer so van mekaar vervreem? Ek het in my vyf jaar in Taiwan al baie vriendskappe gesmee en verbreek. Mens is soms deur nood gedwing om vriende te maak op die eiland. Ek probeer my bes. Ek bel hulle, skryf e-posse, gaan kuier, maar die response wat ek kry, is maar flou.

Het ons nie meer vriende nodig in die 21ste eeu nie? Het vriendskappe oorbodig geword? My ouers het letterlik honderde vriende en kennisse gehad. Toe ek op universiteit was, het ek nie genoeg vingers en tone gehad om al my vriende te kon tel nie. Wat het van almal geword? Ek dink hoe ouer mens word, hoe minder vriende het jy op die einde van die dag. Ek het gesien met my ma se begrafnis. Daar was maar ‘n klein persentasie van al haar vriende teenwoordig. Mense kom nie eens meer na hulle vriende se begrafnisse toe nie. Waarom, waarom? Wat het van ons geword? Het ons Suid-Afrikaners werklik so koud geword teenoor ons medemens?

Ek kyk na my foon. Is dit my skuld? Doen ek nie genoeg vir my vriende in Taiwan nie? Lê die fout by my? Ek wonder wie my sal mis as ek nou moet sterf. Wie sal my soek? Ek kan werklik nie onthou wanneer laas iemand my op my huisfoon gebel het nie. Dit voel soos maande. Ek dink terug aan die dae toe ek permanent op die foon gelê het, aande deurgebring het op die foon. Ek voel alleen vanaand. Niemand om mee te gesels nie, niemand om my dag mee te deel nie. Almal is so besig met hulle eie dinge.

Ek het seker self skuld daaraan. Spog elke maand my telefoonrekening is so laag. Spaar ek geld op my vriende of spaar ek net geld? Hoekom bel niemand mekaar meer nie? Het e-pos, Skype, MSN en Yahoo die telefoon vermoor? Ek dink aan die liedjie "Video killed the radio star". Is dit ook ’n geval van "PC killed the telephone”? Ag asseblief, mag ek nog ‘n cliché gebruik? “All by myself: Livin' alone/ I think of all the friends I’ve known/ When I dial the telephone/ Nobody’s home.”

Oe nee, ek kry myself nie jammer nie. Dis net dat ek hier sit en wonder wat van my vriende geword het. Is almal dan skielik so besig? Wat het geword van ‘n vinnige lui oor die telefoon om ‘n bekende vriend of vriendin se stem te hoor? Ek onthou jare terug as ‘n kind was dit so dat wanneer ons getrek het, my ouers altyd eerste die telefoon laat installeer het en dan die TV-kanale. Die telefoon was onmisbaar in ons lewens. Dit was die aar wat ons vriendskappe oor die jare gevoed het. Dit was vinniger as die pos en meer persoonlik as ‘n telegram. Skindernuus, resepte, kinderopvoedkunde, gelukwense, simpatie, hartsake en so baie meer, is oor die telefoon meegedeel. Ek kan so goed onthou hoe ek voor die telefoon gesit en wag het om die eerste telefoonoproep, van die toekomstige liefde in my lewe, te kry. Dit was so opwindend.

Wie kan nie daardie “eerste" telefoonoproep onthou nie. Jy’s so opgewonde, jou hart klop in jou keel, jou hande is klam en jy het vlinders op jou maag. Wat gaan ek sê? Gaan ek ‘n sot maak van myself of gaan ek sy voete onder hom uitslaan? Gaan ons iets werklik gemeen hê om oor te gesels? Telefoonoproepe is so erg persoonlik. In die openbaar hou my reëls en regulasies. Selfs die internet kan misleidend wees. Iemand kan enige tyd ‘n foto van ‘n hunk of model opsit. Maar tel die persoonlike oproep nie meer nie? Dan lui die foon. Dis hemel om die persoon se stem te hoor, en sy stem is net vir jou. Niemand anders wat nou saak maak nie, net julle twee. Hoeveel liedjies is nie oor telefone, romanse en liefde geskryf nie? Dit maak saak. Ek het nog nooit ‘n minnelied gehoor waarin die sanger sing: “I just Skyped you to tell I love you.” Het julle al?

Vriende. Ek het baie vriendskapsbande oor die telefoon gesmee. So ontsaglik baie trane oor die telefoon gestort. Saam met my vriende gelag, gehuil, geskree en gevloek. Die ou spreekwoord in Engels, "I’m just a phone call away”, eggo in die leegtes van my kamer. Wat het daarvan geword? Is ons vriendskappe werklik nog net "a phone call away"? Het moderne selfone en sms'e die bekende vervang? Wat is nou lekkerder as om ‘n ou vriend, ’n liefde of familielid se stem oor die telefoon te hoor? Dis beter as die koue, steriele kuberruimte waarin ons ons bevind. Ek mis dit werklik en dit dwaal in my gedagtes rond.

Ek gaan na my “web browser”, maak dit oop en klik op ‘n bekende vriendskapswebtuiste. Dis amper soos ‘n blog, net vinniger. Hier kan jy jou foto’s opsit, kuier, gesels, "applications” installeer en vinnige boodskappe stuur. Alles goed en wel. Alles is mooi uiteengesit. Met die druk van ‘n knoppie kan jy vriende bysit of uitvee. Jy kan binne ‘n oogwenk vriende wees met Lars in Noorweë, terwyl jy met dieselfde beweging ‘n vriend wat jy al jare ken, maar wat nooit werklik met jou gesels nie, van jou lys afvee. Jy gee drukkies, soentjies, hartjies en wie weet wat nog alles. Dis die vriendskappe van die 21ste eeu. "Applications”-sagteware, rekenaar-hardeskywe. Dis ons nuwe vriende.

Ek het nou 300 plus vriende op my webtuiste. Die meeste van hulle het ek nog nooit in my lewe gesien nie. Ek weet nie eens hoe hulle klink nie. Ek deel hartsgeheime met die mense asof ek hulle al jare ken. Hulle het ‘n paar foto’s op hulle webruimte, ’n paar nommers, hulle sê waarvan hulle hou en waarvan nie. Baie van hulle soek net een ding, sommiges sê reguit wat hulle soek. Is dit wat geword het van vriende?

Ek het onlangs bietjie deur ‘n moeilike tyd in my lewe gegaan, dink ek is maar nog steeds daar. Ek en my metgesel het bietjie probleme gehad. Vroeër kon ek die telefoon optel en net gou een van my vriende bel, maar nie meer nie. Ek moet die probleem self konfronteer en uitsorteer. Ek kan nie meer my vriend bel nie, want ons is nie meer sulke goeie vriende nie. Dit klink seker simpel, maar ek mis hom. Ons het mekaar minstens twee keer ‘n week gebel en ure lank oor die foon gesels. Hy’t my vertel van sy hartsake en ek het hom vertel van myne. Ek was kwaad vir hom, maar ons het darem nou so soort van die “reconciliation” ding gedoen, maar die vriendskap wil net nie meer vlot nie. Ek mis ons geselsies en ek mis hom. Soms kon ons ure gesels oor Taiwan, Suid-Afrika, sommer net oor alles en nog wat.

Die mense in Taiwan is permanent op hulle selfone. Hulle gesels elke dag land en sand op hulle fone. In die winkels, op hulle scooters, in die movies, in badkamers. Hoekom gesels hulle so baie? Het hulle beter vrienskappe as ek? Is hulle vrienskapsbande beter gesmee as ons klomp Westerlinge? Is hulle “way of communicating” beter as ons s’n? Gesels ons nog werklik so baie oor die foon, of het ons bloot net te min tyd vir mekaar?

My telefoon is stil. Die ding het seker drie maande laas gelui. Ek en my metgesel gesels maar op die rekenaar. Ek mis julle stemme wat warm oor my oor vloei. Dis goedkoper, maar dis nie dieselfde nie. Ek mis my ou telefoon. Ek mis my vriende. Het ek en my vriende werklik niks om vir mekaar te sê nie? Het ons werklik so besig geword, vasgevang in ons eie wêreldjies, dat ons werklik nie eens meer tyd oor het nie om gou te sê, "Ek mis jou, maatjie”?

Wat het van vriendskappe geword? Het die kuberruim dit ook ingesluk? “PC killed my friends.”

*
Dis oggend, elfuur. Ek het nog geen kontak met enige persoon oor enige telefoon gehad nie. En so sak ons almal terug in ons eie wêreldjies, vasgevang in ons eie ruimtes. Ek hoop eendag kan ons die lirieke van die bekende song verander: “Livin' alone/ I think of all the friends I know/ When I dial the telephone/ EVERYBODY’S home.”

Dream on!