Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wyndagboek

Eikendal-oesfees beloof ’n bielie van ’n buitelug-makietie


Johann H Crafford - 2008-03-19


Maak ’n aantekening in jou dagboek en trek jou feesvere reg vir ’n bielie van ’n buitelug-makietie.

Op Sondag 13 April lei alle paaie na die Helderberg-wynlandstreek wanneer Eikendal eerbied toon aan die wonders van die druif met ’n loslit Weintaufe-oesfees wat sal sorg vir luilekker vermaak vir ’n ieder en ’n elk.

Buiten dat dit ’n gewilde buitelug-makietie is propvol vermaak, heerlike kos en salige samesyn, bied hierdie kelder jou ook die unieke geleentheid om letterlik die vrugte van hul afgelope oes in volle glorie te ervaar wanneer ’n vaatjie van Eikendal se eerste wyn vir 2008 nader geskuif word. Nie net kan besoekers dit proe nie, maar dit sal ook gedoop word met ’n gepaste naam op die dag van die feesvieringe.

Eikendal se wynmaker, Henry Kotzé, sal ook insig verleen tydens gratis wynproeë en -praatjies.

Hope pret en plesier wag op oud en jonk met die klanke van Stellenbosch se gewilde blues-musieksensasie Delta Blue, wat skop sal verleen aan ’n rustige atmosfeer langs die dam.

Kom strek jou bene en sluit jou naweek in ’n stemmige luim af met kosstalletjies, ’n gelisensieerde “watergat”, koffiekroeg, wingerd-trekkerritte, vlieghengel en hope jongspanpret wat wag op die spyskaart.

Verruil jou Sondag-braaiboud vir ’n watertand Mediterreense bederf vanuit die landgoed se restaurant, Harald’s, en deel ’n heilsame bord van die lekkerste vingerversnaperinge sommer net daar op die grasperk. Elke bord is genoeg vir twee persone en kos R190, wat ’n bottel Eikendal-wyn insluit. Voorafbesprekings is noodsaaklik.

Besoekers kan ook litte losmaak tydens ’n jolige pretdraf van 1 of 2 km deur Eikendal se wingerde ten bate van die Anna-stigtingsfonds, ’n niewinsgewende organisasie wat omsien na die welsyn van minderbevoorregte plaaslike gemeenskappe.

Kaartjies vir die Eikendal-oesfees kos R60 per persoon, insluitende ’n gratis wynglas en -proe, en is beskikbaar by die ingang op die dag van die fees. Kinders jonger as 12 jaar geniet gratis toegang.

Die pret skop af om 11:00, met die amptelike doopseremonie omstreeks 12:00. Die pretdraf/stap vind om 15:00 plaas en kos R10 per persoon.

Eikendal is geleë op die R44, halfpad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.