Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

New York, New York


Coenie Kukkuk - 2008-03-18

Werkloos, met net ʼn lied in sy hart, kom hy op ʼn Desemberoggend in New York aan. Die koue klief soos ʼn mes deur sy twintigjarige, lenige lyf toe hy deur die laaste glasdeur van JFK na buite stap. Met sy dokumente en reisigerstjeks om sy lyfband onder sy hemp, ʼn groot rugsak, en sy dik jas styf om hom, bestel hy ʼn taxi. Die Griek neem hom vir ʼn “scenic tour”, sê hy. Hy het ingeboek in ʼn hotel naby Broadway, net om naby die teater, die musiek, die ritme te wees. Net vir ʼn paar nagte, dan moet hy werk soek. Dis al wat hy kan bekostig. Hy sing soos die spreekwoordelike nagtegaal, dit weet hy - en al is dit in ʼn smerige klein nagklub iewers, sing sal hy sing en geld verdien daarmee sal hy.

Sy oë skitter terwyl hy die graffiti-besmeerde brug en geboue inneem. Tagtig dollar later is hy by die hotel en hy verstaan hoekom Staki die “scenic route” geneem het … Hy is nie ontsteld nie, al moes hy gewees het – hy het als ingeslurp soos ʼn woestyndier by ʼn oase.

Die eerste aand sien hy ʼn show, ʼn musical, een van die Off-Broadway-nommers – vir meer het hy nie geld nie. Hy drink in gaykroeë waar hy die mense bekyk … Die stad wat nooit slaap nie, betower hom - hy steier dronk in die nagte van die een go-go kroeg na die ander en het selfs ʼn vinnige sessie met ʼn pragtige jong Latino in een of ander leather-kroeg deurgewerk. Die jong mans wat naak dans laat sy wellus oorloop … dis soos ʼn dwelm, dié Groot Appel.

Na vier dae sit hy op straat met geen werk nie. Hy het nog ʼn paar honderd dollar oor en kry blyplek in ʼn derderangse plek ver van die naglewe waar hy wil wees. Vervoer kos baie en dag na dag word hy weggewys by nagklubs, teaters - hy weet nie waar om oudisies te reël nie. Stadig begin dit tot hom deurdring dat hy in sy jonge, malle voortvarendheid te vinnig weg is van sy beklemmende ouerhuis, sy suurgat pa, sy gedwee ma en die – volgens hom – kortsigtige en ontalentvolle mense in die musiekbedryf tuis …

Na ʼn week, danksy sy oorgretige Russiese buurman se tussentrede, kry hy werk as ʼn opwasser in ʼn Sjinese restaurant waar niemand hom blykbaar kan verstaan nie – hy hulle ook nie. Dis meestal gebaretaal en die klein, geel eienares skree sy ore van sy kop af. Na ʼn paar dae werk hy as skoonmaker en straatveër vir ʼn restaurant met drie tafels buite en slegte kos. Sy pa sou hom doodgelag het. Hy is besig om ʼn green card te probeer koop, die buurman sal dit reël. Sy laaste spaargeld.

Met die vervalste kaart in sy sak kry hy beter werk as kelner. Steeds bly hy in die derderangse plek en elke nag na twaalf, as hy huis toe loop, is dit ʼn nagmerrie. Die stoom trek uit die afvoerpype soos hy in die flieks gesien het en daar is regtig orals geel taxi’s. Die bendes bly hy ver van weg, of probeer. Gelukkig is hy nie ʼn flapping queen nie – dis nou nie juis ʼn gay-vriendelike omgewing hierdie nie.

Na talle werke bevind hy hom in die Village. Gelukkig is hier ʼn gaykultuur oral en as aantreklike kelner is sy fooitjies goed. Hy het selfs ʼn paar one-night stands gehad. Tyd vir verhoudings is daar nie – hy het een doel voor oë: Broadway.

ʼn Ou grys queen luister een dag na sy storie en gee hom ʼn besigheidskaartjie. Dis vir ʼn agent. Daar staan slegs "John Liebevich Casting Agent" op. Vir die eerste oudisie moet hy sy klere uittrek en hy storm vervaard daar weg. Die tweede probeerslag is beter. Hy sing vir die eerste keer. Die teateragent se wenkbroue is omtrent in sy hare en hy weet hy het indruk gemaak. Oudisie na oudisie volg, sonder sukses.

Sy eerste gig is ʼn amateurproduksie – in ʼn teatertjie so groot soos ʼn klaskamer. Als gaan goed, sy rol is nie veeleisend in die chorus nie. Die tweede is beter – dit begin darem na teater lyk.

Na ses maande is hy steeds in die chorus line. Hy weet hy drink te veel, maar als druk hom. Kan hierdie mense nie sy talent insien nie? Sy betaling is pateties en hy is steeds kelner bedags in die Village. Hy slaap bitter min.

Een aand storm hy na drie uit ʼn gay-nagklub en slinger huis toe. Hy weet nie eers wat hy gevat het nie, maar dit moes amfetamien gewees het – sy hart wil uit sy borskas spring. Omtrent ʼn blok van sy apartment af sien hy die bende wat hom aangluur en hy weet: vanaand is die aand. Iewers het hy gehoor dat as jy wil hê mense moet draaie om jou loop in New York, jy soos ʼn mal mens tekere moet gaan … Slingerend en met sy rooi oë lyk hy mal. Hy begin roggel en sy arms wild swaai. ʼn Stroom Afrikaans wat geen sin maak nie, stort uit sy keel. Dis soos ʼn damwal wat breek. Hy vloek die bende, die straat, die werk, die ou queen, die pornomaker, die taxi’s. Hy vloek New York. Dis asof iets hom beetpak en hy hom wil uitwoed. Huilend en skreeuend steier hy teen palissades en straatligte vas. Hy het geen idee waar hy is of waar die bende is nie. In die paar stil oomblikke voor die snikke weer deur hom skeur, het hy ’n gewaarwording van lig, mense om hom en ʼn sirene.

Hy kom na ʼn paar dae uit sy beswyming. Hy kan nie praat nie – sy mond is kurkdroog en daar is ʼn drup in sy arm. ʼn Masjien piep langs hom. Na wat soos ure voel, buk ʼn groot, swart verpleegster oor hom en vra hom: “So what did you take, honey?” Die woorde maak sin, maar hy kan haar nie antwoord nie. Sy gee hom water en hy stotter dat hy nie weet nie en vra waar hy is. Sy trek haar gesig en loop weg. Hy roep agterna en besef dat hy Afrikaans praat. Om een of ander rede wil die regte woorde nie vorm nie. Hy kom agter dat kwyl teen sy mondhoeke afloop. Sy kom terug en spuit iets in sy drup. Die duisternis sluk hom in.

Hy kom met tye by, maar kan nie een keer ordentlik vra wat aangaan nie. Hy word verskuif na ʼn ander saal, waar mense om hom ook skree in die nagte. Op ʼn stadium besef hy dat sy bed deur ʼn tuin gestoot word. Hy gooi op toe hy weer skree: “Waar is ek?!”

Die alewige spuit in die drup. Die pille. Die snaakse mense om hom. Niemand verstaan hom nie. Dis asof hy weet hy kan ʼn ander taal praat as sy moedertaal, maar die woorde kom nie in die regte volgorde uit nie.

Hy besef op ʼn dag dat hy al maande hier moet wees. Hy sien die tralies voor die vensters vir die eerste keer raak. Hy is alweer in ʼn enkelkamer. Dis klankdig – sy gille eggo nie. Sy bed is van staal en in die muur vasgemessel. Hy maak vaagweg uit dat hy partykeer eet; die kos het geen smaak nie. Dit ruik na urine.

Op ʼn dag is hy weer in ʼn badkamer. Hy moet weer in ʼn saal wees, dink hy. Daar is ʼn spieël. Die halfgrys man wat vir hom terugstaar, ken hy nie.

Dae, weke, maande gaan weer verby. Hy praat nou niks nie. Dit help tog nie. Hy staar net by die venster uit.

Een grou middag speel iemand ʼn klavier in ʼn aangrensende vertrek. Hy het die musiek nog nooit vantevore hier gehoor nie. Is dit van waar die ander so lag partykeer? Dit het hy al gehoor. Hy maak sy oë toe. Hy ken die lied. Hy weet hy ken dit. Hy begin sing. Soos ʼn nagtegaal.