Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Hemelse hel of Helse hemel?


Mariska Marais - 2008-03-17

Loftus Marais se resensie oor Martinus De Beer se debuutroman Hemelhel kan maklik as onoortuigend beskryf word. Hoewel ek saamstem met Marais se uitlating dat resensies dikwels ingeprek en gebrekkig is, is sy sg “eksperiment” nie juis suksesvol nie. Menings verskil egter.

Marais voel dit gepas om twee uiteenlopende resensies oor hierdie debuutroman te skryf. Die resensies word dus verdeel in twee dele nl. “Hel” en “Hemel”. In die eerste resensie lig Marais die negatiewe punte (na sy mening) oor die boek uit. Die feit dat die meer negatiewe kant eerste gestel word, mag dalk reeds lesers se oordeel beïnvloed. Met die gevolg dat die tweede resensie nie ’n gelyke kans kry nie.

Dit was ’n uitdaging om Loftus Marais ernstig op te neem. Sy twee uiteenlopende opinies laat mens steeds wonder hoe hy werklik voel. Hy meld in die eerste resensie dat die roman nie juis verhalend is nie. Dit herinner my aan James Frey se boek A million little pieces. Hierdie boek was ook een oor ’n pasiënt in ’n kliniek. Die sukses van die boek het juis vir my daarin gelê dat dit nie verhalend is nie, maar dinge sê soos dit werklik is. Dus voel ek dat Marais die konteks waarin die roman afspeel, nie heeltemal in ag geneem het nie.

Marais wys ook op die melodramatiese taalgebruik. Volgens hom is dit onnodig en weerspieël dit nie die werklikheid nie. Hy voel dat dit nie is hoe jongmense die lewe beleef nie. Mens sal jouself egter kan afvra of dit nie dalk juis gepas is nie? Soms is die gebruik van melodramatiese taal dalk net wat nodig is om as jongmens die seer van die lewe te hanteer.

Marais voel dat die beskrywende naamgewing van die pasiënte irriterend raak. Daar moet egter in ag geneem word dat die roman in ’n rehablitasiesentrum afspeel. Daar is alles irriterend en aanhoudend. Elke dag daar mag voel soos ’n knaende nagmerrie.

Menings mag verskil, maar hierdie “eksperiment” was nie een van die beste resensies wat ek al gelees het nie. Net soos die titel van hierdie kommentaarstuk, laat Marais se resensie my twee keer dink.


Mariska Marais