Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Vergelyking van Johan Anker se resensies


L Hough - 2008-03-17

Met die lees van die drie resensies van Johan Anker - "Die Blou van ons Hemel: Al die elemente van ʼn spanningsroman, maar…", "Chinchilla: aangrypende roman oor trauma" en "Dié Jakkals laat jou vinnig lees") kom dit sterk na vore in watter genre dié resensent belangstel. Die algehele probleem wat voorkom is ‘n tipe snobistiese eienskap van sy “hoëre” kennis van spanningsverhale. Die ironie wat ek hierin vind, is dat sy beste resensie (volgens my) oor ‘n dramatiese roman handel, naamlik Chinchilla deur Nanette van Rooyen.

Die eerste indruk wat gekry word van die resensie oor die spanningsverhaal, Die Blou van ons Hemel, is die neerhalende en sarkastiese toon waarin Anker dit skryf. Dit kom voor asof Anker ‘n idilliese vorm van die perfekte spanningsverhaal in sy kop het en die boek hieraan meet. Selfs Plato het besef dat die idilliese vorm ontoereikend is. Dit blyk met die eerste oogopslag om goed te pas by die taak van ‘n resensent, maar kelder tog die mate van objektiwiteit wat gehandhaaf moet word. Anker moet dus die boek opsigself resenseer en dit nie bloot aan sy eie vereistes meet nie.

Hoewel hy agtergrondkennis van die boek en skrywer insluit (wat in dié geval noodsaaklik is om die swakpunte van die boek te verduidelik), laat hy nie veel uit die mou oor die storielyn self nie. Hy faal daarin om daardie brokkie inligting oor die storielyn in te sluit wat die leser se hulpmiddel moet wees om die besluit te neem om die boek te koop al dan nie.

‘n Groot flater wat hy ook begaan, is om oor ‘n ‘Ruben’ te skryf, sonder dat hy hierdie karakter aan die leser bekendstel. Die leser moet seker self aanneem dat hierdie skim-figuur eintlik die hoofkarakter is.

Daarteenoor resenseer hy Chinchilla weer so deeglik dat hy te veel van die storie weggee. Met sy tweede en eintlike openingsparagraaf (na ‘n baie lang definisie van trauma-verwerking), boei hy die leser nie net om verder die resensie te lees nie, maar ook om dié “oorspronklike” boek ‘n kans te gee.

Hierna verklap hy te veel oor die storielyn – en dit blyk die gevolg te wees van sy opgewondenheid oor die boek. Hoewel sekere motiewe aan die leek verduidelik moet word, soos die Jungiaanse simbole, word baie simbole uiteengesit waardeur die leser dan nie self die genot sal hê om dit self te ontdek nie. Die resensie oorskry die prikkelingsvlak en beweeg reguit na die analiseringsvlak toe. Die karakterisering word op so ‘n presiese vlak verduidelik dat dit die lyn tussen die literatuurwetenskaplike en  die kritikus oorskry.

Met Die Jakkalssomer-resensie het Anker die genre van die boek baie goed met die tempo en aard van sy resensie vereenselwig. Die spannende toon van die inleiding prikkel die leser en weerspieël die aard van die genre. Tog word die vloeiendheid van die resensie later aan bande gelê, asook van die akademiese geloofwaardigheid. Te veel paragrawe is in kort, rukkerige sinne om hierdie fasade voor te hou.

Met beide die eerste twee resensies het Anker se opinie sterk geblyk deur slegs sy toon waar te neem. Hy is egter veel meer objektief oor Die Jakkalssomer, waarin hy nie eers sy opinie staaf nie, maar slegs die storielyn en styl van die roman analiseer.

Anker slaag egter daarin om al drie resensies in gewone, toeganklike taal te skryf sonder om sy betroubaarheid as akademikus en kritikus te verloor. Hoewel sy standaarde waaraan hy spanningsverhale meet, volgens my, hom van ‘n geslaagde resensie weerhou, sal sy opinie ‘n definitiewe rol kan speel in die besluitneming van lesers. Hy behou dus sy geloofwaardigheid as resensent en stel sy kennis bloot om die boeke vir die publiek oop te sluit.