Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-kommentaar

Polaroid-resensie het my geboei


BE Smit - 2008-03-17

Nadat ek al die Biebouw-resensies deurgelees het, was daar egter een wat my geboei gehou het. Dis die resensie van Tom Dreyer se kortverhaalbundel, Polaroid, deur Louise Viljoen. Die opskrif is treffend, wat die nuuskierigheid in die leser sal opwek om verder te lees oor die ‘binnelandskappe’ van hierdie karakters.

Viljoen gee relevante inligting deur aan die leser oor die skrywer. Sy verwys ook na sy vorige werke, wat belangrik is vir die leser wat voorheen dalk al een van sy vorige werke se titels gehoor het, maar onbewus was wie die skrywer daarvan is. Viljoen beskryf kortliks die styl van die werke, wat van kardinale belang is, omdat nie almal van dieselfde genres hou nie.

Alhoewel Viljoen terme gebruik soos “lakonieke verteller”, “tapisserie”, “lirisme” en “inherente”, maak sy deur die loop van die teks dit vir die gewone leek toeganklik om die resensie te kan volg en te verstaan. Sy gee relevante informasie oor die boek wat die leser sal prikkel om wel die boek te gaan lees. Die aanhalings is net genoeg en is nie deurlopende en afgestompde paragrawe soos in Anker se resensies nie.

Sy neem waar hoe dit verskil van Dreyer se ander werke asook die ander kortverhale in die bundel, sy analiseer dit waarna sy dit uit haar eie fokuspunt uit interpreteer om ten slotte haar eie oordeel daaroor te maak. Viljoen betrek ook ander se mening oor die werk in paragraaf 10, maar sonder om daardeur van struikel gebring te word, gee sy haar eie mening en bly objektief. Die styl waarin Viljoen dit skryf is nie styf of über formeel nie, wat dit lekker gemaak het om te lees. Die resensie het my geprikkel om die boek te gaan lees en ek het dit geniet om die resensie te lees omdat dit nie kru of snobbisties geresenseer is nie.