Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Ander hoofde, ander sinne: oor dagboeke; veral twee


Hennie Aucamp - 2008-03-17

Die gay skrywer het ’n belangrike bydrae tot die dagboekliteratuur van die twintigste eeu en tot op hede gelewer. In die twee belangrikste dagboek-bloemlesings van onlangse tye, The Assassin’s Cloak: an anthology of the World’s greatest diarists (2000) en The Secret Annexe: an anthology of War Diaries (2004), saamgestel deur die Skotse egpaar Irene en Alan Taylor, figureer bekende gay skrywers soos André Gide, Jean Cocteau, Ned Rorem, Joe Orton, Cecil Beaton, Alan Bennett, Derek Jarman, JR Ackerley, Christopher Isherwood, Noël Coward, Andy Warhol, Denton Welch, Kenneth Williams en Ossie Clarke.

Om die gay-geledere aan te vul, kan ook dagboekskrywers van biseksuele aanleg genoem word: lord Byron, Virginia Woolf, Nijinski, Stephen Spender en, na bewering, Katherine Mansfield. (Mansfield het minstens twee verhale met ’n lesbiese strekking geskryf, naamlik “Bliss” en “Leves Amores”.)

Die Taylors het hulle kennelik gehou by dagboeke wat oorspronklik in Engels geskryf of in Engels vertaal is. Op dié manier kon ’n paar dagboeke buite hul gesigsveld geval het. Een so ’n dagboek – beter gesê, ’n reeks dagboeke – is van die gay Nederlandse skrywer, digter en vertaler Hans Warren. In Nederland het die literêre publiek gretig gewag op die volgende dagboek in die Warren-reeks. Warren het, soos André Gide, Anaïs Nin, Cecil Beaton en Alan Bennett, dagboeke bygehou met die oog op publikasie. (Ná Beaton se dood het sake egter verander.)

Hierdie skrywer wil hom by twee redelik onlangse dagboeke bepaal: dié van Alan Bennett, wat as “Diaries 1996–2004” opgeneem is in ’n dik prosaversameling, Untold Stories, en dié van Cecil Beaton, getitel The Unexpurgated Beaton, wat inderdaad verskyn soos hulle geskryf is, sonder inmenging van Beaton, want dit is lank na sy dood persklaar gekry deur sy biograaf Hugo Vickers.

Vickers sluit ook vroeër gepubliseerde dagboeke van Cecil Beaton in, maar nou met al die passasies daarin wat Beaton om dekorum-ontwil weggelaat het. Alan Bennett se dagboekinskrywings, hierteenoor, is hipergeredigeer, wat hoegenaamd nie wil sê gesensureer nie; hy onthou bloot dat hy vir ’n literêre publiek skryf. Fragmente uit sy dagboek van ’n vorige jaar verskyn gereeld in die London Review of Books.

Maar ook Bennett se dagboekwerkwyse verskil geheel en al van dié van Beaton. Bennett sien sy dagboeke as ’n reeks tersydes. Hy hou nie van volledige verslae nie, en probeer dit vermy om vroeëre gebeurtenisse eers later op te vang. Beaton hou sy dagboeke by in periodes van eensaamheid en verveeldheid, en wat hy dán doen, is juis om afgelope geskiedenisse op te vang. Op dié manier kry sy dagboeke die aansien van ’n reeks mini-essays, elkeen met sy eie titel. Bennett se dagboeke het ’n onmiddellikheid wat dié van Beaton nie altyd het nie. Beaton, weer, skryf meesal terugskouend en interpreterend, ’n werkwyse wat sy eie voordele inhou.

Maar ook wat temperament betref, is daar ’n groot verskil tussen Beaton en Bennett. Beide kom uit die middestand, maar Beaton was deur en deur ’n snob met adelstand-pretensies, waar Bennett soos ’n Betjeman en ’n Elton John die spraak en die gewoontes van die man op straat eerbiedig. Bennett se groot krag as toneelspeler is juis die perfekte weergawe van volkspraak, met inagneming van idioom en spreektaalritmes. Bennett het hom nie daaroor geskaam dat sy pa ’n slagter was nie; Beaton het waarskynlik so gou moontlik probeer vergeet dat sý vader dwarslêers vervaardig het. (En ryk geword het hieruit, moet haastig bygesê word.)

Beaton is in ’n sin die Truman Capote van Engeland. Ook Truman Capote wou so gou moontlik uitstyg bo sy familie-omstandighede. Hy het, om Gore Vidal by te haal, na die top sosiale laag gestrewe, maar in die proses “High Society” met die “Jet Set” verwar.

Dis dan ook Capote wat deur Vickers aangehaal word in sy openingsopstel tot The Unexpurgated Beaton. Capote sê van Beaton: “… nothing in his background … would in any way lead one to suppose that this person would emerge out of this cocoon of middle-class life.”

Cecil Beaton was ’n verbete “Streber” en “arrivist”. ’n Keer of wat het hy byna van die sosiale leer afgeval, soos die keer in New York toe hy anti-Semitiese sentimente in ’n spotprent ingewerk het en vir meer as ’n jaar werkloos was; en dit was so hittete of sy indiskrete uitlatings oor sy verhouding met Greta Garbo het ook teen hom getel. Hy het gehoor dat hy tot ridder geslaan gaan word, maar was beangs dat Buckingham-paleis dié eer aan hom gaan onthou as gevolg van sy onhoflikheid teenoor Garbo. Dit het nie gebeur nie, en Beaton het sir Cecil Beaton geword. Hy was so verdwaasd deur dié eer dat hy nie ’n woord gehoor het van koningin Elizabeth se persoonlike gesprek met hom nie. Hy moes later by ’n medepryswenner probeer uitvind presies wat haar Majesteit gesê het.

Truman Capote was minder gelukkig as Beaton. Al sy vriende – High Society-vriende sowel as stralerjakkers – het hom versaak nadat hy hulle vertroue in hom geskend het met die publikasie van Answered Prayers. Hy het eensaam en arm gesterf.

Op die oog af lyk dit of Beaton en Alan Bennett min gemeen het. Bennett is natuurlik veel jonger as Beaton, en die Londen van die sestigerjare van die vorige eeu was sý era, waar die dertiger- en veertigerjare (kortom, die Oorlogsjare) Cecil Beaton se periode was.

Wat die twee uiteenlopende persoonlikhede bind, is hul Engelsheid. Beide is hartstogtelik lief vir die natuur en parkagtige Engelse landskappe, en beide het ook huise buite Londen besit, waar hulle soos squires kon leef, met diere en voëls naby hulle. Beaton en Bennett se politieke simpatieë was nie dieselfde nie, maar beide het kennis geneem van die politiek van die dag, en het berig daaroor uitgebring in hul dagboeke – Bennett ’n bietjie te bewustelik na my smaak, asof hy ’n segsman wil wees vir lesers van die London Review of Books.

Beide het van kuns gehou, en Bennett het dit tot trustee van Nasionale Kunsgalerye gebring, en het in sy jongelingsjare self geskilder, soos ’n spitsvondige selfportret uit sy Oxford-jare (1955) getuig.

Cecil Beaton het geskilder, maar dis vir sy teater- en rolprentkostuumontwerpe dat hy onthou gaan word. Mense wat niks anders van Beaton weet nie, sal miskien tog sy swart-en-wit ontwerpe vir die Ascot-toneel in My Fair Lady onthou.

Beide Beaton en Bennett het baie en intensief gelees, en beide het Venesië gereeld besoek; Beaton dikwels as gas van hooggeplaastes.

En dan het beide gereeld kommentaar gelewer oor die skeppings waarmee hulle op ’n gegewe oomblik besig was – “work in progress”. Dis miskien een van die belangrikste aanstigtings tot dagboeke by skrywers, om ’n soort lopende verslag oor hul werk in wording te skryf.

Wat is die opvallende verskille tussen Beaton en Bennett? Die manier waarop hulle hulself aanbied, sou ek sê. Beaton was ’n snob, en kon harteloos teenoor sy medemens wees. Hy het ’n skerp waarnemingsvermoë gehad, maar ook ’n skerp tong. Jean Cocteau het hom Malice in Wonderland genoem, wat ’n pynlik akkurate kensketsing is. Dit verklaar miskien waarom Cecil Beaton dit nooit gehaal het as toneelskrywer nie: “the milk of human kindness” het ontbreek wat die laer stande betref; ook wat mense in die algemeen betref. Wat Beaton van sir John Gielgud sê, kan miskien op homself toegepas word: “There is no sensuality about his personality, and much as I admire and like him, he is difficult to love.”

In Harrap’s Book of 1000 Plays, gebaseer op ’n statistiese ontleding van toneelstukke wat in die West End van Londen opgevoer is tot 1989 toe, skitter Cecil Beaton se toneelstukke in hul afwesigheid, terwyl van Bennett die volgende stukke genoem word: Forty Years On; Getting On; Habeas Corpus; The Old Country. Vandag, in die jaar 2008, sal talle nuwe titels bykom, soos Kafka’s Dick, The Lady in the Van en The History Boys.

Maar as Cecil Beaton dit nie gehaal het op toneel- en fiksiegebied nie, gaan hy tog onthou word vir sy dagboeke, gekuis en ongekuis. Verder is sy foto’s van selebriteite en die Koningshuis deel van die sosiale kultuur van ’n eeu, en sy opvattings omtrent skoonheid, veral dié van vrouens, het die estetiek van ’n generasie of twee beïnvloed.

In die Du-uitgawe van Julie 1968 verskyn daar ’n reeks van Beaton se foto’s wat ikoniese dimensies verkry het met die jare: die Koninginmoeder op die trappe van Buckingham-paleis, parasolletjie in die hand, asof sy op pad is na Ascot of na ’n tuinparty, in 1939; Anita Loos en Nancy Cunnard, skryfsters, binnenshuis afgeneem, feitlik gereduseer tot dekorstukke, in 1930; ’n gestileerde Gertrud Lawrence, blyspelspeelster, in 1930; Johnnie Weismüller, Olimpiese swemkampioen en daarna ’n legendariese Tarzan in films, ook in 1930; Marlene Dietrich, een en al vere en tulle, en teatraal belig, in 1930; Aldous Huxley wat deur ’n skeur in ’n gaasgordyn na ons kyk, en net gedeeltelik duidelik sigbaar is, in 1930 – ’n profetiese foto, as in ag geneem word dat The Doors of Perception eers in 1954 verskyn het; die “egpaar” Gertrude Stein en Alice B Toklas, in 1932; Jean Cocteau, soos ’n Engelse dandy aangetrek, met ’n eksklusiewe ring aan linker- en regterpinkie, en ’n karnavalmasker in die regterhand, in 1931; en les bes, die Windsors, die gewese Edward VIII en die “lounge lizard”, Mrs Wallis Simpson, in 1936.

Dis of die buitewêreld en sy armoede nie vir Beaton bestaan het nie. Dié onplesierighede het hy oorgelaat aan fotograwe soos Bill Brandt, Cartier-Bresson, Alvarez-Bravo, Dorothea Lange, Brassaï, Robert Capa en ander.

Truman Capote het van Beaton, die fotograaf, gesê: “The camera will never be invented that could capture or encompass all that he actually sees.”

Die Beaton-“oog” is net so aanwesig in sy dagboeke as in sy foto’s. Die dagboek bied verder kunsteoretiese opmerkings oor skoonheid. (Een van Beaton se vroeë boeke heet The Book of Beauty (1930), alhoewel die teks deur ’n skimskrywer geskryf is.) Vir Beaton is ’n lang, slank nek ’n onmisbare bestanddeel van vroueskoonheid – Vickers praat van Beaton se “slenderized necks”. Soms het Beaton dit ook betreur as mans se nekke nie na wense was nie; dié van die akteur Alan Bates by name, want sy nek het met die jare só verdik dat dit later gelyk het of hy géén nek het nie.

So obsessioneel as wat Beaton was oor Skoonheid – ja, met ’n hoofletter – so obsessioneel was hy ook oor die verval van Skoonheid. Hy ly, soos alle Romantici, aan die “toef langer, o skone dag”-sindroom, vir alle tye geformuleer deur Goethe in Faust I.

Watter romantikus het gesê dat hy in elke mooi vrou reeds ’n skedel sien? Iets van dié dekadente romantiek slaan deur in Beaton se penportret van Audrey Hepburn: “She wore pink Givenchy ruffles, her hair in curls. Great animation, but my eagle eye spotted a certain amount of grimacing, which is fast making her into a caricature.”

Soms grens Beaton se siening van verval aan die apokaliptiese. Van die legendariese Amerikaanse aktrise Lynn Fontanne op ouderdom 84 sê hy: “She has collapsed into her own body, her face hardly recognizable.” Dís dan wat oudword beteken – ek sien dit daagliks in eie spieël – ’n implosie, soos hy die vernietiging van geboue. ’n Instort in die swart gat wat jy aan die word is.

Soms het Beaton die moed om homself te dekonstrueer. Hy sien homself op ’n foto as “a sniggering, giggling, comic old man”.

Daar is passasies in The Unexpurgated Beaton wat irriteer, soos Beaton se skoolseunagtige verslae van sy intieme besoeke aan hooggeplaastes, by name die Koningsgesin, en tog skroom hy nie om herhaaldelik die woord dowdy omtrent dié gesin te gebruik nie, veral omtrent die rokke en haarstyl van koningin Elizabeth II.

Maar hoe verklaar ’n mens dit dat jy baie lank met vriende oor die dagboeke van Beaton kan gesels, en bitter min oor dié van Alan Bennett?

Bennett skryf gedistingeerde prosa, en hy bevestig wat Churchill genoem het “the glory of the English sentence”. Maar dis selde dat ’n dagboekinskrywing as ’t ware van die blad af opspring na jou. Soms is daar ’n pragtige beeld, soos die een van sint Markus in Venesië:

… the floodlighting of the basilica not at all harsly done, so that St. Mark’s emerges from the gloom and seems to glow. And yet one gets a sense of the building sitting there like a spider, luring people in.

‘n Mens sal terugkeer na Bennett se dagboeke wanneer jy sy werk lees, veral The History Boys, maar as ’n geheel is daar iets meganies omtrent Bennett se dagboeke, en iets te middelklas-ordentlik. Dis ’n “droewige” feit dat baie van die groot dagboeke in die geskiedenis, dié van die Goncourt-broers vooraan, almal skinderboeke is.

Hierdie skrywer sal hom meer tuis voel in die geselskap van Bennett – hy leef nog – as wat hy hom sou gevoel het in die geselskap van Beaton met sy allessiende, soms wrede oë. Maar dis op die ou end van Beaton dat ek die meeste geleer het omtrent skoonheid, verval en die dood. En deur Beaton het ek Apollon Musagète van Stravinski leer ken, musiek wat ’n hele nuwe dimensie tot my lewe gevoeg het. Dis die musiek wat Beaton as sy begrafnismusiek wou hê – het dit toe só gebeur?

Cecil Beaton het in 1974 ’n beroerte-aanval gehad wat sy regterhand verlam het. Met heroïese wilskrag het hy met sy linkerhand begin skryf, teken, skilder, fotografeer. Tussen 1978 en 1980 het hy weer sy dagboek begin byhou, nou met ’n swart viltpen, iets waarvan min mense bewus was. Sy sintaksis was nie altyd pluis nie, en hy het name begin vergeet. Vickers het net enkele van dié briewe in sy bundel opgeneem.

Sy allerlaaste inskrywing raak sy kat Timothy, wat sewentien jaar lank sy metgesel was. Beaton het, soos talle eensame mense, ’n troeteldier verhef tot sentrale emosionele fokus van sy bestaan. In sy ontroerende “grafskrif” vir Timothy het Beaton onder andere gesê: “Now all was over and Timmy was alone, parted from us, while we were very much alone, parted from him.”

’n Week later, op 17 Januarie 1980, is Beaton oorlede.

’n Slotpassasie waarin ek dié lastige vraag vir die soveelste maal moet probeer beantwoord: Kan jy seksoriëntasie uit die geskrifte, skilderye en musiek van ’n gay persoon aflei? Onfeilbaar aflei? Uit dagboeke byvoorbeeld?

John Richardson, soos aangehaal deur Vickers, het van Cecil Beaton se dagboeke gesê: “… historically important because he was an eye-opening recorder of the passing show, a witness to his time”. En dieper in dieselfde sin in, dié uitspraak: “… Cecil had a homosexual’s flair for seizing on the zeitgeist.”

Ek onderskryf nie dié “bevoorregting” van gays soos deur onder andere James Pope-Hennesy en John Richardson geponeer nie. Van die belangrikste getuies van ’n tyd was nie noodwendig homoseksueel nie, soos byvoorbeeld die dagboekskrywers graaf Galeazzo Ciano (1904–43), skoonseun van Mussolini, met ’n skerper politieke oordeel as sy skoonpa. En dan is daar graaf Harry Kessler (1868–1937), wat 35 jaar lank ’n dagboek bygehou het en spanninge in Duitsland sedert die Eerste Wêreldoorlog haas seismografies geregistreer het. Ook Kessler, terloops, hoort tot die skinderlustige faksie dagboekhouers – en word nog steeds gelees en aangehaal, nes die Goncourt-broers.

Cecil Beaton het sy tydgees alte selektief vertolk – eensydig, om presieser te wees, want hy was ’n stand-snob.

Nog ’n karakteristiek van die gay sou sy “outsider”-skap wees.

Dié “outsider”-skap van die gay word egter oorbeklemtoon; dis ’n obsolete begrip in moderne tye, waar gays toenemend by die hoofstroom ingeskakel word en selfs mag trou met die man van hul keuse, of natuurlik vrou, in die geval van lesbiërs.

Natuurlik is daar ’n ander soort “outsider”-skap as die sosiale: dié van die kunstenaar wat, vir ’n beter perspektief, effens terugstaan van sy gegewe. Maar dié afstandelikheid is, soos intelligensie, nie aan seks gekoppel nie.

Watter “tipiese” hoedanigheid van ’n gay kan verder uit sy (skryf)werk geabstraheer word? Flambojantheid? Geniepsigheid? Soms wel, soos by Cecil Beaton; soms nie, soos by Alan Bennett.

Watter leidrade bly oor? Openlike erkennings van seksoriëntasie? Nóg Beaton, nóg Bennett verswyg dat hul gay is, en noem hul verhoudings in die verbygaan. Daar was twee verhoudings met mans in Cecil Beaton se lewe, maar kwalik volwaardig; in elk geval nie verhoudings wat ’n leeftyd geduur het nie. Alan Bennett het laat in sy lewe ’n verhouding met ’n man gesluit, en dis eers toe hy van kanker herstel het dat sy lewensmaat by hom kom woon het.

Maar wat maak dit tog alles saak? Seksoriëntasie by Beaton en Bennett en ’n heirskare ander gays is só vergroeid met hul totale menswees dat gaywees kwalik te isoleer is van hul menswees. Kan jy, om Yeats by te haal, die danser van die dans onderskei?

Op die ou end is dit ’n negatiewe oefening om te probeer vasstel of ’n kunstenaar, skrywer, komponis, gay is of nie. Veel nuttiger sou dit wees om uit te vind of hulle goed is in wat hulle doen, en waarom.


Enkele bronne

Beaton, Cecil. 2005. The Unexpurgated Beaton, soos saamgestel, ingelei en begelei deur Hugo Vickers; eerste slapbanduitgawe, New York: Carrol & Graf.

Bennett, Alan. 2005. Untold Stories. Londen: Faber & Faber.

Du (Switserse tydskrif). 1929-1939: Ein Jahrzehnt im Spiegel seiner Photographen. Julie1968.

Taylor, Irene en Alan. 2000. The Assassin’s Cloak. Edinburgh: Canongate.

—. 2004. The Secret Annexe. Edinburgh: Canongate.