Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die posisie van Afrikaans aan die Universiteite vir Tegnologie


Johan Anker - 2006-09-29

Die vrae van hierdie Taalberaad wentel om die volhoubaarheid van Afrikaans aan tersiêre inrigtings en strategieë om dit of volhoubaar te maak of die volhoubaarheid voort te sit.

Ek moet net eers beklemtoon dat statistiek wat in hierdie toespraak gegee word, by benadering afgerond is en op telefoonoproepe, fakse en e-posse berus – enige foute daarin is my persoonlike foutiewe afleidings – die meeste getalle is verskaf vir die 2005/6-jaar en die meeste van die instansies het aangedui dat die getalle min of meer dieselfde sal bly. Die inligting is aanvanklik ingewin as deel van ’n ondersoek om die taalbeleid van die KSUT te formuleer.

1. Oorsig oor die Universiteit vir Tegnologie

Die posisie van Afrikaans as taalmedium by Universiteite vir Tegnologie is eintlik skrikwekkend. Dit is feitlik net op die Wellington-kampus van die CPUT en die Upington-kampus van die Vaal University of Technology dat Afrikaans uitsluitlik as onderrigmedium gebruik word.

Wanneer ’n mens egter kyk na die studentegetalle en die rasse- en taalsamestelling van daardie getalle, is dit geen verrassing nie. Die totale getal studente by hierdie ses Universiteite vir Tegnologie is ongeveer 140 000, van wie slegs ongeveer 15 000 Afrikaanssprekend is. Slegs op die Tswane University of Technology se Pretoria-kampus is die getal Afrikaanssprekendes werklik van belang: ongeveer 4 700; en in die KSUT, ongeveer 6 200.

Getal studente:

Tswane:   49 000  (2006)  (7+ satellietkampusse)

CPUT:   29 000  (2007)  (5 satellietkampusse)

Durban:   23 000  (7 satellietkampusse)

Vaal:     18 000 (4 satellietkampusse)

CUT:    10 000  (4 satellietkampusse)

Mangosutho:     10 000  (2 satellietkampusse).

Hierdie kampusse is ook versprei oor ’n groot geografiese gebied en oor ’n magdom satellietkampusse – 30! – met verskillende rasse- en huistaalsamestellings.

Die medium van onderrig word in die taalbeleid by hierdie Universiteite vir Tegnologie aangebied as Engels by 5 van die 6 UT’s, met slegs die KSUT wat tans nog ’n dubbelmediumbeleid volg, maar waar die taalbeleid vir die nuutgestigte Universiteit nog nie finaal bepaal is nie.

Verskeie ander TU’s het ook aangedui dat hulle nog ’n finale taalbeleid moet formuleer, alhoewel die afleiding dat dit Engels sal wees, nie teengespreek is nie.

Die huistaalsamestelling van hierdie universiteite plaas ook Engels in ’n minderheidsrol, maar die akademiese taal wat deur die meerderheid studente verkies word, is Engels. In die CUT (Vrystaat), byvoorbeeld, is die persentasie Afrikaanssprekende studente 19 persent teenoor die 4,6 persent Engelssprekende studente, met amper 40 persent Sotho-, 18 persent Tswana- en 10 persent Xhosa-studente. Die akademiese voorkeurtaal is egter 84 persent Engels.

Die feit dat die ander amptelike tale benewens Afrikaans en Engels dus nie as akademiese tale genoegsaam ontwikkel is nie, en die persepsie dat Engels die taal van bemagtiging is, is in ’n groot mate verantwoordelik vir die huidige situasie

2. Die posisie op Wellington

Wellington was vroeër die Onderwyserskollege Wellington (WOK) tot 1990 toe dit geamalgameer het met die OKP, die Onderwyserskollege in die Paarl om die Onderwyskollege Boland (OKB) te vorm. By hierdie onderwyskollege is ook geamalgameer Denneoord, Oudtshoorn, Graaff-Reinet, Port Elizabeth en Athlone (1994). Die onderrigmedium was deurentyd Afrikaans en die studente oorwegend Afrikaanssprekend.

Met die inkorporering van onderwyskolleges by die hoëronderwyssektor sedert 1999/2000 het die OKB ingeskakel by die Kaapse Technikon. In die Memorandum van Ooreenkoms van 1999 is duidelik gestipuleer dat die kampus op Wellington gebruik moet word vir onderwysersopleiding en dat die voorgraadse onderwysersopleiding op Wellington in Afrikaans sal geskied en die voorgraadse opleiding in Engels aan die Mowbray-kampus van die Kaapse Technikon (die ou Onderwyskollege Kaapstad).

Die verstandhouding is gehandhaaf ten spyte van besware oor die uitsluiting van studente in die Senaat en elders. Op nagraadse vlak en deeltydse vlak op Wellington word amptelik ’n dubbelmediumbeleid gevolg, maar die studente is in baie gevalle slegs Afrikaanssprekend.

Met die amalgamasie tussen die Kaapse Technikon en die Technikon Skiereiland (albei instansies wat vroeër baie Afrikaanssprekende studente getrek het, maar langsamerhand verengels het) het die huidige rektor, prof Tanga, die versekering gegee dat die onderneming teenoor Wellington steeds gehandhaaf sou word.

Die feit dat dit primêr gaan oor onderwysersopleiding vir die Wes-Kaap met ’n skoolbevolking wat 70 persent Afrikaanssprekend is, is deel van die logika van hierdie besluit, asook die feit dat die Mowbray-kampus wel dieselfde opleiding in Engels aanbied.

Engelssprekende studente word wel op Wellington aanvaar – is nog al die jare aanvaar – maar studiemateriaal en klasse word in Afrikaans aangebied. Daar word wel baie gedoen om Engelssprekende studente te akkommodeer deur afsonderlike vraestelle, die indien van opdragte in Engels, en hulp met notas waar moontlik. Daar is in elke jaargroep Engelssprekende studente wat min probleme met die kursus ondervind na drie, vier jaar in die Afrikaanse omgewing.

Ons besef dat ons op ’n Afrikaanse eiland sit in die middel van ’n golf (tsunami) van  Engels. Volhoubaar? Binne ons omstandighede en met bostaande redes as agtergrond: ja – die hoop beskaam beslis nie. Maar dit geld maar vir net ongeveer 1 000 van die meer as 6 000 van die Afrikaanssprekende studente aan die KSUT!

Miskien moet ek net byvoeg dat  die onderwysstudente op Wellington verplig word om drie tale vir drie jaar lank te neem: Afrikaans, Engels en Xhosa. Die sukses daarvan het duidelik geword toe kandidate vir die Studenteraad vanaf die hoofkampusse Wellington verlede jaar besoek het om hulself voor te stel. Toe hulle aan die Afrikaanssprekende derdejaarstudente sê dat hulle hulself nie in Afrikaans kan voorstel nie, was die spontane antwoord dat hulle dit maar in Xhosa kan doen. Tot die verstomming van alle teenwoordiges het die res van die bespreking toe in Xhosa plaasgevind!

3. Gevolgtrekkings/Oplossings?

3.1  Moet ’n mens die rede vir die klein en dalende totaal Afrikaanssprekende studente aan Universiteite vir Tegnologie toeskryf aan ’n gebrek aan belangstelling in daardie studierigtings en opleiding, of ook aan die taalmedium van hierdie instansies? Is een van die redes vir die dalende persentasie Afrikaanssprekende studente aan US nie ook die debat oor die taalbeleid en die onsekerheid by ’n voornemende student oor wat hy/sy in die klas gaan aantref nie? Sou ’n positiewer taalbeleid tov onderrig in Afrikaans nie juis getalle laat groei soos op Wellington nie? Want die getalle en aanvraag word al hoe groter.

3.2  Opvallend in die scenario van die UT’s is die aantal satellietkampusse met ’n verskeidenheid van meerderheidstale (ander Afrika-tale) soos Noord-Sotho, Zulu, Tswana, Swazi … In die Tswane-UT is daar byvoorbeeld ongeveer 8 000 Noord-Sotho-sprekers.

Sou ’n taalbeleid wat die meerderheidstale op satellietkampusse erken en ’n dubbelmediumopsie waarin die  Afrika-taal ondersteun word en ontwikkel word, nie oneindig baie kon beteken vir die sogenaamde beleid en uitvoerbaarheid van meertaligheid nie? Dus ’n voortsetting van wat baie mooi in die taalbeleid van die CUT staan:

… dat Afrikaans en Suid-Sotho as aanvullende kommunikasietale erken word; dat waar lewensvatbaar hierdie twee tale as parallelmedium-onderrig gebruik kan word; dat leer- en ondersteuningsmateriaal, waar moontlik ook in Afrikaans beskikbaar sal wees.

By al die ander modelle oor taalbeleid wat alreeds voorgehou is, kan dus ook ’n veelkampusmodel soos op Potchefstroom (NWU) en die KSUT gevolg word.

3.3  ’n Volgende vraag handel oor die ewige refrein van die uitsluiting van studente. Is dit dan nie moontlik om Afrikaanssprekende studente ook uit te sluit nie – of tel dit eenvoudig nie?

Die argument is juis dat ons veral in die Wes-Kaap en Noord-Kaap duisende arm Afrikaanssprekende die reg op hoër onderwys ontsê deur die gedwonge taalbeleid van inrigtings. Christo van Rheede van die SBA het al telkemale na hierdie situasie verwys.

3.4  Die uitsluiting van Afrikaans in die hoër onderwys het direkte gevolge vir die aandrang op die taalmedium vir die skool. Die aandrang op moedertaalonderrig, die sukses waarvan daar onomstootlike bewyse voor is, kan ly onder die taalbeleid van universiteite wat die persepsie en die werklikheid laat ontstaan dat Engels al taal is vir verdere studie, publikasie en werksgeleenthede. Die ontwikkeling van voertaal en  moedertaal is ’n kontinuum tussen skool en universiteit – nie een van die twee mag dit verbreek nie.

3.5  Moedertaalonderrig vereis ook die verdere opleiding van vakspesialiste (onderwysers) in hul moedertaal om daardie konsepte weer te gaan verduidelik en daaroor te skryf: vir die kurrikulum, vir die onderwyser, vir die leerder. Hierdie vakspesialiste word tog by die hoëronderwysinrigtings opgelei en moet weer die evangelie in die skole gaan versprei: in hulle moedertaal.

Johan Anker: Assistentdekaan: Onderwys op die Wellington-kampus van die KSUT

Referaat gelewer op die Taalberaad: 'n Volhoubare plek vir Afrikaans in die tersiêre onderwys, Stellenbosch, 1 en 2 September 2006. Aangebied as 'n gesamentlike aksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.