Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Falsetto in Korea


Johan Reiners - 2008-03-12

En die spieël smile ook …


Ai toggie, my hare! Synde in ‘n familie waar die grys al so om en by 20 om jou slape wys, kan jy jou net indink hoe ons op 40 moet lyk. Heeltemal grys! Spierwit! Glads te veel vir ‘n hupse iewers-in-die-40 goeie ordentlike moffie. Dis mos die image wat tel, sien. En al is die enigste wat jou image kan waardeer, jy self, dan is daar nog iets soos self-image. Of iets in dier voege. Daarom doen ek wat elke ander ydele lid van my falsetto familie doen: kleur die blerrie spul. Sommer swart – dan pas jy so ietwat in by ‘n hele nasie met swart hare. Dan kry jy nie daai "kyk" wat my liewe blonde vriend die afgelope winter daagliks gekry het toe hy vir my hier kom kuier het nie. Natural blond is vir die Koreane ‘n vreemde, maar bittere vreemde ervaring.

Ek probeer toe om te kompenseer vir die ysige Koreaanse winter deur my hare so bietjie langer te laat groei. So net onder die ore. Wat ‘n ramp. ‘n Haarkenner, so lees ek iewers in ‘n absoluut ongesaghebbende bron, sê mos dat ‘n gewone mens so iets soos tussen 100 en 300 hare per dag verloor. Maar as jy nou meer (volgens dié gesaghebbende) hare verloor, moet jy weet jy is vinnig op pad na ‘n haarkastrasie. Pankop! Ek kon dit nog nooit regkry om die vallende hare te tel nie. Maar toe ek dit nou die dag wou laat groei, kom ek agter die digte bos wat ek as my erfreg beskou het, het aansienlik verminder. Dus was my kop later soos die weervoorspelling – kol-kol harebuie en die res windverwaaid. Ek kom toe uiteindelik tot hierdie aardskuddende en lotsbepalende besluit: sny die lot af en kyk wat oor is! En kleur die bietjie wat oor is, weer eens swart – ai, die ydelheid tog! So besluit, en so sit ek een vrolike oggend af na die Koreaanse haarkapper wat so een keer vantevore al sy hand aan my hare gewaag het.

Vanoggend is hy nie daar nie en sy vennoot, ‘n korterige dametjie wat vreeslik baie praat – als Koreaans waarvan ek net die basiese "ja", "nee’", en "goeie dag" soort van verstaan – is in volle beheer. Die vorige keer wat ek daar was, was ek die enigste kliënt. Hierdie keer was daar meer. En wat ‘n ervaring was dié haarsnydag nie net nie. Ek het gedog ons falsetto-geslag is ydel. Julle het nog nie Koreaanse straights gesien nie.

Die baie-praat vrou laat my sit. Ek wys vir haar so met my duim en wysvinger hoe kort ek my hare wil hê. En ter wille van goeie interkontinentale kommunikasie neem ek haar na ‘n boks met haarkleursel in om haar te laat verstaan dat my oorblywende hare darem nie in allerhande skakerings van grys moet agterbly nie. Sy verstaan en raak begeesterd. Sy sny en met elke bondel hare wat afval, lyk sy al hoe meer na ‘n Van Gogh wat homself verloor in sy skilderwerk. Intussen kom daar ander kliënte in – ‘n jong man met ‘n netjiese pak klere aan en ‘n heelwat ouer man later. Intussen is die vrou besig. Sy praat, en as sy die slag ‘n stille moment kry, kom sy my paar stopselhaartjies by met ‘n kleurkwas. Sy smeer, sy meng en dan smeer sy weer en sy praat. Ek verstaan niks nie en fokus in die spieël om tog net te probeer uitmaak wat de hel met my hare gebeur. Sonder my bril is alles maar ietwat vaag.

Met my veelbewoë Koreaanse woordeskat en haar besonderse welsprekendheid in alles behalwe Engels het ons nooit by die punt gekom waar ons oor ‘n kleur vir my oorblywende hare besluit het nie. Sy het sommer self besluit en die uitkoms daarvan was hoogs onbekend. Uiteindelik sug sy, staan ‘n voet of twee terug en gee so ‘n "victory smile". Haar meesterwerk is klaar. Sy het teen dié tyd agtergekom dat ek nie regtig haar gesels verstaan nie en beduie toe maar dat ek van plek moet verskuif en wag dat die wonderwerk op my kop sy werk doen.

Dis toe dat hierdie onverwagse, hoogs aanskoulike stukkie Koreaanse ydelheid voor my afspeel.


Die duidelik straight ou, met trouring en al, word na die stoel der slagting beveel en weer raak die dame in ekstase. Hy wys, sy sny. Dis net hare wat trek en dit praat. Aanhoudend! Hy wat wys en sy wat knip, sny en trim. Uiteindelik is dit klaar. Klaar gesny, vaar die man in die wasgedeelte van die vertrek in. Dit moet onmiddellik genoem word dat daar geen assistente in die salon is nie. Harewas is jou joppie en joune alleen.

Onse haarkapper is reeds weer besig met die ouer man, wat op sy beurt weer verduidelik en praat. Maar vanuit die wasgedeelte raak die eerste man in ‘n toestand asof ‘n gees hom beetkry en jy hoor net ‘n gedruis van groot waters. Die hare word gesjampoe en gecondition en die water stroom. Dit sug en dit kry lekker en die oe’s en aa’s hoor mens eintlik nie in goeie Christengeselskap nie. Maar die man was en hy droog en hy oe en aa.

Uiteindelik verrys onse metrosexual van agter die wastafel uit en bestorm die spieëltafel met ‘n religieuse doelgerigtheid wat ek lanklaas gesien het. Asof hy homself vir die eerste keer aanskou, staan die man daar en hy kyk. En kyk. Dan draai hy dié kant toe, en dan daai kant toe, en hy kyk! ‘n Mens sou sweer hy raak net daar en dan verlief op die stunning man wat hy altyd geweet het hy is. Met geoefende presisie reik hy toe uit na die haardroër en raak daar aan die droogblaas. Die haardroër droog en hy krul en draai die lyf. Dan dié kant toe en dan daai kant toe. Die kop dan agteroor en dan vooroor en heeltyd kyk hy homself ‘n barshou in daai spieël.

Uiteindelik klaar geblaas kry onse metrosexual ‘n kannetjie haarsproei beet. En hy sproei. Later verdwyn hy in die sproei en so nou en dan verskyn so ‘n vae beeld van hom uit die walms net asof hy darem vir ons wil laat weet hy is nog daar. Die hele plek stik byna in die sproeiwolk, wat amper soos ‘n koue front oor die Kaap trek. En toe hy uiteindelik klaar is en die mis stadig maar seker verdwyn, gryp die man ’n bottel aftershave. Beneweld deur die haarsproeiwalms kyk ons wagtendes in spanning na hierdie tour de force met aftershave. Die volgende oomblik sien jy net aftershave spat soos wat hy die goed oor sy hande uitgooi en sy gesig vuurwarm klap met die hemeldou. Dit spat en dit klap en dit vryf. Iets verskrikliks! As daar nog nooit ‘n verpersoonliking van ‘n laventelhaan was nie, was onse heer dit nou behoorlik. Hy ruik nou te lekker. Ons ook – dis nou van sproei en aftershave en die hemel weet wat nog.

Weer kyk die man na homself. Nou net meer intens. Stilte! Alles kom tot stilstand. Ons handhaaf die oomblik saam met hom. Selfs ons bekkerige haarkapster is vir ‘n oomblik sprakeloos.

Die man lyk ontsteld. Daar is ‘n frons op sy andersins gladde voorkop. Ontstig! Iewers is daar ‘n haartjie wat uit plek is. Ramp! Hy sê iets wat amper soos ‘n goeie Suid-Afrikaanse “oh shit” klink. Met sy hand letterlik in sy hare, storm hy daar af op onse hand-in-die-sy stomgeslane haarkapster. Uit sy lyftaal en haar lyftaal kom ek agter dat hy nie so ‘n uit-die-plek haar duld nie. Nie nou nie en nooit ooit nie! Sy ekskuus en hy sit. Moerig! Steeds met sy vinger in sy hare. Sy raak weer begeesterd en lig, soos ‘n behendige cowboy, daai wapen van haar na bowe en begin knip. Uiteindelik is die haar (byna chirurgies) verwyder. Hy kyk. Sy kyk. Ons kyk. Hy sug, sy sug en ons sug. Spieël toe! Stilte. Uiteindelik, na diepe bepeinsing en diepsinnige ondersoek is onse man tevrede. Die frons verdwyn, die baadjie wip aan en hy smile. Sy smile. Ons smile ook.

Hy kyk in die spieël – en die spieël smile ook.