Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Van Balkan-baldadigheid tot Shitney Smears


Theunis Engelbrecht - 2008-03-10

CD VAN DIE MAAND

Beirut
The Flying Club Cup

Ons enigsins vuisvoosgefokte ou spulletjie hier by Sound Bites het baie baklei oor hierdie CD. By ons paneel van vyf luisteraars is daar eenstemmigheid dat hierdie album absoluut fantasties is. Dit is ‘n moet in die versameling van enigiemand wat probeer byhou met verwikkelinge in die waansinnige wêreld van kontemporêre musiek.

Yvette de Wet het aanbeveel dat dit die CD van die maand moet wees. Alice Ellis verskil van haar en sê dit is so goed dat dit eerder as die CD van die seisoen bekroon moet word. Tom Blom dink dit moet die CD van die jaar genoem word, en Fritz Brits sê nee, maak dit eerder die CD van ‘n leeftyd. (Die sameroeper van die paneel en notuleerder van hul bevindinge het die paneel toe nog meer rasend gemaak deur aan hulle te vra: Watter jaar? Watter seisoen? Watter maand? Watter leeftyd? Sikliese tyd of lineêre tyd?) Die siniese Beyers Eybers sê dis simpel om altyd albums soos skoonheidskoninginne of hotelle te benader en vir hulle titels of sterre te wil gee.

Daarna het die stryery gegaan oor die gebruik van byvoeglike naamwoorde waarmee ons paneel uitdrukking gee aan hul diepste gewaarwordinge en intiemste gevoelens oor dit waarna hulle luister. Hulle het die notuleerder goed uitgekak, want hulle het al verlede jaar se aflewerings van Sound Bites in die feestyd gaan lees en gesien hulle gebruik te veel woorde soos fantasties, fabelagtig, verbysterend, puik, meesterlik, uitstekend, briljant, ensovoorts en so meer. Yvette sê die notuleerder moet eerder ‘n woord soos bevange in haar mond lê, en Alice hou weer van die woord befonk. Toe Tom en Fritz dit hoor, wou hulle hul toekak soos hulle lag, want hulle sê woorde soos bevange en befonk is darem regtig simpel en studentikoos. Wat is fout met befok?

So, terwyl die paneel baklei oor watter woorde die beste is om ekstase mee uit te druk sonder dat dit vals klink, het Beirut se pragtige Oos-Europese folk- en Balkan-sigeunermusiek op hul album The Flying Club Cup oor ons gespoel en ons omtrent begoël. Aan die stuur van die projek is die 22-jarige Zach Condon van Nieu-Mexiko. The Flying Club Cup volg op Beirut se vorige album, Gulak Orkestar, wat as ‘n “Balkan-fantasie” beskryf is.

Condon het ‘n interessante geskiedenis. Toe hy 16 was, het hy genoeg gehad van skool (hy het in Santa Fé grootgeword) en het hy die pad gevat om deur Europa te toer. Danksy Wikipedia kan ons byvoorbeeld verneem dat hy al begin musiek opneem het toe hy 15 was. Sy debuut was onder die naam The Real People en die titel was The Joys of Losing Weight, wat as ‘n lo-fi album beskryf word. ‘n Jaar later het hy besluit om ‘n doo-wop-album (van alle dinge) uit te reik.

Tydens sy omswerwinge in Europa is hy die eerste keer blootgestel aan Balkan-sigeunermusiek, veral dié van Boban Markociv en Goran Bregovic. ‘n Mens kan egter nie van Condon as ‘n blote navolger praat nie – hy het hierdie invloede geabsorbeer en so deel daarvan geword dat ‘n mens nêrens in sy musiek die gevoel kry dat hy bloot besig is met nabootsing of blote kloning nie.

Die luisterpaneel sê The Flying Club Cup bevat die mooiste melodieë en verwerkings wat hulle in hul veelbewoë lewens gehoor het. Die trekklavier, koperblaasinstrumente en agtergrondsangers gee ‘n grootse gevoel aan die klank. Coban se stem is so vol passie en sy vertolkings so deurleefd dat selfs die mans op ons luisterpaneel – wat altyd tog so probeer om hulself as hardvogtige ysterbrein-intellektuele voor te hou – hoendervel gekry het. Die reaksie van die vroulike paneellede was selfs nog meer intens: hulle is verlief op Condon. En daarvoor kan ‘n mens heeltemal begrip hê as jy self hierdie fantastiese, fabelagtige, verbysterende, puik, meesterlike, uitstekende, briljante album luister.

Beirut is dalk nie so bekend nie – ‘n mens sal hulle byvoorbeeld nooit op TV sien of oor die radio hoor nie – maar dan moet ‘n mens onthou dat bekendheid nie noodwendig gehalte beteken nie (in die meeste gevalle is dit juis die teenoorgestelde). Dit troon egter kop en skouers uit bo die meeste uitreikings van die afgelope paar maande.


Cat Power
Jukebox

Cat Power se musiekloopbaan het in 1992 begin en hierdie is haar agtste album. Sy het al gesê sy het begin musiek maak omdat die geleentheid om saam met ander mense te speel dit vir haar moontlik gemaak het om dwelms te gebruik en dronk te raak. Sy het ook al die paadjies wat Britney Spears en Amy Winehouse nou loop, deeglik deurgetrap, maar uiteindelik het Power ‘n transformasie ondergaan en ontwikkel tot ‘n kunstenaar van formaat wat puik albums maak.

Op Jukebox sing sy hoofsaaklik haar weergawes en interpretasies van ander mense se werk. Wees nie bevrees nie: dis nie bloot net ‘n cover versions-album nie. Power maak elke liedjie haar eie en druk ‘n unieke stempel daarop af, wat haar weergawes in baie gevalle nog beter maak as die oorspronklikes. Luister maar na hoe sy “New York” sing (die een wat onder andere Frank Sinatra ook gesing het, wat begin: “Start spreading the news …”) Dis asemrowend (‘n woord waarvan almal op ons paneel baie hou). Sy kry dieselfde reg met Hank Williams se ou klassieke blues-liedjie “Ramblin’ Man”, wat in haar hande ‘n broeiende, onheilspellende klank kry.

Die twee liedjies wat Power self geskryf het op die album – “Metal Heart” en “Song to Bobby” – wys dat sy nie net van ander skrywers se werk afhanklik is nie. Op haar vorige albums kon ‘n mens baie van haar eie liedjies hoor. Dat sy ander mense se werk opneem, is toegevoegde waarde. (Luister maar wat het sy gedoen met The Rolling Stones se “I can’t get no satisfaction” en Bob Dylan se “Knockin’ on Heaven’s Door” op haar album The Covers Record.)

‘n Mens kan net dink dat Joni Mitchell en Nick Cave baie tevrede moet wees met Power se weergawes van hul liedjies “Blue” en “Breathless” op Jukebox. Power maak ook ‘n kniebuiging aan Dylan met haar eie liedjie “Song to Bobby” en haar weergawe van sy “I Believe In You” van sy album Slow Train Coming. (Al is Power se weergawe goed, het dit egter nie dieselfde emosionele impak as Dylan se oorspronklike weergawe nie.)

Cat Power is ‘n vrou om op verlief te raak. Almal op ons paneel voel sy kan maar elke aand vir ons sing en ons sal nooit moeg raak daarvoor nie. En van hoe baie kunstenaars kan mens dit sê?


The Waterboys
Fisherman’s Blues: Collector’s Edition

Fisherman’s Blues is die eerste keer in 1988 uitgereik en dit is inderdaad ‘n uiters gedenkwaardige ervaring om dit ná twintig jaar te herontdek. In 1986 het Mike Scott, The Waterboys se Skotse sanger, in Ierland gaan bly. The Waterboys het in daardie stadium reeds drie hoogaangeskrewe albums uitgereik. In Ierland is Scott geboei deur die Ierse musiektradisie. Dit het sy belangstelling in die verskynsel roots-musiek aangewakker, ‘n passie wat gou gedeel is deur medemusikante soos Steve Wickham en Anthony Thistlewaite.

Scott skryf soos volg hieroor in die CD-boekie: “Steve, Anto and I began deeply immersing ourselves in roots music – buying 1920’s field recordings of gospel singers on tiny labels; initiating ourselves into the mysteries of Hank Williams; absorbing the sound and soul of Woody Guthrie, Little Walter, and all manner of colourfully named Louisiana Cajun musicians. We made these explorations without thinking much about what we were doing; we were quite simply in love, and followed our fascinations. We poured our music into the forms we learned from these and other musical figures, and sculpted them into something of our own, which we then played on stage, in studios, in bars, homes, hotel rooms and on trains, busses and planes.”

Dit was ‘n vrugbare tyd, want hulle het uiteindelik met sowat 50 liedjies gesit. Dit het ‘n helse gesif afgegee om die 13 liedjies vir Fisherman’s Blues te kies, want volgens Scott het hulle genoeg materiaal gehad vir drie albums. In 2001 is ‘n tweede album met opnames van dié sessies uitgereik, Too Close To Heaven.

The Collector’s Edition van Fisherman’s Blues is inderdaad ‘n versamelstuk. Dis ‘n dubbel-CD-stel: die eerste CD is die oorspronklike album, en die tweede CD is wat die derde album in die reeks sou wees. (Hulle kon dit maar ‘n 3 CD-stel gemaak het en Too Close To Heaven ook by die Collector’s Edition ingesluit het, maar nou ja.)

Die CD-boekie is ‘n pragstuk op sigself, met ‘n uiters insiggewende essay deur Mike Scott oor hierdie besonderse tydperk in The Waterboys se loopbaan, die pad wat hulle geloop in hul soektog na die roots, talle foto’s, asook kommentaar oor elke liedjie.

Die musiek self is oorweldigend (Yvette se woord), vol oer-lewenskrag (aldus Alice), verskriklik real (Beyers), energiek en lewenslustig (Tom) en allesomvattend befok (aldus Fritz). Die notuleerder sekondeer en beaam geesdriftig. Al ses het die CD dadelik gekoop en sê hulle sal dit vir die res van hul lewens na aan hul harte koester vir die juweel wat dit is.

Daar is 27 snitte. Dis onmoontlik om hoogtepunte uit te sonder, maar luister onder meer wat maak The Waterboys met Bob Dylan se “Girl of the North Country”. Al die mandoliene, banjo’s, viole en trekklaviere op die album gee dit ook ‘n warm, aardse klank. Fisherman’s Blues: Collector's Edition is pragtig uitgegee en neem sy plek met waardigheid in op die rak van klassieke en tydlose CD’s. Wat ‘n verrykende ervaring.


Lizz Wright
The Orchard

Saligheid sonder einde … daar blyk geen gebrek te wees aan nuwe gehalte-CD’s nie. Lizz Wright is met een woord oorrompelend, sê ons paneel én sameroeper. Sy kan enige tyd haar plek inneem naas enige groot gees in dié liga, soos Tracy Chapman en Joan Armatrading, en volgens sommige paneellede selfs ‘n hoër plek as dié twee, as mens dan regtigwaar wil vergelykings tref. Gedagtes aan Nina Simone en Billie Holiday duik ook onwillekeurig in die kop op as jy hierna luister.

The Orchard is Wright se derde album en volg op Salt en Dreaming Wide Awake. The Orchard was almal op die paneel se eerste blootstelling aan Wright en almal van ons kan nie wag om die vorige twee albums te gaan koop nie.

Wright is nie net ‘n uitsonderlike sanger nie, maar ook ‘n talentvolle liedjieskrywer. “Coming Home”, “My Heart”, “Another Angel” en “When I Fall” is fynproewersmateriaal, en haar weergawes van Ike en Tina Turner se “I Idolize You” en Patsy Cline se “Strange” blaas nuwe lewe daarin. Ook verrassend is haar sielvolle weergawe van Led Zeppelin se “Thank You”. Ook haar weergawe van Sweet Honey in the Rock se “Hey Mann” is ‘n kragtoer.

Stylgewys is Wright se musiek ‘n kombinasie van jazz, subtiele gospel, blues en R&B. Stephen Holden, resensent van The New York Times, het dit mooi gestel toe hy verwys het na Wright se “reflective, flowing style that elongates songs into prayerful meditations that never wander into vagueness”. Met sy beskrywing van haar sang as “pitch-perfect, with a smoky, full-bodied texture ... impressive in its steadiness, control and rhythmic subtlety” kan mens net akkoord gaan. The Orchard is ‘n album van tydlose gehalte. Wat ‘n wonderbaarlike ontdekking!


Verskeie kunstenaars
I’m Not There: Original Soundtrack

Daar heers groot afwagting vir I’m Not There, Todd Haynes se biofliek oor Bob Dylan wat vanjaar uitgereik word. Die klankbaan is reeds beskikbaar en net een kykie na al die foto’s uit die fliek in die CD-boekie laat ‘n mens se mond nog méér water vir die fliek.

Die klankbaan is ‘n dubbel-CD met 33 Dylan-treffers soos vertolk deur ander kunstenaars. Dit sit nie in elke kunstenaar se broek om reg te laat geskied aan Dylan se magistrale werk nie en vorige uitreikings waarop ander mense sy musiek sing, het bevestig dat Dylan se oorspronklike weergawes in die meeste gevalle steeds die beste is.

Hierdie CD is egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Drie van die paneellede het dadelik daarvan gehou, en die ander drie het niks daarvan gehou nie en gesê hulle verkies Dylan se weergawes. Maar toe gebeur ‘n snaakse ding: die drie wat niks daarvan gehou het nie, het toe wel weer (en weer) daarna geluister, en elke keer al hoe meer daarvan gehou, in so ‘n mate dat hulle toe selfs die CD gaan koop het en vreeslik baie daarna luister.

Die mees uitstaande snitte is “I’m Not There” (Sonic Youth), “Goin’ to Acapulco” (Jim James & Calexico), “Tombstone Blues” (Richie Havens), “Ballad of a Thin Man” (Stephen Malkmus & The Million Dollar Bashers), “Stuck Inside of Mobile with the Memphis Blues Again” (Cat Power), “Pressing On” (John Doe), “One More Cup of Coffee” (Roger McGuinn & Calexico), “Simple Twist of Fate” (Jeff Tweedy), “Man in the Long Black Coat” (Mark Lanegan), “Señor (Tales of Yankee Power)” (Willie Nelson), “Just Like a Woman” (Charlotte Gainsbourg & Calexico), die werklik uitstekende “Mama, You’ve Been On My Mind/A Fraction of Last Thoughts on Woody Guthrie” (Jack Johnson), “Can You Please Crawl Out Your Window?” (The Hold Steady), “Just Like Tom Thumb Blues” (Ramblin’ Jack Elliott), “The Wicked Messenger” (The Black Keys), “Cold Irons Bound” (Tom Verlaine & The Million Dollar Bashers), “I Dreamed I Saw St. Augustine” (John Doe) en “Knockin’ on Heaven’s Door” (Antony & The Johnsons).

Dis meer as ‘n handvol, en die res van die weergawes wat nie hier genoem is nie, is ook nie heeltemal te versmaai nie. Die grootste teleurstelling is Sufjan Stevens se oordadig versierde weergawe van “Ring Them Bells” (veral as ‘n mens dit vergelyk met Dylan se eie gestroopte opname daarvan op No Mercy).

Kortom: dié dubbel-CD is een groot lekkerkry.


The Killers
Sawdust

‘n Mens het gewoonlik rede om lig te loop vir CD’s met kunstenaars se sogenaamde “B-Sides and Rarities” omdat ‘n mens dit met weggooi-musiek assosieer – liedjies wat nie goed genoeg was om op albums in te sluit nie. Gelukkig is daar wel gevalle waar sulke albums besaai is met verrassings en wat ander aspekte van ‘n kunstenaar belig as wat ‘n mens op hul amptelike uitreikings hoor.

Gelukkig val Sawdust in laasgenoemde kategorie. Met hul albums Hot Stuff en Sam’s Town het The Killers hul gevestig as ‘n noemenswaardige groep in ‘n rockwêreld wat andersins oorlaai is met middelmatigheid. Sawdust skop af met ‘n voorhamerhou: “Tranquilize”, ‘n duet met Lou Reed. Die CD is al klaar die moeite werd net vir dié fantastiese liedjie, maar daar is baie meer onder die 17 snitte wat dit ‘n baie genotvolle luisterervaring maak. (Ons weet daar is aanhangers van The Killers wat nie van hierdie album hou nie, maar dit moet wees omdat hulle nie genoeg daarna luister nie of eensydige verwagtinge van die groep het.)

Een ding wat lekker is van ‘n “B-sides and Rarities”-album, is die verskeidenheid van klanke en style, en ook die kunstenaars se gewilligheid om te eksperimenteer. Ná die hoë noot waarmee die CD begin met die Reed-duet, hou die lekker net aan en aan met snitte soos “Shadowplay”, “All the Pretty Faces”, “Leave the Bourbon on the Shelf”, “Where the White Boys Dance”, “Move Away”, “Glamorous Indie Rock ‘n Roll”, “Who Let You Go?”, “The Balled of Michael Valentine” en “Sam’s Town (Abbey Road Version)”. Die enigste snitte wat niks vir ons doen nie, is hul weergawe van “Ruby Don’t Take Your Love To Town” en Jacques Lucont se dansmengsel van “Mr. Brightside”.


Lenny Kravitz
It’s Time For a Love Revolution

Yvette: Sexy! Daai stem! Die liedjie "A Long and Sad Goodbye" maak my klam op plekke wat ek nie eers geweet het ek het nie!

Alice: Lenny bly maar ‘n staatmaker. Die liedjies "Love Revolution" en "Bring it On" kóók.

Tom: Ek het nog altyd van sy hardegat attitude gehou, maar dit klink of hy nou te mellow raak. Selfs wanneer hy rock begin dit nou vir my voorspelbaar klink.

Beyers: ’n Moerse teleurstelling. Sy eerste drie albums was briljant. Daarna kon hy niks weer doen wat dit kon oortref nie.

Fritz: Ek smaak dit kwaai. Ek kan Tom en Beyers se besware verstaan, maar ten minste bly dit vir my verskriklik lekker om na al die kitare te luister op die album. Net dit maak dit al klaar die moeite werd.

Sameroeper: Ek het daai gevoel van more of the same gekry toe ek daarna luister. Ek stem 100 persent saam met Beyers. Yvette oordeel met haar hormone en Alice se romantiese illusies beïnvloed haar objektiwiteit.


Van Morrison
Still On Top – The Greatest Hits

Van Morrison bly maar spesiaal, kom wat wil. Verlede jaar het daar ook samestellings van sy werk verskyn, soos onder meer ‘n CD met al sy liedjies wat al in flieks gebruik is. Hierdie dubbel-CD met sy 37 treffers is egter die beste keuse as jy sou belangstel in ‘n album met Van Morrison se bekendste en gewildste, en ook beste, werk.

Al die treffers is daar – van “Jackie Wilson Said”, “Whenever God Shines His Light”, “Moondance”, “Bright Side of the Road”, “Brown Eyed Girl”, “Crazy Love” en “Gloria” tot “Precious Time”, “Here Comes The Night” (met Them), “Tupelo Honey” en “Into the Mystic” – Van Morrison het so baie goeie liedjies opgeneem dat mens skoon uitasem raak as jy hulle net noem. Goeie nuus vir fanatici is dat nuwe hermeesterde CD-weergawes (met bonussnitte) van nege van sy albums vanjaar ook uitgereik word.

Dié groot gees verdien om op dié manier vereer te word.


Aretha Franklin
Jewels in the Crown: All-Star Duets with the Queen

Aretha Franklin het ‘n reputasie wat skrik vir niks. ‘n Mens sou verwag dat ‘n duetalbum iets spesiaal sou wees. Ek meen, daar is byvoorbeeld haar weergawe van The Rolling Stones se “Jumpin’ Jack Flash” saam met Keith Richards, en ook duette met kunstenaars soos Eurythmics, George Michael, Frank Sinatra, John Legend, Elton John, Whitney Houston, Bonnie Raitt, Gloria Estefan, Luther Vandross, Michael McDonald, Mariah Carey en George Benson op hierdie CD.

Die album is egter met ‘n gevoel van teleurstelling deur die hele paneel ervaar. Dis interessant om een keer daarna te luister, maar daarna voel jy nie juis lus om weer daaraan te raak nie. Hoekom nie? Ons weet nie. Dis een van daai dinge wat maar ‘n raaisel is. Dalk is die produksie net té slick? En Franklin maak ook glad nie hond haaraf met die holruggeryde “Nessun Dorma” nie, wat dinge net vererger. Wat het haar besiel om dit op te neem? Nee wat, eerder as om ‘n mens se tyd te mors deur hierna te luister, kan jy liewer na Lizz Wright se fenomenale The Orchard luister.


Herbie Hancock
River: The Joni Letters

Die jazz-pianis Herbie Hancock bring met dié album hulde aan die liedjieskrywer en sangeres Joni Mitchell. Dis ‘n ope vraag of die jazz-verwerkings van Mitchell se musiek byval sal vind by haar aanhangers en of hulle nie maar eerder haar oorspronklike weergawes sal verkies nie.

Kritici is gaande oor die album en dis ook met ‘n Grammy bekroon. Die eerste snit, “Court and Spark” met Norah Jones op stembande, is baie verleidelik en laat mens voel of jy in fluweel verdrink. Daardie hees saksofoon maak dit ook baie sensueel. Op die tweede snit, “Edith and the Kingpin”, verras Tina Turner met haar sang en laat ‘n mens wens sy wil meermale sulke tipe materiaal opneem as haar gebruiklike en voorspelbare ou popliedjies.

Vier van die tien liedjies is instrumentele interpretasies van Mitchell-liedjies. Sy self sing saam op “The Leaf Prophecy” (wat dit outomaties ‘n hoogtepunt maak). Corinne Bailey Rae sing op “River” en Luciana Souza op “Amelia”. Die album sluit op ‘n hoë noot af met Leonard Cohen op “The Jungle Line”.

Tom en Alice hou van die album. Beyers en Fritz sê dit maak hulle aan die slaap, dis darem net te rustig, en op “Both Sides Now” moet ‘n mens jou gat af sukkel om die melodie te hoor! “Solitude” klink vir hulle ook darem net te veel na hysbakmusiek of iets wat ‘n mens sal hoor in een of ander chill lounge waar jappies met hul plastieksiele uithang. Yvette meen die album is net vir die fynproewer, en die sameroeper twyfel of enigiemand anders behalwe hardcore jazz-fanatici dit van voor tot agter in een sitting sal kan deurluister.

Moenie dit koop net omdat dit ‘n Grammy gewen het nie. Luister eers en besluit self of dit jou koppie tee is.


VERONTSKULDIGING!

Dat dit sleg vir ‘n mens kan wees om na te veel popmusiek te luister, is in die vorige aflewering van Sound Bites bewys met die kommentaar oor Britney Spears se jongste CD (ons kan nie eers die naam daarvan onthou nie). Die sameroeper moes seker gesuip of gerook of ge-iets gewees het toe hy daai geskryf het, want toe hy dit na die tyd lees, en weer na Spears se CD geluister het, het hy gesê hy kan nie glo dat hy enigsins iets positief oor so ‘n pot onverdunde stront kon sê nie. Hy smeek nederig om vergifnis en vra lesers moet dit daaraan toeskryf dat hy verlede jaar na te veel CD’s moes luister en dat dit sy brein laat krimp het. Hy het egter ondertussen chirurgiese prosedures ondergaan om sy brein weer te laat rek. En volgens hom moet ‘n mens nie meer van Britney Spears praat nie, maar liewer van Shitney Smears.


Luisterpaneel: Alice Ellis, Yvette de Wet, Tom Blom, Beyers Eybers en Fritz Brits.
Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht