Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Sport

Hoekom, Jake?


Blou Bul Braampie - 2006-09-28

Die grootste deel van die Springbokke se rugbyseisoen het meer na die Bokkie Horror Picture Show gelyk as na die wel en wee van ‘n internasionale span. Vreemde spankeuses, soos byvoorbeeld Gaffie du Toit en André Snyman op vleuels, het nie net politici laat kopkrap nie, maar het ook die rugbypubliek vroeg-vroeg na hulle Klipdrift laat gryp. Soos wat verwag is, het dit dan ook nie lank gevat voor die Bokke se wiele heeltemal afgekom het nie.  

Na twee onoortuigende oorwinnings teen die uitgedunde Skotte loop die Bokke op 24 Junie hulle rieme met 36–26 styf teen ‘n indrukwekkende Franse span. Jake ploeter egter voort met Jaco van der Westhuyzen op losskakel.
 
Die Drienasiereeks begin katastrofies met die Wallabies wat Suid-Afrika op 15 Julie met ‘n nuwe rekordtelling van 49–0 in Brisbane wegblaas. Hoewel die wedstryd Van der Westhuyzen se swanesang word, is dit nie die einde van Jake se probleme nie. ‘n Week later is dit die All Blacks se beurt om die Bokke verspotmaklik met 35–17 in Wellington te klop. Op daardie stadium begin die doemprofete al klaar die werksadvertensie vir Jake se pos te skryf. Sy verbintenis met die Bokke het aan ‘n draadjie gehang.
 
Na ‘n naelskraapse nederlaag teen die einste Wallabies in Sidney keer ons span na Suid-Afrika terug net om dadelik weer hulle moses teë te kom – die vlugvoos All Blacks klop ons speel-speel met 45–26 op Loftus. Vyf drieë teen drie het net ‘n gedeelte van die verhaal vertel. Die realiteit is dat die Bokke nooit in die prentjie was nie.
 
Daarna volg twee welkome oorwinnings. Die All Blacks word in Phokeng van alle plekke met een punt verslaan. Die oorwinning teen die Wallabies die daaropvolgende naweek is meer oortuigend.
 
Aan die einde van die reeks het die Bokke 106 punte behaal, terwyl 185 teen hulle aangeteken is. Ons span was ook onder aan die punteleer.
 
Na die twee oorwinnings is White weer wipstert. Hy het onmiddellik sy gewig begin rondgooi en die 24 gekontrakteerde spelers uit die Curriebekerreeks onttrek. Die helfte van die uitgesoektes is egter beseer. Die meeste van Jake se werklike sterre (André Pretorius, Pierre Spies, AJ Venter ens ens speel lustig voort. In die proses word AJ in so ‘n mate beseer dat hy eers weer volgende jaar kan speel.
 
Ek dink ons moet aanvaar dat Jake die span tot en met volgende jaar se wêreldbekertoernooi gaan afrig. Dit lyk ook of daar ‘n span begin vorm aanneem wat ons darem tot in die halfeind sal kan neem.
 
Aan die ander kant is daar nog heelwat raaisels wat onopgelos is. Die grootste daarvan is die afrigter se onwilligheid om vir Luke Watson ‘n kans te gee. Luke is ongetwyfeld een van die sterre van vanjaar se Curriebekerreeks. Toe Jake se span in die diepste nood was, kon hulle gedoen het met die dienste van ‘n goeie grondspeler soos Luke. Daar moes iets gebeur het wat Luke in onguns laat verval het by Jake. Diegene wat weet, wil egter nie praat nie.
 
Jake verdien lof vir die wyse waarop hy by Pierre Spies gestaan het. Die jongeling het dit ongelukkig getref om sy debuut in die 49–0-slagting in Brisbane te maak. Hoewel Spies dié dag nie te vrot gevaar het nie, het Jake hom met die robuuste Jacques Cronjé vervang. Terug op die tuisbodem het Jake weer vir Spies kans gegee. Die jong man het die geleentheid met beide hande aangegryp en sy stempel vierkantig op die internasionale toneel afgedruk. Verlede naweek was hy weer die angel in die Bulle se spogoorwinning oor die Haaie. Op sig lyk Spies na ‘n veel beter belegging as Luke. Daar mag egter nie uit die oog verloor word dat die twee se spelstyle heelwat verskil nie.
 
Die Spies-geval laat geen twyfel oor die feit dat Jake wel oor die nodige mensekennis beskik om ‘n speler se loopbaan sinvol te bestuur nie. My vraag is hoekom hy nie daardie selfde mensekennis ingespan het om die loopbane van ‘n Brent Russell en ‘n Luke Watson te rig nie.